Inleiding

Daar is baie dinge in die Ou Testament wat nie ‘histories bewys’ kan word nie. Ons kan byvoorbeeld dink aan die voortgaande debat tussen evolusie en kreasionisme, of die Sondvloed werklik plaasgevind het, en of stukkies ark wat in Turkye opgetel is, werklik ‘stukkies ark’ is. Het Abraham, Isak en Jakob werklik geleef? Kan die tien plae in Egipte moontlik aan ‘n reeks natuurlike rampe toegeskryf word? Was daar iets soos ‘n eksodus uit Egipte, en wat maak ‘n mens met Josua se triomfantlike oorwinning oor Kanaän waar mens en dier genadeloos afgemaai word, terwyl die Here hom hiermee help?

Hierdie teo-artikel gaan van agter die skerms kyk hoe die groot drama wat in die Ou Testament afspeel, moontlik op die planke gebring is.

Wat het regtig gebeur?

As ‘n mens Israel se geskiedenis, soos wat dit in die Ou Testament oënskynlik kronologies opgeteken is, histories letterlik wil verstaan, is daar baie probleme. Pogings is al aangewend om die argeologie te gebruik en deur middel van argeologiese ontdekkings te bewys dat dit ‘alles waar’ is. Ook die natuurwetenskappe is ingespan in ‘n poging om godsdiens en wetenskap te versoen. Baie van die gebeure wat in die Ou Testament opgeteken is, kan egter nie met sekerheid bewys word nie. By sommige geleerdes bestaan daar selfs twyfel of die ‘Goue Eeu’ van Dawid en Salomo ‘n werklikheid was. Hulle meen dat daar miskien iewers in die tiende of negende eeu vC ‘n vroeë unie of federasie van stamme kon bestaan het wat dieselfde taal gepraat het en dieselfde godsdienstige oortuiginge gehad het, en dalk in ‘n gemeenskaplike herinnering sou kon voortleef. Die glorieryke Verengide Monargie van Dawid en Salomo, word egter sterk betwyfel (Finkelstein & Silberman 2001:143).

Twee historiese gebeure het egter sonder twyfel werklik plaasgevind:

1) die val van die Noordryk, Israel in 722 vC deur die neo-Assiriese Ryk, die vernietiging van die hoofstad Samaria, en die vestiging van Assiriese nedersettings langs die kusgebied en elders in die land;

2) die val van Suidryk, Juda in 587/586 vC deur die neo-Babiloniese Ryk, die vernietiging van die hoofstad Jerusalem en die deportasie van die adel en priesters na Babilonië (Finkelstein & Silberman 2001:251-295).

Die laaste paar dekades in Juda

Vir die doel van hierdie artikel, fokus ons vervolgens op die Suidryk, die koninkryk van Juda, ‘n paar eeue voordat die Babiloniërs oorgeneem het. Ons begin by die regering van Josia. Volgens die Koningsboeke het omtrent al die konings gedoen ‘wat verkeerd was in die oë van die Here’, totdat hy, koning Josia die troon bestyg het.

In 2 Konings 22 word vertel dat die ‘Wetboek’ gedurende sy regering ontdek is. Die Wetboek was vir baie lank weg en vergete, en die hoëpriester Gilkia het dit toevallig in die tempel ontdek. Hy het dit vir die staatsekretaris Safan gegee, en op sy beurt het Safan dit vir die koning voorgelees. Toe Josia besef hoe ver die volk van die Here se Wet afgedwaal het, het hy sy klere geskeur en ‘n grootskaalse godsdienstige hervorming op tou gesit (2 Kon 23), onder andere het hy al die afgodsbeelde laat vernietig en die paasfees weer ingestel.

Daar is verskeie redes waarom die historisiteit van hierdie insident betwyfel word. Eerstens: Gilkia, Safan en ‘n paar ander wend hulle na die profetes Gulda en vertel haar van die insident. Sy voorspel die toekomstige ramp, die Babiloniese Ballingskap, maar sê ook dat Josia dit gespaar sal word, en in vrede sal sterf. Behalwe dat dit onwaarskynlik is dat Gulda werklik in die toekoms kon insien, het Josia nie in vrede gesterf nie, maar in oorlog onder die hand van farao Nego van Egipte gedurende slag van Karkemis gesneuwel. Römer (2007:153) werp ook ‘n ander interessante lig op die saak. Daar is soortgelyke insidente elders in die ou Nabye Ooste opgeteken waar van die ‘toevallige ontdekking’ van ‘n kleitablet vertel word, wat dikwels in die mure, pilare of vloere van ‘n tempel verborge was. Hierin was die wil van ‘n god of godin opgeteken wat ‘toevallig’ met die voornemens van die heersende vors ooreengestem het. Volgens Römer vervang die verhaal wat in 2 Konings 23 opgeteken is, die ontdekking van ‘n kleitablet met die ontdekking van ‘n ‘Wetboek’.

Die sukses van Josia se hervorming, indien dit ooit gebeur het, was egter van korte duur, want na sy leeftyd was godsdienstige wanpraktyke maar weer aan die orde van die dag. Dit lyk egter asof daar gedurende sy tyd ‘n politieke en ekonomiese oplewing was, en dat die hoop opgevlam het dat Juda weer ‘n onafhanklike koninkryk sou word. Op daardie stadium was drie groot internasionale moondhede aan die baklei: Assirië, Egipte, en die neo-Babiloniese Ryk was vinnig besig om opgang te maak. Dit lyk asof Josia teen Egipte rebelleer het, en in die proses sy lewe verloor het. En daarna was dit net afdraande pad.

In 605 vC oorwin Nebukadneser, op daardie stadium die Galdese kroonprins, die Egiptiese leër by Karkemis. In 612 word Nineve, die hoofstad van die Assiriërs deur geallieerde magte, onder andere die Galdeërs, die Mede, die Skithe en Kimmeriane, in puin gelê. Dit beteken die einde van die magtige Assiriese Ryk, Babilon word die sentrum van die ou Nabye Ooste met Nebukadneser as koning van die neo-Babiloniese Ryk, die nuutste wêreldmoondheid in die ou Nabye Ooste.

Sosiale en politieke omstandighede in Juda was uiters onstabiel, en moontlik het die koning en leiers van die volk in opstand teen Nebukadneser gekom. Daar is inderdaad bewyse dat Jerusalem ten minste twee keer beleër was, en dat die adel en priesters twee keer na Babel toe weggevoer is (Finkelstein & Silberman 2001:293; vlg 2 Kon 24:10-16; 2 Kon 25). Die eerste beleg was in 597 vC, maar koning Jojagin van Juda het hom blykbaar vrywillig aan Nebukadneser oorgegee, en die stad is dus nie vernietig nie. Baie skatte is egter buit gemaak en baie hooggeplaaste amptenare is na Babel weggevoer, wat nog meer onstabiliteit in Juda veroorsaak het.

Nebukadneser het toe ‘n oom van Jojagin, Mattanja, as koning aangestel en sy naam na Sedekia verander. Sedekia het ongelukkig die tragiese flater begaan om teen Nebukadneser in opstand te kom, iets wat die magtige koning van Babel uiteraard nie sou duld nie. In 587/586 word Jerusalem die finale en vernietigende nekslag toegedien: ‘n bekende oorlogstrategie in die ou Nabye Ooste was om ‘n stad te beleër totdat óf die koning oorgee, óf die mense van honger en ontbering omkom. In 2 Konings 25:1-3 word inderdaad berig dat Jerusalem ‘n paar maande lank beleër is totdat daar nie meer kos vir die mense oor was nie. Dit lyk asof Sedekia en ‘n klompie amptenare ‘n ontsnappingspoging aangewend het, maar hulle is genadeloos agtervolg en afgemaai. Die beskrywing van Sedekia se lot in 2 Konings 25:6-7 is besonder grusaam: hy is gevange geneem, by Ribla deur die koning van Babel verhoor, sy seuns is voor sy oë afgeslag, daarna is sy eie oë uitgesteek, hy is geboei en in kettings Babel toe gevat.

Vanaf 2 Konings 25:9-21 word van die vernietiging van stad en tempel vertel. Die stadsmure is afgebreek en die geboue is afgebrand, die heilige objekte wat in die tempel was, is óf vernietig, óf is as trofeë na Babel toe gedra, die adel, leiers van die volk, die leër en die priesters is in ballingskap weggevoer. Volgens 2 Konings 25:12 het net die armste mense oorgebly om die wingerde en die lande te bewerk, maar dit is ‘n bietjie van ‘n oordrywing. Dit is inderdaad so dat die vernietiging van Jerusalem en die ballingskap die elite en die priesterdom meer as die res van die bevolking sou ontwrig, aangesien dit hulle van hul eertydse posisies van mag en aansien in die samelewing beroof het, maar daar is bewyse daar pogings was om die kultus op ‘n manier, moontlik deur ‘lekepriesters’ in stand te hou, al was dit na alle waarskynlikheid erg afgewater.

Hoekom het dit gebeur?

Hoe dit ookal sy, die gebeure van 587/586 vC was ‘n wesenlike krisis. Die mense van Juda moes hulself afvra: waarom het die katastrofe plaasgevind?

In die ou Nabye Ooste was daar twee maniere om te verklaar waarom een nasie deur ‘n ander in ‘n oorlog verslaan is. Die mees algemene verduideliking was dat die oorwonne volk se gode nie sterk genoeg was om die mense te beskerm nie. Nie net die volk nie, maar ook die volk se gode is dus oorwin. Die Ou Testamens skep soms die indruk dat die ander volke hul godsdiens op Israel afgedwing het, maar dit was nie die gebruik in die ou Nabye Ooste nie. Eers met die koms van die Grieke sou dit gebeur. Omdat dit vir die ou Nabye Ooste logies was dat die sterker gode gewen het, was dit logies om eerder die sterker gode te aanbid as dié wat nie in staat was om ‘n mens te beskerm nie. Dit sou eenvoudig dom wees om swak gode te kies.

‘n Ander verklaring was dat die gode hul volk doelbewus in die hande van die vyand oorgegee het. Die mense, of eintlik meestal die koning en die leiers het iets gedoen wat die gode kwaad gemaak het, daarom het die gode hul rug gedraai, die volk verlaat en toegelaat dat hulle in die hande van die vyand val.

Die val van Jerusalem en die vernietiging van die koninkryk van Juda moes aan die hand van een van hierdie redes verduidelik word. Waarskynlik het die ballinge in Babilonië, onder wie die priesters en skrifgeleerdes was, meer hieroor getob as die agtergeblewenes in Juda wat moes spook en spartel net om te oorleef. Verder, die priesters – ons kan maar sê die ‘teoloë’ – het diep onder die indruk van die Babiloniese gode en godinne gekom, en veral hulle moes vir hulself afvra: was JHWH werklik te swak om hulle te beskerm, of het Hy hulle doelbewus aan Nebukadneser en die Babiloniërs oorgegee? En indien laasgenoemde die aanvaarbare verklaring is, wat was dan die rede, wat het die volk verkeerd gedoen dat JHWH sy beskerming onttrek het?   Die Judese teoloë in Babel het op verskillende maniere op hierdie vraag probeer antwoord, en begin skryf aan daardie tekste wat in die Hebreeuse Bybel opgeteken is, en wat ons vandag die Ou Testament noem.

Na aanleiding van sosiologiese teorieë, sê Thomas Römer (2007:111-112) daar is drie verskillende maniere waarop mense op so ‘n groot krisis van nasionale omvang reageer. Eerstens kan daar ‘n profetiese houding ingeneem word. Die krisis word gesien as ‘n draaipunt wat die einde van ‘n ou era en die begin van ‘n nuwe beteken. Dan is daar die priesterlike houding wat betreklik konserwatief is, en meen dat die enigste manier waarop die krisis oorkom kan word, is om na die heilige godgegewe oorsprong van die gemeenskap terug te keer en die nuwe realiteit min of meer te ignoreer. Derdens is daar die ‘mandaryn’ antwoord op die krisis. Met ‘mandaryn’ bedoel Römer nie ‘n dialek wat deur die Sjinese gepraat word nie – ‘mandaryn’ dui op ‘n burokraat of ‘n amptenaar met ‘n hoë rang in die samelewing. Die houding wat die ‘mandaryn’ inneem, is om te probeer om die nuwe situasie te verstaan, daarby aan te pas en terselfdertyd alle vorige voorregte te behou. Die ‘mandaryn’ objektiveer die krisis deur ‘n geskiedenis te bedink wat redes gee waarom die vorige sosiale strukture verbrokkel het.

Al drie hierdie reaksies kan in die Hebreeuse Bybel waargeneem word. Die ‘profeet’ se stem hoor ons baie duidelik in Deuterojesaja (Jes 40-55) se tekste. ‘n Nuwe utopie word as’t ware in die vooruitsig gestel, en die ballingskap was nodig om die oorgang na ‘n nuwe bedeling en ‘n herskepping van Israel deur JHWH te bewerk: ‘Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, en dit staan op die punt om te gebeur … omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk se dors te les … die volk wat Ek vir My geskep het en wat my lof sal verkondig’ (Jes 43:18-21). Vir Deuterojesaja was die vernietiging van Jerusalem en die ballingskap nie die gevolg van JHWH wat te swak was om sy volk te beskerm nie, maar dit moes gebeur sodat Hy ‘n nuwe Israel vir Hom kon skape.

Die ‘priester’ se stem hoor ons die duidelikste in die sogenaamde ‘Priesterdokumente’ in Genesis en Eksodus. Hier kom verhale en geslagsregisters voor wat vertel van die skepping van die wêreld en die mens, Israel se voorouers, die onderdrukking in Egipite, JHWH se mag teenoor die farao, sy verlossing en die uittog, die aankoms by die heilige berg, die gee van die tien gebooie en die oprigting van die tabernakel in die woestyn. Al die belangrikste institusies van Judaïsme word in hierdie verhale uitgespel. Die sabbat word reeds met die Skepping ingestel; ‘rein’ en ‘onrein’ diere, die basis van dieet, word in die ark opgeneem; Abraham voer die besnydenis uit; die pasga word met die uittog verbind; en die offerkultus vind alreeds in die woestyn plaas. Die ‘priester’ vind die oorsprong van die volk voor die totstandkoming van die monargie en die staat, en selfs al het die ballingskap dit vernietig, word die stabiliteit van die wêreld en die volk deur die godgegewe oergeskiedenis verseker. Die ineenstorting van die koninkryk raak nie die verering van JHWH deur kultus en rituele nie.

Die ‘mandaryn’ vorm deel van die sogenaamde ‘Deuteronomistiese skool’, hy is een van daardie skrywers wat die boeke 1 Deteronomium tot 2 Konings 25 op skrif gestel het. Die ‘mandaryne’ was die afstammelinge van die skrywers en amptenare van die Judese hof en dis hierdie groep wat die katastrofe van die ballingskap met geskiedenis probeer antwoord het. Hulle het begin met Moses se optrede net vóór die intog, en geëindig met die vernietiging van Jerusalem en die deportasie van die elite.

Die Deuteronomiste vertel die geskiedenis op ‘n baie spesifieke manier. In Deuteronomium praat Moses met die tweede geslag Israeliete. Hul voorouers het reeds in die woestyn omgekom, en Moses verduidelik opnuut vir hulle die Wet, al die gebooie wat hulle moet nakom voordat hulle die land binnegaan. Maar soos wat die geskiedenis ontvou, blyk dit dat die leiers, die volk en die konings hulle nie meer aan JHWH steur nie, toenemend ontrou raak, en ‘doen wat verkeerd is in die oë van die Here’. Daarom het JHWH sy rug op hulle gedraai en hulle aan vreemde volke oorgegee. Die ramp wat eers die Noordryk en toe die Suidryk getref het, was nie omdat JHWH swakker as die ander gode was nie, maar omdat die leiers en die volk gefaal en die toorn van hul God laat ontvlam het.

Logies gesproke moes die ramp van 587/586 vC die einde van ‘n volk en die godsdiens van daardie volk beteken het. Verrassend genoeg was dit nie die geval nie. Uit die stof en ruïnes van Jerusalem het ‘n aantal geskrifte gestalte gekry en vorm aangeneem, en rondom wat in hierdie tekste geskryf is, het ‘n volk wat hulself ‘Israel’ begin noem het, ‘n bepaalde identiteit ontwikkel. Dit was ‘n identiteit wat nie aan ‘n land of regering of selfs taal gekoppel was nie, maar aan godsdiens. Want die kern van al die geskrifte was die Here, die God van Israel en sy verhouding met sy volk.

Uiteraard is nie al die tekste tydens die ballingskap geskryf en voltooi nie – daar was nog ‘n lang proses van wat geleerdes ‘Fortschreibung’ noem en wat tot in die Hellenistiese tyd (333-ca 40 vC) voortgeduur het. Dit beteken dat namate die samelewing verander het en nuwe probleme opgeduik het, is bestaande tekste oor en oor bewerk of nuwe tekste is geskryf om nuwe antwoorde op ‘n veranderde konteks te bied. En nog later is al hierdie geskrifte in ‘n versameling opgeneem en in ‘n bepaalde volgorde gerangskik. Tot vandag toe word die tekste wat uit die diepe tragedie van die Babiloniese Ballingskap gebore is, as kanoniese geskrifte vir die religie van Judaïsme en die Christendom beskou.

Slot

Om dan nou te vra of die Ou Testament ‘waar’ is of nie, is nie regtig ‘n relevante vraag nie. Veel eerder moet ‘n mens vra, waarom is die Ou Testament die waarheid? En die antwoord moet gesoek word in tragedie, mislukking, onbeantwoorde vrae, die mens se intense worsteling met die sin – of onsin – van die lewe, en die verhouding met ‘n dikwels afwesige God. Daarom is die Ou Testament die waarheid.

Bronne geraadpleeg

Finkelstein, I & Silberman NA 2001. The Bible Unearthed. New York: Free Press.

Römer, T 2007. The So-called Deuteronomistic History. London: T&T Clark International.