Ek het 3 jaar terug ingeskakel by die NG Gemeente Riviera (die gemeente staan nou bekend as NG Gemeente Riviera-Jakaranda). Daar het ek vir die eerste keer te doen gekry met die weeklikse viering van die nagmaal. My aanvanklike opinie rakende die weeklikse viering van die nagmaal was, dat dit vir mense ‘n gewoonte word en dat die waarde en betekenis van die nagmaal verlore gaan. Hierdie opinie is dan ook die opinie van ander wat nog nie blootselling gehad het aan die weeklikse viering van die nagmaal nie. Die weeklikse viering van die nagmaal het my belangstelling geprikkel en ek het begin om met die gereelde erediensgangers informeel te gesels, om uit te vind wat hulle belewenis van die weeklikse viering van die nagmaal is.

So het dit gekom dat daar soms nie ‘n geordende predikant is wat die nagmaal kon bedien nie en is daar dan daardie betrokke sondag nie nagmaal gevier nie. Interessant vir my – was die opmerkings van die erediensgangers – dat hulle die nagmaal daardie sondag gemis het, dis eintlik die eerste wat hulle mis – die viering van die nagmaal. Natuurlik wou ek weet wat die rede daarvoor is? Wat beteken die weeklikse viering van die nagmaal vir mense? Daarom ek het gekies om nadere ondersoek in te stel na die pastorale dimensie van die nagmaal soos dit weekliks gevier word in die aanddiens van die NG Gemeente Riviera-Jakaranda.

Kortliks gaan ek verduidelik hoe ‘n nagmaalsliturgie daar uitsien op ‘n sondagaand in NG Gemeente Riviera-Jakaranda.

  • Liturgiese kerkjaar – die Liturgiese kerkjaar is van uiterste belang in die aanddiens. Die liturgiese ruimte word elke aanddiens met die betrokke simbole en kleure wat aansluit by die Liturgiese kerkjaar versier! Die liturg se klere sluit aan by die kleure van die betrokke tyd op die Liturgiese kerkjaar, ‘n stola word ook gedra met ‘n simbool uit die betrokke Liturgiese fase van die kerkjaar.
  • Liturgiese ruimte – bestaan uit ‘n eenvoudig gedekte nagmaalstafel en doopvont asook een of twee kerse wat brand.
  • Verwelkoming – erediensgangers word vooraf genooi om in die somermaande sap en verversings te kom geniet en gesellig saam te kuier voor die aanvangs van die erediens. In die wintermaande word die sap vervang met koffie, tee en warm sjokolade saam met verversings. Wanneer die erediensgangers dan binne toe beweeg is daar iemand wat hulle by die deur verwelkom en ook ‘n uitdeelstuk vir elkeen gee, met die volledig liturgie vir die diens op gedruk.
  • Vasgestelde struktuur – die liturgie het weekliks ‘n vaste struktuur wat gevolg word, dit is eintlik net die inhoud wat verskil. Die Anglikaanse nagmaalsliturgie word gebruik wat die volgende momente insluit:
  • Introituslied,
  • Seëngroet,
  • Lied,
  • Skuldbelydenis (gebed),
  • Genadeverkondiging,
  • Lofprysing,
  • Epiklese,
  • Lees van 2 of meer Skrifgedeeltes,
  • Prediking,
  • Geloofsbelydenis,
  • Gebed vir die wêreld.
  • Offergawes word opgeneem en na die nagmaalstafel gebring.
  • Tafeldiens bestaan uit die volgende elemente – instellingsverhaal (vanaf die skepping tot en met die kruisiging), instellingswoorde, bediening van die brood en wyn (erediensgangers kom na die nagmaalstafel en gebruik die nagmaal deur intinksie)
  • Afkondigings,
  • Slotlied,
  • Trinitariese seënbede,
  • Wegsendingslied

 

Twee fokusgroepe is geïdentifiseer wat bestaan het uit Engelssprekende studente en Afrikaanssprekende jongwerkendes wat gereeld die aanddiens bywoon. Daar is met hulle gesprek gevoer as deel van die empiriese navorsing vir hierdie ondersoek na die waarde en betekenis van die weeklikse viering van die nagmaal. Die fokusgroepe se terugvoer het die volgende aspekte belig:

  • Gemaklike en ontspanne atmosfeer – die atmosfeer van die aanddiens word beskryf as gemaklik en ontspanne, informele taalgebruik en hedendaagse idiome dra by tot hierdie belewenis van die atmosfeer. Die besondere informele atmosfeer word verder uitgebou deur mense se informele en gemaklike styl klere waarmee hulle die aanddiens bywoon. Dit blyk ook dat álle mense regtig welkom is om die erediens by te woon, aanvaarding en openheid is kenmerkend van die atmosfeer van die betrokke aanddiens. Onderlinge goeie verhoudings tussen die wat die erediens bywoon met mekaar en met die liturg dra by tot die gemaklike en ontspanne atmosfeer. Die betrokke liturgie getuig van die goddelike imperatief wat op elkeen wat die aanddiens bywoon, rus om om te gee vir ander deur respek vir mekaar te toon. Die relasionele aard van die Gereformeerde teologie lê in die verstaan van die Triniteit. Die volmaakte liefdesverhouding tussen die drie persone van die Triniteit dien as voorbeeld en getuienis vir mense om nie net die wat saam met jou die erediens bywoon lief te hê nie, maar ook elke ander persoon.
  • Versoening en eenheid –  die fokusgroepe beleef versoening deur middel van die weeklikse viering van die nagmaal vertikaal asook horisontaal. Die effek van die nagmaal is in die eerste plek om die gebroke verhouding tussen God en mens te herstel. In die tweede plek is die effek van die nagmaal om die verhouding tussen mens en mens te herstel. Versoening en eenheid kan nooit van mekaar geskei word nie, dit is soos twee kante van dieselfe muntstuk. Aangesien versoening tussen God en mens en mens en mens plaasgevind het, is eenheid die volgende belangrike aspek. Eenheid – soos reeds gesê die hele liturgie wat met mekaar verband hou, skep ‘n gevoel van eenheid, onder die mense heers daar ‘n gevoel van eenheid deur middel van die verskillende gebruike en rituele wat tydens die liturgie gebruik word. Met die gebruik van een brood en een beker as simbool van eenheid, word daar tog bevestig dat elkeen wat hier saam teenwoordig is nou deel vorm van die Liggaam van Christus. Nou kan daar met reg gesê word dat hierdie aanddiens ‘n Heilige, Algemene Christelike Kerk is.
  • Responsoriese liturgie – alhoewel die responsoriese liturgie vir die fokusgroepe nuut en selfs vreemd was, beleef hulle dit wel as positief. In die eerste plek word daar genoeg geleenthede geskep vir die wat die erediens bywoon om fisies deel te neem aan die liturgie, deur middel van frases saam hardop te sê. Daar word ook vir erediensgangers geleentheid gegee om die Skriflesings voor te lees vir die gemeente. Sang en musiek vorm ook ‘n belangrike komponent van die responsoriese liturgie. Die liturgie word so beplan dat die liturgie die werk van die mense is en nie nét die liturg nie.  Aan die anderkant word daar wel ook voorsiening gemaak vir stilte, stilgebed en persoonlike toewyding om sodoende ook vir mense die geleentheid te skep om eie inisiatief te neem binne die uitgewerkte liturgie.
  • Multikulturele aard van die erediens – die multikulturele aard van die erediens is uiters waardevol vir die wat op ‘n gereelde grondslag die erediens bywoon. Die liturg inkorporeer op ‘n taktvolle wyse gebruike en rituele van verskeie kulture en tradisies om sodoende mense tydens die erediens ‘n geleentheid te gee om hulle erfenis met mekaar te deel in ‘n veilige ruimte.
  • Verantwoordelikheid – die fokusgroep het klem gelê op die verantwoordelikheid wat gepaard gaan met deelname aan die liturgie, dat wanneer mense regtig oortuig is van wat hulle glo, dat hulle spontaan aan die liturgie sal deelneem deur woord, daad, sang en musiek. Verder is daar beklemtoon dat die bediening van die nagmaal met groter verantwoordelikheid mee gepaard gaan, aangesien mense wel die weeklikse bediening van die nagmaal misbruik vir hulle eie gewin. Dus moet daar op een of ander wyse seker gemaak word dat die wat wel die nagmaal ontvang, regtig die implikasie wat die nagmaal op ‘n mens se lewe plaas verstaan en besef.
  • Sintuiglike ervarings – die fokusgroepe het die sintuiglike ervarings van die erediens uiters waardevol beleef. Om by die aanddiens aan te kom met iemand wat jou by die deur inwag om jou ‘n handdruk te gee en in te nooi is spesiaal. Aanraking is en bly een van die kragtigste tekens van ware omgee. Om elke Sondag deur middel van vars gebakte brood en soet wyn herrinner te word aan God se genade is ‘n kragtige meganisme. Verder word die tegnologie op so ‘n wyse gebruik dat mense deur middel van beelde, prente en selfs klank ook die boodskap van die prediking moeilik sal vergeet.
  • Struktuur van die liturgie – aangesien die struktuur van die liturgie week na week basies op dieselfde neerkom, met net die inhoud wat weekliks verskil, word orde en veiligheid geskep. Die mense wat die erediens gereeld bywoon, het ‘n idee wat volgende gaan gebeur en hoef nie daaroor onseker te voel of daaroor te wonder nie. Dit al klaar skep ook ‘n atmosfeer van rustigheid. Aangesien die Skriflesings en selfs die boodskap van die preek met mekaar verband hou, word die struktuur van die liturgie en die eenheid wat daardeur gevorm word, beklemtoon.
  • Koinonia – die fokusgroep het die wyse waarop die relasionele dimensie van die Gereformeerde teologie regdeur die liturgie na vore gekom het, beklemtoon. In die eerste plek deur middel van iemand wat by die deur staan om elkeen te verwelkom wat die aanddiens bywoon. Tweedens word daar in die diens geleentheid vir mekaar gegee om mense rondom jou te groet, selfs voor te stel as julle nog nie ontmoet het nie, uiters belangrike deel van verhoudingsbou. Derdens wanneer die mense in die ry staan om bedien te word met die brood en die wyn gebeur dit so dat hulle voor en agter mense staan waarmee hulle normaal weg nooit te doen sou kry nie. In hierdie momente beleef mense opregte gemeenskap met gelowiges, koinonia.

 

Deur middel van fyn waarneming en fokusgroep gesprekke is dit duidelik dat daar wel ‘n pastorale moment in die aanddiens geskep word en mense beleef dit ook so. Positiewe bedieningspraktyke is geïdentifiseer tydens die fokusgroep gesprekke wat die pastorale dimensie van die nagmaalsliturgie beklemtoon. Tog het die een fokusgroep ook aangetoon, dat níe nét die nagmaalsliturgie ‘n pastorale moment in mense se lewens skep nie, ander eredienste het ook daardie vermoë.

Die voordrag word afgesluit met die skrywe van Don Salliers, soos beskryf in Ontdekkings in die erediens, wat sê dat die Christelike erediens eers regtig gebeur wanneer God se etos (wie en wat God is) die menslike patos ontmoet en omvou.
“Die erediens is die plek waarheen ons kan gaan met ons pyn, ons vrees, ons ellende, ons moedeloosheid waarmee ons nie raad het nie en nêrens heen het om te gaan nie – in die wete dat die Here daar is en ons kan help!” (Burger, 2009:24).

 

Bibliografie

 

  • Clasen, F. & Bartlett, A. Schoeman, F & Carstens, C. (eds). 2007. Vir die erediens – ‘n handleiding – in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Wellington: Bybel-Media.
  • Clasen, F. & Bartlett, A. Scoeman, F & Carstens, C. (eds). 2010. Handleiding vir die Erediens, Nederduitse Gereformeerde Kerk. Wellington: Bybel-Media.
  • Kleynhans, S.C. 2011. ‘N Prakties-Teologiese ondersoek na die Pastorale dimensie van die nagmaal soos gevier in die aanddiens van die N.G. Gemeente Riviera-Jakaranda. MDiv Skripsie: Universiteit van Pretoria
  • Lebon, J. 1988. How to understand the Liturgy.New York: Crossroad.
  • Lukken, G. 1986. Geen leven zonder rituelen. Antropologische beschouwingen met het oog op de christelijke liturgie. Hilversum: Uitgeverij Gooi & Sticht.
  • Lukken, G. 1999. Rituelen in overvloeden: Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijke ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Stricht.
  • Wepener, C.J. & Van Der Merwe, J. (eds). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM.