Inleiding
Hoekom sou teoloë, predikante en lidmate van enige Christelike denominasie ‘n studie wou maak van die Ou Nabye Ooste? Van watter waarde is die geskiedenis, die tekste, die mites vir ‘n ware Christengelowige vir wie die Bybel die enigste ware en betroubare bron is? En sê nou maar die Baäls en Astartes teen wie die Ou Testament herhaaldelik waarsku, raak al te verleidelik, en dra daartoe by dat ‘n mens jou geloof heeltemal verloor? Of, aan die ander kant, kan ‘n studie van die Ou Nabye Ooste ons dalk help om meer te verstaan van die wêreld, die denke en die mense van wie die Bybel ons vertel?

 

Kulturele agtergrond
Nog voordat Israel tot die wêreldpolitiek en –ekonomie van die Ou Nabye Ooste toegetree het, was daar reeds ander magtige volke op die toneel. Aan die Oostekant was Mesopotamië, die land van die Assiriërs en die Babiloniërs. Aan die Suidwestelike kant was Egipte, en teen die Noordwestelike kus het Fenisiese handelaars met gesofistikeerde skepe die bekende seë deurkruis. Groot stedelike kulture met komplekse burokratiese regering-strukture en literêre tradisies is gevestig, terwyl Israel nog in die landelike familie-gebaseerde fase van haar geskiedenis verkeer het.
En met die aanbreek van die monargiese tydperk, was Israel nie ‘n geïsoleerde, afgesonderde landjie sonder enige kontak met die buitewêreld nie. Inteendeel. Israel was min of meer in die middel van handelsroetes tussen Oos en Wes, Noord en Suid. En voortdurend sou veral drie groot wêreldmoondhede meeding om heerskappy oor die Ou Nabye Ooste te verkry: Egipte, Assirië en Babilonië. In 721 vC val die Noordryk onder Assirië, en in 586 vC buig Juda die knie voor Babilonië.
Israel se kultuur, kultiese gebruike en letterkunde is dus gedrenk deur dit wat die omringende kulture gedink, gedoen en geskryf het, en moet binne die konteks van die Ou Nabye Ooste verstaan word.

 

Die Bybel en die letterkunde van die Ou Nabye Ooste
Die Hebreeuse Bybel is ‘n literêre werk en het nie slegs binne die konteks van die Ou Nabye Ooste ontstaan nie, maar ook binne bepaalde literêre konvensies van die tyd. Sekere ‘genres’ het sekere reëls gehad wat gevolg moes word. Natuurlik is daar geen woord vir ‘genre’ in enige antieke taal nie, maar tog is liedere in digvorm geskryf, is konings se kronieke in prosavorm opgeteken, is regstekste op ‘n bepaalde manier opgetrek, en is vasalverdrae altyd met seën- en straf-formules afgesluit. Ensovoorts. Met ander woorde, daar was iets soos algemene literêre konvensies waarvan skrywers kennis moes dra as hulle ‘n bepaalde soort teks op skrif wou stel. Ou Nabye Oosterse literêre bronne – ouer as Israel maar ook min of meer gedurende dieselfde tyd – verskaf dus ‘n belangrike raamwerk waarbinne Ou Testamentiese letterkunde (die Hebreeuse Bybel) bestudeer kan word.

Wet en Verbond
In die Ou Testament is daar drie belangrike wettiese versamelings: die Bondsboek (Eksodus 21:1-23:33), die Heiligheidskodeks (Levitikus 17-26) en die Deuteronomistiese Wetskodeks (Deuteronomium 12-26). Soortgelyke Ou Nabye Oosterse wetsversamelings bestaan ook. Daar is die ouer Sumeriese wette van Ur Nammu en Lipit Isjtar, die Ou Babiloniese wette van Eshnunna en die welbekende wetskodeks van Hammurabi, en nog ander Middel-Assiriese, Hittitiese en Laat-Babiloniese wetsversamelings.
Deurgaans blyk dit dat daar hoë etiese en morele standaarde was wat vir alle samelewings gegeld het. Reg en geregtigheid moet geskied. ‘n Ander se eiendom moet gerespekteer word. Billike lone moet aan slawe betaal word. En die belange van weduwees en weeskinders moet beskerm word. Nie veel anders as die inhoud van Ou Israelitiese wetgewing nie. Klaarblyklik was daar ‘n wydverspreide en gemeenskaplike regstradisie wat deur die streke van Mesopotamië, Sirië en Palestina gegeld het. Bittermin bybelse wette is uniek aan Israel.
Wat is dan anders? In die Hebreeuse Bybel word Moses voorgestel as die een aan wie God die wet op die berg Sinaï direk openbaar het. In Mesopotamië was Sjamasj, die Songod, die bron en waarborg van geregtigheid, maar die konings het die wette formuleer en dit toegepas. Daar was niks van ‘n goddelike openbaring of van wette wat spesifiek deur ‘n god gegee is nie.
Wanneer Moses die Torah direk van God ontvang, word Israelitiese wetgewing in ‘n nuwe religieuse konteks geplaas. En verder geld hierdie wetgewing as ‘n bepaalde Verbond tussen God en volk. So ‘n verbond tuseen ‘n god of gode en ‘n volk, is totaal ongekend in die res van die Ou Nabye Ooste. Daarenteen is die doel van Israelitiese wetgewing nie slegs om reg en geregtigheid in die samelewing te laat geskied nie, maar om die Verbond tussen God en sy volk te bevestig en in stand te hou.
Israel – of die skrywers in Ou Israel – neem dus politieke en regstaal wat kontrakte tussen menslike partye uitspel, en pas dit aan om die religieuse verhouding tussen God en sy volk uit te spel. Die Verbond is sekerlik die belangrikste bestanddeel in Israel se verstaan van die wet. En omdat die Israelitiese wet binne die konteks van Verbond en gehoorsaamheid geplaas is, vervat dit ook die gepaste religieuse response – kultiese en rituele verpligtinge – van dankbaarheid teenoor God se genadige en reddende dade teenoor Israel.

Himnes en Psalms
Sang is inherent aan religie. Alle kulture deur die eeue het liedere tot die gode gerig, en ook die bybelse psalms toon opmerklike parallelle met die himnes en gebede van die omringende volke. Soos reeds gesê, poësie is die kenmerkende stylvorm met sterk ritmiese elemente, aangesien dit gesing is. Verder kom dieselfde motiewe en metafore voor: lof, dank, klag, smeking, ensovoorts. Net soos die psalms in die Hebreeuse Bybel, is ook die Ou Nabye Oosterse himnes gebede van mens tot G/god.
Waar lê die verskil? Die belangrikste verskil lê in die politeïstiese aard van die Ou Nabye Oosterse himnes. ‘n Hele rits toepaslike byvoeglike naamwoorde word gebruik om soms baie gode, soms net een god aan te roep. Waarskynlik moet die bidder seker maak dat die gebed die ore van die regte god bereik. Daarenteen word slegs Israel se YHWH met ‘n kort lofprysing of ‘n ‘halleluja’ aangeroep.
‘n Verdere verskil lê in die Ou Nabye Oosterse gebed wat een god versoek om vir die bidder by ‘n ander god in te tree. Ook dit kan toegeskryf word aan ‘n politeïstiese kosmos waar daar baie onafhanklike kragte aan die werk is: die bidder vrees die voortekens of blameer sy lyding op die werk van towerkragte wat op hom uitgespreek is. In Ou Israel staan die bidder alleen voor God van Wie hy alle goed of kwaad verwag.
Gebede in die Ou Nabye Ooste – byvoorbeeld die Akkadiese ‘shu-illa’ gebede, word dikwels met bepaalde rituele voorskrifte afgesluit. Dit kom nie in die Hebreeuse psalms voor nie. Nogtans blyk dit elders in die Ou Testament dat danksegging meestal met dalkoffers gepaard gegaan het. Himnes en psalms het dikwels deel gevorm van kultiese feeste en uitgebreide rituele handelinge, en ‘n studie van Ou Nabye Oosterse bronne gee vir ons ‘n blik hoe gesange en gebede ook in die kultus funksioneer het.
Die opvallende ooreenkomste tussen die himnes van Mesopotamië en die psalms van Ou-Israel bevestig inderdaad dat daar in beide kulture professionele digters en komponiste was, en dat hul werk vir die nageslag bewaar is juis omdat dit die diepste religieuse ervaringe van die mens raak.

 

Wysheidsliteratuur
Wysheidsliteratuur is internasionaal, en daarom is dit geen wonder dat Ou Nabye Oosterse en Egiptiese tekste opvallende parallelle met die bybelse boeke van Spreuke, Job en Prediker vertoon nie. Weereens kan die ooreenkomste waarskynlik toegeskryf word aan ‘n algemene internasionale wysheidstradisie, eerder as dat Ou Israel ‘n gesegde van byvoorbeed Egipte oorgeneem en letterlik vertaal het. Omdat wysheidspreuke dikwels menslike spreuke is, soos van ouer na kind, is die verskille tussen die Hebreeuse Bybel en ander Ou Nabye oosterse bronne minder opvallend.
Wysheidsliteratuur kon bestaan uit korter of langer spreuke, maar ook verhale. Wat laasgenoemde betref, is die Akkadiese teks, ‘Ludlul bēl nēmeqi’ (Mag ek die god van wysheid prys’) ‘n sprekende voorbeeld van so ‘n verhalende wysheidstradisie. Net soos in die boek Job, is die hoofkarakter ook ‘n man wat nie kan verstaan waarom hy so bitter moet ly nie. Sy lewe lank het hy regverdig gelewe en die gode gedien, maar onverwags en onverdiend word hy deur die vreeslikste ellendes getref. Hy lê sy smart voor die gode, en smeek om ‘n verduideliking. Ook die teodisee-vraagstuk was dus ‘n welbekende tema in die Ou Nabye Ooste! Ongelukkig is die teks taamlik gebroke, maar die hoop bestaan dat Marduk, die hoof van die Babiloniese panteon hom uiteindelik van sy siekte sal genees.

 

Mitologiese tekste
Daar word soms beweer dat die Hebreeuse Bybel van mites en mitologie gestroop is, maar die mitologiese motiewe van die Ou Nabye Ooste kan nie misgekyk word nie. Byvoorbeeld, wanneer die eerste skeppingsverhaal, Genesis 1:1-2:4a met ‘Enuma elisj’ (die Babiloniese skeppingsepos) vergelyk word, blyk dit duidelik dat die Bybelskrywer bewustelik polemies teen die politeïstiese Babiloniese teologie te werk gegaan het. In Genesis 1 is daar geen spoor van die kosmogoniese stryd tussen gode nie, en tog het Ou-Israel ook iets van so ‘n wêreldorde geken – vergelyk byvoorbeeld Psalm 74:12-17.
Kom ons by die tweede skeppingsverhaal wat met die Vloed eindig (Gen 2:4b-8:22), is daar meer opvallende ooreenkomste. In die eerste plek het dit te make met ‘n bepaalde Babiloniese narratiewe tradisie wat óf met vloed begin en met skepping eindig, óf andersom, met skepping begin en met vloed eindig. Genesis 1:1-2:4a is ‘n voorbeeld van eersgenoemde: aan die begin, ‘n chaotiese watermassa en uiteindelik die skepping van die mens. Gen 2:4b begin met die skepping van die mens en eindig met die Vloedverhaal.
Die ‘Atrahasis-epos’, oftewel die Babiloniese vloedverhaal toon opvallende ooreenkomste met Noag se verhaal. Albei vertel van ‘n God/gode se misnoë met die geskape mensdom (hulle maak te veel geraas / hulle is boos); daar word besluit om alles met ‘n watervloed uit te wis; een mens (Atrahasis / Noag) word uitgesonder om die ramp te oorleef; hy word aangesê om ‘n groot skip te bou en sy naasbestaandes en diere aan boord te neem; na afloop van die gebeure, bots die skip teen ‘n berg, en ‘n her-skepping vind as’t ware weer plaas.
Tog is daar belangrike verskille wanneer die Bybelskrywer hierdie verhaal binne Israel se unieke monoteïstiese religieuse tradisie interpreteer. In plaas van die wispelturige gode in die Babiloniese panteon, is daar net een God; Hy spaar Noag nie omdat hy ‘n witbroodjie is nie, maar omdat hy regverdig is; wanneer die storm losbars, is God nie een oomblik angsbevange oor wat Hy gedoen het nie, Hy is volkome in beheer van sake; God is ook nie deur Noag se offer aangeroep omdat Hy so lank sonder mense-offers moes klaarkom nie; en uiteindelik sterf Noag soos enige mens terwyl Atrahasis met die ewige lewe geseën word.
Hierdie teks was nooit veronderstel om letterlik opgeneem te word nie: nie binne die teologie van Mesopotamië of van Ou-Israel nie. Beide vorm deel van ‘n bepaalde literêre narratiewe tradisie wat van skepping en her-skepping vertel, en beide staan aan die eindpunt van oergeskiedenis en die begin van geskiedenis.

 

Profesie
Profesie was ‘n wydverspreide verskynsel in die Ou Nabye Ooste: Kanaän, Mesopotamië, Egipte en elders. Nêrens is daar egter ‘n korpus profetiese literatuur wat met die profeteboeke van Ou Israel vergelykbaar is nie. Ooreenkomste lê wel in sommige profetiese orakels en geykte formules, soos byvoorbeeld, inleidende woorde van ‘n god (dat die profeet nie moet vrees nie), gevolg deur ‘n opdrag en belofte van ondersteuning. Hierdie orakels is egter kort uitsprake, en hoegenaamd niks soos die komplekse profeteboeke van Ou Israel nie.
Die gebrek aan profetiese literatuur in die res van die Ou Nabye Ooste, kan waarskynlik toegeskryf word aan die onderskeid wat tussen ‘spontane profesie’ en ‘induktiewe divinasie’ gemaak word. Eersgenoemde, spontane profesie, was die enigste soort profesie wat Ou Israel geken het. God se woord kom direk tot die profeet sonder dat hy daarvoor vra, hy kry ‘n Goddelike opdrag, en hy is nie altyd te gewillig om dit uit te voer nie!
Alhoewel die Ou Nabye Ooste ook ‘spontane profesie’ geken het, was ‘induktiewe divinasie’ egter meer gebruiklik. Dit is uitgevoer deur mense wat opgeleide spesialiste in die veld van divinasie was, en uitgebreide tekste bestaan in die curriculum wat hulle moes bemeester. Dit gaan onder andere om die boodskappe van die gode in die hemelliggame te herken en te interpreteer; hoe om ‘n dier ritueel te slag en die voortekens in die lewer te lees; hoe om reg vir ‘n droom voor te berei sodat ‘n god of godin in ‘n droom kan verskyn; ensovoorts. Met ander woorde, die goddelike boodskap aan die mens is meer as spontane openbaring van die god se kant, die mens kan dit op verskillende wyses inroep. Divinasie-praktyke was heeltemal onbekend in Ou Israel, en waar dit gebeur het, is dit veroordeel (1 Sam 28 – Saul en die heks van Endor).

Slot
Die teenwoordigheid van die Ou Nabye Ooste in Israel se kultuur en letterkunde kan nie ontken word nie. Daar is egter twee slaggate waarteen gewaak moet word: enersyds ‘n naïewe entoesiasme wat parallelle orals sien en Ou Nabye Oosterse materiaal as direkte bron vir bykans alles gebruik wat in die Hebreeuse Bybel vervat word. Andersyds moet daar ook teen ‘n soort religieuse imperialisme gewaak word – vergelykende materiaal word ontleed, slegs om tot die slotsom te kom dat die Bybel in alle opsigte superieur is
Uiteindelik is dit belangrik dat Ou Testamentiese navorsing deeglike kennis van die Ou Nabye Oosterse bronne moet neem, die religieuse spiritualiteit in die tekste respekteer om te sien watter kenmerke van die Bybelse geloof uniek aan Ou-Israel was. So kom beide die Ou Nabye Ooste en die Hebreeuse Bybel elk tot sy reg.

Bronne:
Clifford, RJ 2007. Wisdom Literature in Mesopotamia and Israel. Leiden: Brill.
Damrosch, D 1987. The Narrative Covenant. Transformations of Genre in the Growth of Biblical Literature. New York: Cornell University Press.
De Villiers, G 2010. ‘The origin of prophetism in the Ancient Near East’ in HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art #795, 6 bladsye. DOI: 10.4102/hts. v66i1.795.
Roberts, JJM 2002. The Bible and the Ancient Near East. Winona Lake: Eisenbrauns.

Share this / Deel hierdie: