Die Wêreldbeker sokkertoernooi het ’n golf van nasionale trots oor ons land en haar mense laat spoel, sodat selfs diegene wat skepties gestaan het oor die potensiaal van Suid-Afrika om suksesvol as gasheer op te tree in hierdie Meksikaanse golf van nasionale trots, nie anders kan as hulle te laat meesleur nie. Tot ’n sekere mate herinner hierdie huidige optimisme aan die emosies wat losgemaak is na afloop van die Springbokke se verowering van die Rugby Wêreldbeker in 1995 en Bafana Bafana se wen van die “Africa Cup of Nations” in dieselfde jaar. Hierdie laaste twee sportseges was binne die gees van ’n neutvars nuwe Suid-Afrika asook oud-president Nelson Mandela en emiritus aartsbiskop Desmond Tutu se droom van ‘n sogenaamde “reënboog nasie”.

Volgens die Katolieke teoloog Mark Hay[1] het hierdie sport-geleenthede “a national atmosphere of unity and reconciliation” geskep in daardie jare in Suid-Afrika. In teenstelling met hierdie siening van Hay, het die skrywer en digter Antjie Krog in haar bekende boek Country of my skull[2] die psigiater dr. Sean Kaliski aangehaal wat toe gepraat het van “this quick fix, this Rugby World Cup scenario”. Hierdie sportgeleenthede, asook gebeure soos die inhuldiging van pres. Mandela as staatspresident, was waardevolle en saambindende simboliese gebeure. Net so was die pas afgelope Sokker Wêreldbeker ’n ware stimulus vir sosiale kohesie in ons land. Tog kan ’n mens nie help om weer ook aan Krog en Kaliski se opmerkings soos hierbo genoem in die jare 90, nou meer as ’n dekade later, terug te dink en te wonder oor die diepgang van die samehorigheid waarvan sportgebeure die katalisator is nie.

Dit is te betwyfel of die sportseges van 1995 aanleiding gegee het tot ware versoening. Die prosesse waardeur individue en ’n nasie moet gaan ten einde versoening te bereik, die nodige emosies wat gekanaliseer en verwerk moet word na ’n traumaties geskiedenis soos die van Suid-Afrika, en die oorgange wat na ’n volgende stadium gemaak moet word, kan nie deur ’n sportgebeurtenis alleen bereik word nie. Die saambinding en sosiale kohesie waarvoor hierdie sportgebeurtenisse verantwoordelik is, lê nog op die oppervlak en veel meer diepte is nodig indien daar nader aan werklike versoening beweeg kan word. Toegegee, hierdie sportgebeure is miskien een deeltjie van die legkaart wat nodig is vir die groter prentjie wat ons versoening noem, maar desnieteenstaande is meer nodig.

Wat presies is dan nodig? Indien die mikpunt ware versoening is, dan gaan dit oor diepte wat kortkom. Die saambinding van sportgeleenthede is goed en noodsaaklik, maar dit kan nie net by ’n nasionale gevoel bly en simbolies uitgedruk word in vlaggies op karre, hoe waardevol dit ookal is, nie. Dit moet dieper sink en verskeie grense moet oorgesteek word ten einde enigsins daarby te kan uitkom. Miskien is die rugby in Soweto en gepaardgaande blootstelling wat sommiges in die proses kry, ’n goeie begin. Die biere wat by die sjibeens gedeel word, is verseker ’n stap in die regte rigting. Sulke kortstondige ontmoetings is goed, maar daardie gedeelde biertjies en gesamentlike vuvuzela lofprysings bly egter steeds net ’n begin, deel van ‘n toetrede-fase en veel meer is nodig, iets dieper, iets van ‘n meer sakramentele en opofferende aard.

In die lig van die feit dat hierdie eerste Sokker Wêreldbekertoernooi op Afrika bodem was, sou in mens seker in die godsdienstige wysheid van ons kontinent self ook gaan aanklop vir raad en leiding vir die verdere verloop van hierdie liturgie. Die bekende Afrika teoloog, John Mbiti, het in ongeveer dieselfde tyd as wat Hay en Krog oor versoening geskryf het, ’n artikel gepubliseer met die titel “Hearts cannot be lent!” In kort iets meer van Mbiti se argument in die betrokke artikel wat hy baseer op sy bestudering van rituele in Afrika, hy volg dus hier ’n heel liturgiese benadering. Volgens Mbiti is godsdienstigheid ’n kenmerk van die inwoners van die kontinent van Afrika, en Afrika-godsdiens vorm die ruggraat daarvan.[3] En Afrika-godsdiens het ‘n spesifieke wyse waarop dit omgaan met sake soos vrede en versoening. Afrika-godsdiens is volgens Mbiti só geïntegreer met mense se lewens dat dit haas onmoontlik is om ’n lyn tussen sekulêr en godsdienstig te trek en dat hierdie Afrika-godsdiens die inwoners van die kontinent se wêreldbeskouing gevorm het. En bekeerlinge bring elemente van tradisionele Afrika-godsdiens saam na godsdienste soos die Christelike geloof.

Opsommenderwys kan gesê word dat God die een is wat vrede gee. Dat die menslike lewe ’n eenheid vorm met en afhanklik is van die natuur. Soos water lewe in die natuur onderhou, só onderhou en vermeerder vrede ook menslike lewe. Met die afwesigheid van vrede is daar geen geluk in ’n gemeenskap nie en is mense se lus vir werk en selfs vir lewe afwesig. Vrede is altyd ’n gemeenskaplike gawe en is betekenisvol in verhoudings vanaf God, die lewende dooies, die gemeenskap tot by die natuur. Vrede reik dus ook na die spirituele, en die balans en vrede tussen die fisieke- en spirituele wêrelde moet ook gehandhaaf word. Hierdie vrede met die spirituele is een rede waarom begrafnisse byvoorbeeld so belangrik is, naamlik om vrede met die spirituele wêreld van onder andere die lewende dooies te bewaar, aldus Mbiti.

Soms word hierdie vrede egter ontwrig, of eintlik heel dikwels in Afrika, sodat Mbiti telkens kan verwys na die huilende en bloeiende kontinent, en daarvoor bestaan ’n ryke versameling rituele om vrede te herstel en versoening teweeg te bring. Rituele wat miskien ook as ’n bron kan dien vir wysheid rakende die moontlike verdere verloop van die Wêreldbeker-liturgie. Aangesien vrede en versoening so belangrik is in Afrika is hierdie rituele ook baie belangrik sodat F.K. Lumbala kan opmerk: “Rites of reconciliation are amongst the most important rites in Black Africa, because on them depend the restoration and maintenance of life in community”.[4]

Vanuit ’n bestudering van enkele van hierdie rituele maak Mbiti enkele opmerkings oor versoening binne ’n Afrika-konteks. Baie belangrik is die algemene houding van beide partye betrokke in versoening, wat Mbiti aandui met die spreuk, “hearts cannot be lent” en as volg verduidelik: “Genuine peace and reconciliation are profound matters for the heart. Lasting peace and sincere reconciliation demand an exchange and not a borrowing-and-lending of hearts”.[5] Ware versoening behels met ander woorde ’n bereidwilligheid aan beide kante om nie halfhartig in te gaan in die proses nie, maar in wedersydse vertroue. Die daad of ritueel van versoening word versterk deur getuies. Verder moet elke party iets prysgee wat ook hulle bereidwilligheid aandui. Onskuldige bloed moet verder vloei soos die bloed van ’n onskuldige dier in plaas van mense wat mekaar se bloed laat vloei, “one dies in order that many lives may be saved”.[6] Vrede en bloed gaan saam. Die deel van kos is verder belangrik – saam eet en drink bevestig die versoening, tesame met gebede wat die spirituele dimensie invokeer. Laastens word formele vloeke uitgespreek teen diegene wat hierdie versoening verbreek, aangesien vloeke baie ernstig gesien word in Afrika en as sodanig bykans as spirituele waghonde van vrede en versoening gesien kan word[7].

Mbiti se siening bring ons terug by die sportgebeurtenisse wat deur sommige navorsers ook al as rituele beskryf is.[8] En die Wêreldbeker-toernooi sou ons selfs kon sê, het ’n nasionale erediens of liturgie in beweging gebring, soos dit vroeër al geinsinueer is. Nadat die liturgiese ruimtes voorberei is en baie voorbidding gedoen is met die oog op die samekoste, het die volk opgegaan na die tempels om te versamel. Die gemeente het vergader en die samekoms, die gemeenskap, was daar en is tot ’n mate steeds daar. Dis goed. Suid-Afrika as gemeente het vergader en die voorgangers het die votum uitgespreek: “Ke Nako, it is here”. Die gemeente het responsories geantwoord: “We can feel it”. Die seëngroet is uitgespreek: “Nkosi Sikilel’ iAfrika” en saam met Shakira en Freshly Ground het die vuvuzelas die pas vir die lof en aanbidding aangegee en die gemeente is meegevoer en het ingeval met die ritmes van die diski-dans en uitroepe van “ayoba”. En min sal stry dat op die kontinent van die Afrika, die grond waarop ons tydens hierdie toetrede-fase van die Wêreldbeker-liturgie gestaan het heilig was. Op die oomblik lees verskeie voorgangers vir die volk wat gebly het in Suid-Afrika nadat die besoeker weer huiswaarts moes keer die wet – soos dat die gees behou moet word en die samehorigheid moet oorvloei na ons daaglikse lewens. Maar plek-plek begin van die versamelde gemeente nog lank voordat hierdie liturgie verby is, uitglip by die sydeure. Hoekom sou dit die geval wees? Omdat ons weet dat die skuldbelydenis na hierdie soort ontmoeting noodwendig moet volg? Dalk vrees ons die verootmoediging en die toewyding van die gesamentlike belydenis? Weet ons dan nie dat die vryheid van die absolusie en die lewe van dankbaarheid volg op die belydenis nie? Of is ons moeg vir nog versoeningspreke terwyl daar net te veel dinge in die land ons te dwars in die krop steek dat ons dit enigsins sal waag om ons harte uit te ruil? Gaan ons maar eerder as gevolg van al die dinge in die land wat ons pla eerder net vir die Wêreldbeker-tyd ons harte vir mekaar leen? Of dalk is dit die offer na die Woorddiens wat ons vrees, die bloed van die onskuldige vir die skuldiges wat moet vloei? Het die offerbloed nie klaar gevloei wat die uitruiling juis moontlik maak nie? Miskien is dit eerder omdat ons die ritueel van die offergawes maar al te goed verstaan, dat ons weet ons moet wegkom alvorens die diens tot daar gevorder het. Ons weet geld is goedkoop en dat daardie offerhandeling veel meer van ons gaan vra soos daardie lastige 67 minute van diens? Of is dit die moontlikheid van liturgiese lament, ontontbeerlik vir ’n ware versoeningsliturgie, wat net die gevoel wat die lofprysing gevestig het, gaan bederf? Hoeveel van die versamelde gemeente is nog oor teen die einde van die Wêreldbeker-liturgie wat nog die seën kan ontvang en werklik na die liturgie na die liturgie gestuur kan word?

Kan sportgeleenthede katalisators wees vir ’n dieper proses van nasionale versoening? Miskien is die vergelyking in hierdie artikel te negatief, of dalk is dit nie negatief genoeg nie en is dit wat eintlik kort die uitspreek van een van die Afrika-vloeke waarvan Mibiti in sy artikel praat. Die Wêreldbeker het gewys dat die reënboog van 94 soms wel nog in Suid-Afrika sy verskyning kan maak om ons soos Noag te herinner aan wat was en wat kan wees. Hoe dit ookal sy, John Mbiti se woorde uit die 90’s bly ’n toetssteen vir ware versoening ook in ons dag en dit is – “hearts cannot be lent!”

 

 


[1] Vergelyk, Hay, M. 1997, p. 5.

[2] Vergelyk, Krog, A. 1998a. Country of My Skull. Londen: Vintage, p. 195.

[3] Sien, Mbiti, J.S. 1999. “‘Hearts Cannot be Lent!’ In Search of Peace and Reconciliation in African Traditional Society”. The Princeton Seminary Bulletin Vol. XX/1, p. 2.

[4] Lumbala, F.K. 1998. Celebrating Jesus Christ in Africa. Liturgy & Inculturation. Maryknoll: Orbis Books, p. 58.

[5] Mbiti, J.S. 1999, p. 3.

[6] Ibidem, p. 8.

[7] Vergelyk, Ibid., p. 7 – 12.

[8] Vergelyk byvoorbeeld Van Beek, W.E.A. 2008. De rite is rond. Boodschap en betekenis van ritueel. Universiteit van Tilburg.

Share this / Deel hierdie: