Oor die algemeen word die liturgieselandskap van kerke in Suid-Afrika deur diversiteit gekenmerk. In dieselfde kerkgenootskap kan telkens diversiteit in die liturgieë waargeneem word. En dit geld nie net vir die NG kerk nie. Tussen die verskillende denominasies is daar ook ‘n groot diversiteit in die liturgie te bespeur, selfs al is daar sekere gemeenskaplike ekumeniese aspekte daarin soos byvoorbeeld die vier fases in die verloop van die erediens. In hierdie verband kan ons die konsep van local theologies van Robert Schreiter as hermeneutiese uitgangspunt oorweeg, wat as verstaanskader vir die diversiteit kan funksioneer. “… local theologies can have nuances in the theological tradition of a church denomination as a result of a congregation’s history, context and in the diversity in spirituality. A congregation has acultural web. In this cultural web beliefs, interpretation of the confessional creeds, history of a congregation, spirituality, attitudes, morals, customs, specific practices of a certain pastor,and the environment form an intertwined whole that is a cultural web”(Schreiter 1985:3).In elke plaaslike gemeente het hierdie verskynsel van ‘n eiesoort subkultuur ‘n invloed op die inrigting van die liturgie, tesame met die eietydse postmoderne lewensgevoel.
By die Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerke geld gewoonlik nog die liturgieë wat deur die Sinodes aanbeveel word. Die invloed van eietydse musiek en sang kan egter ook plek-plek waargeneem word. In die Hervormde Kerk word daar veral met aanddienste soms ‘bands’ gebruik met eietydse vrye liedere.
In die tradisionele hoofstroom kerke het die evangelies-charismatiese beweging oral ‘n invloed gekry wat groot diversiteit meebring. Gerrit Immink, in sy nuwe boek oor die erediens (Immink 2011:19) skryf hy oor hierdie invloed : “Deze kerken introduceer den nieuwe instrumenten, zoals de gitaar, drums en synthesizers, en nieuwe vormen van communicatie, zoals drama en dans. De gemeenten werden directer betrokken bij de eredienst door het opheffen van de handen, het kringgebed en het geven van getuigenissen. Ook in de gevestigde protestantse kerken hebben de gezang-en lied kultuur voet aan de grond gekregen.”
Die Uniting Presbyterian Church of Southern Africa volg in die algemeen die tradisionele liturgie, maar daar is sterk charismatiese invloede in sommige gemeentes, asook invloede van die swart belewing van die liturgie. Hulle dienste is dikwels multi-kultureel.
Die Methodiste Kerk van Suid-Afrika het ‘n sterk piëtistiese inslag wat ook in die liturgie gesien kan word. By die mees basiese elemente is daar alternatiewe. Charismatiese invloed geld ook hier, asook die invloed van swart mense se liturgiese styl. Daar is ook ‘n verskeidenheid van meer formele tot meer informele liturgieë. Multi-kulturele eredienste is normaal.
Die Church of the Province of Southern Africa (Anglikaans) het veral ‘n hoog kerklike liturgie. Die liturgie volg die Book of Common Prayer (1662) en die South African Anglican Prayer Book (1989). Daar is ruimte gemaak vir die liturgiese ervaring van die swart lidmate in multi-kulturele dienste. Charismatiese invloed geld in baie van die ‘parishes’, veral met eietydse musiek (gelei deur ‘n ‘band’) en eietydse sang. Daar is dus diversiteit in hul liturgieë. Die Church of England in South Africa (laagkerklik) het ‘n meer gereformeerde liturgie, terwyl ruimte gemaak word vir swart liturgiese ervaring, maar ook hier geld die charismatiese invloed soms.
Die Evangelies-Lutherse Kerk volg meestal die tradsionele liturgie met ‘n kreatiewe hantering van die ryke simboliek in die liturgie. Hulle maak gebruik van die kleure van die kerkjaar en van die gereëlde sing van Psalms. Daar word ook gewoonlik twee Skriflesings gedoen – uit die Tora, profete of Psalms, en dan uit die Evangelies of ‘n brief. Ruimte vir die liturgiese ervaring van swart mense en vir eietydse musiek en sang is daar ook.
In die AGS as voorbeeld van die Pinksterkerke is daar vryheid en spontanïteit in die liturgie. Die ondervinding van die doop met die Heilige Gees en met die teken van die spreek in tale (glossolalie) asook die gepaardgaande gawes van die Heilige Gees wat tot uiting kom, het ruimte in die liturgie. Onder die swart lidmate speel geloofsgenesing en die uitdrywing van duiwels ook ‘n rol in die liturgie. In die AGS is daar diversiteit van ‘n meer formele erediens tot ‘n heel vrye, informele liturgie.
Die Katolieke Kerk het ‘n ryke liturgie. Dit is hoofsaaklik tradisioneel. Die liturgie het ‘n sakramentele karakter en die eucharistie speel ‘n sentrale rol binne die ongelooflik ryke misviering. Daar is ook ’n ryke verskeidenheid van gebedsvorms. Die inrigting van die kerkgeboue dra ‘n sterk liturgiese karakter. Binne die wêreldwye vieringe van die liturgie is daar diversiteit van die basiese liturgie soos dit gekontekstualiseer is in die verskillende bevolkingsgroepe en in die verskillende soorte samelewings.
Die onafhanklike Charismatiese kerke. Die charismatiese beweging het in die tweede helfte van die vorige eeu inslag gevind in talle gemeentes van die historiese, hoofstroom kerke. Maar in die 1970’s en 1980’s het onafhanklike Charismatiese kerke ontstaan. Die liturgie is vry, redelik spontaan, soms baie elektronies, en met eiesoortige, eietydse koortjies (liedere) begelei deur ‘bands’. Die liturgieë weerspieël die eietydse populêre musiek en sang, asook die soort liggamsbewegings en energie van populêre musiekfeeste. Daar is ruimte vir getuienisse, profesieë en genesinge. Die ervaring van die doop met die Heilige Gees tydens die diens en die spreek in tale kom voor.Daar is egter ‘n groot diversiteit in die liturgieë van hierdie kerke met multikulturele dienste.
Die onafhanklike Afrika-kerke. Die belangrikste hedendaagse voorbeeld is die Zion Christian Church. Daar is egter talle en talle onafhanklike swart kerke, dikwels gebonde aan ‘n sekere stam. Daar is gevestigde Christelike rituele wat hierdie kerke gemeen het met alle Christelike kerke in die wêreld. Maar die kulturele inslag is baie sterk in hulle rituele: reinigingswassinge, alles word gewoonlik al singende en dansende gedoen, genesinge, uitdryf van bose geeste, profesieë, gemeenskaplike maaltye en offers van graan, ensovoort. Die byeenkomste duur dikwels meer as een dag. Die diversiteit in hierdie kerke is groot.
Daar is een groot tema in die S.A. liturgiese landskap: diversiteit. So ook internasionaal. Immink (2011:20): “Protestantse kerken kennen een grote variatie in liturgiesche stijlen.”

Bibliografie

  • G.Immink, F.G. 2011.Het Heiligegebeurt.Praktijk, theologie en traditie van de protestantsekerkdienst.Zoetermeer: Boekencentrum.
  • Schreiter, R. 1985. Constructing local theologies.Maryknoll, NY: Orbis Books.