Inleiding

Die tydperk 539 – 331 vC was seker die belangrikste tydperk in die Joodse geskiedenis. In die jaar 539 vC het die Persiese koning Kores die volk wat in ballingskap verkeer het, toegelaat om na hul tuisland toe terug te keer, en hul stad en tempel te herbou. En onder die diplomatiese Persiese konings, die Agemeniede, het dit eintlik baie goed met die Joodse volk gegaan. Hulle is deur hul eie mense regeer, en hulle was vry om hul godsdiens te beoefen, mits hulle lojaal teenoor die Persiese owerhede was, en natuurlik getrou hul belastings betaal het. Die lewenswyse, die kultuur en ook die godsdiens het ‘n diepe indruk op die Joodse geleerdes van die tyd gemaak. In hierdie teo-bydrae wil ek die godsdiens van die Perse van naderby beskou.

 

Nie ‘n maklike taak nie

Die godsdiensgeskiedenis van ‘n volk staan nie stil nie. Saam met sosiale en kulturele veranderinge, verander ook godsdienstige opvattinge. Die Persies/Iranese godsdiens is geen uitsondering op die reël nie. Dis ‘n godsdiens wat oor duisende jare ontstaan en ontwikkel het, en wat – soos alle godsdienste – ‘n amptelike hoofstroom teologie met sy heelwat nie-amptelike uitwasse weerspieël.

   Belangstelling in die wêreld van die Ou Nabye Ooste het sedert die middel van die negentiende eeu toegeneem. Tesame met baie beelde, artefakte en ook geskrifte, word ook ‘n heilige teks van Oud-Persië ontsyfer, te wete, die Avesta. Na alle waarskynlikheid is dit die grondteks vir die geloof wat teruggevoer word na die profeet, Zoroaster. In die taal van die Avesta, Avestan, word hy Zarathustra genoem: Zoroaster is afgelei van ‘n latere Griekse transkripsie. Die oudste tekste in die Avesta is die gathas – dit is himnes wat die liturgiese kern van Zoratrisme uitmaak, en word volgens oorlewering aan die profeet self toegeskryf. Dis egter moeilik om met sekerheid te bepaal watter gathas – indien enige! – die oorspronklike werk van Zoroaster self is, en wattter later deur sy volgelinge en bekeerlinge in sy styl gekomponeer is. Dus, soos alle antieke tekste, is ook die Avesta die resultaat van ‘n lang, selfs eeue-oue mondelinge tradisie wat heelwat later op skrif gestel is, en daarna ‘n verdere proses van fortschreibung ondergaan het.

   Daar bestaan weinige – selfs geen – betroubare biografiese inligting oor die profeet nie. Sommige van die gathas is wel in sy naam geskryf en verwys na persoonlike gebeure in sy lewe of verwoord innige persoonlike gebede, maar hoe betroubaar dit is, is moeilik te peil. Ook sy geboortedatum wissel tussen enigiets van 1750 tot 500 vC – maar die koningsinskripsies wat uit hierdie tyd dateer, meld niks oor die lewe en werk van ‘n profeet genaamd Zoroaster nie. Deesdae aanvaar die meeste geleerdes ‘n gemiddelde en reken dat hy iewers tussen die elfde of die tiende eeu vC geleef het.

   Sy geboorteplek is ewe duister. Dit lyk asof hy in Oud-Persië/Iran geleef en gewerk het, maar Oud-Avestan vertoon onmiskenbare raakpunte met Sanskrit, die taal waarin die Indiese (Hindoe) Rigveda geskryf is. Die verbod om diere dood te maak, versterk verdere ooreenkomste met die Hindoe geloof.         

   As ‘n mens die bestaande karige getuienisse ernstig opneem, lyk dit asof Zoroaster in ‘n priesterlike familie gebore is: die Spitamides. Hy was getroud en het kinders gehad, dogters en seuns. Op dertigjarige ouderdom het hy die ‘Verligting’ van Ahura Mazda ontvang, en het vir ‘n hele aantal jare daarna as ‘n wandelende profeet hierdie leer verkondig.

 

Die leer van die profeet

Die Persies/Iranese volksgodsdiens het deur die loop van ‘n duisend jaar voor Christus bepaade kenmerke aangeneem wat toegeskryf kan word aan die verkondiging van die genoemde invloedryke profeet, Zoroaster. Die kern van sy leer is Ahura Mazda. Hy is die enigste en soewereine god, skepper van die wêreld en heerser oor die geskiedenis. Hy is oneindig wys en alwetend tot so ‘n mate dat hy alles weet nog voordat dit gebeur. Hy is sinoniem met waarheid en geregtigheid, en word ook met son en lig geïdentifiseer. Waarheid en geregtigheid is wat Ahura Mazda vir die geskape wêreld beplan, maar ongelukkig word die goeie orde bedreig deur Angra Mainyu – die bose gees van die leuen. (Angra Mainyu is Avestan vir ‘bose gees’ – in Middel-Persies word hy Ahriman genoem.)

   Ahura Mazda en Angra Mainyu kom egter nie alleen teenoor mekaar te staan nie. Goeie en bose magte tree tot die kosmiese stryd toe. Aan Ahura Mazda se kant is die ameša spentas. Hulle is sy spirituele magteonsterflike goddelike geeste van die suiwerste waarheid en is deur hom geskape om hom in sy werk te help. Alhoewel die ameša spentas van goddelike oorsprong is, word hulle egter nooit in die kultus vereer nie. Aan Angra Mainyu se kant is die daēvas. Dit lyk asof die Iranese religie voor Zoroaster se prediking politeïsties van aard was en daēvas vereer het: Zoroaster het hierdie godsdiens egter as vals ontmasker. Daar is net een ware god, Ahura Mazda, en die daēvas is eintlik niks anders as geeste van leuens, bedrog en vernietiging nie – met ander woorde, hulle is eintlik demone.

   Die geskape wêreld bestaan uit ‘n onsigbare geestelike sfeer en ‘n sigbare materiële sfeer. Die stryd wat in die geestelike wêreld gevoer word, speel ook af in die materiële wêreld. In die naam van Ahura Mazda, roep Zoroaster elke mens op om met waarheid en geregtigheid te identifiseer, en leuen en vernietiging af te sweer. Met ander woorde, elke mens word voor ‘n keuse gestel: vir Ahura Mazda of vir Angra Mainyu.

   In die sigbare wêreld is dit nie altyd duidelik wie die kant van die waarheid en wie die kant van die leuen gekies het nie. Die kosmiese stryd sal egter tot aan die einde van die tyd voortduur. Ahura Mazda sal uiteindelik vir Angra Mainyu beslissend verslaan, en ‘n nuwe orde daarstel. Dan sal elke mens  – ook die gestorwenes – persoonlik na gelang van sy of haar keuse geoordeel word. Ahura Mazda se volgelinge sal uit die dood opstaan en saam met hom in die nuwe wêreld vir ewig lewe. Vir Angra Mainyu, sy daēvas en sy volgelinge, wag daar vuur en ellende.

   Zoroaster se leer is nie voorskriftelik van aard nie. Daar is min instruksies of gebooie oor wat ‘n mens moet doen of nie mag doen nie. Die gathas spreek hulle wel uit teen heersende offerpraktyke en, soos hierbo gesê,  veroordeel die doodmaak van diere. Maar verder bestaan die gathas hoofsaaklik uit bedes om onderrig te word in die leer van waarheid, en smekinge dat gelowiges hulself met die goeie mag moet identifiseer en dit uitleef.

 

Wat was anders?

In die Ou Nabye Ooste was volk en godsdiens baie nou aan mekaar verbonde. Met ander woorde, religie was etnies verwant. Oorloë is in die naam van die godheid van die staat gevoer: ‘n god gee opdrag aan die koning om die wêreld te verower. En van die verowerde volk is dikwels verwag om die oorheersende volk se gode ook kulties te vereer.   

   Ahura Mazda is egter nie ‘n volks-god nie, maar ‘n god van die persoonlike individu. Die norme en lewensoriëntasie van die Avesta het betrekking op mense en menseverhoudinge. Niks word gesê oor ‘n bestemde groep of spesiale band tussen die god en ‘n bepaalde volk nie. Ahura Mazda is skepper en heerser van die wêreld. Vir elkeen wat in hom glo en aan sy kant toetree tot die stryd teen die leuen, wag verlossing en ‘n ewige lewe saam met hom in die hiernamaals. Hierdie gedagte is nie gebore uit politiese of etnies-sosiale strukture nie, maar uit private persoonlike vroomheid.

   Dis verder duidelik dat Ahura Mazda nie die drywende krag agter die opkomende Persiese mag in 600-400 vC – die Agemeniede – was nie. Ofskoon hulle trots op hul god was, het hulle nooit oorloë in sy naam gevoer nie, en het hulle ook nie van ander volke verwag om hom te vereer nie. Geloof in Ahura Mazda is ‘n persoonlike saak. Dit is ook interessant dat die Perse, in teenstelling met die ander Semitiese volke, Ahura Mazda nooit met koninklike titels vereer het nie. Hulle het hom beskryf as skepper, stralend, heiligste gees, wysste, mees geregtige – maar nooit ‘koning’ of ‘vors’ nie. Omgekeer het die Persiese koning ook nie sy amp vanuit goddelike sfeer ontvang nie.

   Geloof in Ahura Mazda is dus universeel en individueel tegelyk, en stel nie daarin belang om regerings te legitimeer nie, maar om persoonlike vroomheid en goeie burgerlike verhoudings aan te moedig.  

 

Slot

Die ryklik geskakeerde wêreld van die Oud-Persiese kultuur vorm die agtergrond en konteks vir die teologie van die na-eksiliese gemeenskap. Hier was ‘n voorbeeld van bepaalde geloofsopvattinge en ‘n wêreldbeeld, wat ons ook in die tekste van die Hebreeuse en Aramese Bybel teëkom. Inderdaad, gedurende hierdie tydperk het die grootste gedeelte van die Ou Testament soos ons dit vandag het, sy beslag gekry en vorm aangeneem. Uiteraard het die Joodse geleerdes nie alles klakkeloos oorgeneem nie: daar was ‘n proses van interpretasie en herinterpretasie by hul reeds bestaande geloof. Sekere elemente is selfs verwerp: die Ou Testament ken byvoorbeeld nie ‘n dualistiese leer van die stryd tussen ‘n goeie en ‘n bose mag nie. Nogtans was die tydperk van die Perse ‘n beslissende tydperk vir die Jodedom, en die spore wat hul denke, kultuur en godsdiens op die Jode nagelaat het, mag nie geringskap word nie.                      

      

Geraadpleegde bronne

 

  • Andrea, A & Overfield, JH 2000. The Human Record: Sources of Global History. To 1700. Boston: Houghton Mifflin Harcourt.
  • Gerstenberger, ES 2005. Israel in der Perserzeit. 5. und 4. Jahrhundert v. Chr. Biblische Enzyklopädie, Band 8. Stuttgart: Kohlhammer.

·         Nigosian, S 1993. The Zoroastrian Faith: Tradition and Modern Research. Montreal: McGill-Queen’s University Press.

Share this / Deel hierdie: