Teks: Lukas 24:13-35

 

Na die verskyning van my boek, Om te mag twyfel, ontvang het allerlei soorte reaksies. Onder andere kry ek die volgende faks van ‘n oom uit ‘n aftreeoord op die platteland:

 

Geagte Professor

Ek het u boek ‘Om te mag twyfel’ gelees. Daar het vir my effens lig begin deurskemer. Ek het baie dieselfde pad as u geloop behalwe dat ek ‘n bourekenaar in plaas van ‘n teoloog geword het.

Daar is egter ‘n kardinale verskil. U het u geloof behou, maar ek het dit verloor of nooit eers gehad nie. Moontlik is my genadetyd lankal verby. Moontlik het ek die Heilige Gees vir te lank weerstaan.

Ek bid die laaste paar dekades vir lig wat ek nie kry nie. Meestal sonder woorde want ek weet nie meer hoe om te bid nie. Die alternatief wat ek gevolg het was om te probeer leef op ‘n wyse wat ‘dink’ God sal behaag. Hulp aan my ‘naaste’, wit en swart, vriendelik, nie haatdraend, lankmoedig, saam met die waarheid loop, ens. Ek bly maar altyd onder die besef dat die ‘werke’ sonder die geloof niks beteken nie en soek by u raad asseblief.

 

Verskriklik!

My antwoord:

 

Beste R

Ek is diep getref en geroer deur jou briefie. Baie dankie dat jy dit met my deel. Ek dink dit is die eerlikheid wat my so aanspreek.

My eerste reaksie nadat ek jou storie ‘n paar keer gelees het, is een van deernis, omdat ek dink dat jou emosionele/spirituele lyding eg, maar heeltemal onnodig is. Dit lyk vir my asof dit voortspruit uit ‘n bepaalde siening van “God” wat in wese ongenadig en veeleisend is – ‘n God wat beide geloof en werke weeg en maklik te lig bevind.

As jy eenkeer Pretoria toe kom, moet jy my gerus laat weet en as dit enigsins moontlik is, sal ek graag met jou daaroor gesels.

 

Ek kan nie help as om te wonder wat die kerk en teologie se aandeel aan hierdie neerdrukkende Godsbeeld is nie?

So ‘n siening/verstaan van God val nie uit die lug nie – veral nie een wat so onuitwisbaar ingeprent is nie. Dit kom waarskynlik met moedersmelk gegee en dit word van geslag tot geslag versterk. Die kerk en samelewing; die ouerhuis, die skool en kultuur, die kuns en letterkunde, alles dra by tot ‘n bepaalde Godsbeeld.

Ons as teoloë moet versigtig wees om ons hande in onskuld te was nie.

Was ons nie in die verlede te seker van wie God is, hoe God is en wat God sê nie?

Bewustelik of onbewustelik het ons meegewerk aan die opbou van ‘n sisteem van leerstellinge wat die indruk skep dat ons die kennis het, of dat daar iewers kennis beskikbaar is oor presies hoe God is. Iemand iewers weet en het die regte kennis van God. En na alle waarskynlikheid sal dit die teoloog wees want dis mos wat die woord “teologie” beteken.

So die persepsie word opgebou dat iewers in die omgewing van die kerk en die teologie bestaan daar ‘n “Gods eye view” en as mense se persoonlike ervaringe net nie, al probeer hulle hoe hard, (soos die oom) daarby kan uitkom nie, dan is die fout by hulle en hulle het geen ander opsie as om skuldig te voel en verwerp te voel deur die God van die teologie en kerk nie.

Ons kan probeer verdedig en verduidelik dat in ons geref kerke sê ons dit gaan oor genade en nie oor werke nie. Dikwels word die genade tog maar ook vasgevang in ‘n sisteem. Jy’t nog steeds die regte pin code nodig om alles te laat oopgaan. Jy moet die regte geloof hê, die regte dinge doen. Dit meer subtiel as in die ou Roomse tradisie waar jy moes bieg en betaal, maar dit is steeds daar. Die kerk bemiddel die regte pin-kode en dit bly maar ‘n sisteem waarbinne jy moet inpas en ten minste die regte taal gebruik en dan gaan die hele program van genade vir jou oop.

Die probleem is dat ons as teoloë nog so weinig gevorder het op die Emmaus-reis. Ons is nog heel aan die begin waar ons skeef opkyk en verbaas vir die mede-reisiger vra: “Is jy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem” – bietjie uit die hoogte….

In hoe ‘n kontras staan die einde van die reis met die begin van die reis. Beterweterigheid maak plek vir gasvryheid. Wysneusigheid maak plek vir moegheid en selfs desperaatheid.

Ons het ‘n nuwe metafoor vir teologie nodig en dit is die metafoor van gasvryheid. Meer as net om gasvry te wees. Die sleutelmoment in hierdie verhaal is nie ‘n kennissisteem nie, maar die oopmaak van die deur vir die vreemdeling (nie vir Jesus nie).

Wat is die oorwegende, die draende metafoor vir ons teologie? Slimwees in Jerusalem of gasvry wees teenoor die vreemdeling?

Watter verskil sal dit maak as ons ons geslote teologiese kennissisteem kan inruil vir ‘n ontvanklikheid – ontvanklikhed vir die vreemdeling, vreemde gedagte, vreemde siening? As ons soos soekers die deure kan oopmaak in plaas van die slimmes van Jerusalem te wees.

Bonhoeffer skryf in sy Letters and Papers from Prison:

‘The God who lets us live in the world without the working hypothesis of God is the God before whom we stand continually. Before God and with God we live without God.’

 

Bonhoeffer was op dieselfde soort reis as die Emmausgangers – ‘n reis weg van Jerusalem af, ‘n reis van ontnugtering, teleurstelling en lyding. ‘n Reis waarop die bekende hipoteses/idees oor God nie wou werk nie.

In die Nazi-gevangenis en kamp het hy geleer dat daardie hipotese wat ons het oor God nie uitwerk nie.

Die beter opsie is “voor God en met God te lewe sonder God”

As ons dáár kan kom, is ons eers werklik teoloë. Volgens die klassieke formulering van Thomas Aquinas: Fides quaerens intellectus. Geloof wat soek om te verstaan. Nie geloof wat reeds verstaan bereik het nie. Soekende geloof.

Daar praat jy dan liewer minder oor God as meer; daar lewe  jy liewer sonder God, maar voor God en met God, eerder as dat jy probeer om God te wees en voor te leef.

Stanley Hauerwass skryf in sy outobiografie: Taak van die teologie is om die kerk te help om minder oor God te praat.

Liewe mede-gelowiges en mede-teoloë, mag ons, mag julle in die loop van julle bediening, ‘n entjie vorder op die die pad tussen Jerusalem en Emmaus. As die teologiese fakulteit en julle teologiese studies dalk by julle die illusie laat posvat het dat julle kan sê: Is jy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem, mag jy dit afleer en ontgroei (hopelik nie met soveel pyn en lyding soos Bonhoeffer nie) en vorder in die rigting an Emmaus waar jou lewe en bediening eerder bepaal word deur openheid vir en gasvryheid teenoor die vreemdeling.

Share this / Deel hierdie: