Rondom die viering van Moedersdag op 10 Mei vanjaar dink ‘n mens graag na oor die rol van ‘n moeder in jou lewe.

 

Miskien moet ons eers vra: waar kom Moedersdag vandaan?

Wat betref die geskiedenis van Moedersdag, lees ons in Wikipedia:  die moderne Moedersdag is ingestel deur Anna Jarvis as ‘n dag waarop elke gesin hulle moeder kan vereer.  Anna Jarvis kom van die huidige staat West-Virginia in die VSA. Sy was die dogter van Ann Maria Reeves Jarvis, ‘n gesondheidswerker en aktivis tydens die Amerikaanse Burgeroorlog.  Twee jaar na haar moeder se dood hou sy ‘n diens ter herinnering aan haar moeder en begin sy haar beywer dat Moedersdag as ‘n openbare vakansiedag erken word. Sy bereik hierdie ideaal in 1914 toe president Woodrow Wilson dit so instel.

Hierdie moderne spesiale dag moet nie verwar word met vroeëre heidense en selfs Christelike tradisies waarin moeders vereer is nie. Benewens hierdie Moedersdag is die 16de eeuse “Mothering Sunday” vanjaar op 22 Maart ook as ‘n Moedersdag in Europa gevier en “International Women’s Day” in baie lande op 8 Maart.

Teen 1920 is Moedersdag in die VSA deur die handel gekommersialiseer.  Dit het Anna Jarvis baie ongelukkig gemaak en sy en haar suster het hierna hulle erfenis gespandeer om teen hierdie verwording te agiteer.  Hulle is as arm mense dood.  Anna Jarvis is nooit getroud nie en het ook geen kinders gehad nie.

Iemand sê nou die dag by sy moeder se roudiens:  “Nou is die enigste mens wat my onvoorwaardelik liefgehad het, ook weg”.  Die vraag ontstaan of ‘n liefde ooit onvoorwaardelik kan wees?  Is die opblaas van ‘n moeder se oneindige omgee nie maar net die resultaat van ‘n gemoedelike idille, ‘n sentimentele illusie nie?  Ongelukkig dra die kommersiële aspek van Moedersdag daartoe by dat die “verering” van ‘n moeder oppervlakkig kan raak en mank gaan aan valshede, hoewel die meeste mense seker sal saamstem dat baie moeders so ‘n dag verdien.

 

Dit is onteenseglik so dat die band tussen ‘n moeder en ‘n kind dikwels besonder heg is.  Moeders gaan uit hul pad uit om vir hulle kinders te sorg en, waar moontlik, klippe uit die pad te rol.  Die omgee van ‘n moeder by ‘n jong kind se siekte kan nie ge-ewenaar word nie en haar geduld met ‘n ouer kind wat herhaaldelik droogmaak, is byna onmenslik.  As jy ‘n moeder wil omkrap, kritiseer haar bloedjie, en andersom: moenie ‘n jong man se ma beledig nie, hy sal sommer handgemeen raak.

 

Psalm 131:2b beskryf die toestand van rus in God soos volg: “Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind”. Dit spreek vanself dat die verhouding tussen ‘n moeder en ‘n kind bepalend is vir ‘n gesonde emosionele lewe in die later jare.  Dat ‘n vader ook ‘n groot rol speel, is nie te betwyfel nie. Tog word algemeen aanvaar dat ‘n moeder se invloed beslissend is, veral in eerste jare waarin daar tereg van ‘n moeder meer as onvoorwaardelike liefde gevra word.  In werklikheid word bo-menslike sorg by herhaling en tot vervelens toe vereis, asook uithouvermoë sonder om baie terug te kry. Dit het wel die uiters belangrike resultaat dat ‘n kind hoop ontdek, nadat hy die eerste konflik van die menslike bestaan, nl. vertroue versus wantroue, suksesvol opgelos het (vgl. Erik Erikson).

 

Tog wonder ek oor mense wat nie ‘n goeie verhouding met hul moeder het of gehad het nie. Vir hulle is Moedersdag sekerlik ‘n pynlike ervaring.  Dit laat die doring in die vlees opnuut steek. Daar is seker legio redes vir so ‘n dilemma: dit kan gewoon ‘n swak passing in persoonlikhede wees, of moontlik is daar nog onvergeeflike optredes uit die verlede aan die spook, of dit is ‘n uiters selfgesentreerde, histrioniese moeder wat paradoksale boodskappe uitstuur. ‘n Mens kan veralgemenend sê:  ‘n ongelukkige, onvergenoegde moeder maak kinders tot wanhoop groot.  So ‘n kind ervaar die lewe as angswekkend onseker en ontwikkel baie moeilik ‘n selfbeeld om in hom/haarself te glo. ‘n Moeder is dalk lief vir haar kind, maar kan dit glad nie kommunikeer dat sy tog omgee nie. Die kind voel dat hy/sy dit nie in haar oë maak nie en gaan deur die lewe met ‘n kroniese gevoel van “ek is nie goed genoeg nie”, nie eers vir my eie ma nie.

 

Iemand het eendag na aanleiding van die stelling “God is ook jou Moeder” opgemerk: “As God soos my ma is, stel ek nie belang nie”. Dit onderstreep hoe belangrik die rol van ‘n moeder (en ook ‘n vader) kan wees in die beeld van God wat ‘n kind vorm.  Dit is sonder twyfel baie makliker om die goeie eienskappe van God te omhels as jy by jou ouers iets van daardie vergewende liefde van God leer ken. Dit bly ‘n ope vraag of daar so iets soos onvoorwaardelike liefde bestaan, by ‘n moeder en selfs by God?  Daaroor kan tereg gedebatteer word.

 

Al word Moedersdag deur die kleinhandel “misbruik”, het dit nogtans ‘n plek. Merkwaardig het die kerk deur die eeue nog altyd sekulêre feeste en spesiale dae gekersten en daaraan ‘n Christelike karakter gegee. Moedersdag kan dus gerus deur die kerk benut word om die waarde van ‘n moeder in die Christelike gesin uit te lig. Dit onderstreep die waardes van erkenning, waardering en dankbaarheid en gee aan ons gesinslewe besondere kwaliteit. Die geloof het feesviering nodig.

 

Bronne

 

http://en.wikipedia.org/wiki/Ann_Maria_Reeves_Jarvis

http://en.wikipedia.org/wiki/Erik_Erikson

http://en.wikipedia.org/wiki/Mother%27s_Day

Share this / Deel hierdie: