Inleiding

In die kerk word moeisaam met die wette in Eksodus en Deuteronomium omgegaan en dié omgang vertoon ten minste vyf kenmerke. Een, die misverstaan van die wette; dikwels word die Ou Testament se wette as statiese groothede beskou wat eeue lank op die Nuwe Testament gelê en wag het om vervul te word; in dié proses het die wette bloot historiese dokumente geword wat eintlik maar vergeet kan word want dit is nie so belangrik meer nie. Twee, daar is ‘n onvermoë by vandag se lesers om die dinamiese proses van herinterpretasie van die wette binne die Ou Testament raak te sien, te verstaan en te verwoord; ‘n onvermoë om te begryp dat die wette in die Ou Testament in nuwe kontekste nuwe betekenismoontlikhede ontvang het. Soos wat Israel se lewenskonteks verander het, het Israel die wette anders en nuut verstaan. Dit beteken nie noodwendig ‘beter verstaan’ nie, maar ‘anders verstaan’. Drie, die onvermoë om raak te sien dat hierdie herinterpretasies met verloop van tyd meer ‘oop’ geword en meer mense (en ook diere) ingesluit het – soos byvoorbeeld uit Deuteronomium se sabatsgebod hieronder blyk.  Vier, die miskyk van die deernis waarmee mense in die wette hanteer word; Israel se herinterpretasies het mettergaan meer mensvriendeliker geword en het die wette ook ‘n gevoel van omgee vir ander weerspieël – soos dit byvoorbeeld uit Deuteronomium se wette hieronder sal blyk. Vyf, die onwilligheid om die konsep van herinterpretasie in nuwe omstandighede en die vermensliking van die wette opnuut te deurdink en na te volg. Anders gestel: ons word ook opgeroep om etiese beslissings so te formuleer dat ons die andersheid van die ander sal respekteer, meer oop vir ander lewensmoontlikhede en interpretasies te word en ook meer mensliewend in ons etiek te word.

Om dié proses van herinterpretasie te illustreer, let ons op die verhaal wat vanaf Eksodus 20 tot by Deuteronomium 34 beskryf word. Dit strek oor veertig jaar en dit is interessant hoe God en ook Moses se verstaan van die wette verander of eerder gegroei en verdiep het. In Eksodus 20 gee God die Tien Gebooie en in Deuteronomium 5 verander Hy dit self. In die Bondsboek (Eks 21-23) word wette gegee wat Moses in Deuteronomium anders uitlê. Hoekom het dit gebeur? Hoekom nou die nuwe interpretasies en die nuwe beklemtonings? Die rede is dat die konteks verander het. Na veertig jaar staan Israel voor die beloofde land en alles moes nuut verstaan en anders verwoord word. Hy het toe die tekste vir ’n nuwe geslag in nuwe omstandighede so uitgelê dat nuwe betekenisdimensies ontsluit is.

Om dit te verstaan, begin ons by die Sinaigebeure in Eksodus 20. (vgl Otto 1998:1-84).

Die Sinaigebeure

Indien ons die teks vanaf Eksodus 19 tot einde Deuteronomium lees, is Moses die eerste eksegeet en is sy werkswyse insiggewend (vgl (Otto 2000:43-83). Volgens Eksodus 19 het alles op ’n spesifieke tyd en plek gebeur: drie maande na die uittog het hulle by die Sinaiwoestyn aangekom en amper twee jaar daar gebly. By Sinai sou God hulle die wette gee waarvolgens hulle moes lewe. Interessant is die tydstip waarop dit gebeur het: dit het na die uittog plaasgevind en nie voor die tyd nie. God het hulle eers sy krag en goedheid in Egipte en tydens die uittog laat ervaar voordat Hy by Sinai sy wil aan hulle bekend gemaak het. Eers moes hulle God se liefde en genade smaak en eers daarna word gesê hoe hulle hulle lewens moes inrig.

By Sinai het God hulle die Tien Gebooie of Dekaloog (Eks 20) en toe die Bondsboek (Eks 21-23) gegee. In die Bondsboek word die Tien Gebooie vir die gewone lewe toegepas en volg allerlei bepalinge oor slawe, onopsetlike moord, diefstal, ensovoorts. ’n Slaaf se lewe was ondraaglik en daarom moes reëlings in verband met sy vrylating en familie getref word (Eks 21:2-11). Moord moes gestraf word, maar soms was dit nie opsetlik nie. ’n Persoon wat onopsetlik iemand doodgemaak het, moes op ’n ander manier hanteer word (Eks 21:12-14). Bakleiende mans was ’n algemene verskynsel en ook dié gevalle moes op regsgronde beoordeel word (Eks 21:12-14) (Otto 1999a:693–96).

In die Bondsboek is die Tien Gebooie vir die alledaagse lewe dus relevant gemaak en moes Israel dit as rigsnoer gebruik. Anders gestel: die Bondsboek was vir hulle ’n voorbeeld van hoe hulle die Tien Gebooie in hulle lewens moes toepas. En Israel het dit ook so aanvaar en in Eksodus 24 word vertel hoe dit gebeur het. Moses het die volk bymekaar laat kom, uit die Bondsboek voorgelees en die volk het ‘soos een man’ gesê: ‘Ons sal alles doen wat die Here beveel het’ (Eks 24:3). Kortom: die Eksodus-dekaloog en die Bondsboek is drie maande na die uittog by Sinai as die woorde van God aanvaar (Otto 1999b:1603-1606)

Die herinterpretasie van Sinai in die Moabsvlakte

Amper veertig jaar na Sinai word die toneel na die Moabsvlakte net voor die intog verskuif. Die ou geslag wat uit Egipte gelei is, is dood in die woestyn en nou staan ’n nuwe jong geslag op die punt om die beloofde land in te neem. ’n Nuwe land, ’n nuwe wêreld, ’n nuwe leefstyl en totaal ander uitdagings het op hulle gewag. Op hierdie kruispunt in Israel se geskiedenis praat Moses weer met hulle en die hele boek Deuteronomium is sy laaste woorde aan die nuwe geslag.

En wat doen hy? Die antwoord word in Deuteronomium 1:5 gevind: ‘Dit was … in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het’. Die Hebreeuse woord vir ‘verduidelik’ dui op die interpretasie van iets en die uitleg daarvan. Een woordeboek verklaar dit met ‘to explain, clarify’ en ‘they will do to explain i. e. they will occupy themselves in explaining’ (Otto 2012a:304).

Maar wat het Moses uitgelê? Die Sinai-wette. Anders gestel: na die jare se omswerwinge in die woestyn het Israel in Moab gekom en daar het Moses met sy uitleg, sy eksegese van die Sinaiwette begin. Hy het die Eksodus-dekaloog en die Bondsboek ge-herinterpreteer en dit vir ’n nuwe geslag relevant gemaak. Wat boeiend is, is die manier waarop hy dit gedoen het. Hy het geensins fundamentalisties of letterlik of volgens een vaste metode gewerk nie, maar die bestaande teks radikaal in ’n veranderde wêreld ge-herinterpreteer en in die proses ingrypende veranderinge meegebring (Otto 2012a:319-320).

Die sabbat en inklusiwiteit

Dit was egter nie net Moses nie, maar ook God het sy eie woorde anders geformuleer en ons sien dit veral in die sabatsgebod in Deuteronomium 5:12-15. In dié verse herskryf God Eksodus 20:8-11 op so ‘n manier dat dit inderdaad mensliewender word. Anders gestel: God wys in dié herskrywing sy hart vir die swakkes in die samelewing asook diere.

In die Eksodusweergawe word die gebod as volg verwoord:  ‘Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig’ (Eks 20:8-11 en in die Hebreeuse teks bestaan dit uit 55 woorde).

In Deuteronomium 5:12-15 woord dit so gestel (veranderinge in vetdruk): Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou (in die Hebreeuse teks bestaan dit uit 64 woorde).

By Sinai is gesê ‘Gedenk die sabbatdag’ en in Moabweergawe word gesê: ‘Onderhou die sabbatdag’. In die Eksodusteks word nog bygevoeg: ‘ … dat jy dit heilig’, maar in Deuteronomium word dit anders gestel: ‘ … soos die Here jou God jou beveel het’.  Vir die nuwe geslag in die beloofde land was die sabbat baie belangrik want dit sou inderdaad

En dan word daar nog iets bygevoeg: ‘sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy’. Niemand moes op dié dag werk nie, maar in die Moabsvlakte formuleer Moses dit anders as by Sinai. By laasgenoemde word gesê dat God die wêreld in ses dae gemaak en toe gerus het, maar hier aan die einde van sy lewe het Moses dit anders gesê. Hy laat die nuwe geslag aan Egipte terugdink. Dáár het hulle voormense elke dag sonder rus gewerk en daarom moes daar in die beloofde land vir almal op die sabbat ’n blaaskans wees (Dt 5:12-15) (Otto 2012b:678-684).

En die slaaf?

Die slaaf was ‘n simbool van magteloosheid, onderdanigheid, uitgeworpenheid en eensaamheid. Dit was die allerverskriklikste lot wat ‘n mens kon getref het en dit kon maklik gebeur het. Amos verwyt die Noordryk of Israel byvoorbeeld dat ‘hulle … onskuldige mense vir geld, arm mense oor ‘n paar sandale’ verkoop (2:6). Amos argumenteer nie noodwendig teen slawerny nie want dit was tog ‘n praktyk wat dikwels voorgekom het. Indien iemand groot skuld aangegaan en dit nie kon betaal het nie, was slawerny sy voorland. Volgens wet (Eks 21:1) moes ‘n Israeliet se termyn as slaaf nie ses jaar oorskry nie. Maar waarteen het Amos dit dan nou gehad? Die maklike manier waarop mense verslaaf is. Omdat hulle nie ‘n paar gewone sandale kon betaal nie, is hulle verslaaf. ‘n Mens was vir Israel so min werd dat hy vir geringe skuld verkoop kon word.

Verder: so ‘n persoon sou nooit weer ekonomies of maatskaplik kon herstel nie. Vir Amos, soos vir enige Israeliet, was dit belangrik om ‘n volwaardige vryburger te wees. So ‘n persoon het het die land besit wat hy van sy voorvaders geërf het, hy was oortuig dat sy grond deel van die beloofde land was, hy het regstatus geniet, hy kon militêre diens verrig, hy het in die kultus ‘n aktiewe rol gespeel. Kortom: hy is as ‘n gerespekteerde lid van die ‘volk’ (die burgerlike en die religieuse gemeenskap) gereken. Wanneer ‘n persoon verkoop is, het hy al hierdie voorregte verloor. En dit was ‘n verskriklike lot. Dit was hoogsonwaarskynlik dat so ‘n persoon ooit weer sy burgerregte sou herwin. So ‘n persoon kon alles verloor en in lewenslange armoede gedompel word. Hy kon na liggaam en siel geknak word en sy gesin lewenslank verarm het. Dus: voordat iemand as ‘n slaaf verkoop word, moes daar eers deeglik besin word. Amos se probleem was nou juis dat Israel nie hierdie aanvoeling vir die ander gehad het nie. Hulle het mense harteloos, voor die voet en vir die geringste skuld verkoop.

In Deuteronomium se slawewet word die slaaf se situasie met soveel deernis aangespreek. Hy word nie uitgestoot nie, maar ingesluit; nie oor sy dade aangespreek nie, maar toegelaat om weer deel van die gemeenskap te word. In die Bondsboek word alles kort en saaklik gestel: ’n Hebreeuse slaaf moes ses jaar vir sy eienaar werk en dan moes hy vrygelaat word: ‘Wanneer jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal …’ (Eks 21:2-6). Vlak voor die intog het Moses die teks ryker en voller uitgelê: ‘Wanneer ’n mede-Israeliet, ’n Hebreër soos jy, ’n man of ’n vrou, aan jou verkoop word, en hy werk ses jaar vir jou, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat. Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie. Gee hom ’n behoorlike deel van jou kleinvee, van die graan op jou dorsvloer en van jou parskuip.  Van alles waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het, moet jy vir hom gee. Jy moet onthou jy was self ’n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry.  Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee’ (Dt 5:12-17).

Sinai het veertig jaar teruggelê en net voor die intog is weer oor die slaaf nagedink en ‘n nuwe wet is met soveel erbarming geformuleer. Al het vele uit eie toedoen in slawerny beland en ‘social outcasts’ geword, word die nuwe bepaling so heskryf dat die slaaf weer deel van die gemeenskap kon voel en weer nuut kon begin (Otto 2012b:765-769).

‘n Oog vir die klein dingetjie van die kleinmens

Hierdie deernisvolle formulering van wette sien ‘n mens ook elders in die boek Deuteronomium. Israel was die verbondsvolk wat mekaar moes liefhê en daarom moes hulle ‘n oog vir die klein dingetjies van menswees gehad het. ‘n Aanvoeling vir mense se emosies en angste, die huurling se uitgelewerdheid en die arme se honger. Hieronder volg ‘n paar voorbeelde:

* as iemand baie bang of pas getroud was, moes hulle nie vir oorlog opgeroep word nie ( ‘Die leiers moet vir die volk sê: ‘Wie het ’n huis gebou en dit nog nie betrek nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en ’n ander sy huis betrek nie. Wie het ’n wingerd geplant en nog nie van sy vrugte geëet nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en ’n ander van sy wingerd eet nie. Wie het verloof geraak maar is nog nie getroud nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en ’n ander met sy verloofde trou nie.’ Verder moet die leiers nog vir die volk sê: ‘Wie is bang? Wie bewe? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie sy volksgenote laat moed verloor soos hy nie’ – Dt 20:5-8) (vgl Otto 2016:1575);

* tydens ‘n beleg moes die bome nie sommer afgekap word nie want later moes mense weer van die vrugte daarvan eet (‘Wanneer jy ’n stad ’n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie’ – Dt 20:19) (vgl Otto 2016:1585-1588);

* ‘n huurling se geld moes onmiddellik betaal word want hy het dit nodig gehad om kos te koop (‘Jy mag nie ’n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al ’n volksgenoot is of ’n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede. Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees – Dt 24:14);

* op die wingerd moes jy nie alles oes nie, maar ook iets vir die armes oorlaat  en die weduwee, die weeskind en die vreemdeling se regte moes te alle tye eerbiedig word (’Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet ’n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy aanpak. Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfboom af, mag jy nie agterna weer gaan afslaan nie. Wat agtergebly het, moes bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie agterna weer gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. Jy moet onthou dat jy in Egipte ’n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen – Dt 24:19-21).

Slot

Regstekste was nooit statiese groothede, onveranderlike vaste waarhede en historiese dokumente waaraan letterlik vasgehou moes word nie, maar tekste wat in nuwe kontekste nuut geïnterpreteer moes word. Die herinterpretasies was meer oop, inklusief en deernisvol.

Bronnelys

Otto, Eckart. 1998. Die Ursprünge der Bundestheologie im Alten Testament und im Alten Orient. ZAR 4:1–84.

Otto, Eckart. 1999a. Deuteronomium. RGG 4/II, 693–96.

Otto, Eckart. 1999b. Ethik III. Biblisch, I. AT. RGG4 II, 1603–06.

Otto, Eckart. 2000. Mose und das Gesetz. Die Mose–figur als Gegenentwurf Politischer Theologie zur neuassyrischen Königsideologie im 7. Jh. v. Chr. in Otto, Eckart (red), Mose. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk GmbH,43–83

Otto, E 2012a.  Deuteronomium 1,1– 4,43. Herder Freiburg: Basel.

Otto, E 2012b.  Deuteronomium 4,,44-11,32. Herder Freiburg: Basel.

Otto, E 2016.  Deuteronomium 5-23. Herder Freiburg: Basel.

 

 

Share this / Deel hierdie: