Vroeg Desember sit ons in die volgepakte skoolsaal waar ons kinders leerders is. Op elke stoel lê ʼn gedrukte blaadjie vir besoekers met ʼn duidelike uiteensetting van die verloop van die verrigtinge. Die program bestaan uit die tipiese eklektiese saambring van toesprake, dankbetuigings, kersliedere, pryse, gebede, Skriflesings en natuurlik ook die sing van die skoollied ter afsluiting van die byeenkoms. Een van die leerkragte neem haar plek agter die mikrofoon in, stel haarself as Mrs. Shea voor wat vir die geleentheid ook as seremoniemeester sal optree, heet almal hartlik welkom en sê met ʼn vriendelik tog didaktiese stemtoon die volgende voor die eerste item op die program aangekondig word: “Now listen children, you do not clap after a prayer, a hymn or a Scripture reading.”

Hierdie klein stukkie liturgiese kategese van Mrs. Shea het sy aan die kinders gerig, maar dit was verseker ook uit ervaring vir die besoekers bedoel. Vir die res van die oggend kon ek nie anders as om Mrs. Shea se woorde en werkswyse as seremoniemeester deur ʼn waarderende liturgiewetenskaplike bril te bejeën nie. Terselfdertyd het ek opnuut gedink hoekom ek op hierdie punt ten dele van Kierkegaard verskil met sy vergelyking van die liturgie met teater en spesifiek sy duidelike rolverdeling van God as gehoor, die erediensgangers as die akteurs en die predikant/liturg en die souffleur oftewel voorsêer (cf. Brink, 1994)[1]. Van Mrs. Shea se kerklike affiliasie weet ek niks nie, maar as ek ʼn weddenskap sou moes aangaan daaroor sou ek my geld op ʼn ouer en ‘hoër’ liturgiese tradisie plaas, byvoorbeeld Anglikaans of Rooms Katoliek, omdat ek besef het dat sy verseker ook al diep nagedink het en self beleef het oor wat (potensieel) in die liturgie en met die uitvoering van ʼn liturgiese ritueel gebeur en dat die drama van die liturgie nie ʼn wêreldse teater is wat primêr op vermaak gerig is nie, maar ʼn drama waarin die hemel en aarde handevat.

Wat is die kern van hierdie leerkrag se liturgiese kategese? Eenvoudig dit: wanneer liturgie(se rituele) (cf. Barnard, Cilliers & Wepener, 2014 vir die konsep) uitgevoer word, is ons nie besig met ʼn vertoning, ʼn opvoering of uitvoering, ʼn ‘show’ nie, maar met iets geheel anders al is daar oënskynlik sterk ooreenkomste. Om Bybel te lees, te bid of ʼn gesang te sing is nie net ʼn optrede of toneelspel nie, maar gaan veel dieper. Kom ons neem voorgaan in gebed as voorbeeld hier: die voorganger wat bid doen dit namens en saam met die ander mense en rig dit tot God. Indien die ander mense die gehoor was vir wie se vermaak die gebed gebid of die lied gesing of verhaal gelees is, sou ʼn goeie applous inderdaad in orde gewees het, maar dit is nie die geval nie. God is die ‘gehoor’ wat die applous moet verskaf, maar God is natuurlik ook veel meer as gehoor. God is nie alleen gehoor van ons gebede en ander liturgiese rituele nie, God is ook aktief in en deur hierdie handelinge wat ons by ʼn verdere punt bring wat myns insiens ook afleibaar is uit Mrs. Shea se liturgiese kategese.

God is die ‘gehoor’ vir die liturgiese ‘akteur’ wat die erediensgangers en die voorgangers behels, maar God is self ook akteur of eerder doener. Sodoende hoor God nie alleen die geleesde en gebidde en gesonge woorde nie, maar is God ook teenwoordig daarin en aktief doenend daardeur. In die liturgie gaan dit oor veel meer as net ʼn wederkerige gepraat en geluister, maar ten diepste om ʼn ontmoetsgebeure (cf. Van der Merwe, 2009). Dit was duidelik in die wyse waarop Mrs. Shea omgegaan het met handelinge soos sang en gebed, te wete dat sy ʼn heilige ontsag daarvoor het en dat teologie en antropologie onlosmaaklik daarin verstrengel is. Dit het my herinner aan een van my dosente jare gelede by die Katolieke Universiteit Brabant, prof. Anton Vernooij, wat vir ons gesê het dat ʼn priester in die liturgiese ruimte moet loop asof op heilige grond, moet brood neem en seën en breek en deel asof dit heilige brood is wat hanteer word, moet praat asof dit heilige woorde is, spesiaal en afgesonder en lewensveranderend.

Uiteraard breek ek hier nie ʼn lansie vir ʼn herwinning van die tradisionele transsubstansieasieleer nie (alhoewel die versoeking toegegee soms daar is wanneer ek sekere Zwingliaanse liturgiese verwordings sien), maar wraggies, daar is ʼn verskil in hoe brood Sondagoggend op die nagmaalstafel hanteer word en hoe die braaibroodjie Saterdagaand op die braairooster hanteer word. Eersgenoemde is afgesonder, anders, heilig. Wat maak ons nog in ons eie dag met die sogenaamde praesentia realis Dei? En soos Dirkie Smit (2009) tereg is sy uitstekende bespreking van Gereformeerde erediens vra, is die vraag presies wie hierdie teenwoordige God is ook van kritiese belang. Dit is nie ʼn God wat gewoon veronderstel word en in ons besit is nie, maar ʼn God waarop gehoop word, na wie gesmag word, die God van ons versugtinge, die God teenoor wie ons soos herte in dorre streke is en op wie se helder beek ons hoop. Dit is die God wat nie na die erediens toe gaan omdat ons na die erediens gaan nie (Noordmans, 1939) en ons sodoende ʼn handvatsel het waarmee ons God liturgies in ons greep het nie, maar terselfdertyd is dit die heilige God wat ook wel daar kan wees en ontmoet kan word en op ʼn besondere wyse aktief is in en deur die liturgie. Wanneer ons so begin praat is daar niks om voor hande te klap in die liturgie nie, inteendeel. Die liturgie is in die eerste plek nie die ruimte vir vermaak waarheen ons vir God nooi nie, maar eerder ʼn ruimte waar God reeds vir die mens wag om ons daar te ontmoet. Dit is nie ʼn gegewe waarby ʼn bietjie applous tuishoort nie, maar eerder ʼn ruimte waar ons swyg, waar ons stadiger loop met ʼn sagter voetval, waar ons leer fluister en aarselend aanraak want die Here is in sy heilige tempel…

Laat ek terugkom na die skoolsaal en Mrs. Shea: Ja, natuurlik spekuleer ek hier oor die bedoeling van ʼn onderwyseres en natuurlik is hierdie nie bedoel as wettiese krities op enige waarderende handeklap in die erediens op gepaste tye nie, maar ek is eerlik as ek sê dat dit my vermoede is waarom Mrs. Shea so uitdruklik vir die kinders vermaan het om nie hande te klap na ʼn gesang, ʼn gebed of ʼn Skriflesing nie. In ons samelewing waarin ons oorspoel word deur verskeie vorme van vermaak, is Mrs. Shea se liturgiese kategese nie net welkom nie, maar myns insiens broodnodig. Kierkegaard help ons die klem te skuif vanaf die erediensgangers as gehoor na (ook) God as gehoor en daardie skuif kan ons help in ons eie dag om sodoende opnuut in te sien dat liturge se hoofdoel nie is om te vermaak en plesier te verskaf nie, al kan aanbidding soms ook genotvol en mooi wees. Dit is egter krities om daardie skuif van Kierkegaard nog verder te neem en God ook as akteur of doener te erken in die erediens en sodoende die broodnodige sin vir die andersheid en heiligheid van wat in die erediens gebeur te herwin. Ek is oortuig dat Mrs. Shea iets hiervan verstaan, te wete dat die liturgie nie ʼn ‘show’ is nie, God is akteur én gehoor en die erediensgangers en voorgangers is ook beide, alhoewel elk op hulle unieke wyses. Soos Tom Long (2001) ons vyftien jaar gelede al aan herinner het: mense kom ten diepste na die erediens om iets van God te beleef (en vir ʼn belewenis van behoort) en nie in die eerste plek om ander meer oppervlakkige redes soos om vermaak te word nie, dit kan hulle elders ook kry en dikwels beter. En ek kan nie met woorde mense oorreed “God is hier teenwoordig/ laat ons biddend nader” nie, maar in my optrede let hulle oombliklik op wat my oortuiging in daardie verband is. Mrs. Shea se liturgiese kategese “you do not clap after a prayer, a hymn or a Scripture reading” wat verstaan kan word as ‘liturgie is nie ʼn show nie’ kan ons myns insiens hiermee help.

Bronnelys

Barnard, M.; J.H. Cilliers & C.J. Wepener. 2014. Worship in the Network Culture. Liturgical Ritual Studie. Fields and Methods, Concepts and Metaphors. Liturgia Condenda 28. Leuven, Paris, Walpole, MA: Peeters.

Brink, E. 1994. “Who’s the Host?” Reformed Worship http://www.reformedworship.org/article/september-1994/whos-host-we-may-be-getting-carried-away-kierkegaards-analogy (besoek op 15/02/2016).

Long, T.G. 2001. Beyond the worship wars. Alban Institute.

Noordmans, O. 1939. Liturgie. Amsterdam: Uitgeversmaatschappij Holland.

Smit, D. 2009. “Ontdek die eie aard van die Gereformeerde erediens.” In: Wepener, C.J. en I.J. van der Merwe (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi.BM.

 

Van der Merwe, I.J. 2009. “Tien hedendaagse liturgiese kuiwe.” In: Wepener, C.J. en I.J. van der Merwe (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi.BM.

[1] Brink (1994) sluit ook Kierkegaard se oorspronklike teks in haar bespreking in met onder andere die volgende aanhaling, te wete: “God is the most critical theatregoer, who looks on to see how the lines are spoken and how they are listened to: hence here the customary audience is wanting. The speaker is then the prompter, and the listeners stands openly before God.”

Share this / Deel hierdie: