1. Inleiding

Hierdie inleidende artikeltjie, wat handel oor die profete van oud-Israel, het ten doel om hierdie verteenwoordigers van die Israelitiese gees beter te probeer verstaan. Die denke van hierdie selfstandige denkers het belangrike impulse losgelaat wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van monoteïsme binne die Hebreeuse denkwêreld. Verder is dit belangrik om daarop te ag dat hulle nie net digters was – vir wie ons dankbaar moet wees vir van die mooiste voorbeelde van Hebreeuse poësie nie – maar hulle was ook skrywers wat ‘n eie literatuursoort (Gattung) vir ons nagelaat het: profetiese literatuur. Hulle denke betreffende hulle maatskappy – oor die hede sowel as die nabye toekoms – het hulle op so ‘n rasionele manier georden en gerangskik dat dit met die begrip nachlaufende Erkenntnis (navolgenswaardige kennis [besef / insig]) beskryf kan word (Koch 1995:9).

 

2. Godsdienshistoriese posisie

Die denke van Israel se profete het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van monoteïsme binne die Judaïsme, Christendom en uiteindelik ook die Islam – ‘n monoteïsme wat sterk gekoppel word met ‘n etiese bewussyn. Dit is daarom ook nie verbasend dat die Tweede Testament in Efesiërs 2:20 dit duidelik maak dat die geloof waarvan dit getuig juis ook gebaseer is op die Hebreeuse profete nie. Eeue later sou Mohammed dit ook duidelik maak dat hy sy profesieë juis ook in die tradisielyn van die Hebreeuse profete verstaan.

 

Uit die historiese navorsing kan afgelei word dat daar nie altyd profete in die geskiedenis van Israel was nie. Eers vanaf ca. 1000 v.C. kry ons die eerste spatsels van hierdie verskynsel. Dit is egter veral in die periode tussen 750 – 400 v.C. dat hierdie verskynsel sy hoogbloei beleef – en daarna weer van die toneel af verdwyn. Die profetiese boeke van die Hebreeuse Bybel (HB) kan ook almal in hierdie tydsruimte geplaas word.

 

Watter posisie het die profete in die samelewing beklee? Met groot uitsondering kan die meeste profete gesien word as persone wat hulle buite die religieuse en politieke hierargie bevind het. Hulle het dus inderwaarheid oor geen institusionele legitimasie beskik nie, maar het na vore getree uit verskillende vlakke van die samelewing. Hierdie mans (met enkele uitsondering vrouens) het opgetree as sprekers en skrywers op die openbare verhoë van hulle samelewing. Hulle het meestal ‘n aankondiging gemaak en dit gelegitimeer met die attribuut dat dit goddelik van aard is (“So spreek Jahwe”). Dit het gewoonlik gehandel oor gebeure in die nabye toekoms: dit wou ‘n verklaring gee waarom gebeure op ‘n bepaalde wyse ontwikkel het en nie anders is nie. Die wortel hiervan kan gevind word in die kultiese, sosiale en politieke omstandighede – of beter gesê: in die onreg van die hede en verlede.

 

3. Slot

Die kritiese profete – en die meeste van die Skrifprofete kan as sodanig geklassifiseer word – het hulleself beskou as die vernuwers van hulle religieuse erflating. Hulle boodskap was ‘n sinvolle voortsetting van die verstaan van die heilsgeskiedenis en die verhouding wat daar tussen Jahwe en sy volk Israel bestaan het.

 

Bibliografie

Blenkinsopp, J 1996. A history of prophecy in Israel. London: John Knox.

Koch, K 31995. Die Profeten I. Assyrische Zeit. Stuttgart: Kohlhammer.

Kratz, R G 2003. Die Propheten Israels. München: C.H. Beck.

Steck, O H 1996. Die Prophetenbücher und ihr theologisches Zeugnis. Tübingen: Mohr (Siebeck).

Share this / Deel hierdie: