Inleiding

Die Bybel is ‘n boek wat deur mense, in menslike omstandighede en in ‘n menslike samelewing geskryf is. Hul kosbare nalatenis vir ons hedendaagse mense, is hul getuienis oor hoe hulle oor hul verhouding met God nagedink het, en hoe hulle hul geskiedenis in die lig van hierdie verhouding interpreteer het. Dit is dus eintlik vanselfsprekend dat ons die Bybel net beter sal kan verstaan, as onsself probeer inleef in die wêreld waarin dit ontstaan en ontwikkel het.

Dit is egter nie so maklik nie. Die skrywers van die Hebreeuse Bybel wou allereers ‘n nasionale volksgeskiedenis op skrif stel, en hierdie historiografie is veral teologies geïnspireer. Hulle was min besorg oor die alledaagse lewens van die meeste mense wat om den brode moes veg. Ou-Israel soos dit in die Ou Testament voorgestel word, is dus nie altyd lewensgetrou nie. Maar met die hulp van verwante Ou Nabye Oosterse tekste en argeologiese materiaal, kan hierdie die ou-Israelitiese prentjie van die samelewing dalk ‘n paar verhelderende kwasstrepe bykry.

Die familie

Die familie was die basiese kern van die ou-Israelitiese samelewing. In ‘n vorige artikel het ek dit reeds gesê: ons kan nie daarvan loskom of dit probeer weg redeneer nie – families was patriargaal, patrilineêr en patrilokaal. Die man was die hoof van die huishouding, en die familielyn het deur hom geloop. Wanneer ‘n vrou getrou het, het sy haar ouerhuis verlaat, en is sy in die man se familie en huishouding opgeneem. Daarom was seuns belangrik: hulle het in die familie gebly en gewerk, na die ouers op hul oudag omgesien, en kon later selfs familiehoofde van ‘n huishouding word. Dogters daarenteen was bestem om die huis te verlaat.

Die familie in die ou-Israelitiese samelewing, was die uitgebreide gesin. ‘n Tipiese huishouding het bestaan uit die man as hoof van die huis, sy vroue, volwasse seuns en hul vroue en kinders, ongetroude dogters, ander familielede soos broerskinders, slawe, slavinne en kontrakwerkers.

Poligamie was aanvaarbaar. Byvoorbeeld, Abraham, Jakob, Dawid en veral Salomo het meer as een vrou gehad. Maar waarskynlik was dit eerder die ryk en vooraanstaande burgers van die samelewing wat dit kon bekostig, want in ‘n patriargale samelewing moes ‘n man vir sy vroue kon sorg en in hul behoeftes voorsien. Vroue het nie elders gaan werk om ‘n eie inkomste te genereer nie. Slegs die armstes en ellendiges, soos Rut wat geen man gehad het om na haar om te sien nie, sou haarself verneder om uit te spring en iets te doen om haarself en haar skoonmoeder aan die lewe te hou.

Kinders was belangrik. Hulle is gesien as ‘n seën van God. Vroue wat nie kinders kon hê nie, het bitter gely en was diep ongelukkig, soos byvoorbeeld Sara, Ragel en Hanna. Daarom was dit gebruiklik in ou-Israel dat ‘n vrou haar slavin vir haar man kon gee by wie hy ‘n kind kon verwek. Dié kind is dan gesien nie as die kind van die slavin nie, maar as die kind van die man se eie vrou.

Kinders moes hul ouers gehoorsaam en eerbiedig. Sou hulle dit nie doen nie, kon hulle met die dood gestaf word (vgl Eks 21:15). Hulle moes hul ouers in en om die huis help, en hulle op hul oudag versorg. Formele skoolopleiding was in die vroeë tyd nie algemeen nie. Kinders is tuis deur hul ouers opgevoed met verhale oor die voorouers, en oor die besondere verhouding tussen God en Israel.

‘n Vrou, soos reeds gesê, het na haar man se familie gegaan, die dag as sy getrou het. Haar rol het rondom die kinders en die huishouding gewentel. Van haar is verwag om ‘n getroue en betroubare vrou vir haar man, en ‘n goeie moeder vir haar kinders te wees. Haar hele bestaan is meestal in terme van haar man gedefinieer: sy was sy vrou, byvrou, dogter, suster, weduwee, moeder. Selde kon sy vry, onafhanklik en in eie reg optree. Alles moes deur die man gebeur. ‘n Vrou sonder ‘n man was ellendig, ‘n randfiguur in die ou-Israelitiese samelewing. Juis om ‘n vrou sonder ‘n man – hetsy eggenoot of seun – te beskerm, is daar ‘n hele aantal wette in die Ou Testament wat omsien na die lot van die weduwee en die weeskind.

Dis egter nie korrek om te beweer dat die Ou Testament vroue as blote besittings van hul mans afmaak nie. Al het vroue nie veel onafhanklikheid geniet nie, het hulle bepaalde regte as mense gehad. En die Ou Testament vertel ook van vroue wat die stereotipiese prentjie van die vrou in die ou-Israelitiese samelewing deurbreek het: Sara, Rebekka, Tamar, Debora, Abigail, Rut en Ester – om maar ‘n paar te noem. Hierdie vroue het almal op die een of ander wyse inisiatief aan die dag gelê, die wet in eie hande geneem, ‘n man ore aangesit en die geskiedenis van Israel in ‘n bepaalde rigting gestuur. En die skrywers van die Ou Testament is nie skaam om dit te erken nie.

Ook slawe is deur die wet beskerm – in die geval van ou-Israel, slawe én slavinne (vgl bv Eks 21:2-11; 26-27). Slawe was wel die eienaar se eiendom, maar vermoedelik was slawemishandeling nie in ou-Israel aanvaarbaar nie. Eenmaal ‘n slaaf was ook nie vir altyd ‘n slaaf nie. Ná ‘n sekere tydperk, na ses jaar, moes ‘n Hebreeuse slaaf vrygelaat word. Maar soms het die verrassende teendeel gebeur, wat die indruk skep dat dit glad nie so sleg was om ‘n slaaf te wes nie. As die slaaf uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar ‘n gaatjie in sy slaaf se oor steek met ‘n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf (Eks 21:5-6).

Stamme

Naas die familie as kergroep, lees ons in die Ou Testament ook van stamme. Hierdie begrip is baie moeilik om te konstrueer. Dit het iets te make met herkoms, en met die groep, breër as familieverband, waartoe iemand behoort. Waar presies alles begin het, is ook onduidelik. Volgens Genesis 49 kan die twaalf stamme van Israel teruggevoer word na die twaalf seuns van Jakob wat hy by sy twee vroue, Ragel en Lea, en hul slavinne Bilha en Silpa gehad het. Maar volgens Numeri 1:47 word die Leviete nie as ‘n afsonderlike stam gereken nie, aangesien hulle vir diens in die kultus gewy word, eers die tabernakel, en later die tempel.

Die boeke Joshua en Rigters vertel verder van die stamme. Volgens Joshua span al die stamme saam om ‘n seëvierende oorwinning oor die volke in Kanaän te behaal en die land triomfantlik in te neem. Elke stam ontvang dienooreenkomstig ‘n stuk grond wat aan hom toegeken word.

Die boek Rigters skets ‘n minder rooskleurige prentjie. Hier doen elke Israeliet wat ‘reg is in sy eie oë’. Dit laat die Here se toorn ontbrand en Hy straf die volk deur hulle aan ‘n heidennasie te onderwerp. ‘n Charismatiese leier uit een van die stamme ruk op, behaal oorwinning, en die vrede is vir ‘n kort tydjie herstel … totdat elkeen maar weer doen wat ‘reg is in sy eie oë’.

Daar is egter weinig historiese bewyse vir die gebeure in die boeke Joshua en Rigters. Veel eerder het die skrywers ‘n teologiese doel voor oë gehad. In albei boeke is die vyandige magte teen die Israeliete dikwels oorweldigend, maar met die hulp van God behaal hulle ‘n grootskaalse oorwinning. Joshua vertel van die intog in die beloofde land, en die boek Rigters wil ‘n brug slaan na die monargie, na ‘n koning wat sal toesien dat reg en geregtigheid geskied.

Maar ten spyte van die onduidelikheid oor die stamme en wat presies hul funksie in Israel se vroeë geskiedenis was, blyk dit dat die verwantskap met ‘n sekere stam besonder belangrik was. ‘n Israeliet is in terme van sy of haar stam geïdentifiseer. Saul, Israel se eerste koning protesteer aanvanklik teen sy amp: ‘Ek is maar net ‘n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin!’ (1 Sam 9:21). Dawid, Israel se mees legendariese koning is uit die stan van Juda. Ná die regering van Salomo, gee wrywing tussen die stamme aanleiding tot die skeuring van die Ryk, en die monargie verdeel in die Noordryk, bestaande uit die tien stamme, en die Suidryk wat uit die oorblywende twee stamme, Juda en Benjamin bestaan.

Selfs ná die ballingskap het die stamme steeds ‘n belangrike rol in terme van identiteit gespeel, soos dit uit die Kroniekeboeke, veral 1 Kronieke 1-9 blyk. Kronieke is boeke wat beslis betreklik laat na die ballingskap dateer kan word. En in die eerste eeu (nC) verwys Paulus na homself as ‘’n Israeliet, uit die stam van Benjamin …’ (Fil 3:5).

Die oudstes

Terwyl Israel nog ‘n nomadiese en semi-nomadiese bestaan gevoer het, was die familie – en miskien die stam – die vernaamste sosiale kern. Maar namate verstedeliking plaasgevind het, het ander groepe in die samelewing gevorm. Vóór die monargie, en selfs tydens die regeringstyd van die konings, het die administrasie van die klein dorpies en stede in die hande van die oudstes gelê. Hulle het op ‘n openbare plek binne die stadspoorte bymekaar gekom en ‘n plaaslike raad gevorm om regsake aan die hoor en beslissings te vel.

Rut 4:1-8 beskryf ‘n tipiese scenario. Boas laat die oudstes en die anonieme losser binne die stadspoorte bymekaar kom m sy saak te stel: hy wil Naomi se grond koop en hy wil Rut as vrou neem. Dis die volledige paket. Wanneer die anonieme losser nie vir Rut ook kans sien nie, word die saak met die skoen-rite besleg, en die huwelik tussen Boas en Rut word daar en dan voltrek.

Ook Job (29:7-17) vertel van sy rol as gerespekteerde burger van die stad – vóór sy droewige vernedering. Hy was deel van so ‘n raadsvergadering wat binne die stadspoort op die stadsplein sitting gehad het. Almal het na hom opgesien om raad te gee, en om toe te sien dat reg en geregtigheid, veral teenoor armes, weduwees en wese geskied.

Die koning

Sommige sake was egter bo die vuurmaakplek en gesag van die oudstes. Dit wil voorkom asof daar selfs voor die monargie ‘n soort hoër hof was. Ons lees in 1 Samuel 7:15-17 dat Samuel ‘n leier was wat rondgegaan het om sake aan te hoor. Hy het sy seuns aangewys om hom as leiers op te volg, maar klaarblyklik het hulle drooggemaak, en daarom het die mense hom gevra om ‘n koning aan te stel.

Ten tye van die monragie het die hoogste appèl by die koning gelê. Dit is juis hierdie gesag wat Absolom probeer ondermyn as deel van sy opstand teen sy vader Dawid (2 Sam 15:2-4). Hy maak Dawid af as die koning wat nie na ‘n saak sal luister en ‘n regverdige uitspraak gee nie, en gee voor dat hy dit wel sou doen, indien hy in daardie posisie was.

Dit is baie duidelik dat die koning moes toesien dat reg en geregtigheid geskied (vgl bv Ps 72:2, 4). Uit die geskiedenis is dit egter ewe duidelik dat dit nie altyd gebeur het nie. So skroom die profeet Natan nie om vir Dawid aan te spreek oor sy owerspel met Batseba nie, en die stryd tussen koning Agab en die profeet Elia is ook welbekend. In breër verband blyk dit uit die stormagtige geskiedenis van Israel en Juda tot en met die ballingskap, dat daar bittermin konings was wat suksesvol regeer het. Maar uiteindelik evalueer die Ou Testament konings nie in terme van hul goeie of swak administrasie of hul vermoë om geregtigheid te laat geskied nie. Vir die Ou Testamentiese skrywers het dit net om een ding gegaan: het die koning gedoen wat reg is in die oë van die Here, of nie?

Priesters

Daar was ‘n tyd toe individue self offers aan die Here kon bring om die Here te dank of om boete vir hul sonde te doen, en gewoonlik was dit die taak van die hoof van die huishouding. Maar sedert Israel ‘n staat geword het en daar ‘n tempel vir die Here gebou is, het die kultiese verantwoordelikhede toenemend in die hande van die priesters beland. Omdat godsdiens en staat nie geskei kon word nie, was die priesters ook deel van die koning se amptenare.

Soos alle beroepe in antieke samelewings, was ook priesterskap oorerflik. In die Ou Testament word die stam van Levi vir priesters uitgesonder, maar weereens is dit nie heeltemal duidelik wat bedoel word nie. Byvoorbeeld, dit is baie moeilik om agter te kom of álle Leviete priesters was, en of alle priesters uit die stam van Levi gekom het (vgl Deut 18).

Voor die religieuse hervormings van koning Josia (2 Kon 23:4-25), het die Levitiese priesters by verskillende heiligdomme diens gedoen. Josia het bepaal dat daar net een sentrale heiligdom, die tempel in Jerusalem mag wees waar kultiese handelinge uitgevoer mag word. Volgens die teks het hy dit gedoen om die afgodery uit te roei wat by die ander heiligdomme plaasgevind het. ‘n Mens weet egter nie in watter mate hierdie bepaling suksesvol was nie, en of dit inderdaad waar was dat daar orals elders godsdienstige dwaling plaasgevind het nie!

Veral ná die ballingskap en met die monargie wat vir seker verdwyn het, het die priestersklas toenemend magtig geword. Maar ook hier bemerk ons spanning. Sterker as ooit vantevore word lyne rakende die amp van hoëpriester getrek. Slegs direkte afstammelinge van Aäron wie se geslag oor Sadok loop, kwalifiseer as hoëpriesters. Volgens oorlewering was Sadok die hoëpriester in Dawid se tyd, en was hy ook betrokke by die kroning van Salomo.

Vermoedelik het die term ‘Leviet’, in hierdie tyd na die ballingskap, betrekking op ‘n tweedeklas, ‘n laer klas priester. Hy kon wel die tempel besoek, maar hy is nie toegelaat om te offer nie. Daar word soms beweer dat hierdie Leviete ook die tempelsangers was, juis omdat hulle van die ander kultiese handelinge uitgesluit was.

Die spanning tussen die (hoër) Sadokiete en die (laer) Leviete het moontlik te make met die priesters wat in ballingskap gegaan het en die wat in die land agtergebly het. Die Sadokiete was nog altyd baie nou verbonde aan die koninklike hof en het saam met die adel in ballingskap gegaan, terwyl die Leviete wat vermoedelik aan heiligdomme elders in die land gekoppel was, agtergebly het. Ondanks die feit dat hulle de kultus die hele tyd gedurende die ballingskp aan die gang gehou het, is daar ‘n bietjie op hulle neergekyk. Wanneer die Hellenistiese tyd egter aanbreek, is die regering van die volk – polities sowel as religieus – volledig in die hande van die hoëpriester.

‘n Mens assosieer dikwels priesterskap en kultiese handelinge met offers. Maar dit was maar een gedeelte van ‘n priester se werk. In die boek Esra blyk ‘n ander funksie van die priester, een wat later al hoe sterker op die voorgrond sou tree. Esra, die skrifgeleerde priester is by uitstek dié persoon wat in die Torah onderleg is, in staat is om dit te interpreteer en om die korrekte uitleg daarvan aan die mense te gee. Die priesters sou die mense word wat die Heilige Strifte interpreteer, uitlê, dit in nuwe omstandighede herinterpreteer en nuwe tekste in antwoord op die oues skryf. Anders gestel, veral sedert die tydperk van die Tweede Tempel, is dit die priestersklas wat die grootste gedeelte van die Hebreeuse Bybel op skrif stel.

Profete

Profeet is waarskynlik die enigste beroep in ou-Israel wat nie oorerflik was nie, en wat ook nie slegs tot mans beperk was nie. In die Ou Testament lees ons van ten minste drie vroue wat as profeet opgetree het: Debora (Ri 4:4;), Gulda (2 Kon 22:14-20) en Noadja (Neh 6:14). Die enigste voorvereiste vir ‘n profeet was om insae in God se plan te hê. Dit kon op enige manier gebeur – hetsy ‘n droom, ‘n visioen, ‘n stem, of selfs net ‘n innerlike oortuigde wete – en dit kon met enigiemand gebeur.

Daar was beslis profete aan die koninklike hof, om soos Natan die koning tereg te wys as sy optrede teen die wil van die Here skrei, of om te bevestig dat die aangewese troonopvolger wel die Here se goedkeuring wegdra. Maar dit was veral in die geval van oorlog wat die profeet geraadpleeg is om uit te vind of die koning die slag gaan wen of nie.

In 1 Kon 22:6-40 lees ons van so ‘n geval. Daar is skynbaar nie minder as vier honderd profete aan die koninklike hof van koning Agab nie. Koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda span saam om teen Ramot in Gilead te gaan veg, en Agab vra die profete of hy dit wel moet doen. Soos uit een mond antwoord hulle bevestigend, maar Josafat dring daarop aan om ook te hoor wat die profeet Miga, seun van Jimla sê. Miga sien egter ‘n gesig van Israel wat verstrooid lê – ‘n visioen wat verder bevestig word deur ‘n blik in die hemelse troonsaal en ‘n gesprek tussen die Here en ander hemelwesens. Nodeloos om te sê, Miga se doemprofesie het waar geword.

Slot

Na alles wat gesê is, moet ons erken dat dit tog baie moeilik is om ‘n beeld van die ou-Israelitiese samelewing te konstrueer. Verder is ons voorstellings gekondisioneer deur rolprente wat al te dikwels oorboord gaan wanneer dit by die prag en praal van ‘n koninklike hof kom. Boonop is die Hebreeuse Bybel self die produk van ‘n handjievol hoogs geleerde en hoogs ideologiese skrywersklas wat ‘n bepaalde beeld wil skep, en nie ‘n realistiese en betroubare wêreld voorstel nie. Hul geskrifte – selfs die aartsouervertellinge – vertel van God se betrokkenheid in hul nasionale geskiedenis, en van die belangrike en magtige mense wat in hierdie godsgeskiedenis ‘n rol gespeel het.

Hoe die meeste mense, die grootste gedeelte van die volk gelewe het, sal ons nooit weet nie. Hul ervaringe en gevoelens het by die skrifte verbygegaan en lê vir ewig onder die stof van eeue verlore.

Bronne

Barton, J & Bowden J 2004. The Original Story. God, Israel and the World. London: Darton, Longman and Tod Ltd.

Cohn Eskenazi, T & Fryner-Kensky, T 2011. Ruth. Philadelphia: The Jewish Publication Society.

De Vaux, 1988. Ancient Israel. Its Life and Institutions. London: Darton, Longman & Todd.

Sheffler, E 2001. Politics in Ancient Israel. Pretoria: Biblia Publishers.

Van der Toorn, K 2007. Scribal Culture and the Making of the Hebrew Bible. Cambridge: Harvard University Press.

Share this / Deel hierdie: