Prof Christo Lombaard van UNISA se Departement Christelike Spiritualiteit en voormalige redakteur van teo.co.za het ‘n boek oor spiritualiteit geskryf en ‘n belangrike Amerikaanse boekprys daarvoor ontvang. Die prys staan as die ‘Krister Stendahl Medal in Biblical Studies’ bekend en is ter ere van die bekende Nuwe Testamentikus, Krister Stendahl, ingestel. Stendahl (1921-2008) was ‘n Sweedse teoloog en Nuwe Testamentikus, was vir ‘n ruk die dekaan van Harvard se fakulteit teologie en ook Luterse biskop van Stockholm. Hy het sy lewe aan die Joodse konteks van die Nuwe Testament gewy en wou daarmee ook ‘n brug tussen Christen en Jood bou.

Baie van ons onthou hom as die persoon wat destyds in die Interpreter’s Dictionary of the Bible probeer het om met die terme ‘what it meant’ en ‘what it means’ die spanning tussen toe (die Bybelse verlede) en nou (die hede) te oorbrug.

Stendahl was dus ‘n brugbouer tussen Jood en Christen asook tussen verlede (wat iets tóé beteken het) en hede (wat iets nóú beteken) en volgens die motivering van die Graduate Theological Foundation staan Christo Lombaard se boek in dieselfde tradisie. Die titel, The Old Testament and Christian spirituality’, verraai dit al: dit is ‘n poging om die Ou Testament se spiritualeit vir die kerk of dan die Christendom oop te maak. Lombaard het ook ‘n doktorsgraad in die Ou Testament en dus die regte persoon om hieroor met gesag te skryf.

 

Wat is spiritualiteit?

Ons gebruik die woordjie ‘spiritualiteit’ nie eintlik nie en tog weet elkeen vaagweg wat dit beteken. Daar is iets vaags aan dié woord en tog was die kerk nog altyd daarmee besig. In die Middeleeue byvoorbeeld is dikwels oor die ‘siel’ se herkoms besin en vir ons klink dit so onnodig, maar destyds was dit belangrik. Denke oor die siel moes die gelowige se voortdurende hunkering na God verklaar. Uiteindelik is gesê dat ons siel van God kom daarom verlang dit altyd terug na God.

Veel is toe ook oor die spiritualiteit’ van die siel gedink. Meister Eckhart byvoorbeeld wou een met God word en daarom moes die gelowige as ‘t ware na binne trek en die Seun diep binne-in sy siel ontvang; dit was asof die Seun van God binne-in die siel gebore is; dit was asof die Vader, die Seun en die Heilge Gees tot ‘n eenheid binne-in die siel ‘versmelt’ is en daar geen verskille tussen hulle meer bestaan nie. En wanneer hierdie mistieke eenheid tussen God en siel plaasgevind het, is die gelowige met onmeetlike vreugde oorspoel.

En kan ‘n mens dié soort spiritualiteit verklaar? Volgens Lombaard is dit onmoontlik. Spiritualiteit het met ‘n lewende geloof te make; ‘n geloof wat ons ganse lewe omspan. Spiritualiteit is die asem van die gelowige in die alledaagse lewe, maar geen denke of woorde kan die vasvat en omskryf nie.

 

Die Ou Testament se besondere dimensie

Die krag van Lombaard se boek is die klem op die Ou Testament en Israel se spiritualiteit (as ‘n mens dit so kan sê). Dit kan eintlik nie anders nie want die Ou Testament het met die lewe te make; dit is ‘n radikale nadenke oor die lewe, pyn, angs, moedeloosheid, maar ook blydskap en vreugde.

Ons kan dit ook so stel: die Ou Testament wys hoe geloof en lewe naatloos bymekaar inpas; hoe geloof en die alledaagse inmekaar verweef is; hoe Israel se ‘spiritualiteit’ in die gewone onvolmaakte lewe gestalte gekry het.

Dit spreek vanself dat die Ou Testament ‘n sentrale deel van die gelowige se spiritualiteit sal uitmaak, maar dit gebeur egter nie. Of soos hy dit stel: ‘The Old Testament is only infrequently drawn from for spiritual exercises, and it  continues to play a much less substantial role in the church than its proportions in the Bible would suggest’ (Lombaard 2012:5).

Lombaard verskaf tien moontlike redes vir hierdie onderwaardering van die Ou Testament: die wetenskaplike aard van die Ou Testament, die sosio-kulturele gaping tussen ons wêreld van dié van die Ou Testament, die redusering van die Ou Testament as bloot ‘n ‘belofte’ en slegs vanuit die Nuwe Testament verstaanbaar, die teologiese diversiteit van die Ou Testament, ensovoorts (Lombaard 2012:1-26).

Lombaard vermeld vier Suid-Afrikaners (Andrie du Toit, Fanie Snyman, Danie Louw en A Nolan) wat as vertrekpunt vir ons nadenke oor spiritualiteit kan dien. Du Toit beklemtoon ‘die lewensgemeenskap met God’, vir Louw staan Bybelse vroomheid, geregtigheid en wysheid weer sentraal, Nolan se spiritualiteit fokus weer baie sterk op sosiale kwessies asook geregtigheid (soos in die Ou Testament verwoord) asook die Nuwe Testamentiese liefde, en ten slotte sê Snyman dat spiritualiteit by God se verhouding met ons en die ervaring van sy teenwoordigheid begin (Lombaard 2012:27-52; vgl ook 2012:111-131).

 

Die Ou Testament se veelkantigheid

Lombaard sê tereg dat die Ou Testamentiese wetenskap ons van die verskillende kante van Israel se geloof bewus gemaak het. In die teks van die Ou Testament het ons die spore van Israel se geloof; ‘n geloof wat in elke eeu nuut, vars en anders uitgedruk is en wat ons moet probeer naspeur, verinnerlik en navolg. 

Die Ou Testament het oor ‘n lang tyd en in baie verskillende situasies ontstaan en daarom is dit ‘n veelkantige boek. Dit bevat selfs botsende sieninge oor dieselfde saak. Abraham se verhouding met God was byvoorbeeld totaal anders as dié van Dawid tydens die vroeë monargie. En die spiritualiteit van die profete wat sêmaar vir Sagaria 12-14 verantwoordelik was, was totaal anders as dié van Amos. Wanneer ons dus oor spiritualiteit en die Ou Testament wil nadink en dit ook vir onsself wil teo-eien  sal ons hierdie veelkantigheid terdeë in ag moet neem.

En Lombaard se boek help ons hiermee. Hy ontdek byvoorbeeld saam met ons die spiritualiteit van drie vervelige geslagsregisters asook ander dele van die Ou Testament (Lombaard 2012:83-110). Hy vertel ook van die band tussen eksegese en spiritualiteit en dan harde eksegetiese arbeid nie die geloof ondermyn nie, maar eerder opbou.

 

‘n Onuitputlike bron

Christo Lombaard is reg, die Ou Testament is die boek van die lewe. Dit vertel van mense, gewone mense wat God in hulle lewens ervaar het en oor Hom nagedink en gepraat het. Dit was egter nie so maklik nie en meestal ‘n gesukkel om God en wêreld te verstaan. Hoe moes hulle God se betrokkenheid by ons menswêreld begryp en beskryf. Soms het hulle gedink hulle weet hoe God en wêreld inmekaarpas. Dink maar aan die wysheidsleraars se optimisme in die boek Spreuke. Soms (meestal?) het Israel getwyfel en geworstel. In die klaagpsalms het hulle dit uitgeskreeu en Job het selfs die vuis vir God gebal.

En as ons die Ou Testament só lees, verstaan ons die diepte van Israel se spiritualiteit. Ons dank aan Christo dat hy ons weereens op dié dieptepunt gewys het.

 

Lombaard, C 2012. The Old Testament and Christian spirituality. Atlanta: Society of Biblical Literature.

Share this / Deel hierdie: