Episode 1 in ‘n besinning oor hoe kragtige verhale oor tyd groei.

Die volgende kort artikel is ‘n poging of na te dink oor die historisiteit al dan nie van die uittogverhaal, veral soos ons dit kry in die boek Eksodus. Daar is geen twyfel dat die verhaal van bevryding uit Egipte tot vandag toe dié verhaal is in die lig waarvan Judaïsme homself definieer nie. Soos Christene bely dat God is die vader van Jesus wat ons van onsself en ons sonde kom verlos het, so bely Jode dat die God wat hulle aanbid, is die God wat bevry het uit Egipte, die huis van slawerny. Ons almal weet ook dat die Joodse Pasgafees deur die Christendom omvorm is in die Paasfees wat ons belangrikste naweek in die kerklike jaar is. Die storie van die uittog lê dus in die hart van wat beide die Judaïsme en die Christendom glo.

Die vernaamste bronne wat hier onder gebruik word, verteenwoordig Noord-Amerikaanse bronne wat baie sterk deur die Duitse Historiese Kritiek geïnformeer is. Al drie, naamlik, David Carr, John J. Collins en Thomas B. Dozeman is dus kritiese Bybelwetenskaplikes en sal hulself juis so definieer teenoor meer konserwatiewe “Bybelse Teoloë” wat ook sterk verteenwoordig is in die Noord-Amerikaanse teologiese konteks. Beide Dozeman en Carr het al baie oor die Pentateug gepubliseer en Dozeman se kommentaar op die boek Eksodus word baie hoog geag. Collins, wat eintlik ‘n Ier is, is meer bekend vir sy werk op apokaliptiese literatuur, maar sy inleiding tot die Hebreeuse Bybel word wyd gebruik en is gratis beskikbaar vir Suid-Afrikaners. (Sien die “link” in die bibliografie.) Beide Collins en Carr se werk word baie gebruik vir die onderrig van voorgraadse student by Tukkies. Maar wat sê die drie oor die uittogstorie?

Indien ‘n mens die boek Eksodus as ‘n geskiedenishandboek sou wou gebruik, is die eerste probleem die feit dat die teks baie vaag is en weinig konkrete historiese gegewens weergee. Geen Farao se naam word ooit genoem nie en die enigste name wat wel genoem word, is die stede waaraan die Israeliete volgens Eksodus 1:11 gebou het naamlik, Pitom en Rameses. Laasgenoemde stad word eintlik in Egipties Piramesse genoem en ons weet op grond van verskeie Egiptiese papiri dat die stad gebou is deur Ramses II van die Negentiende Dinastie. Dit was blykbaar ‘n ou Hyksos stad wat vernietig is wat weer deur Ramses II herbou is. Ons sê later iets oor die Hyksos. Die Egiptiese papirus Leiden 348 noem juis dat Ramses II slawe gebruik het wat “‘Apiru” genoem is wat sommige dink ‘n ander en ouer vorm van “Hebreër” is. Die lys hieronder wat die konings van die Negentiende Dinastie noem, is van die volgende webwerf geneem: (http://discoveringegypt.com/ancient-egyptian-kings-queens/egyptian-dynasties-new-kingdom/). Dit stem breedweg ooreen met die standaard datums wat ‘n mens in die meeste ensiklopedieë sal kry (byvoorbeeld Anchor Bible Dictionary of Wikipedia) en is in Engels.:

  • Rameses I 1295-1294
  • Seti I 1294-1279
  • Rameses II 1279-1213
  • Merenptah 1213-1203
  • Amenmessu 1203-1200
  • Sety II 1200-1194
  • Saptah 1194-1188
  • Tausret 1188-1186

Daar is groot debat oor hierdie datums en daar is ander lyste wat maklik met ‘n dekade of twee verskil. Dozeman (2009:29) dateer byvoorbeeld Mernepta se tydperk van 1224 tot 1211 v.C. Daar is egter konsensus oor die volgorde van die konings. Hierdie lys sou beteken dat Ramses II die Farao was wat Israel verdruk het en konserwatiewe Christene sal ook dikwels met groot sekerheid verklaar dat juis hy die Farao van die uittogverhaal was. Daar is wel een lastigheid met hierdie datum (±1213 v.C.). Ramses II se seun, Mernepta, het iewers in sy kort loopbaan Palestina ingeval en het windmakerig vertel van alles wat hy daar reggekry het. Hy het dit alles laat skryf op die Mernepta Stele en die belangrike deel klink soos volg (Carr & Conway 2010:40):

I have plundered Canaan from one end to the other, taken slaves from the city of Ashkelon and conquered the city of Gezer. I have razed Yanoam to the ground. I have decimated the people of Israel and put their children to death … All Canaan has been pacified.

Hierdie teks is die oudste buite-Bybelse verwysing na Israel en Egiptoloë stem saam dat die Egipties na Israel verwys as ‘n bevolkingsgroep en nie ‘n land nie. Dit is alles goed en wel, maar as Mernapta die seun van Ramses II was wat in die Rietsee verdrink het, dan is daar nie regtig geleentheid vir veertig jaar in die woestyn nie. (Verder vertel die boek Eksodus ook van ten minste twee Farao’s. Een onderdruk hulle (Eks 1) en ʼn volgende een verdrink in die Rietsee.) Die Mernepta Stele vertel van ʼn gevestigde bevolkingsgroep wat reeds in Palestina woon. Hierdie gegewens krap die chronologie erg deurmekaar. Dozeman (2009:30) noem ook dat dit welbekend is dat Seti I, Ramses II en Mernepta van tyd tot tyd militêre ekspedisies in Palestina uitgevoer het met die doel voor oë om die Negentiende Dinastie se beheer oor Palestina te versterk. Die inwoners van Palestina van die dertiende eeu het Egiptiese onderdrukking goed geken. Hoofsaak is dat daar in die Mernepta Stele geen aanduiding is dat 3 miljoen mense onlangs uit Egipte gevlug het en vir veertig jaar deur die woestyn getrek het nie.

‘n Ander probleem met die Bybel self is die interne kronologie soos ons dit soms daar kry. Beide Collins (2004:11-12) en Dozeman (2009:27) tel letterlik die jare terug op grond of tekste in die OT. Byvoorbeeld, 1 Konings 6:1 sê dat Salomo se vierde regeringsjaar presies 480 jaar op die uittog gevolg het. Dit is natuurlik ʼn vraag presies wanneer Salomo regeer het, maar volgens Collins (2004:108) vat dit ons terug na 1445 v.C. en Dozeman (2009:27) skat dit was 1436 v.C. Hierdie datum neem ʼn mens terug na die Agtiende Dinastie en die tyd van Tutmoses III, m.a.w. ʼn goeie 200 jaar vóór Ramses II. In die tyd was die groot gebeurtenis die migrasie van die Amoriete deur die Ou Nabye Ooste (Dozeman 2009:27), maar daar word meestal aanvaar dat dit niks met die Israeliete te doen het nie, aangesien die OT die Amoriete altyd as ʼn ander groep uitbeeld (Gen. 10:16). Dus van die OT se kant af is daar weinig spesifieke gegewens wat met bekende historiese gebeurtenisse verbind kan word.

Wat buite-bybelse tekste betref, is daar ook weinig. Daar is geen ou Egiptiese storie wat vertel van ʼn groot groep mense wat uit Egipte vlug nie. Daar is wel ‘n Hellenistiese storie wat soortgelyke verhale vertel, maar dit is dan meer as ʼn 1000 jaar jonger as die gebeure self en is waarskynlik deur die Bybelse verhaal beïnvloed. Collins (2004:108) verwys na die geskiedenis van die priester Manetho wat in Grieks geskryf is. Josephus vertel ons daarvan in sy Against Apion. In Manetho se geskiedenis hoor ons byvoorbeeld van die Hyksos wat volgens hom Jerusalem gebou het. Die Hyksos was mense wat uit vandag se Sirië gekom het en oor Egipte regeer het. Hulle was Semiete en gehaat in Egipte en het vir amper ʼn eeu (1648-1540 v.C.) oor Egipte geheers (Collins 2004:27). Volgens Higginbotham (2009:923) het hulle die gehate Vyftiende Dinastie van Egipte gevorm, maar dit vat ons nog verder terug in die geskiedenis lank voor Tutmoses III en geen historikus dink dat die Hyksos iets met Jerusalem te doen gehad het nie. In die res van die storie van Manetho hoor ons dan van 80 000 melaatses wat uit Egipte gesit word. Hulle rebelleer onder die leiding van ʼn priester met die naam van Osarseph en roep die hulp in van die Hyksos in Jerusalem. En dan vertel die verhaal vir ons dat Osarseph se ander naam eintlik Moses was. Maar, soos reeds gesê, is dit ʼn Hellenistiese storie wat lank na die gebeur opskrif gestel is, ook lank na die Pentateug reeds bestaan het en self al in Grieks vertaal is. Die verhaal lê ook verband tussen die Hyksos, Jerusalem en Moses wat totaal ongeloofwaardig is en deur geen ander bronne gedoen word nie. Behalwe vir hierdie Griekse storie kom daar basies geen tekste uit Egipte wat van die uittog vertel nie.

Dit terwyl ons weet dat die Egiptenaars in die 13de eeu (die tyd van die Negentiende Dinastie en o.a. Ramses II) hulle grense sterk gekontroleer het. Collins (2004:109) beskryf dit as volg:

The Anastasi Papyri show that access to Egypt was tightly controlled in the thirteenth century b.c.e. One passage records the passage into Egypt of an entire tribe during a drought. Another reports the pursuit of runaway slaves who had escaped to the desert. These documents give circumstantial support to the plausibility of an exodus of slaves from Egypt in that period, but they do not, of course, corroborate the specific story found in the Bible.

Ek sal netnou terugkeer na die moontlikhede wat hierdie aanhaling wel oopmaak, maar as ʼn mens kortliks die argumente tot op hede wil opsom dan kom dit op die volgende neer:

  • Die OT is vaag met ʼn baie deurmekaar chronologie.
  • Geen buite-bybelse tekste beskryf die gebeurtenis van die uittog nie.

Daar is ook ander argumente teen die historisiteit van die uittogverhaal (Collins 2004:109):

  • Hoe sou 600 000 mans, wat ʼn groep mense van meer as 3 miljoen veronderstel, in Sinai kon oorleef vir 40 jaar?
  • Die argeologie het geen materiële oorblyfsels gekry in Sinai van hierdie 3 miljoen mense nie.
  • Verder sê dieselfde argeologie vir ons dat die materiële kultuur van Ou Israel in die sentrale bergland Kanaänities was. As 3 miljoen mense van buite af ingekom het, sou dit ʼn reuse impak op die materiële kultuur gemaak het. Daar is redelike konsensus dat Israel het ontwikkel uit Kanaäniete en het nie van buite gekom nie.

Dit alles sou kon sê dat die verhaal van die uittog eenvoudig fiksie is, maar dit is ook nie so eenvoudig nie. In die vorige aanhaling van Collins word daar na Egiptiese tekste verwys wat daarop dui dat die breë Bybelse verhaal nie onrealisties is nie. Mense het na Egipte gevlug in tye van hongersnood wat ʼn mens nogal laat dink aan die verhaal van Josef. Kleiner groepe slawe het soms ontsnap en soms was van hierdie groepe Semiete. Daar is Egiptiese papiri wat dit aandui. Collins noem dit alles “omstandigheidsgetuienis”. Hy noem ook ander argumente (Collins 2004:110):

Nonetheless, it seems likely that some historical memories underlie the tradition of the exodus. The name Moses is of Egyptian origin. The word means “child” and it normally occurs as an element in a longer name, which begins with the name of a god, such as Ptah-mose, Ra-mose, or Thut-mose. It is difficult to imagine why Israelite tradition should give such a prominent role to someone with an Egyptian name if there were no memory of such a person. It is also unlikely that a people would claim that it had experienced the shameful condition of slavery if there were no historical basis for it.

Wat Collins hier noem staan soms bekend as die “kriterium van verleentheid”. Hoekom sal mense stories uitdink wat vir hulle ʼn verleentheid is? Hoekom gee jy vir ʼn groot held ʼn Egiptiese naam, veral as die Egiptenaars dan die vyand is? Hoekom beeld jy jou voorvaders as slawe uit, as dit ʼn skandelike ding in die Ou Nabye Ooste was? Gewoonlik aanvaar historici dat daar dan ʼn historiese kern sit agter so ʼn storie. En dit is in kort wat die meeste Bybelwetenskaplikes aanvaar oor die uittogverhaal: ʼn Klein groepie Semitiese slawe het bevryding uit Egipte beleef en hierdie groepie het uiteindelik aangesluit by die Israelitiese stamme in die sentrale bergland. Hulle was egter te klein om enige impak op die materiële kultuur te hê.

Dus, die storie van die uittog is nie heeltemal fiksie nie, maar ook nie heeltemal feite nie.

Daar is ook redelik eenstemmigheid oor waar die storie eerste posgevat het en hoe dit gegroei het, maar dit is ʼn ander storie en vat ons na die latere Noordryk…

Bibliografie

Carr, D.M. & Conway, C.M. 2010. An Introduction to the Bible. Sacred Texts and Imperial Contexts. Chichester: Wiley-Blackwell.

Collins, J.J. 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press. (http://www.sbl-site.org/publications/ICI_FortressPress.aspx)

Dozeman, T.B. 2009. Exodus. Grand Rapids: Michigan. (Eerdmans Critical Commentary)

Higgenbotham, C. 2009. “Hyksos” in Sakenfeld, K. (red.) The New Interpreter’s Dictionary. Volume 2. Nashville: Abingdon Press, p. 923