Waarskuwing: Nie vir godsdiens-sensitiewe lesers nie!

Twee onlangse Afrikaanse teologiese werke van Proff. Adrio König en Willie Esterhuysen, onderskeidelik, het die vraag na die verstaan, of soos die titel van die artikel dit noem, die Kosmiese adres van God, weer op die voorgrond gebring.  König is nog sterk tradisioneel of mities letterlik in sy teologie.  God is die Drie-enige daar buite êrens is en wat deur Jesus in die menslike geskiedenis ingegryp het om die mens van sy “sondes te verlos.”  Esterhuysen ondersoek op sy beurt, vanuit ʼn mities globale, ofte wel, postmoderne, vertrekpunt na die verskillende invloede op die Bybelse siening van God.  Al twee die vertrekpunte is ewe geldig, mits hulle nie soos König, hulle standpunte verabsoluteer nie.  Tog is dit nie die enigste twee moontlike adresse van God nie.

 

Die tradisionele hoofstroom kerke het egter reeds vroeg in die geskiedenis God se kosmiese adres beperk om daarmee die geestelike ontwikkeling van gelowiges op die mities letterlike fase te vries.  Die oomblik (die Konsilie van Nicea in 325nC) toe die kerk Jesus van Nasaret, die mistikus, verlaag het tot die mitologiese figuur Jesus Christus, die enigste Seun van God, was die koel deur die kerk.  Jesus was gedemoveer tot die Christelike teenvoeter vir Dionisius, die mens/god van die Griekse god Zeus.  Dit het die gordyn oor die mistieke laat sak en die betekenis van Jesus se woorde in Lukas 17:22 verdraai: In plaas daarvan dat die Grieks vertaal word as; “die koninkryk van God is in julle,” lees die Afrikaanse vertaling; “die koninkryk van God is hier by julle.” Die vertaling sinspeel daarop dat Jesus, die koninkryk, dus buite die mens, is.  Ons moet God dus buite onsself gaan soek, terwyl Jesus ons na binne probeer lei het.

 

Daarenteen integreer Brant Cortright in Integral psychology Yoga, growth, and opening the heart (2007) Westerse en die Oosterse psigologie om die uiterlike navorsing van die Weste en die innerlike studie van die Ooste te kombineer om ʼn geïntegreerde psigologie daar te stel.  Integrerende psigologie sien die lewe as die Goddelike ontvouing en die grondslag vir die Goddelike bewussyn.  Bewussyn kom nie volgroeid tot stand nie, maar neem tyd om te ontwikkel.  “Die doel is om tot ons dieper identiteit te ontwaak sodat ons in pas met die groter, Goddelike beweging van liefde en vreugde, kan kom.  Die lewe is ʼn spirituele avontuur in die ontwikkeling van die menslike bewussyn.  Hiervoor moet ons ons siel, ons psigiese kern, wat tegelyk die evolusionêre beginsel in ons is, ontdek.”  Die strewe na die ontdekking van die siel en God in die mens is die dryfveer agter alle kontemplatiewe godsdienste en op elke vlak van ontwikkeling is daar ʼn bepaalde siening van God en van die self.  Hier is dus sprake van ander Kosmiese adresse van God.

 

Maar vir 2000 jaar het meeste Christene God net buite die mens, êrens daar bo in die hemel, gaan opsoek.  Opsigself is dit nie verkeerd nie, maar dit is slegs een uit 18 – 21 moontlike kosmiese adresse van God.  Dit klink baie arrogant maar die term “Kosmiese adres van God” wil nie die woonplek van God opsoek nie maar ondersoek eerder die mens se geestelike ontwikkelingsvlak en vra uit watter perspektief, eerste, tweede of derde persoon, die mens ʼn verhouding met God het.  Ons siening van God bepaal hoe ons in die wêreld lewe. Die Kosmiese adres van God is ʼn term wat Ken Wilber, ʼn integrale filosoof, in Integral Spirituality, A Startling New Role for Religion in the Modern and Postmodern World, gebruik om aan te toon dat mense op een-en-twintig plus verskillende maniere God verstaan en beleef. (Wilber 2006:255):  “So we need the altitude and the perspective of both the perceiver and the perceived.  We can represent this simplistically as follows: Kosmic address = altitude + perspective.”  Die hoogte is die ontwikkelingsvlak van die waarnemer en die perspektief is 1ste, 2de of 3de persoon perspektief.

 

Om die kosmiese adres van God te verstaan moet ons dus eers na die ontwikkelings-psigologie en die ontwikkeling van geloof kyk.    Ontwikkelingsielkundiges en transpersoonlike psigologie het agtergekom dat die mens se bewussyn of geloof deur drie groot ontwikkelingsfases beweeg wat onderverdeel kan word in ses.  Joyce en River Higginbotham in hulle nuutste werk, ChristoPaganism: An Inclusive Path, (2009) sien die ontwikkeling van geloof of bewussyn, in terme van die mens se verhouding met die mites van die betrokke godsdiens.  In terme van Christene is die vraag hoe sien en beleef die gelowige Jesus.  Die eerste vlak noem hulle die mities tasbare, want persone op die vlak plaas die klem op die tasbaarheid van die mites: God is werklik in die brandende braambos, sekere plekke is heilig en spesifieke voorwerpe het genesende krag.  Jesus het mag oor die wind en die weer en kan water in wyn verander.  Met ander woorde, die fisiese wêreld is die draer van die Gees wat die godheid tasbaar en werklik vir die self maak.  Die volgende fase is die mities letterlike fase.  Wanneer die mens rasionaliteit begin ontwikkel verander die verhouding met die mite.  Die self sien dat agter die heilige tasbare dinge en Jesus lê die storie wat vertel dat die dinge heilig is, dat Jesus die Seun van God is en gekom het om ons te verlos.  Nou kry die storie die klem en die mite ontwikkel geweldige mag want dit is mooi, rein en waar.  Daarom kan die storie/mite nie bevraagteken word nie en alle ander mites word as vals verwerp.  Die derde fase is mities rasioneel, en nou verskuif die vraag of die mites werklik rasioneel is.  Die gelowige besef dat agter die storie lê ʼn rede of doel vir die mite.  Jesus word nou ʼn leermeester wat vroue, slawe en onderdruktes kom bevry van enige vorm van tirannie.  Die vierde fase is mities globaal, en die gelowige word bewus van die universaliteit van alles.  Die vermoë om veelvoudige perspektiewe te hou ontwikkel en die gelowige sien die hele skakering van mities op dieselfde vlak.  ʼn Persoon op hierdie vlak word dikwels ʼn student van wêreld godsdienste en Jesus is nie meer die enigste weg tot saligheid nie, maar een van vele.  Die vyfde vlak word die mities argetipes genoem en die gelowige mag met die spirituele dimensies identifiseer en mag verhoudings met die geestelike wesens, soos engele, geeste, heiliges en selfs demone, op die vlak aanknoop.  Die persoon beweeg buite die ruimte van die mite en ervaar die dinge en God persoonlik.  Jesus word nou die “Christ consciousness” binne die mistikus.  Die laaste vlak is die mities avatar.  Op hierdie vlak val alle metafore en mites weg en die gelowige ervaar net wat is, naamlik die ongemanifesteerde werklikheid.  Hier gebruik niemand meer woorde om die ervarings met die Gees te beskryf nie en alle verknogtheid verdwyn.  Die Avatars help ander om transformasie te ondergaan en kan oor godsdiensgrense heen mense aanraak.  Hierdie vlak is waarna Jesus verwys het toe hy die oproep gemaak het: “Soek eers die koninkryk van God…”

 

Wanneer mense van die eerste, tweede  en derde persoon perspektiewe praat bedoel ons met die 1ste persoon perspektief die persoon wat praat, die “ek”.  Met die 2de  persoon perspektief bedoel ons die persoon met wie ons praat, die “jy en jou” en die 3de persoon perspektief die persoon of ding waarvan die twee mense praat, die “sy, hy of dit.”  Wanneer ons ervarings van God in die derde persoon het dan sien ons God as die Natuur, as dit wat ons kan bestudeer en vereer.  Baie ekoloë sien God as die wonderlike en delikate ekosfeer of selfs Gaia.  Hulle beskou die mens as die indringer wat plek vir die natuur moet maak.  Die kosmiese adres van God vir die “natuurkinders” is die derde persoon perspektief op die rasionele en pluralistiese vlakke.   Die tweede persoon perspektief op God is vir ons almal bekend.  Ons aanbid God as die Een met wie om praat en spreek Hom aan as “U.”  God bly altyd buite die mens en gryp in wanneer ons Hom daartoe vra.  Angus Buchan verabsoluteer die tweede persoon perspektief op die mitologiese vlak met sy patriargale orde en absolute “waarhede.”  Die gelowige kan in ontsag en nederigheid voor God buig en Sy grootheid erken.

 

Die eerste persoon perspektief is wanneer ons eenheid met God ervaar en erken.  Mistici van alle godsdienste het hierdie belewenis alhoewel nie alle kontemplatiewe Christene hierdie eenheid wil erken nie.  Wanneer Jesus sê, “Ek en die Vader is een,” dan bedoel hy dat alle mense van hierdie eenheid kan praat.  Min mense ervaar egter hierdie eenheid met God.  Meester Eckhart, ʼn Duitse Middeleeuse mistikus, het hierdie eenheid soos volg uitgedruk: “Die oog waarmee ek God waarneem is dieselfde oog waarmee God my sien.”  En ook: “Die een wat ken en die een wat geken word is Een.  Eenvoudige mense verbeel hulle dat hulle God daar moet sien staan en hulle hier.  Dis nie so nie.  Ek en God, ons is een in kennis.”

 

Indien Meester Eckhart vandag hierdie uitsprake van die kansel sou maak sou nie net sy boeke “in die hel” gebrand het nie, maar sou hy ook heelwaarskynlik op die spreekwoordelike brandstapel beland het.  Meeste kerkleiers en teoloë kom nie elke dag in aanraking met die soort taalgebruik en siening van God nie.  Identifikasie of eenwording met God is vir meeste Protestantse Christene, wat God as die Gans Andere, as Tweede Persoon perspektief, sien, onaanvaarbaar.  Moderne mistici soos Thomas Keating, Albert LaChance, en ander gebruik, seker uit vrees vir vervolging of omdat hulle nog op die mities letterlik en mities rasionele fases is, steeds taal wat op die vlakke is, om die ervaring van God op die mistieke vlak te beskryf.  Tog is hierdie belewenis van eenheid met God nie vreemd in die Christelike tradisie nie.  Gedurende die Middeleeue, die tyd van Meester Eckhart, was daar ʼn hele aantal Christen mistici wat hulle eenheidservarings op skrif gestel het om ander die pad na hierdie eenheid aan te dui.  Theresa van Avila, Bernard van Clairvaux, Johannes van die Kruis, Franciskus van Assisi, en Hildegard van Bingen is ʼn aantal bekende kerklik historiese name.  Bernard McGinn noem in sy boek “The essential writings of Christian Mysticism; “om een met God te word is dikwels beskryf as die belangrikste kenmerk van mistici maar die wyse waarop hulle God se direkte teenwoordigheid beskryf, verskil.”  

 

Ongelukkig bied die kerk glad nie of baie selde geleenthede of maniere vir Christene wat na die mistieke vlakke toe wil beweeg, aan.  Alan Watts het reeds in 1971 in sy nuwe voorwoord van die heruitgawe van sy 1947 boek Behold the Spirit (1971:xxi) gewaarsku, “if Christian groups cannot or will not provide mystical religion, the work will be (and is already being) done by Hindus, Buddhists, Sufis, unaffiliated gurus, and growth centers.  Churchmen can no longer afford to laugh these things off as cultish vagaries for goofy and esoteric minorities – as if any intensive practice of religion had ever, anywhere at any time, been of interest to the majority of people.” Verder voer Watts in Behold the Spirit (1971:xiii) aan dat; “A Christianity which is not basically mystical must become either a political ideology or a mindless fundamentalism.”    Hoeveel van die tradisionele hoofstroom kerke is reeds vandag nie, as gevolg van hulle weiering om die eenheid met God te erken, in politieke ideologieë of in gevaarlike fundamentalisme vasgevang nie? ʼn Voorbeeld van hierdie ideologie is die onlangse besluit van die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika (GKSA) dat geen vroue in die “regeer amp” mag dien nie.  Hulle regverdig hierdie patriargale arrogansie op grond van die afgevaardigdes se ernstige “gebede”, wat uiteraard tot die Mities Letterlike Adres van God gerig is.  Natuurlik sal God op hierdie adres geen ander besluit kan goedkeur nie.

 

Die kerk het lank genoeg by die Mities Letterlike en die tweede persoon Kosmiese Adres van God stilgestaan.  Baie gelowiges wil egter na binne kyk om God se adres op die Misties Argetipe eerste persoon vlak, dus identifikasie met God, te vind.  Hoe lank moet ons nog wag voordat die tradisionele hoofstroom kerke wakker gaan word?  Soos Watts reeds aangetoon het, loop mense wat nie langer wil wag nie, reeds op ander spirituele paaie, soos Boeddhisme, Hindoeïsme en Paganisme.  Die vraag is nou:  Op watter Kosmiese Adres vind jy God?

 

Bronne:

  • ·         Cortright, B. 2007. Integral psychology Yoga, growth, and opening the heart.  Albany: State University of New York Press.
  • ·         Higginbotham, J & R. 2009. ChristoPaganism: An Inclusive Path. Woodbury: MN Llewellyn Pubications.
  • ·         McGinn, B. 2006. The essential writings of Christian mysticism. New York: Modern Library. 
  • ·         Watts, A. 1971. Behold the Spirit: A study in the necessity of mystical religion.  New York: Vintage Books.
  • ·         Wilber, K. 2000. The collected works of Ken Wilber Vol.  6: Sex, ecology, spirituality.  Boston/London: Shambhala.
  • ·         Wilber, K. 2006. Integral spirituality: A startling new role for religion in the  modern and postmodern world. Boston/ London:  Integral Books.
Share this / Deel hierdie: