Praktyk en konteks is problematies

Gewoonlik word ‘prakties’ as deel van Praktiese Teologie gesien en dan met ‘praktyk’ of ‘konteks’ verbind. Om dus prakties te wees, impliseer dat ‘n mens met vandag se tyd en konteks erns maak. Die probleem met so ‘n siening is dat ‘konteks’ nie bestaan nie en dat dit elke keer weer geskep moet word. Ons dink ons verstaan ons konteks omdat ons daarin leef, maar eintlik het ons nie toegang daartoe nie. Sosiologiese teorieë kan ons wel help om iets (net iets) van ons konteks te begryp, maar ‘n volledige greep sal ons altyd ontglip. Kortom: praktyk en konteks moet dus baie versigtig hanteer word (vgl Weber 1949:48-96).

 

Alles draai om die lewe

Indien ons egter die woordjie ‘prakties’ met die lewe in verband bring, verander alles. Dan fokus ons op ons eie kleinbestaan; op die lewe waarin elkeen sonder eie toedoen gewerp is; die lewe vol wisselvallighede en onsekerhede; die lewe met sy vreugdes, maar ook ontnugtering. Teks en leser deel dan in hierdie brose bestaan en dit funksioneer voortdurend in die uitleg van die Ou Testament. Ons kan dit aan die hand van die woordjie ‘applicatio’ verduidelik (Gadamer 1990:290-295). Dikwels word die eksegetiese proses in terme van ‘subtilitas intelligendi’ (verstaan), ‘subtilitas explicandi’ (uitleg) en ‘subtilitas applicandi’ (toepassing) verduidelik. Hiervolgens moet ons eers ‘n teks uitlê en dan toepas. Eers volg die regte Skrifuitleg en dan die praktiese toepassing daarvan (Körtner 2006:1-5).

Hierteen het tereg verset gekom. Al drie vorm afsonderlike momente van die een verstaansproses. Nooit is die een sonder die ander nie. Interpretasie roep om toepassing en ook andersom. Belangrik is dat Gadamer die volgorde omruil: die toepassing is reeds by die begin teenwoordig. Omdat ‘n eksegeet hom nooit heeltemal van sy konteks kan losmaak nie, spreek sy leefwêreld van die begin af mee. Bewustelik of onbewustelik bepaal sy leefwêreld van die begin af hoe die teks gelees, wat in die teks raakgesien en hoe dit in die lewenskonteks toegepas moet word. Reg by die aanvang beïnvloed die eksegeet se leefwêreld dus reeds die eksegetiese proses. Op die manier kry die uitleg ‘n baie meer persoonlike stempel. Hou dit intens met die lewe, die gewone lewe van elke dag verband (Gadamer 1990:108-121; Grondin 2001a:86–124; 2001b:152–172; 2001c:11–29).

 

Ou Testament en die lewe

Die Ou Testament-teks wat ons lees, is ook in die lewe, in Israel se lewe gedrenk. Israel se wysheidsboeke (Spreuke, Job, Prediker) was byvoorbeeld ‘n radikale nadenke oor die lewe: oor die sin en die vreugdes daarvan, oor die maniere waarop gelewe moes word asook die gevolge van wyse en dwase gedrag, oor lyding en die rol van God, oor sinloosheid en die lekker van die lewe. Israel se wyses het denkend met hulle werklikheid omgegaan en hulle nooi ons om dieselfde te doen (vgl Zenger 2008:329-334).

Wat ons byvoorbeeld in die boek Spreuke het, is lewenswysheid waaroor veel nagedink is. ‘n Nadenke oor die lewe wat die wysheid prakties gemaak het; ‘n wysheid wat prakties is omdat dit in die lewe gedrenk is en uit die gewone alledaagse lewe voortkom. Armoede, rykdom, humeurigheid, borgstaan, sinloosheid, frustrasie, magteloosheid, ensovoorts was as’t ware die konteks waaruit die wysheid gegroei het. Oor aardse dinge (soos geld, rykdom, slawe, diere, donderweer) en menslike ervaringe (soos pyn, lyding, frustrasie) word gepraat en kennis hiervan het uit praktiese lewenservaringe gegroei. So byvoorbeeld, is die ernstige sosiale gevolge van luiheid raakgesien en daarom skryf die Spreukeboeke daaroor: ‘nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap’ (24:33-34). Wie lui is, bly honger: ‘Luiheid laat ‘n mens diep slaap; ‘n lui mens ly honger’ (19:15). Luiheid veroorsaak dat werksgeleenthede verbygaan: ”n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie, en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie’ (20:4). Daarom dan die raad: ‘Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom … Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan’ (6:6,9) (vgl Schwienhorst-Schönberg 2008:371-389).

Wie dus die wysheidsboeke bestudeer, is baie naby aan die lewe, die praktyk, die konteks. Wie die wysheidsboeke sy eie maak, verkry ‘n wonderlike dimensie op die gewone alledaagse lewe. Wie met die Ou Testament besig is, is teologies-prakties met die lewe, met elke dag se spanninge, stryd om oorlewing en nog baie ander lewensvrae besig.

 

‘n Nuwe vroomheid rondom ‘n boek

Tydens die harde vroeg-hellenistiese era (330-250 vC) het ‘n nuwe spiritualiteit in Israel ontstaan. Spore daarvan kry ons nou nog Psalms 1, 19 en 119. En die hart van hierdie nuwe spiritualiteit was ‘n boek. Meer nog: geloof, geestelike groei is aan ‘n boek (die Tora of die gekanoniseerde Pentateug) gekoppel. Hierdie ‘boekgodsdiens’ het ‘n totaal nuwe dimensie aan die geloofslewe verleen. Die persoonlike verhouding met Jahwe moes deur die Tora verinnig word. Anders gestel: die Tora was die ‘medium’ waardeur die ontmoeting tussen God en die gelowige moes plaasvind (Hossfeld & Zenger 1993:45-49).

          Die gelowige kon die woorde van die Tora vertrou: ‘want ek vertrou op u woord’ (Ps 119:43); ‘ek stel my vertroue in u gebooie’ (Ps 119:66); ‘By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue’ (Ps 119:114). Wie dit gelees het, het blydskap ervaar: ‘Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink’ (Ps 1:1-2). Wie op die woord vertrou het, kon op die toekoms hoop: ‘Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte’ (Ps 119:82). Dit het riglyne vir die alledaagse lewe verskaf: ‘U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad’ (Ps 119:105). Oor en oor word van die liefde vir die woord vertel: ‘Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by’ (Ps 119:97); ‘U woord is baie suiwer, ek het dit lief’ (Ps 119:140). En as die psalmskrywer hom nou eenmaal in God se woorde verloor het, geniet hy dit met oorgawe. Selfs al gaan dit sleg verlustig hy hom nog daarin : ‘Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig’ (Ps 119:143). Wie die woord uitleef, is ‘n gelukkige mens: ‘Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die hele wêreld’ (Ps 119:14). Die Tora het rigting aan die lewe gegee: ‘ … ek (het) gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord’ (Ps 119:67). Met woorde wat in die oorspronklike amper eroties klink, word ‘n intense verlange beskryf: ‘Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna’ (Ps 119:131) (Albertz 1992:623-633).

 

Dus:

Wie prakties-teologies wil leef en werk moet die Ou Testament lees (vgl Eissfeldt 1926:20-29; 1929:30-39).

 

Bronnelys

  • · Eissfeldt, O 1926. The history of Israelite-Jewish religion and Old Testament theology, in Ollenburger, Martens & Hasel 1992, 20-29.
  • · Eissfeldt, O 1929. Does Old Testament theology still have independent significance within Old Testament scholarship, in in Ollenburger, Martens & Hasel 1992, 30-39.
  • · Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Gadamer, H-G 1993. Hermeneutik II. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Grondin, J 2001a. Der Sinn für Hermeneutik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft
  • · Grondin, J 2001b. Einführung in die Philosophische Hermeneutik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • · Grondin, J 2001c. Von Heidegger zu Gadamer. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • · Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.
  • · Körtner, H.J., 2006. Einführung in die theologische Hermeneutik, Darmstadt, WBG.
  • · Schwienhorst-Schönberg, L 2008. Das Buch der Sprichwörter, in: Zenger, E (Hg), Einleitung in das Alte Testament, KStTh 1/1. Stuttgart: Kohlhammer, 371-389.
  • · Weber, M., The Methodology of the Social Sciences,  New York 1949.
  • · Zenger, E 2008. Eigenart und Bedeutung der Weisheit Israels, in: Zenger, E (Hg), Einleitung in das Alte Testament, KStTh 1/1. Stuttgart: Kohlhammer, 329-334.
Share this / Deel hierdie: