Inleiding

Die huwelik soos wat dit tans in Christelike kringe verstaan word, impliseer ‘n (hopelik) lewenslange monogame heteroseksuele verbintenis: een man en een vrou. Volgens die klassieke huweliksformulier is hierdie verbintenis goddelik georden en aan die begin van die skepping vasgelê: ‘Die huwelik deur God ingestel toe Hy aan die begin gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen 2:18).’ Natuurlik is Christelike huwelike nie die enigste huwelike wat voltrek word nie – Jode, Moslems, Hindoes, Sjinese en ander volke trou ook, en daar is verskillende gebruike rondom sulke geleenthede. Aangesien Christene die Bybel vir die huwelik gebruik, gaan hierdie teo-artikel verskillende sieninge oor die Christelike huwelik oor die eeue heen ondersoek.

Israel

Die teks wat in die huweliksformulier aangehaal word (Gen 2:18), is nie heeltemal in die kol nie. Om mee te begin het Hebreeus, net soos die ander tale in die ou Nabye Ooste, nie woorde vir ‘huwelik’ of vir ‘trou met’ nie. ‘n Man het ‘n vrou ‘gevat’. Verder was dit ook moontlik om meerdere vroue te ‘vat’; poligamie was algemene gebruik veral onder die meer welaf mans in die samelewing – as ‘n man meer as een vrou wou hê, moes hy ten minste in staat wees om vir hulle te sorg. Voorbeelde van poligamie is volop in die Ou Testament: Abraham, Jakob, Moses, Eli, koning Dawid en natuurlik koning Salomo met al sy vroue en byvroue. Die leviraatshuwelik was ook ‘n instelling waar ‘n oorlewende broer verplig was om sy gestorwe broer se weduwee as vrou te vat.     

Huwelike in Israel het waarskynlik volgens gebruik net soos elders in die ou Nabye Ooste plaasgevind. Dit was primêr ‘n burgerlike en kulturele instelling en meestal iets wat tussen families gereël is. Die ouers was ten nouste by die keuse van ‘n huweliksmaat betrokke. ‘n Goeie voorbeeld hiervan kry ons in Genesis 24 waar Abraham sy dienaar opdrag gee om ‘n vrou vir sy seun Isak te gaan soek. Dikwels is geskenke, ‘n soort van ‘n bruidskat, ook tussen die betrokke families uitgeruil. Dit was altyd die vrou wat haar ouerhuis verlaat het, en in die man se familie opgeneem is. Die belangrikste funksie van die huwelik was kinders: kinders as erfgename vir die familie se grond, en om die ouers op hul oudag te versorg. ‘Eer jou vader en jou moeder’ is ‘n gebod wat waarskynlik op hierdie oudag-versorging betrekking het, en was meestal ‘n plig wat op die oudste seun neergekom het. Dit is ook een van die redes waarom dit belangrik was om seuns te hê.

Die Grieke en die Romeine

Huwelike in die Grieks-Romeinse samelewing was anders in die sin dat hulle monogamie beoefen het. Die Christelike huwelik wat net uit een man en een vrou bestaan, kom dus vanaf die Grieks-Romeinse wêreld. Byvroue (concubines) was egter ook toegelaat, meer so by die Grieke as by die Romeine, maar ‘n man mag nie wettiglik met so ‘n vrou trou nie. Haar kind kon egter as ‘n wettige erfgenaam in berekening gebring word, mits die wettige vrou daarvoor toestemming gee.

Wat die ‘wetlikheid’ van huwelike betref, het die Griekse stadstate polities onafhanklik van mekaar gefunksioneer en elkeen het sy eie reëls gehad. Onder die Romeinse keiser Augustus (18 vC), is ‘n hele aantal sosiale wette gekodifiseer, onder andere ook wette oor die huwelik en egskeiding. Die primêre funksie van die huwelik was steeds kinders: die Romeine het wel ‘n woord vir ‘huwelik’, naamlik ‘matrimonium’ wat betrekking het op die ‘mater’ – die moeder.

Tot by die Middeleeue

Gedurende die vroeg-Christelike tydperk, 30-325 nC was huwelike private aangeleenthede. Daar was geen voorgeskrewe religieuse reëls of seremonies nie. Tog skrywe biskop Ignatius van Antiochië vir biskop Polikarpus van Smirna in ongeveer 110 nC dat dit goed sal wees as mense wat trou dit ook met die goedkeuring van ‘n biskop sal doen, sodat die huwelik volgens die wil van God plaasvind en nie as gevolg van hul eie wellus nie. Tot en met die Middeleeue was dit wel die funksie van die kerk om huwelike te registreer, maar dit was nie verpligtend nie, en die staat het ook nie in huwelike en persoonlike aangeleenthede nie. Dit was nie nodig dat daar ‘n priester of ander getuies teenwoordig moes wees nie. Die huweliksbelofte het as die ‘verbum’ bekend gestaan, ‘n eenvoudige mondelinge verklaring: ‘Ek trou met jou.’

Steeds is huwelike vooraf en tussen families gereël, soms so vroeg as by die kinders se geboorte. Dit was veral die geval by koninklike en adelike families, ‘n gebruik wat baie lank sou voortduur. Omdat daar selde sprake van ‘liefde’ was, was huweliksontrou en owerspel aan die orde van die dag. Ook het dit toenemend begin voorkom dat allerlei redes aangevoer word om ‘n huwelik ongeldig te verklaar, of dat, gewoonlik ‘n man ‘n ander huwelik aangegaan het terwyl sy eerste eggenote nog geleef het. Die howe en die kerk, op daardie stadium nog die Rooms Katolieke Kerk het ingegryp, en in 1563 het die Konsilie van Trent bepaal dat ‘n huwelik wettig en bindend is, en dat dit in die teenwoordigheid van ‘n priester en twee getuies voltrek moet word. Die Rooms Katolieke Kerk, selfs vandag nog, beskou die huwelik as ‘n sakrament. En liefde as die grondslag vir ‘n huwelik, is eers sedert die laaste dekades van die 17e eeu ernstig oorweeg.

Die Reformasie

Namate die Protestantse Refomasie versprei het, is die rol van die kerk om huwelike te registreer aan die staat oorgegee. Die huwelik is ‘n burgerlike, wettiese aangeleentheid en nie ‘n heilige sakrament soos in die Rooms Katolieke Kerk nie. Teen die 17e eeu het die meeste Protestantse lande in Europa die staat by die huwelik betrek, en huwelike is deur die staat geregistreer. Terselfdertyd was die inseëning deur die kerk ook wenslik, en daarom is daar nooit heeltemal met die kerk weggedoen nie. Alhoewel nie ‘n sakrament nie, het dit gebruiklik geword dat huwelike in ‘n kerk plaasvind en deur die predikant geseën word.

Tans is dit is min of meer die situasie in Christelike Protestantse kerke. Dikwels is die predikant ook ‘n wettige huweliksbevestiger, en om dit te kan wees, moet hy of sy ‘n eksamen aflê wat die geregtelike aspekte van ‘n huwelik betref. ‘n Huwelik wat slegs in ‘n kerk voltrek word sonder ‘n wettige huweliksbevestiger, is onwettig. Anders gestel, ‘n wettige huwelik hoef nie in ‘n kerk plaas te vind nie, en dit gebeur al hoe meer in meer sekulêre kringe: mense trou in restaurants, op die strand, in ‘n boot of waarookal, solank die voorgeskrewe wetlike aspekte nagekom word. Soms wil hulle ‘n ‘boodskap’ uit die Bybel hoor, soms nie, veral as een of albei van die partye niks met die kerk te doene wil hê nie.

Slot

Die Christelike huwelik soos wat ons dit vandag in die Gereformeerde kerke ken, het dus oor eeue heen ontwikkel en heelwat veranderinge ondergaan. Dit het geblyk dat die oorsprong van monogamie eintlik in die Grieks-Romeinse wêreld gesoek moet word, dat ware liefde aanvanklik nie die dryfveer was nie, dat kerklike betrokkenheid eers heelwat later ‘n faktor geword het, maar dat kerk en staat ontkoppel het wat die geregtelike aspekte van ‘n huwelik betref. In ons huidige sekulêre samelewing verkies mense toenemend om net die wetlike deel in orde te kry. Mense kan selfs wettig as ‘lewensmaats’ saamleef, sonder om te trou. Gelowige mense wil egter nie die kerk prysgee nie. As deel van ‘n geloofsgemeenskap wil hulle steeds ‘voor God en voor die gemeente’ aan mekaar trou beloof, en verlang hulle na die seën van die Here op hul huwelik. En dit maak die huwelik meer as ‘n blote burgerlike instelling wat deur die wet bekragtig word.

Share this / Deel hierdie: