NP Van Wyk Louw

U het nie woord gehou met my, o Heer:
hier teen die helfte van my dae
staan ek verblind in U fel brand se lig,
ék wat die hoë sneeukop van genade
wou bereik, U stilte en oorskaduwing wou hê.
Eenmaal in lentedae, (dít weet ek)
toe die lugte bleek was bo wit horisonte
was U ‘n verre stem in my, ‘n fluistering
– soos iets wat verweg roer, half agter bome –
om uit te gaan en in U naam te praat.
Klein was my vrees, en ek kon liggies liggies glimlag
dat U dié sware woorde van my eis
wat so verborge was in my skroom.
Maar dit is ín my, ín my o Heer,
soos die val van houe op ‘n dowwe ding,
het U woorde en woede en skrik gekom
en my neergeslaan tot my knieë genadeloos,
totdat die nag my in ‘n donker hoop
gehurk, en aan die snik gevind het.

En tog het U ‘n rus beloof soos van diep kuile
onder die stormwind van U vereiste daad:
U het nie woord gehou met my.
U’t áls geëis: my menslike waardigheid,
my stille samesyn met ander, die verborge
en altyd mooie liefde van die jeug;
U het van my die trots, die skroom, die wete
van vaste maat in mooi en helder dinge
soos voddes afgeskeur, my naak gemaak
en, skaam nog, aan bespotting oorgegee;
my, donker wandelaar in skaduwees,
het U uigeja met vlamme op my voorkop,
met wilde hande en voete wat altyd brand
om die gevreesde weg van God te gaan.

Nou vra die dwase ‘n sekerheid van my
wat self niks weet van troos of sekerheid;
wat niks ken as die splinternig van die Daad
teen die blinde mure, Heer, van U geweld.
Ek het soos glas U en U werk deurskou,
gesien U is die Rustelose, U is die wind
wat warrelend oor die vlamwit vlaktes waai
van die heelal, dat die blink stof van sterre staan.

U is begeerte, en pyn, en ‘n verlange,
en het ons hart in so ‘n drif gemaak
dat nêrens rus vir ons bestaan.

Maar hulle wil eindig wees en eng omgrens
tot klein begeerte en klein deursigtige liefde
vir alle naby en begrypbare dinge;
hulle wil hul afskei van U, en ‘n skans
en skuilte bou, Heer, teen U hoë branding.
U sal hul sorge tot bespotting maak!
Verloën my nie o God, verloën my nie,
ek weet U is geen rusplek en geen troos;
U skuim in ons op soos die see se water
U stort in ons af soos die reën wat val
en stroom van alle kante soos die wind.

Hul noem dit waansin as ek skreeu en lag
en vreemde woorde praat oor hul troos.
U het geen kenbare teken aan my of aan my woord
gesit as borg van wat U deur my spreek;
U gésel my met hul luide hoon;
ek moet die bitter brood van twyfel eet
en daeliks weer my vlamme-waarheid gryp –
maar ek, aan wie U self U werk verklaar het,
gaan dán met die nuwe heilige wete uit;
dat hierdie duisternis van my U lig
en waarheid is, hierdie verwarde spraak
U suiwer en deursigtige woord en sin;
dat al my onrus is die saamswaai met
u magtige wind –
en Heer, ek staan weer sterk
in die andere genade wat U gee.

Share this / Deel hierdie: