Inleiding

Kan ‘n mens die toekoms lees? Is daar enige waarheid in ‘die sterre voorspel’? Is dit dalk selfs sonde? Op verskeie plekke in die Hebreeuse Bybel word ‘sterrewiggelary’ veroordeel. ‘n Duidelike uitspraak vind ons in Jesaja 47 waar Babel deur die Here veroordeel word, en een van die redes word in vers 13 aangegee: ‘Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens. Laat die voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom.’ Moet ons hierdie waarskuwing ter harte neem, of kan ‘n mens maar ‘die sterre voorspel’ met ‘n knippie sout lees en dit as blote vermaak beskou? In hierdie teo artkel gaan ek na die funksie van sterrewiggelary in die antieke wêreld kyk: eers Mesopotamië en Egipte, en dan ou Israel.

Tekens in die hemel: Mesopotamië en Egipte

Volgens die Hebreeuse Bybel het die ou Nabye Oosterse volke die hemelliggame ‘aanbid’. Vandag weet ons dit is meer kompleks as bloot die aanbidding van die son, die maan en die sterre. Dit lyk asof hierdie kosmiese verskynsels eerder as kosmiese manifestasies van goddelike teenwoordigheid gesien is. Met ander woorde, as die son in die oggend opkom, het die Egiptenaar geweet dat Ra nog steeds daar is en sy werk doen; die Babiloniër het die versekering gehad dat Sjamasj nog steeds die son van geregtigheid oor alles sal laat skyn, ensovoorts. Elke god het ‘n plek in die kosmos gehad, en as die mens na die hemel opgekyk het, en gesien het dat die son, maan en sterre dag en nag op hul plek is, het dit ‘n versekering gebied dat die gode of godinne in beheer is.  

Die kosmos het dus die teenwoordigheid en betrokkenheid van die goddelike bevestig, en daarom was dit ook logies dat die gode hul boodskappe in die hemel sou skryf. Nie elkeen kon dit egter verstaan nie. In die ou Nabye Ooste en in Egipte was daar geleerdes wat baie jare lank studeer het om die voortekens van die gode te lees. Hul studie was vergelykbaar met dié van ‘n mediese dokter wat eers ‘n breë algemene kennis oor die mens en die funksies van die menslike liggaam moes kry, en daarna spesialiseer – narkose, chirurgie, oor neus en keel, psigiatrie. Die sterrekykers in die ou Nabye Ooste was hoogs gespesialiseerde ‘divineerders’ (diviners in Engels). Dit is iets anders as towery of waarsêery: die divineerder kry insae in die wil van gode of godinne, maar dit gebeur op ‘n indirekte wyse. Dit was anders as profesie. Profete en profetesse het ‘n direkte boodskap van ‘n god of godin gekry, hetsy ‘n stem, ‘n visioen of ‘n droom. ‘n Divineerder doen dit anders: hy slag ‘n dier en kyk na die ingewande, hy brand wierook en kyk hoe trek die rook, of, in die geval van sterrewiggelary, kyk hy op na die hemel en kyk na die beweging van die son, die maan en die sterre. Die wil van die gode moet afgelei word, en dit verg fyn waarneming.

Tussen Mesopotamië en Egipte was daar egter een belangrike verskil. Die divineerders in Mesopotamië was altyd op die uitkyk vir die onnatuurlike: vreemde geboortes, soos ‘n dier met twee koppe of twee sterte, ‘n mens met twee duime of ‘n ekstra armpie, en in die geval van hemelliggame, sons- of maansverduisterings. Alle onheilspellende voortekens is in hierdie onnatuurlike verskynsels gelees, en dan moes die betrokke gode met offers en gebede gepaai word om die onheil af te weer.

Egiptenare daarenteen was meer begaan oor die reëlmatige gang van gebeure, son wat opkom en onder gaan, die volmaan en die sekelmaan, die sterre wat elke nag in posisie waargeneem kon word, ensovoorts. Hulle het offers en gebede na hul gode gebring en geglo dat hulle sodoende die gode ondersteun om die reëlmaat van die kosmos in stand te hou. Die mense se offers het die gode gehelp om te sorg dat alles op die regte tyd gebeur, en dit was voldoende om by voorbaat te sorg dat onheil afgeweer word.

Beide Mesopotamië en Egipte het egter besonder intens in die beweging van die hemelligame belang gestel; hulle het hoogs gespesialiseerde akademici gehad wat die wil van die gode is die bewegings van die son, maan en die sterre kon raaksien en dit korrek interpreteer. Die sterre het voorspel.

Die God van die geskiedenis: Israel

Ou Israel se God was bo die kosmos. Hy was die Een wat die son, die maan en die sterre geskape het. God se reddende handelinge was nie op mites gebaseer nie, en ook nie van individuele innerlike ervaringe afhanklik nie. Ou Israel se God het Homself in die geskiedenis openbaar: nie in die sterre nie, maar in die geskiedensi het God Homself en sy wil bekend gestel. Ou Israel het ook profete gehad wat drome gedroom het, stemme gehoor het en visioene ontvang het, maar dan was daar ook hulle wat raakgesien het dat kennis van die wil van God afgelei kan word deur dit wat in die geskiedenis van die mens gebeur.

Net soos die geleerdes in Mesopotamië en Egipte, was die geleerdes in ou Israel ook daarop ingestel om alles wat rondom hulle gebeur, fyn waar te neem. Vir die Israelitiese ‘oog’ het dit egter nie om die sterre gegaan nie, maar om menslike gebeure. Israel se opgeleide akademici het die geskiedenis waargeneem en interpreteer, en daarin die reddende handelinge van God gesien. Hulle het nie probeer om die natuurlike wêreld te verstaan nie, dit was onmoontlik. God was die God van die natuur, maar Hy is nie in die natuur nie. ‘n Mens kan maar net die godsrede in Job 38-39 lees om iets hiervan te begryp. God bly nie in die natuur nie, en God maak sy wil ook nie natuurverskynsels bekend nie.

          In plaas daarvan om natuurverskynsels en hemelligame soos hul ou Nabye Oosterse en Egiptiese bure te bestudeer, het die geleerdes in ou Israel die geskiedenis bestudeer. Bepaalde gebeure in die geskiedenis het hulle in staat gestel om God se wil te ‘voorspel’. So het hulle ‘n teologie gevorm wat hulle in staat gestel het om die verlede te verduidelik en om ‘n prognose – ‘n ontwerp – vir die toekoms aan te bied. Dit was anders as voorspelling of waarsêery van wat in die toekoms gaan gebeur. Gebeure in die verlede – die geskiedenis – was die wyse waarop hulle God en sy reddende genade raakgesien het. Die geleerdes van ou Israel het die wil van God nie in die natuur nie, maar in die geskiedenis gevind.

Die verskil

Die verskil tussen die God van Israel en die gode van die ou Nabye Ooste en Egipte, is dat die gode deel van die natuurverskynsels was en selfs aan die geskiedenis onderworpe was.Die mens kon die geskiedenis stuur. As die geleerdes van Mesopotamië die sterre kon lees en die gode kon paai, kon onheil voorspel en afgeweer word. As die geleerdes van Egipte die reëlmaat van die kosmos verstaan het en die gode kon help om dit in stand te hou, dan het dit uiteraard die onheid verdring. In ou Israel was dit anders. God was buite die natuur en buite die geskiedenis. Die geskiedenis was egter betekenisvol, want geskiedenis het van God se getroue dade van redding getuig. Dít is wat die geleerdes in ou Israel waargeneem het. Deur die geskiedenis het hulle iets agter gekom oor die aard van die Here en sy verhouding met Israel. Die geloof en vertroue op die Here, was rasioneel en het nie los van die menslike rede gestaan nie. God was nie in mites en metafisiese spekulasie te vinde nie, maar in waarneembare historiese gebeure.

Slot

Ou Israel se godsdiens vorm dus ‘n antitese teen die religieuse praktyke van Mesopotamië en Egipte. Hulle het na die sterre gekyk en gedink hulle kan die wil van die gode peil en die toekoms voorspel. Israel het na die geskiedenis gekyk, die God van hul verlede waargeneem, wat ook die God van die hede was en beloof het om die God van die toekoms te wees. Israel se God was transendent, verhewe bo enige natuurverskynsels, en tog was Hy intens betrokke by die lot van die mens. Die God van Israel was ‘n God van die die lewe.

Bibliografie

Cooley, JL 2013. Poetic Astronomy in the Ancient Near East. The Reflexes of Celestial Science in Ancient Mesopotamian, Ugaritic, and Israelite Narrative. Winona Lake: Eisenbrauns.

De Jong, MJ 2007. Isaiah Among the Ancient Near Eastern Prophets. A Comparative Study of the Isaiah Tradition and the Neo-Assyrian Prophecies. Leiden: Brill.

Nissinen, M 2004. ‘What is prophecy? An Ancient Near Eastern Perspective.’ Paginae 17-37 in Kaltner, J & Stuhlman L (red). Inspired Speech. Prophecy in the Anceint Near East. Essays in Honor of Herbert B Huffmon. London: T & T Clark International.   

 

Share this / Deel hierdie: