Voorsittersrede by geleentheid van die aanlyngaan van die HTS deur AOSIS (OJP) op 02 Maart 2009 in d

Geagte Dames en Here!

Ons leef in vinnig veranderende tye. Ons kan kwalik byhou met ons woordeskat. Daagliks word nuwe woorde geskep. Ek weet selfs nie eers of die “aanlyngaan” in die opskrif, met of sonder ‘n koppelteken gespel rnoet word nie! In die woordeboek sal jy dit immers nie vind nie. Nog nie. En om alles te kroon, gebruik ons akronieme vir omtrent alles. U gaan vanaand ook etlike sulke woorde hoor. Kom ek lys sommer by voorbaat sekeres van hulle wat u waarskynlik gaan teëkom.
• AOSIS — African Online Scientific Information Systems
• OJP — Online Journal Publishers
• ISI — Institute for Scientific Information
• IBSS – International Bibliography of the Social Sciences
• ASSAf – Academy of Science for South Africa
• ARWU — Academic Rating of Worldwide Universities
• En dan natuurlik: UP, HTS, HTK en NHKA!

Elkeen van die klinkers van die alfabet word ook gebruik: Afrika, elektronies, inligting, online en universiteit. En die pragtige van alles, is die klinker A. Dit staan vir Afrika en akademie in bogenoemde akronieme. Presies waaroor dit ook nou gaan. Amper alles kry deesdae ook ‘n elektroniese karakter. Ons kan van nou af selfs van ‘n e-HTS” begin praat!

Ek wil my aanbieding in vier treë aanbied: navorsing, UP, die Fakulteit Teologie en die HTS Teologiese Studies. Soos die skerper draai van ‘n blaasvlam, sluit ek af by die essensie van vanaand se verrigtinge en fokus op die aanlyngaan van die HTS teen die agtergrond van navorsing by UP en die fakulteit.

Navorsing is “die sorgvuldige, sistematiese en geduldige studie in ‘n bepaalde vakgebied, uitgevoer om bepaalde feite of prinsipes te ontdek of te grondves”. Maar navorsing op sigself beteken nog nie veel nie. Binnekamer-kennis help nog niks. Navorsing moet met ander woorde ook in die wêreld neerslag vind, of dan, gedissemineer word. Daarom is akademiese publikasies so van kritieke belang. Nie alleen bied dit ‘n noodsaaklike platform vir ‘n navorser om sy of haar resultate bekend te stel nie, maar ook om in gesprek te tree met eweknie-navorsers wêreidwyd en om in die proses ook insigte en bevindinge te verfyn of aan te pas.

Akademiese vakjoernale speel natuurlik ‘n ongelooflike belangrike rol om hierdie funksie te vervul. Die volgende definisie verduidelik dit: “An academic journal is a peer-reviewed periodical in which scholarship relating to a particular academic discipline is published. Academic journals serve as forums for the introduction and presentation for scrutiny of new research, and the critique of existing research.”

Die voordele van akademiese vakjoernale is legio wanneer dit byvoorbeeld met die publikasie van ‘n boek vergelyk word: dit is meer ekonomies, dit maak kritiese gesprek in ‘n relatief kort tydsverloop moontlik, die beskikbaarheid is gewoonlik toegankliker en goedkoper, dit is dikwels meer gefokus op die kern van die navorsing en, laastens, maar nie die minste nie, verwysings na artikels en outeurs in joernale word baie makliker gemoniteer. Die sogenaamde impak-syfer word bepaal deur die aantal invloedryke en onafhanklike sitasies deur eweknie-vakspesialiste in ander (maar eweneens erkende), vakjoernale. Die kwaliteit van navorsingsresultate wat akkreditasie deur indeksmaatskappye en staatsbeheerde befondsers moontlik maak, is dus onder andere sowel die eweknie-geëvalueerde inhoud as die vinnige vloei in die tydsbestek tussen die datums van voorlegging vir publikasie, redakteursaanvaarding en publikasieverskyning. Die nuutste ontwikkeling is daarom ook dat benewens die sitasies na artikels en outeurs, boonop ook na die tydsver!oop van die disseminasie van navorsing gekyk word: die vraag word gevra hoe gou na die publikasie, van die navorser kennis geneem word en boonop ook, hoe lank duur hier belangstelling. Net sitasies en die frekwensie daarvan kan hierdie aspek regtig aandui. In gewone Afrikaans dus, ook die “rak-lewe” van navorsing kan meteens deur elektroniese tydskrif-indekse aangedui word.

‘n Interessante feit is die sogenaamde “Bradford’s Law” wat lui dat die meeste sitasies in ‘n uiters beperkte aantal wetenskaplike tydskrifte verskyn. In ‘n onlangse studie is byvoorbeeld bevind dat uit 7,528 leidende tydskrifte wêreldwyd, meer as die helfte van hulle aanhalings, slegs in so min as 300 van hierdie tydskrifte voorkom! Wat nog meer is, alleen 3,000 van hierdie tydskrifte verteenwoordig die aanhalings uit soveel as 75% gepubliseerde artikels en 90% uit alle gesiteerde artikels.

Die Universiteit van Pretoria streef daarna om internasionaal erken te word as ‘n top-Suid Afrikaanse navorsingsgerigte instansie. UP se publikasie-uitsette toon dit ook aan. Sedert die middel negentigerjare van die vorige eeu, lewer die Universiteit van Pretoria verreweg die meeste uitsette onder Suid-Afrikaanse universiteite. Meer as Wits, UCT, KZN of US (saam met UP, die “Groot Vyf” onder Suid-Afrikaanse universiteite). Die navorsingsuitsette van ‘n universiteit dra soveel soos 40% gewig van die kriteria van byvoorbeeld die Shangai Jiao Tong ranglys, (wat die Universiteit van Pretoria verlede jaar net bo die beste 500 universiteite wêreldwyd geplaas het — vir interessante gegewens hieroor kyk topuniversities). Wat die verdeling van hierdie 40% betref, gaan 20% aan sitasies van ‘n universiteit in die twee joernale Nature en Science en die ander 20% weer, gaan aan sitasies van ‘n universiteit se navorsers in die tydskrifte van die ISI en IBSS.

Die HTS Teologiese Studies het, sedert akkreditasie by ISI in 2007, die Universiteit van Pretoria se publikasie-koers by ISI-tydskrifte van 49.5% tot 53.7% opgestoot. En vir die eerste keer kom in die akademiese gradering van wêreldwye universiteite (ARWU), die Universiteit van Pretoria se naam ook voor in die navorsingsveld van “Social Sciences General”. ‘n Kategorie waar ons voorheen uitgeval het.

Vergun my ook twee opmerkings oor die Fakulteit Teologie, terwyl ons algaande die fokus skerper maak. Die dosente van hierdie fakulteit staan minstens in twee opsigte kop en skouers bo die res van die Universiteit s’n uit. lndien ‘n  mens die aantal uitsette van navorsingsartikels per voltydse dosent bereken, is dit in die geval van fakulteit Teologie, 8.3 eenhede terwyl nie een ander Fakulteit aan UP ‘n gemiddeld van meer as 1 eenheid per dosent het nie. Dieselfde geld vir die getal doktorale studente per voltydse dosent — van die beste aanduidings hoe ernstig ‘n Fakulteit oor navorsing is. In die Fakulteit Teologie se geval is dit ‘n geakkumuleerde syfer van 14 studente per dosent terwyl die res van die Universiteit ‘n gemiddeld van net 4 het.

Die HTS Teologiese Studies is die oudste en mees omvangryke teologiese tydskrif in Suid Afrika. Dit is reeds in 1943 as ‘n gesamentlike onderneming van Suid-Afrikaanse en Nederlandse teoloë gestig. Prof De Zwaan (Leiden), prof Obbink (Utrecht), prof Gemser (UP) en prof Van Selms (UP), kan as die grootste vier rolspelers hierin beskou word (laasgenoemde twee is ook deur UP vereer as onder die 100 grootste denkleiers die afgelope eeu van die Universiteit). In die afgelope 65 jaar se bestaan, was daar sonder uitsondering, elke jaar vier uitgawes van die HTS.  ‘n Ongelooflike prestasie. Die stigting van die HTS destyds was ‘n gesamentlike onderneming van HAUM/DeBussey (eiendomme van die NHKA). In ‘n stadium het die NHW-Pers die bestuur en publikasie van die HTS behartig, totdat dit finaal met die NHKA as titelhouer, onder die HTK by die Universiteit van Pretoria, tereg gekom het.

Die NHKA ondersteun die HTS sedert sy stigting, finansieel en andersins. Hierdie bydrae het algaande ook toegeneem. Die afgelope begrotingsjaar het die NHKA weer nagenoeg R450 000 vir die koste van die HTS bewillig — ‘n syfer wat tans met UP onderhandel word om grootliks deur die universiteit oorgeneem te word. Dit is ook nie ‘n onbillike versoek nie, as in ag geneem word dat die Departement Hoër Onderwys minstens R4.5m per jaar aan UP vanweë HTS-uitsette gee. Afgewentel na die Fakulteit Teologie toe, voorsien die HTS 42% van die totale aantal artikel-uitsette van die Fakulteit. In geldwaarde uitgedruk, HTS lewer die HTS ‘n bydrae van 53% van die Fakulteit Teologie se navorsingsinkomste gebaseer op artikel-inkomste!

Die HTS het daarin geslaag om van die begin af die internasionale navorsingsgemeenskap te bedien. Die outeurs van die HTS verteenwoordig 28% plaaslik (UP), 52% nasionaal en 20% internasionaal. In terme van taal, druk dit ‘n verhouding van ongeveer 64% Engels (waaronder Nederlands en Duits ingereken word) en 36% Afrikaans. Dit sou dus totale oningeligtheid wees indien iemand die pejoratiewe uitdrukking soos “in-huis” op die HTS van toepassing sou wou maak.

Gelukkig gebeur dit ook nie. Volgens die opname van die Britse maatskappy Routledge, Taylor & Francis Group word die artikels in HTS, in vergelyking met ander Suid-Afrikaanse teologiese tydskrifte, die meeste in ISI-internasionaal erkende joernale gesiteer. Wat Suid-Afrikaanse teologiese tydskrifte betref, geld dit ook van sekere outeurs wat in HTS publiseer. Volgens ‘n onlangse gepubliseerde opname deur CREST, ‘n sentrum van die Departement Sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch, beklee die HTS onder die ongeveer 100 akademiese tydskrifte van beide natuur en geesteswetenskaplike aard, die l4de plek van voorkeur van joernale waarin akademici kies om hulle navorsingsartikels in Suid-Afrika te publiseer.

Die redaksie is trots op sy redakteur, prof Andries van Aarde, wat die internasionale erkenning van die HTS nie net gehandhaaf het nie, maar ook die afgelope 25 jaar van sy redakteurskap, verder uitgebou het tot wat dit vandag is Hy speel ‘n leidende rol in ASSAf se Editor’s Forum for Theological and related Journals (EFTJ) wat tans besig is om weë te soek dat meer van hierdie joernale aanlyn kan gaan. Beide ASSAf en AOSIS het juis ook op 3 Maart voorleggings in hierdie verband aan hierdie redakteurs gemaak tydens ‘n vergadering by UP se Fakulteit Teologie, onder leiding van proff Dirk Human (redakteur van Verbum et Ecclesia) en Andries van Aarde.

Dames en Here! Die HTS is voortaan aan die punte van u vingers: hts.org.za. Gebruik en geniet dit!


En hiermee is nog ‘n belangrike mylpaal op die reis van die HTS bereik. Die uitdaging van die Universiteit om internasionaal mededingend en plaaslik relevant te wees, word effektief met hierdie gebeure van die HTS uitgedruk. Akademie en Afrika, ontmoet mekaar behoorlik in die HTS.

Ek dank u! 

Share this / Deel hierdie: