Die volgende is die lesing van prof Lina Spies gelewer in die Holocaust-Museum (Kaapstad), Maandag 16 Junie 2008, tydens die amptelike bekenstelling van die vertaling van die dagboek van Anne Frank.

Prinsengracht 263 verteenwoordig die bekendste gragtehuis in Amsterdam. Die huis dra die naam van die jong skryfster van die beroemdste dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog, en wanneer trem 13 of 17 skuins oorkant in die Raadhuisstraat stop, kondig die kondukteur aan: “Westermark, Anne Frank-huis”. In daardie huis op Prinsengracht 263 het Anne haar dagboek geskryf waarvan sy nooit kon droom dat dit na haar ontydige en verskriklike dood wêreldbekend en sy ’n wêreldikoon sou word nie.

Die naam Anne Frank is lank reeds internasionaal ’n huishoudelike begrip en wen nog steeds aan bekendheid in ons “global village”. Tog bestaan daar oor die skryfster en haar dagboek skrynende onkunde, in die besonder in Suid-Afrika en onder Afrikaanstaliges. Ek kon in my vertaling uiteraard so getrou as moontlik bly aan die oorspronklike teks weens die noue verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands. Hopelik kan dié vertaling in samehang met my uitvoerige inleiding bydra tot ’n bestryding van die onkunde oor die dagboek self, maar veral ook oor die skryfster daarvan. Die een is onlosmaaklik verbonde aan die ander. Vir my was die vertaling van Anne Frank se dagboek die vervulling van ’n lewensideaal. Uiteindelik kan die Afrikaanse vertaling staan naas die tallose vertalings waarin die dagboek verskyn het sedert die eerste publikasie daarvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.

My eie verbintenis met die dagboek het begin as vierdejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch in 1961 toe The diary of Anne Frank, die filmiese pendant van die verhoogverwerking deur die Amerikaanse egpaar Frances Goodrich en Albert Hackett, hier vertoon is. Veel meer nog as deur die film, is ek aangegryp deur die dagboek wat ek onmiddellik daarna in die oorspronklike Nederlands in die HAUM-boekwinkel kon koop en kon lees teen die agtergrond van die Eichmann-verhoor wat in daardie selfde jaar, 1961, in Jerusalem plaasgevind het. Vir die eerste keer is ek gekonfronteer met die gruweldade van die Nazi’s, waarvan Anne ook die slagoffer geword het. Die dagboek en die Eichmann-verhoor was die stimulus vir my gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” die eerste gedig van my wat my mentor en professor, die digter D.J.Opperman, sonder meer goed gevind het.

Watter beeld het ek agt-en-veertig jaar gelede van Anne Frank gevorm? Word ek die leser van my eie gedig, lees ek in my poëtiese weergawe van die net van komplekse menseverhoudings waarin Anne gevange gesit het in die skuilplek van agt Jode in die agterste gedeelte van die gragtehuis op die Prinsengracht – in kontras met die terreur teen die Jode in die buitewêreld – haar moeisame verowering van en behoud van eie identiteit. Uit my gedig blyk dat ek in my beeldvorming van Anne die klem verskuif het van haar konflikterende gevoelens oor haar mede-Agterhuisbewoners na haar geesteskrag en oorwinnende optimisme. Daardeur het ek gevaar geloop om haar te “mooi” voor te stel en afbreuk te doen aan die veelkantigheid van haar persoonlikheid. Ek was uiteraard toe nog onbewus van die Anne Frank-kultus waardeur Anne die mees geïdealiseerde en gefalsifiseerde ikoon geword het uit ’n periode van verskrikking wat behoort tot van die ergste uit die wêreld-geskiedenis. Omdat my gedig wel uitdrukking gee aan die terreur teen die Jode as die milieu van die lewe in die Agterhuis, glo ek dat ek tog nie met dié gedig ’n bydrae tot die Anne Frank-kultus gelewer het nie.

Ook in die Afrikaanse media is die afgelope twee jaar aandag aan Anne Frank bestee. In Die Burger van 19 Maart 2007 het Maureen Joubert ’n mooi artikel geskryf met as opskrif “Anne Frank se boom van hoop”. Joubert verskuif egter onwillekeurig die klem weer te sterk na die dagboek as ’n dokument van hoop, want sy skryf onvermydelik binne die kader van die kultus. Toe die honderd-en-sewentigjarige kastaiingboom in die buurtuin waarop Anne in haar gedwonge afsondering van die buitewêreld kon uitkyk, onlangs weens swamsiekte en ouderdom moontlik uitgekap sou moes word, het dit ‘n soort globale histerie veroorsaak wat mens die “red-die-boom”-aksie kan noem. Deur allerlei maatreëls van boomchirurge bly die boom voorlopig staan.

Anne het maar enkele kere – ek meen drie maal – oor die kastaiingboom geskryf, bv. op 18 April 1944: “Ons het na ons milde wintertjie weer ’n pragtige lente. April is inderdaad verruklik, nie te warm en nie te koud nie, met so nou en dan ’n reënbuitjie. Ons kastaiingboom is al taamlik groen; hier en daar is daar al bloeisels soos klein waskersies aan.” En op 13 Mei1944 skryf sy dat die vorige dag – haar vader se verjaarsdag en haar ouers se huweliksherdenking – “die son geskyn het soos wat dit in 1944 nog nie geskyn het nie” en vervolg: “Ons kastaiingboom staan van bo tot onder in volle bloei; hy is vol blare en veel mooier as verlede jaar.”

Natuurlik begryp ek die sentiment oor die boom, maar met dié voorbehoud dat die boom deel was van die natuur as sodanig wat Anne net vanagter vensterruite en meesal deur skrewe tussen gordyne kon waarneem. Die boom “staan” in eerste instansie in die dagboek van Anne Frank en nie in die buurtuin van die Agterhuis nie. Anne Frank se natuurbelewenis het vir haar ’n transendente sin gehad, omdat deur wat sy kon waarneem – en dit was veel meer as die kastaiingboom – sy haar verbonde gevoel het met God. Die kastaiingboom figureer ook in Anne se inskrywing van 23 Februarie 1944 en juis uit daardie passasie blyk hoe Anne se natuurbelewenis – in samehang met haar ontwakende liefde vir Peter – vir haar religieuse dimensies aanneem. Sy vertel hoe sy saam met Peter van die solder af na buite gekyk het en watter gewaarwordinge dit in haar gaande gemaak het:

“Van my lieflingsplekkie op die grond af het ek na die blou hemel gekyk, na die kaal kastaiingboom aan wie se takke klein druppeltjies geskitter het, na die meeue en die ander voëls wat in hul vlug silwer gelyk het. Dit het my en Peter aangegryp en ontroer sodat ons nie kon praat nie… Maar ek het ook uit die oop venster oor ’n groot stuk Amsterdam uitgekyk, oor die dakke tot aan die horison wat so ’n ligte blou was dat die skeiding tussen land en lug byna onsigbaar was.

‘Solank dit nog bestaan’, het ek gedink, ‘en ek dit mag beleef, dié sonskyn en dié hemel waarin daar geen wolk is nie, so lank kan ek nie treurig wees nie.’

Vir elkeen wat bang, eensaam of ongelukkig is, is die beste teenmiddel om na buite te gaan, êrens waar hy heeltemal alleen kan wees, alleen met die natuur en met God. Want eers dan, slegs dan voel ’n mens dat alles is soos dit moet wees en dat God mense in die eenvoudige en mooi natuur gelukkig wil sien.”

In my omvattende inleiding tot my vertaling gaan ek intensief in op die oorsake van die ikonisering van Anne Frank en probeer ek ook om die feitelike agtergrond waarteen die dagboek ontstaan het, duidelik te belig, om sodoende die leser in staat te stel om Anne se dagboek met die grootste mate van begrip en sonder vooroordele te lees. Dit is ’n doel wat my weer helder voor die gees gestaan het by die lees van ’n anonieme artikel in Die Burger van 9 Januarie 2008 onder die opskrif Dagboek van Anne Frank in Spaanse musiekblyspel omskep. Dié artikel is ’n sprekende voorbeeld van die pynlike gebrek aan kennis oor Anne Frank en haar dagboek waaroor mens nie weet of jy moet lag of huil nie. Om mee te begin, kan van die dagboek van Anne Frank in der ewigheid nooit ’n “blyspel” gemaak word nie, dus verkies ek die Engelse benaming “musical”. (Kan ’n mens nie maar doodgewoon van ’n “musiekspel” praat nie?) In dieselfde trant word in dié artikel na Anne verwys as die “meisietjie” wat in die Tweede Wêreldoorlog saam met haar familie “van die Nazi’s geskuil het”. Behalwe dat die formulering veel te wense oorlaat, hou ek nie van verkleinwoorde nie en in dié geval gru ek daarvan en besef ek net hoe ontstellend onbekend die joernalis met die dagboek moet wees om Anne ’n “meisietjie” te noem.

Die volgende paragraaf as illustrasie van die joernalis se pynlike onkunde word byna lagwekkend: “Anne het haar dagboek geskryf terwyl sy en haar familie in ’n geheime kamer agter ’n boekrak in ’n pakhuis langs een van die kanale geskuil het.” Hier is voorwaar welkome “bewysmateriaal” vir diegene wat die outentisiteit van die dagboek en implisiet van die Holocaust wil ontken. Hoe op aarde kan mense vir 25 maande in ’n kamer oorleef en hoe sou Anne in dié omstandighede ’n dagboek kon gehou het?

Maar om by feite te kom: Vir vyf-en-twintig maande het die Frank-gesin (Otto en Edith en hulle twee dogters Margot en Anne), die gesin Van Pels (Hermann en Augusta en hul seun Peter) en Fritz Pfeffer ondergeduik in die agterste gedeelte van die gragtehuis op Prinsengracht 263. In die voorste gedeelte van dié gragtehuis was die kantore van Opekta gehuisves, ’n bedryf wat ’n stolmiddel vir konfyt vervaardig het en wat deur Otto bestuur is. Die maak van speserye is daarby betrek toe Hermann van Pels, ’n kenner op dié gebied, Frank se vennoot geword het. Beide die families Frank en Van Pels, en tandarts Fritz Pfeffer, was Joodse uitgewekenes uit Duitsland wat die hoop gekoester het dat hulle in Nederland sou ontkom aan die uitroeiingskampanje van die Nazi’s teen die Europese Jodedom. In die lang periode waartydens hulle nooit ’n neus by die deur kon uitsteek nie en slegs van hul helpers, almal in diens van Opekta – Johannes Kleiman, Victor Kugler, Miep Gies en Bep Voskuijl – besoek ontvang het, het menseverhoudinge noodwendig gespanne geraak en hoë eise aan al agt onderduikers gestel.

Behalwe my indruk by die eerste lees van die dagboek van Anne Frank as adolessent se soeke na eie identiteit, was ek ewe sterk bewus van Anne se groeiende wete van haar talent om te skrywe waarmee die droom om eendag ’n beroemde skryfster te word gepaard gegaan het. Die present waaroor Anne haar op haar dertiende verjaarsdag op 12 Junie 1942 die meeste verheug het, was die dagboek wat sy vooraf saam met haar vader uitgesoek het: ’n gebonde blanko boek met ’n geruite omslag wat met ’n slotjie sluit. Aanvanklik is sy onseker wat dagboekhou nou eintlik beteken, maar al gou besluit sy dat haar dagboekinskrywings die vorm moet aanneem van briewe aan ’n verbeeldingsvriendin wat sy Kittie genoem het. Kittie moes die plek inneem van die ideale vriendin wat Anne, ondanks hegte kameraderie, nie by haar vriendinne gevind het nie.

Slegs enkele kere kon sy aan Kittie skryf oor die alledaagse dinge wat haar as Amsterdamse skoolmeisie beroer het. Toe sy van die een dag op die ander uit hierdie sorgvrye skoolmeisielewe geruk is in die afsondering van die agterhuis, het die dagboek haar onmisbare vertroueling geword. Sy het die leegte wat met die onderduiksituasie ontstaan het vol geskryf en so het haar dagboek in laaste instansie uitdrukking gegee aan die menslike kondisie wat gekenmerk word deur ’n blywende gemis waarvoor daar geen toereikende vervulling in hierdie lewe gevind kan word nie.

Dit is ironies en paradoksaal dat in die afsondering van die Agterhuis Anne moes veg vir dié afsondering – dié private ruimte – wat ’n vereiste is om te kan skryf. Toe die Franks en Van Pelse besluit het om ter wille van die redding van nog ’n Jood, Fritz Pfeffer as agste onderduiker in te neem, het Margot na haar ouers se kamer verhuis en Pfeffer by Anne ingetrek. Dit was ’n vreemde reëling, maar elke reëling in die abnormale onderduiksituasie was vreemd. Dit was onvermydelik dat Anne binne die kortste tyd ’n grondige hekel in haar kamergenoot gekry het en hom die naam Dussel in haar dagboek gegee het, wat ’n dom mens beteken. Haar onbetwisbare literêre talent blyk uit haar beskrywing van die stryd tussen haar en Dussel om die gebruik van die gesamentlike tafeltjie in hulle kamer.

Anne gaan met die redelike versoek na Dussel om twee ekstra middae van vier tot halfses oor die gebruik van die tafeltjie te beskik, waar sy normaalweg van halfdrie tot vieruur daar mag werk, terwyl Dussel slaap. Sy loop haar egter teen ’n dooie muur vas. Sy sit by die tafeltjie en brei of lees oor die mitologie en watse werk is brei en mitologie nou? Anne gee die stryd nie gewonne nie en nadat sy haar pa om raad gevra het, wag sy Dussel na die aandete in. Die gesprek wat sy weergee, is een van die skitterendste voorbeelde van haar vermoë om dialoog te skryf.

Sy wys Dussel op die redelikheid van haar versoek: “‘Ons het in die begin toe u hier aangekom het, afgespreek dat hierdie kamer ons s’n saam sou wees. As die indeling dus reg was, sou u die môre en ek die hele middag gekry het! Maar dit vra ek nie eens nie en ek dink dat twee middae per week tog wel billik is.’” Die tirade van Dussel wat hierop volg, is ’n voorbeeld van humor en ironie op sy beste. Uiteindelik gee Dussel toe: “‘Maar ja, met jou kan mens nie praat nie! Jy is ’n skandelike egoïs; solank jy maar jou wil kan deurdryf moet almal padgee. So ’n kind het ek nog nooit gesien nie! Maar per slot van rekening sal ek tog genoodsaak wees om jou jou sin te gee, want anders hoor ek later Anne Frank het haar eksamen gedruip, omdat meneer Dussel haar tafeltjie nie aan haar wou afstaan nie’”. In hierdie humoristiese dialoog breek die besef deur van hoe benouend dit vir ’n dertienjarige meisie en ’n vier-en-vyftigjarige man moes gewees het om ’n kamer te deel. Terwyl die leser nie anders kan as om te lag by so ’n inskrywing – waarvan daar heelwat is – nie, sterf die lag al gou op jou lippe.

“So ’n kind het ek nog nooit gesien nie!”, sê Dussel. Wie was hierdie kind wat soveel mense glo dat hulle ken, werklik? Dit is die vraag wat Cynthia Ozick stel in haar provokerende artikel “Who owns Anne Frank?” in The New Yorker van 6 Oktober 1997. Ozick wys daarop dat die “dagboek van Anne Frank” nie die “lewensverhaal van Anne Frank” is nie. Nadat die Grüne Polizei op 4 Augustus 1944 die inval in die Agterhuis gedoen het – en Anne se geskrifte op die vloer bly lê het waar Miep dit later gevind het – loop Anne se spoor na die deurgangskamp Westerbork in Drente en vandaar na Auschwitz waar sy vergassing vrygespring het, om te eindig in Bergen-Belsen waar sy gebroke na liggaam en gees gesterf het. Dit is hierdie essensiële ontbrekende slot, sê Ozick, wat daarvoor verantwoordelik is dat die verhaal van Anne Frank soos dit in die dagboek vervat is, geëkspurgeer, verdraai, verander, kinderagtig gemaak, veramerikaniseer, versentimentaliseer, verkitsch en op ’n blatante wyse ontken is (1997:85).

Ozick hou veral die drama van Goodrich en Hackett daarvoor verantwoordelik. Anne word in dié drama volgens haar ’n lewendige, parmantige “all-American girl” en sy besluit: “The passionately contemplative child, brooding on concrete evil, was made into an emblem of evasion” (1997: 85). In Nederlands kom Denise de Costa in die voorafgaande jaar 1996 tot dieselfde gevolgtrekking in haar indringende studie: die dagboekskryfster wat weet en verslag doen van die verskriklike lot van die Jode wat in die buitewêreld voltrek word, kom ten opsigte van haar beskouende aard nie in die toneelstuk tot haar reg nie: “Deze ‘Anne van de dagboeken’ is een rijke, complexe persoonlijkheid” (1996:24).

Ek gee Ozick en De Costa gelyk, met dié kwalifikasie dat die twee Annes wat hulle teenoor mekaar stel albei in die dagboek aanwesig is: die bekkige tiener en die beskouende Jodin. Anne het dit trouens self by herhaling oor die twee teenstrydige kante van haar persona: die ekstroverte Anne wat sy meesal aan haar mede-onderduikers toon en die introverte, hipersensitiewe Anne met haar onvervulde verlangens en haar soeke na haar wesenlike identiteit. Haar soeke na identiteit hang veral met drie aspekte van haar menswees saam: haar spiritualiteit, skrywerskap en seksualiteit. Alhoewel ’n bewussyn van die Joodse godsdiens Anne nie ontbreek het nie, ontwikkel sy ’n sterk persoonlike spiritualiteit in samehang met haar versnelde ontwikkeling tot volwassenheid en haar menslike groei. Spiritualiteit en liggaamlikheid/sintuiglikheid is vir haar nou met mekaar verweef. Sy voel haar na aan God in die halfjaar wat sy op Peter van Daan verlief is. Die skoonheid van die natuur, haar ontwakende seksualiteit met die daarmeee gepaardgaande begin van menstruasie ervaar sy as ’n verbinding met die transendente. Op dié wyse skryf sy teen die Joods-Christelike tradisie in dat ’n menstruerende vrou onrein is.

Anne het haar as ontluikende skryfster sterk vereenselwig met die Nederlandse taal, maar ook met Nederland en die Nederlanders en haar mede-Agterhuisers verbaas dat sy so Oranjegesind was. Terselfdertyd was sy haar diep bewus van haar Joodwees. Na ’n angsnag waartydens ’n inbraak plaasgevind het en die Agterhuisers gevrees het dat hulle ontdek sou word, skryf Anne op 11 April 1944 in ’n brief aan Kittie oor haar dubbele identiteit:

“Daardie vreeslike nag het ek eindelik geweet dat ek moes sterwe; ek het op die polisie gewag, ek was bereid, bereid soos soldate op die slagveld. Ek wou my graag opoffer vir die vaderland, maar nou, nou dat ek weer gered is, sal my eerste wens na die oorlog wees: maak my Nederlander! Ek is lief vir die Nederlanders, ek is lief vir die land, ek is lief vir die taal en wil hier werk. En al sal ek aan die koningin self moet skryf, sal ek nie wyk voor my doel bereik is nie!”

Maar in dieselfde brief skryf Anne ook hoe sterk sy in dié nag daaraan herinner is dat hulle vasgekettingde Jode is en sy vervolg:

“ Wie het hierdie las op ons gelê? Wie het ons Jode tot ’n uitsondering onder die volke gemaak? Wie het ons tot nou toe so laat ly? Dit is God wat ons gemaak het, maar dit sal ook God wees wat ons ophef. As ons al die leed dra en daar tog nog Jode oorbly, dan sal Jode eenmaal van gedoemdes tot voorbeelde word. Wie weet, miskien sal dit nog ons geloof wees wat die wêreld en dus alle volkere leer wat goed is en daarvoor, alleen daarvoor, moet ons ook ly. Ons kan nooit net Nederlanders of net Engelse of wat ook al wees nie; daarnaas sal ons nog altyd Jode bly; ons sal Jode bly, maar ons wil dit ook bly.”

Uit hierdie besinning oor haar identiteit met al die botsende emosies en vrae wat dit in haar oproep, blyk dat Anne Frank se dagboek seerseker nie ’n “ode aan die lewe” is nie. Ozick (1997: 78) stel dit onomwonde: “The diary is not a genial document, despite its author’s often vividly satiric exposure of what she shrewdly saw as ‘the comical side of life in hiding’. Its reputation for uplift is, to say it plainly, nonsensical”. Oor die lot van die Jode in die buitewêreld – wat sy vrees haar ook nog gaan tref – kan sy vir haarself ’n skrikwekkend duidelike voorstelling maak: “Ek sien saans in die donker dikwels die rye goeie, onskuldige mense loop, met huilende kinders, steeds maar loop, gekommandeer deur so ’n paar kêrels, geslaan en gepynig, tot hulle omtrent neerval. Niemand word ontsien nie, oues van dae, babas, swanger vroue, siekes, almal, almal gaan saam in die tog na die dood.” Hierdie aangrypende woorde wat Anne skryf onder die datum 19 November 1942 het ek bewus so direk moontlik in Afrikaans weergegee, selfs al sou ’n meer idiomaties-Afrikaanse vertaling moontlik gewees het.

Wat die vertaling van die dagboek betref, is dit belangrik om te weet dat Anne nie net een dagboek nagelaat het nie en dat daar verskillende versies van haar dagboeke bestaan: ’n oorspronklike versie in die gebonde dagboek wat sy op haar dertiende verjaarsdag present gekry het en twee skoolskrifte waarin sy voortgegaan het toe die gebonde een vol was (versie a) en ’n herskrewe versie op los velle (versie b). Anne het met die oorskrywing ongetwyfeld publikasie na die oorlog in gedagte gehad. Van die a-versie het die periode Desember 1942 tot Desember 1943 verlore geraak, maar dit het gelukkig op die herskrewe velle bewaar gebly. Die eerste teks wat as Het Achterhuis in 1947 verskyn het, is deur haar vader Otto Frank, die enigste een van die Agterhuisers wat die kampe oorleef het, saamgestel uit versie a en versie b. Dit staan tans bekend as die c-versie.

Al drie versies verskyn in die Kritiese Uitgawe van die RIOD – tans die NIOD (Nederlands Instituut voor Oorlogsdocumentatie) – wat in 1986 verskyn het, direk onder mekaar. Die leser kan dus die weergawes vergelyk. Ondanks verskille bly die stramien dieselfde en het dit vir die neo-Nazi’s en ander ontkenners moeilik geword om die egtheid van die dagboek in twyfel te trek. Aan die hofsake in dié verband wil ek geen woorde vuil maak nie: Dit is onteenseglik bewys dat al die geskrifte wat op 4 Augustus 1944 deur Miep Gies na die inhegtenisname in bewaring geneem is – waar dit op die vloer bly lê het waar een van die invallers dit uit Otto Frank se aktetas gegooi het – van die hand van Anne Frank is.

Die Kritiese Edisie van die NIOD het gelei tot die jongste uitgawe van die dagboek wat in die Amerikaanse vertaling aangekondig, gereklameer en versprei word as “The Definitive Edition”. Dit is ’n uitgebreider weergawe van die a- en b-versies en as samestellers word genoem Otto Frank en Mirjam Pressler, die Duitse vertaler van die dagboek, maar toe dié uitgawe in 1991 verskyn het, was Otto Frank al meer as tien jaar dood. Daar sal nooit ’n finale weergawe van Anne Frank se dagboek wees nie; dit is in die woorde van Denise de Costa “eeuwig onvoltooid”. Maar die eis om die 1991-weergawe te vertaal, maak dit wel vir ’n vertaler maklik. Mens sidder om te dink wat sal gebeur as ’n vertaler die vrye keuse gehad het oor watter versie hy/sy wil vertaal.

Anne Frank se dagboek self is in eerste instansie die onbetwisbare bewys van haar literêre talent. In die dagboek neem mens die ontwikkeling van haar skrywerskap waar saam met haar noodgedwonge versnelde groei van adolessent tot jong volwasse vrou in haar afsonderingsbestaan in die Agterhuis. Uit Anne se herskrywing van haar dagboek blyk haar vermoë om krities met haar eie tekste om te gaan; ’n essensiële eienskap vir ’n skrywer. Anne het haar inderdaad op vroeë leeftyd toegerus vir wat, benewens talent, van ’n skrywer geëis word. In haar “Mooie-zinnenboek” het sy gedigte en gedeeltes uit boeke wat haar getref het, neergeskryf. Dit is ’n geheueoefening en ’n oefening in formulering. Sy was ook vanselfsprekend ’n hartstogtelike leser. Aan Kittie vertrou sy op 11 Mei 1944 haar droom om skryfster te word in soveel woorde toe: “Jy weet al lankal dat my grootste begeerte is om joernaliste en later ’n groot skryfster te word. Of ek hierdie grootheidsneiginge (of –waansin) waar sal kan laat word, is die vraag, maar onderwerpe het ek tog nog toe wel. Na die oorlog wil ek in elk geval ’n boek getiteld Het Achterhuis uitgee, of ek dit sal regkry, is die vraag, maar my dagboek sal daarvoor kan dien.”

Nie hierdie bekende sitaat uit die dagboek nie, maar ’n ander uitspraak oor Anne se droom om skryfster te word, het deur die kontrole oor my emosies wat ek tydens die vertaling streng gehandhaaf het, gebreek. Op 21 April 1944 skryf sy aan Kittie: “Ek wil een van my sprokies na De Prins stuur, natuurlik onder ’n skuilnaam, maar omdat my sprokies tot nog toe te lank is, dink ek nie dat ek veel kans het dat hulle dit sal publiseer nie.” Die tragedie van Anne Frank het nêrens sterker tot my gespreek as uit hierdie voorneme om een van haar sprokies uit die boek waarin sy, benewens die hou van ’ndagboek, verhale, gebeure uit die Agterhuis en sprokies geskryf het, vir publikasie voor te lê nie. Wat dit by my tuisgebring het, was dat Anne Frank ’n gewone meisie was, weliswaar ’n meisie met ’n skryftalent, maar ’n gewone meisie; ’n meisie wat haar ideaal om skryfster te word nie kon verwesenlik nie, omdat sy moes sterf net omdat sy Joods was. Dit is die tragiese. En dit was die een oomblik tydens my vertaling soos ’n oomblik op ’n koue grys dag in November 1968 in Anne Frank se kamer wat ek beleef het as hartverskeurend; ’n oomblik wat ek onlangs herbeleef het in Paul Auster se beskrywing daarvan in sy “The book of memory” (deel 2 van The invention of solitude):

“As he stood in Anne Frank’s room, the room in which the diary was written, now bare, with the faded pictures of Hollywood movie stars she had collected still pasted to the walls, he suddenly found himself crying. Not sobbing, as might happen in response to a deep inner pain, but crying without sound, the tears streaming down his cheeks, as if purely in response to the world. It was at that moment, he later realized, that the Book of Memory began. As in the phrase: ‘she wrote her diary in this room’”.

Ten slotte: Ek het probeer om waar ek so na as moontlik aan die Nederlandse teks wou bly, die eiendomlikheid van Afrikaans nie geweld aan te doen nie. Waar ek my soms wel Neerlandistiese woorde en uitdrukkings veroorloof het, was dit om ’n sekere vervreemding tussen teks en leser te bewerkstellig, waar dit gaan om omstandighede wat vir ’n jong Afrikaanstalige leser totaal vreemd is: ’n Joods-Nederlandse meisie wat in gedwonge selfopgelegde ballingskap dagboek hou tydens die Tweede Wêreldoorlog in die skaduwee van vervolging en dood.

Wat die tema van die Holocaust betref, kan u ook die volgende verwante artikel lees:
In die skadu van Auschwitz – Lina Spies

Anne Frank – Die Agterhuis is verkrygbaar by Protea Boekehuis
Tel.nr: (012) 362-5683 / 362-3444 / 362-6073
Epos: protea@intekom.co.za
Prys: R140-00

Of dit kan ook aanlyn bestel word by Kalahari.net (R117-00).

Share this / Deel hierdie: