Inleiding

Die Woord van God is ewig, betroubaar, vas en waar, vir alle tye en in alle omstandighede. ‘n Mens wil hierdie aanname graag glo, want dit bied sekuriteit en stel gerus in ‘n vinnig veranderende samelewing wat nuwe en komplekse vrae oplewer. Iewers moet antwoorde gevind word, en as die Bybel nog altyd genoegsame riglyne gebied het, sal leiding ook hier vir hedendaagse vraagstukke gevind word.

Maar is dit so? Die Ou Testament ontmasker die retoriek van vaste en ware antwoorde vir elke probleem wat in die Heilige Skrifte gevind kan word: binne die Hebreeuse Bybel is daar inderdaad ‘n lewendige debat oor wat die Skrif sê en hoe dit telkens binne nuwe omstandighede geïnterpreteer en herinterpreteer word. Hierdie debat word veral weerspieël deur tekste wat uit die posteksiliese tydperk dateer, en dit is die onderwerp van hierdie teo-artikel.

Die posteksiliese tydperk – ‘n veranderde landskap

Die posteksiliese tydperk word ook soms die tydperk van die ‘tweede tempel’ of die ‘Achaemenide’ tydperk genoem. Dit is die tydperk van Israel se terugkeer en heropbou ná die ballingskap wat in 539 vC tot ‘n einde gekom het. Kores, die Persiese vors, het die Judeërs – of altans, die nasate van die Judeërs wat deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer is, toegelaat om na hul eertydse tuisland toe terug te keer en hul stad en hul tempel te herbou. Daarom word daar ook van die tydperk van die ‘tweede tempel’ gepraat. Die land waarheen hulle teruggekeer het, wat voor die ballingskap as die ‘Suidryk’ of die ‘koninkryk van Juda’ bekend gestaan het, was egter nou ‘n klein provinsie, Jehud, en het onder vreemde heerskappy, die Persiese Achaemenide dinastie geval. Niks sou ooit weer wees soos wat dit vantevore was nie.

Wat het verander?

Voor die ballingskap was daar drie belangrike vaste sekerhede vir die volk, naamlik die bestaan van die stad, Jerusalem, die tempel as bewys van die Here se teenwoordigheid, en die versekering dat daar altyd ‘n Dawidiese koning op die troon van Juda sou sit. Die Babiloniërs het dit alles in 587 vC verwoes, ‘n bespotting van die heilige relikte gemaak en die koning, die adel en die geleerdes in die samelewing in ballingskap na Babel toe weggevoer. Psalm 137 beskryf hierdie ervaring besonder roerend.

Die feit dat die Persiese koning Kores die kinders en kleinkinders van die ballinge toegelaat het om na hul land toe terug te keer en ‘n heropbou-projek van stapel te stuur, het egter nie ‘n terugkeer na die roemryke verlede beteken nie. In die sosiale, kulturele en religieuse landskap was daar ‘n onomkeerbare proses van verandering aan die werk.   Die grootste probleem was rondom identiteit geleë. Die eertydse identiteit wat in die volk se  koning, stad en tempel gevind kon word, was onherroeplik verby, nou nou moes die posteksiliese gemeenskap oor ‘n nuwe en veranderde identiteit besin, sonder om alles heeltemal prys te gee.

Wie was die nuwe Israel en hoe moes hulle lyk? Dit was nie so maklik om te bepaal nie.

Die eertydse Judese bevolking was min of meer oor die hele bekende ou Nabye Oosterse wêreld van destyds versprei. Daar was diegene wat in die tuisland agtergebly het, wat nie in ballingskap gegaan het nie. Dan was daar die ballinge wat teruggekeer het en aan die tempel en die stad begin werk het, en wat selfs ‘n bietjie neergekyk het op diegene wat nie die ervaring van die ballingskap meegemaak het nie. Nie almal wou egter terugkom nie. Sommige ballinge het in die vreemde wortel geskiet en selfs opgang in die regering gemaak, soos ons in die boeke Daniël en Ester kan lees. In die boek Jeremia (44) lees ons ook van Judese gemeenskap in Egipte. Die benoeming ‘Israel’ vir die posteksiliese gemeenskap, was ‘n poging om ‘n sambreelterm vir hierdie heterogene en verspreide gemeenskap te vind, om hulle aan ‘n verlede, ‘n geskiedenis te herinner, maar veral om hulle nooit te laat vergeet wie hul God was nie. Alhoewel hulle nie meer in die land gebly het nie, kon hulle hul identiteit in hul geskiedenis en hul God, JHWH die God van Israel vind.

Israel se identiteit is egter bedreig deur ‘n ander groep: vreemdelinge, nie-Israeliete – wat deur ‘n ‘huwelik’ of deur spontane ‘bekering’ hulle self ook as deel van Israel beskou het, deel van die gemeenskap wou wees, en veral ook JHWH, die Here die God van Israel dien en aanbid. Maar daar was ‘n Wet wat bepaal het wie deel van Israel mag wees, en wie nie. Posteksiliese Israel het die Wet gehad, en dit was die gesaghebbende teks van die tyd.

Die Wet

Die Wet soos wat Moses dit van die Here self ontvang het, en soos wat dit in die ‘Boek’ neergeskryf is, was die vaste en enigste riglyn Israel, die gemeenkap van JHWH. ‘Boek’ verwys natuurlik nie na die hele Ou Testament soos wat ons dit vandag ken nie; ‘Boek’ in hierdie konteks het betrekking op die gesaghebbende heilige geskrifte van die posteksiliese tyd, en dit is veral die wettiese bepalings in die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel, die Pentateug. Dit is wat die posteksiliese gemeenskap tot hul beskikking gehad het, en dit is wat ons vandag ook nog het.

Wat was die probleem?

As ‘n mens deur die Hebreeuse Bybel lees, en veral kyk na tekste wat uit die posteksiliese tydperk dateer, blyk dit dat Deuteronomium 23:1-4 ‘n bestaande teks was wat sleutelrol in die debat gespeel het. Daar staan geskrywe: ‘Hy wat deur verbryseling vermink of van wie die manlike deel afgesny is, mag in die vergadering van die Here kom nie. Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie … Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die Here kom nie … ’

Verskillende interpretasies

Dit blyk dat daar twee groepe geleerdes en ‘teoloë’ was wat hierdie Wet op verskillende maniere interpreteer het.

Aan die een kant was daar ‘n eksklusiewe groep wat hierdie Wet as gesaghebbend en onveranderlik interpreteer het. Die boeke Esra en Nehemia wat albei uit die posteksiliese tyd dateer, is verteenwoordigend van so ‘n letterlike en vaste interpretasie. In hierdie twee boeke gaan dit veral oor gemengde huwelike en Judese of Israelitiese mans wat met ‘vreemde vroue’ getroud was. In Esra 10 gee Esra opdrag dat sulke vroue en hul kinders weggestuur moet word, want dit was waar die volk grootliks gesondig het. Die gemeente van die Here moes ‘n gesuiwerde, gereinigde gemeenskap wees, wat net uit ‘ware Israeliete’ kon bestaan. Nehemia 13:1-2 verwys direk na Deuteronomium 23:2-4, en met dieselfde gevolg: alle mense van gemengde bloed word van die gemeenskap van Israel afgesonder.

Maar dan was daar ook ander stemme wat oop vir nie-Israliete was en ‘n inklusiewe gemeente van die Here visualiseer het. Die profetiese stem van Jesaja (56:3) roep: ‘‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie.’ Jesaja tree direk in gesprek met Deuteronomium – die eunug, die ontmande man of die een met verbryselde geslagsorgane kan maar tot die gemeente van die Here toetree, en so ook die vreemdeling, die nie-Israeliet.

Die Boek Rut lewer ‘n soortgelyke pleidooi. Meerdere eksegete is daarvan oortuig dat die Rutverhaal as ‘n historiese roman gelees moet word. Dit is ‘n verhaal wat na ‘n bepaalde tydperk in die geskiedenis terug geprojekteer word en teen ‘n tydperk in die verlede afspeel, om sodoende kontemporêre aangeleenthede aan te spreek. Vele van André Brink se romans is voorbeelde hiervan: hy skets ‘n scenario wat teen die agtergrond van die Ou Kaap afspeel, maar eintlik lewer hy kritiek teen die destydse apartheidsbeleid.

Die Rutverhaal speel af in die tyd van die Rigters, maar dit is die tyd van die tweede tempel geskryf. Dis oënskynlik ‘n onskuldige novelle van lojaliteit en omgee tussen twee hawelose en weerlose weduwees, ‘n verhaal wat met droefheid begin en in uitbundige vreugde eindig: die geboorte van ‘n kind. Maar as die verhaal teen die agtergrond van die posteksiliese tydperk gelees word, tree dit ook met die beleid van Deuteronomium 23:2-4 in gesprek. Deuteronomium 23:4 verbied Moabiete se toetrede tot die gemeente van die Here omdat hulle die Israeliete nie van brood en water tydens hul deurtog in die woestyn voorsien het nie. Die Rutverhaal vertel die teenoorgestelde: hier is ‘n Moabiet wat ‘n Israeliet in die woestyntyd van haar lewe met lewensnoodsaaklike middele ondersteun.

Die hart van die Wet

Die volk wat hulself ‘Israel’ genoem het, het dus ná die ballingskap heeltemal anders as voor die tyd gelyk. Hulle moes hul identiteit herdefinieer, en wou veral dít behou wat uniek aan ‘Israel’ was. Een van die belangrikste elemente was hul godsdiens: Israel het net Een God aanbid, JHWH, die Here die God van Israel. Verder het hulle hulle op die Wet beroep wat baie duidelik uitgestippel het wie lid van die gemeente van die Here mag wees en wie nie. Maar binne ‘n veranderde gemeenskap, was die Wet problematies en het aansienlike spanning veroorsaak, veral omdat nie-Israeliete intussen ook die Here liefgekry het, Hom wou dien, en as lid van sy gemeente JHWH gereken wou word.

Die Ou Testament laat blyk dat daar twee groepe was wat ‘Israel’ op verskillende maniere visualiseer het. Daar was die eksklusiewe groep waarvan die boeke Esra en Nehemia voorbeelde is. Hulle het die Wet letterlik toegepas en almal wat volgens Wet as nie-Israeliete geklassifiseer is, is verbied om lid van die gemeente van die Here te word. Maar dan was daar ook ‘n inklusiewe groep wat die gemeente se deure vir nie-Israeliete wou oopgooi en hulle in die gemeenskap verwelkom.

Aanvanklik wil dit lyk asof hierdie twee groepe teenoor mekaar staan en teenpole teen mekaar vorm, maar dit is nie so nie. Vir albei gaan dit om die Here, die God van Israel, om Hom te dien en te aanbid. Jesaja 56:1-8 maak dit baie duidelik: die nie-Israeliet en die ontmande mag tot die volk toetree, mits hulle die sabatte onderhou, volgens die wil van JHWH lewe, Hom dien en sy Naam onderhou. En Rut, die Moabitiese word geloof omdat sy skuiling onder die vleuels van die Here die God van Israel kom soek het (Rut 2:12). Albei groepe maak dus erns met die Wet en die hart daarvan: om ‘n gemeenskap daar te stel wat die Here dien. Die verskil lê egter in hoe hierdie Wet geïterpreteer word: Esra en Nehemia wil die Here dien deur ‘n strakke en eksklusiewe interpretasie van die Wet; Jesaja en Rut wil ook die Here dien, maar die Wet oopstel vir ander wat dieselfde begeerte het.

Slot

As dit gaan om die gesag van die Skrif, moet ‘n mens versigtig wees om te sê dat daar net een vaste en regte interpretasie is. In die Skrif self word daar oor Skrifinterpretasie debat gevoer. Die belangrikste rede is ‘n veranderde geloofsgemeenskap wat roep om so ‘n herinterpretasie. En dit is bevrydend. Juis omdat die waarheid nie vas en seker is nie, maar oop is om verandering te omhels en ander in te sluit. Dit beteken nie dat alles wat kosbaar was skielik oorboord gegooi word nie. Die Here bly steeds die belangrikste Persoon, maar sy Wet kan verskillend geïnterpreteer word: deur strakke harde en eksklusiewe lense wat poog om ander wat anders is uit te sluit, of deur ‘n bril van liefde, medemenslikheid en deernis, wat ander wil insluit en wat vertel van die Here se liefde wat soveel groter as die Wet is.

Share this / Deel hierdie: