Oor lyfstraf en my pa

Ek dink byna daagliks, sedert sy dood in 2000, aan my pa. Dit kan skaars anders, gesien die sterk vormende invloed wat hy op my gehad het en ons geesverwantskap. Sommige van sy standpunte in verband met hedendaagse brandende kwessies in ons onrustige land kan ek net veronderstel, maar daar is andere waaroor ek absolute sekerheid het. Een daarvan is lyfstraf.

 

Die mans wat as seuns by hom in die laerskool op Harrismith was en in die laerskool Sentraal op Bloemfontein sal waarskynlik met belangstelling lees wat ek in dié verband oor hom te sê het. Die enigste leerlinge vir wie hy skoolgehou het wat hom kan onthou, moet my klasgenote uit Matriek wees. In daardie jaar, 1957, het ons Wiskunde-onderwyser na die eerste ses maande elders ’n pos aanvaar en was daar geen ander Wiskunde-onderwyser in die hele Vrystaat te kry om hom te vervang nie. My pa wou sy twee jaar ervaring as hoërskool-onderwyser met die oog op bevordering vergroot en het sy pos as laerskoolhoof vir ses maande neergelê om vir ons Wiskunde te kom gee. Alhoewel hy sy graad in die Geesteswetenskappe behaal het, was Wiskunde op skool sy sterkste en geliefkoosde vak; nogtans het die moed en idealisme om sonder ervaring die doseer van Wiskunde in Matriek aan te durf, die eie belang wat daarby betrokke was ver oortref. Hy het waarskynlik harder as ons gewerk; ek onthou veral die laat ure wat ons in sy studeerkamer met een brandende koolstofie in die ysige winteraande van die Oos- Vrystaat saam studeer het. Maar ons hele Matriek-klas het die einde van daardie jaar uitstekend geslaag, almal ook in Wiskunde.

 

Dit is allesbehalwe aangenaam om by ’n ouer klas te hê. Die enigste episode wat ek kan onthou waartydens my pa daardie semester werklik woedend was, is deur my veroorsaak. Ek het op een of ander manier die indruk geskep dat ek hom glad nie volg nie – ek was voorwaar geen potensiële wiskundige nie – en toe hy my ’n vraag stel waaruit blyk dat ek wel dít wat hy verduidelik het presies verstaan het, het hy ’n stuk kryt met ’n boog deur die klas geskop dat dit daar trek, vergesel deur ’n tirade oor my passiwiteit. Dié onregverdige oorreaksie op ’n gewaande gevoel van onmag om iets te verduidelik, was gou vergeet en vergewe. (Later as dosent het ek dit volkome verstaan.) Ek onthou ons klas as twintig welopgevoede kinders met ’n hegte onderlinge kameraderie. Lyfstraf het niemand in daardie klas ooit verdien nie. Of dit ooit toegepas is, weet ek nie, want meisies is daarvan gevrywaar. Hierdie ongelykheid wreek hom hoogswaarskynlik later in die patriargale wyse waarop tallose Afrikaner-mans hulle vrouens domineer en hulle menslike potensiaal aan bande lê.

 

Wat dusver tussen die reëls gelees kon word, kan ek nou maar onomwonde sê: Ek is absoluut gekant teen lyfstraf vir kinders op skool en tuis. Die respek vir eerlikheid waarmeee ek grootgemaak is, dwing my om te erken dat my pa in albei laerskole waarvan hy hoof was ’n militaristiese dissipline gehandhaaf het. Kinders moes in reguit rye in die gange loop en in die skoolsaal op gedissiplineerde wyse hulle plekke inneem. My pa het deur sy persoon gesag afgedwing, maar hy was geen heilige nie en hy het ook geslaan. Dit was ook nie by ons tuis ’n taboe nie, alhoewel ek self nie ’n pak kan onthou nie.

 

In sy later lewe was my pa egter daarvan oortuig dat lyfstraf verkeerd is en was hy kompromisloos daarteen. Hoe goed ’n seun ’n pak kon vat, is ook as ’n teken van manlikheid beskou en daar is dus begryplikerwys deur so ’n seun daarmee gespog. ’n Vriendin se smaaklike vertelling oor iemand wat glo die “seerste pak ooit” van my pa gekry het, het my net so min behaag as wat dit vandag my pa sou gevlei het. Ek glo nie dat hy ooit daarvan gehou het om kinders te slaan nie. Sy beeld as outentieke opvoeder word onder andere deur twee episodes gedemonstreer wat so mooi en ontroerend is dat ek veral hierdie artikel skryf om daarvan te kan vertel.

 

Terwyl my pa hoof was van Sentraal Laer kom ’n ouerpaar na hom toe om te kla oor die steeds swakker punte van hulle seun. “Slaan hom, Meneer”, is hulle raad waarop my pa sê dat hy nie kinders slaan oor akademiese prestasie nie – hy het geweet dis volkome kontraproduktief – maar dat hy ondersoek sal instel na die oorsaak van die dalende lyn. Hy vra by die onderwyseres die kind se boeke en bespeur ’n toenemende bewerigheid in die kind se handskrif. Op sy vraag aan die onderwyseres of die kind bang is vir haar, is haar antwoord ’n besliste en oortuigende ontkenning. Hy tree met die ouers in verbinding en vra dat hulle hul seun vir ’n mediese ondersoek moet neem. Enkele maande later is die kind aan ’n kwaadaardige breintumor oorlede.

 

Van die ander episode het ek self in die onlangse verlede gehoor. ’n Man by Protea Boekwinkel op Stellenbosch kom na my toe en sê hy was by my pa op skool in Sentraal Laer en hy het ’n storie om my te vertel. Sy van is Kruger en hy het ’n maatjie gehad met die van Dryden. Toe voel ek al aan in watter rigting die wind begin waai. Dié maatjie van die klein Krugertjie met sy oer-Afrikaanse van was natuurlik ondanks die oer-Engelse van volkome verafrikaans. Hulle tweetjies was “stout” en word op ’n Maandagoggend deur die juffrou na die prinsipaal gestuur. My pa hoor die verhaal van die “stout wees” aan en sê: “Weet julle, ek het so ’n lekker naweek gehad dat ek nie nou lus het om julle ’n pak te gee nie”, en met verwysing na die klein Dryden vervolg hy, “en omdat jy die van van ’n groot Engelse digter het, mag julle maar gaan.” Dit was my pa: die opvoeder met die passie vir die digkuns. Hy het vir my die vlam van die poësie aangesteek wat my mentor D.J. Opperman vir my laat brand het.

 

In ’n land van geweld – grootskaalse moord, verkragting en vreemdelingehaat – geniet lyfstraf nog meesal ’n soort goddelike sanksie. Van my jong vriende wat hulle kinders op ander maniere as deur lyfstraf opvoed, weet ek dat hulle skeef aangekyk en selfs verkwalik word asof hulle ’n Bybelse opdrag verontagsaam. Daar is altyd die verwysing na die boompie wat jy moet buig terwyl hy nog jonk is. “Waar staan dit nou weer in die Bybel?” word gevra. Nee, dit staan nie in die Bybel nie. Mense wat enigiets op Bybelse gronde wil sanksioneer, weet hoe om selektief aan te haal. In Spreuke 13:24 in die Ou Vertaling staan: “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging”. “Roede”, die deftige woord vir ’n rottang, het in die Nuwe Vertaling verdwyn: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.” En Spreuke 10:13 lui tans: “Daar is wysheid in die woorde van die een wat insig het; slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie.” Sou Jesus ooit aan die weerbare volwassene met sy/haar fisiese oormag opdrag gegee het om die weerlose kind met liefde te slaan? Die verstandige voed op met woorde; die onverstandige slaan. Liefde neem vele vorme aan, maar nooit dié van geweld nie.

Share this / Deel hierdie: