In hierdie gedeelte word die diachroniese beskrywing van deel aangevul met ʼn beskrywende sinchroniese snit. Eerstens word die rituele landskap van Suid-Afrika oorsigtelik beskrywend verken en daarna sal enkele vrae geformuleer word. Die drieluik van “handeling”, “binne-buite” en van “kruise” rig steeds die blik.

 

Kruise op koppies en berge in SA

Is daar ‘n dorp in Suid-Afrika vandag wat nie ‘n kruis op die koppie naby of in die dorp het nie? Enkele dorpe waar daar kruise op koppies is, sluit onder andere in: Stellenbosch, Bellville, George, Oudtshoorn, Sedgefield, Steytlerville, en ʼn deeglike ondersoek sal aantoon dat hierdie lys veel langer is. So byvoorbeeld is daar ook ‘n kruis op Naval Hill in Bloemfontein en op Tygerberg in Kaapstad en nog vele ander stede en dorpe dwars oor Suid-Afrika. Die kruis op die foto is bo-op Sir Lowry’s Pas. In die dag is die kruise gewoonlik goed sigbaar en in sommige gevalle, byvoorbeeld die kruis op Pappegaaiberg in Stellenbosch en die kruis teen die hange van die Outeniquaberge by George, word dit verder ook in die aand verlig. Gesprekke met mense van hierdie dorpe toon ook soms verhale wat saam met hierdie kruise loop, byvoorbeeld in George word vertel dat die kruis deur ‘n plaaslike besigheidsvrou geborg is nadat haar kind op ‘n besondere/wonderlike wyse genees is. Deeglike studie is egter nodig om aan te toon óf en indien wel in hoeverre hierdie verhale ‘n algemene voorkoms het.
Opvallend in hierdie verband was beelde op TV nuus gedurende Desember toe emosionele boere na ‘n besoek aan oom Angus in Greytown die grootste kruis tot op hede in Graaff-Reinet opgerig het. Times lives skryf hieroor: “The metal cross – at 24m, just 6m shorter than the Christ the Redeemer statue in Rio de Janeiro, Brazil – is intended to be up before Christmas. The cost of the steel is R100 000 and the town council is to provide electricity to light it and the land on which it will be erected”. Saam hiermee is verdere navorsing ook nodig om uit te vind wie of watter kerklike denominasies oorwegend verantwoordelik is vir die oprig van hierdie kruise, asook die motiewe daaragter.          

Kruis op Stellenboschberg met klippe

Teen Stellenboschberg, net agter die dam by Coetzenburg, is ‘n groot houtkruis opgerig. Rondom die kruis is ook klippe gepak met boodskappe daarop geskryf (sien foto). Die boodskappe is meestal gebede of ander godsdienstige woorde wat ‘n duidelike bewys is dat daar aktiewe godsdienstige ritualisering rondom hierdie kruis plaasvind. Kruise en gepaardgaande ritualisering kom egter nie net voor op of teen die hange van berge en koppies nie.

 

 

Kruise langs paaie na ongelukstonele

Die verskynsel dat kruise langs ons land se paaie geplant word en versier word met ander rituele voorwerpe soos blomme is deesdae ‘n algemene en bekende gesig. Hierdie is ‘n bekende en ook redelik omstrede voorbeeld van ritualiteit. Veral na ‘n noodlottige ongeluk word kruise, blomme, of bordjies opgerig op die plek waar die persoon oorlede is. Een webwerf wat hieraan gewy is, stel dit so: “Roadside memorials are erected by people who are searching for more meaninful ways to express their grief and spirituality, outside the confines of religious institutions, during their most vulnerable moments in life. This website is dedicated to those people, and the memorials they erect so that they can grieve, remember, teach, and heal.” http://www.roadsidememorials.ca/

 

Boer ‘Genocide’

Ten Noorde van Polokwane het mense die inisiatief geneem om kruise in die buitelug op te rig ter nagedagtenis aan diegene wat in plaasmoorde omgekom het. In die lig van iemand soos Gerard Lukken (1999:66-67) se beskrywing van die beswerende dimensie van rituele, sou die vraag kon ontstaan of daar nie hier ook so ‘n beswerende dimensie teenwoordig is nie? Laasgenoemde vermoede kan egter alleen deur aanvullende kwalitatiewe liturgiese navorsing vasgestel word waardeur die toe-eiening van hierdie kruise deur die kruisplanters en besoekers van die terrein ondersoek word. Die volgende woorde opdie webwerf www.stopboergenocide.com bied ʼn interessante perspektief:

Wit kruise

Duisende wit kruise langs die pad

‘n dolk deur elke boerehart.

Eind’loos staan hul ingeplant

die pad na die Noorde

duisende aan elke kant.

 

Uit alle oorde kom ‘n weeklaag
deur ons hele land:
Wie rus daar…‘n man,‘n vrou… ‘n kind?

Ag Here, U wat alles van ons weet,
Hoor ook nou, uit nood, ons kreet.

 

Kruise na rampe

Dikwels word kruise ook opgerig nadat ʼn groter ramp iewers plaasgevind het. Post et al (2003:215-226) toon foto’s van sulke kruise en meegaande voorwerpe en aktiwiteite soos rituele in die boek Disaster Ritual.

 

Kruise op die internet

In sy boek Liturgie voorbij de Liturgische Beweging gee Marcel Barnard (2006) interessante voorbeelde van liturgie of ritualisering op die internet. Hy bied voorbeelde van digitale altare en virtuele begraafplase. ‘n Mens hoef ook nie lank op die internet as ruimte buite om die tradisionele kerkgebou te soek om kruise teë te kom wat funksioneer binne ‘n soort aanbiddingskonteks nie.[1]

Ook hier word die ritualisering dus in nuwe of ander ruimtes uitgevoer as binne die tradisionele kerklike plasings.

Tot dusver is daar in die beskrywing gehou by aanbiddingsvorme wat in die buitelug of in ruimtes soos die kuberruimte waargeneem kan word en kruise insluit. Om die beskrywende verkenning en die basiese vraag “wat gaan aan?” ook effens oper te gooi en ter wille van meer volledigheid met betrekking tot nuwer en opkomende rituele, kan ook gedink word aan ander rituele wat deesdae in gewildheid toeneem.

 

Pelgrimstogte

‘n Eerste eeue-oue ritueel is die herontdekking van en toenemende gewildheid van pelgrimstogte. Hoeveel (vermoënde) Suid-Afrikaners alleen lê nie jaarliks die pelgrimstog na Sontiago de Compostella in Spanje af nie? Hier sou die talle toere na Israel, Egipte en Turkye wat jaarliks gereël word om die lande van die Bybel te besoek ook as ‘n voorbeeld kon dien as ‘n soort pelgrimstog. Laasgenoemde reise is voorbeelde van wat ‘n voortsetting is van een van die gewildste pelgrimsroetes in die Vroeë Middeleeue, naamlik na die sogenaamde ‘Heilige Land’ in die algemeen en na Jerusalem in die besonder. In Kaapstad word daar op gedurende Groot Lydensweek elke jaar ʼn bedevaart of pelgrimstog aflê vanaf St. Mark’s in Distrik Ses na die Anglikaanse katedraal, St. George’s, in die middestad. Die uitnodiging vir hierdie gebeurtenis op 31 Maart 2010 lui: “A Holy Week Pilgrimage of reflection on the journey of Jesus to the Cross and the suffering within our city. Please join our reflective walk through the streets of Cape Town.”

Hierdie opkomende rituele repertoire is ook al vir ‘n geruime tyd in ander lande die voorwerp van liturgiese navorsing. Hier kan gedink word aan werke soos The Modern Pilgrim, Op Bedevaart in Nederland en Wonderlijke Ontmoetingen… om enkeles te noem. Oor die pelgrimstog na Satiago de Compostella skryf Herman Vuijsje (2001:141-142) “Meer dan ooit is de Santiago-pelgrimage een persoonlijke onderneming geworden”. Hy gaan voort en vergelyk die hedendaagse oplewing met die gewildheid van die roete tydens die Middeleeue. In die Middeleeue het die stap van die roete verligting gebring van al die onsekerhede van die lewe, intussen het die moderne mens volgens Vuijsje veel meer sekerhede gekry en is ons meesters van ons eie bestaan (Vuijsje, 2001: 142). Vandag is die gewildheid van hierdie roete volgens hom te wyte aan die ekonomiese voorspoed en die aantal keuse moontlikhede wat mense mee moet saamleef. “Wat hij ons nu te bieden heeft is niet meer een zweem van zekerheid, maar een gevoel van vrijheid. Vrijwaren van een teveel aan keuzen, en bevrijding van een teveel aan gedachten” (Vuijsje, 2001:142).

 

 

Voorlopige gevolgtrekkings

 

Op hierdie punt sal sommige lesers nou al wil begin vra wat dit alles vir ons sê? Ek waag enkele gedagtes:

 

* Dit is uiteraard nie moontlik of verantwoordelik om twee heeltemal verskillende historiese periodes met mekaar te vergelyk nie. Die beskrywings laat egter die vraag ontstaan of die verskuiwing in die ruimtelike plasing van Middeleeuse rituele, veral ook soos wat dit stelselmatig toegeneem het vanaf die vroeë- na die laat-Middeleeue, nie ook bespeur kan word in die aktuele beskrywing van die rituele landskap in Suid-Afrika nie? Is daar nie sprake vandag in Suid-Afrika van ʼn subtiele beweging van binne na buite met betrekking tot vierings nie? ʼn Beweging na nuwe ruimtes in die opelug in die natuur, in die opelug in die stad of ‘n dorp, in die kuberruimte, op ‘n heuwel of langs ‘n snelweg, maar telkens ‘n uitbeweeg vanuit tradisionele ruimtes na buite. Ruimte is dus hier ʼn kern kategorie om wat aan die gebeur is te beskryf in ʼn poging om dit te verstaan, en dan spesifiek ook die oorsteek van ʼn grens, ʼn drempel, om ander ruimtes te betree. Die konsep liminaliteit resoneer hier in die agtergrond as ‘n belangrike konsep vir die verstaan van liturgie in ons dag en in die toekoms (cf. veral Barnard, 2010 en ook Wepener, 2009:74-78).

 

* Die wyse waarop ruimte hanteer word, kan verder hier as soekend beskryf word. Dit wil voorkom asof dit ‘n soeke is na nuwe (“oper”, “vryer”, “sagter” meer “betekenisvolle”) ruimtes. Is hierdie uitbeweeg en vryer gebruik van ruimte alleen net ʼn voortsetting van ʼn reeds bestaande beweging waarvan die afbreek van kansels in kerkgebou miskien ʼn voorloper was? En sou dit dan ook iets te make hê met die idee van mag, soos die magsoorheersing deur die geestelikes in die vroeë Middeleeue en die gewone gelowiges se reaksie daarop deur middel van ʼn demotiese diskoers (bygeloof!) die magsverspreiding teë te werk (waarvan die Reformasie die uiteinde was) (cf. Stringer, 2005:151). Die vermoede is dat hierdie nuwere tendense ʼn soort soeke na vryheid is. Vuijsje (2001:139) skryf na aanleiding van die pelgrimstog na Santiago de Compostella, “Hoe minder je meeneemt, letterlijk en figuurlijk, hoe meer vrijheid de deel zal zijn”. Sommige van hierdie nuwe vierings is miskien pogings tot vryheid, pogings om die geestelike reis op aarde ligter te maak en minder (dogmatiese-, kerkregtelike- en ander teologiese bagasie) saam te neem op die reis.

 

* Is daar in hierdie waarneembare proses ook sprake is van toenemende individualisering? Elke mens het toenemend sy/haar eie godsdienstige oortuigings wat die besonderhede van hul Christenskap definieër en al meer word die behoefte om dit in vryheid liturgies uitdrukking te gee ook beoefen. Post (2003:78) wys tereg daarop dat die ideaal binne die Liturgiewetenskap die van “aktiewe deelname” deur die hele gemeenskap is, alhoewel sy eie bestudering van ritueel-liturgiese bewegings daarop dui dat baie van die opkomende rituele repertoires meer individueel gerig is.

 

* Binne hierdie nuwe opkomende rituele is daar soms meer ruimte vir verstaanbaarheid en toeganklikheid, vir ʼn direkte aansluiting by die omringende kultuur en gevolglik ook vir persoonlike belewenis, vir emosie en empatie (cf Post, 2006:118).

 

* ʼn Soeke na nabyheid in en deur die rituele, of nuwe pogings tot kommunikasie met God op ʼn eie outentieke wyse aangesien die rituele of taal van die tradisionele rituele ruimtes van godsdienste nie meer akkuraat mense se belewenisse verwoord of ver-aksie nie, word ook vermoed. Word God as te veraf beleef soos in die vroeë Middeleeue en kompenseer nuwere vorme van ritualisering vir hierdie ervaring? Of is dit dalk juis die teenoorgestelde, naamlik dat bestaande meer binne-kerklike rituele te swaar klem lê op immanensie en die nuwere vieringe eerder God se transendensie wil beklemtoon? Presies hoe hierdie aksente wel lê is baie moeilik aantoonbaar en empiriese navorsing is nodig om meer helderheid te bring.

 

* Verder is ook heelwat van die rituele moontlik beswerend van aard. Die ongelukstoneel of die misdaadtoneel word besweer deur ‘n kruisplanting, soos byvoorbeeld die sogenaamde Boer ‘Genocide’ kruise.

 

* Saam met die beswerende dimensie is daar by sommiges dalk ook sprake van ‘n terapeutiese of ‘n pastorale dimensie, soos byvoorbeeld die kruise langs die paaie. Is hierdie rituele gewoon net bykomend, of bestaan hulle omdat die kerk se pastorale aanbod in hierdie verband as ontoereikend ervaar word?

 

*ʼn Laaste vraende opmerking hier is of die huidige Suid-Afrikaanse rituele landskap nie ‘n landskap is wat, indien ‘n mens dit fyner met ‘n ritueel-liturgiese lens bekyk, ʼn soort seismograaf kan dien vir dit wat in die toekoms miskien nog meer algemeen kan word? Ten einde hierdie vraag goed te kan beantwoord en verder te kan beweeg as blote spekulasie, is ritueel-liturgiese navorsing wat aan hierdie opkomende randverskynsels aandag gee noodsaaklik.

Hierdie beskrywende verkenning bring slegs die aktuele rituele landskap beter in kaart. Prakties-teologies gesproke in die woorde van Osmer (2008) sal vrae soos “waarom dit aangaan?”, “wat aan te behoort gaan?” en “wat sal ons doen?” volg op hierdie inisiële “wat gaan aan?”

 

Bronnelys

 

  • Barnard, M. 2006. Liturgie voorbij de Liturgische Beweging. Over ‘Praise and Worship’, Thomasvieringen, kerkdiensten in migrantenkerken en ritualiteit op het internet. Zoetermeer: Meinema.
  • Barnard, M. 2010. “’Flows of Worship in the Network Society. Liminality as Heuristic Concept in Practical Theologie Beyond Action Theory.” In die Skriflig 23/2, 67-84.
  • Lukken, G. 1999. Rituelen in overvloed. Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijke ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Sticht. (Cf. also Lukken, G. 2005. Rituals in Abundance: Critical Reflections on the Place, Form and Identity of Christian Ritual in Our Culture. Liturgia Condenda 17. Leuven: Peeters Pers).
  • Pecklers, K. 2003. Worship. New Century Theology. Londen/ New York: Continuum.
  • Post, P.G.J. et al. 2003. Disaster Ritual. Explorations of an Emerging Ritual Repertoire. Liturgia Condenda 15. Leuven: Peeters.
  • Post, P.G.J. 2003. “Oude heiligen, moderne pelgrims. Het bedevaartsoord Heiloo als modern ritueel-liturgisch podium”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 19, 65-81.
  • Post, P. 2006. “Evenwicht en troost. Een plaatsbepaling van Heiloo in het actuele ritueel-liturgische milieu”. In: Post, P. en K. Schuurmans (reds.). Op bedevaart in Nederland. Betekenis en toekomst van de regionale bedevaart. Meander 8. Kampen: Uitgeverij Gooi & Sticht, 109-127.
  • Post, P. 2008. “Plaats van handeling en ontmoeting. Lourdes als actuele heilige plaats”. In: Caspers, C. en P. Post (reds.). Wonderlijke ontmoetingen… Lourdes als Moderne Bedevaartsplaats. Meander 11. Heeswijk: Uitgeverij Abdij van Berne, 25-51.
  • Stringer, M.D. 2005. A Sociological History of Christain Worship. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Vuijsje, H. 2001. “Pelgrimage als anti-depressivum”. In: Post, P. en L. van Tongeren (reds.). Devotioneel ritueel. Heiligen en wonderen, bedevaarten en pelgrimages in verleden en heden. Meander 2. Kampen: Uitgeverij Gooi & Sticht, 135-142.
  • Wepener, C.J. 2009. “Ontdek eietydse tendense en uitdagings rondom die erediens”. In: Wepener, C.J. en I.J. van der Merwe (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi.BM.
  • Wepener, C.J. 2009. From fast to feast. A ritual-liturgical exploration of reconciliation in South African cultural contexts. Liturgia Condenda 19. Leuven: Peeters Pers.

 


[1] Neem as voorbeeld hierdie sogenaamde gebed met ‘n “flash” by http://www.theprayergarden.com/flash.htm