Inleiding

As gelowige mense vra ons voortdurend na die Wil van God, maar veral in tye van onsekerheid word dit ‘n dringende vraag. God ken immers die toekoms, Hy weet wat gaan gebeur, Hy weet hoe die saak kan uitdraai – maar is daar ‘n manier waarop ons dit ook kan weet? En, as die vooruitsigte sleg is, is daar iets wat ons kan doen om God te oorreed om sy planne vir die toekoms te verander? Hierdie vrae, vrese en versugtinge is eg menslik, nie net hedendaagse gelowiges worstel met die Wil van God nie, die gelowiges in die antieke tye het dit ook gedoen. Met gelowiges in die antieke tyd bedoel ek nie net die Israeliete nie, maar al die ou volke was diep gelowig en wou ook in krisistye weet wat die wil van hul gode was.

In hierdie teo-artikel gaan ek die verhaal van Bileam en sy donkie ‘n bietjie van naderby beskou, en die verskille ondersoek tussen die maniere waarop Israel die wil van God leer ken het, en hoe die ander volke die openbaring van hul gode gesien het.

Bileam en sy donkie

Numeri 22 vertel van Balak, die koning van Moab wat gehoor het van al die oorloë wat die Israeliete gewen het. Toe hy hulle op die Moabsvlakte sien uitkamp – letterlik voor sy deur – het hy vreesbevange geword, en die leiers van Moab en Midian saamgeroep met ‘n dringende versoek: hulle moet die hulp van Bileam, seun van Beor inroep om die Israeliete te vervloek. So gesê, so gedaan. Die leiers kom by Bileam, hy ontvang hulle heel vriendelik, en nooi hulle om by hom te oornag. Die volgende dag, sê hy, sal hy aan hulle meedeel wat die Here aan hom openbaar het. Maar die volgende oggend stuur hy hulle na Balak toe terug met die boodskap dat die Israeliete nie vervloek kan word nie. Dit gebeur meer as een keer. Die laaste keer willig Bileam egter in om saam met die afgevaardigdes terug te keer en die boodskap persoonlik aan Balak oor te dra – en dis tydens hierdie rit wat die donkie begin praat.

Waar bly Bileam en wat is sy beroep?

Dit is nie baie duidelik wie Bileam was en wat hy gedoen het nie. Hy word voorgestel as Bileam, seun van Beor in Petor aan die Eufraat in die land Ammau (Num 22:5). Dit is egter nie wat in die Hebreeus staan nie. As ‘n mens dit letterlik probeer vertaal, lui die teks min of meer so: ‘… Bileam, seun van Beor in Petor by die rivier in die land van sy volk.’ Die Afrikaanse vertaling het ‘by die rivier’ as die ‘Eufraat’ interpreteer omdat ‘rivier’ elders in die Hebreeuse Bybel die ‘Eufraat’ bedoel sonder om dit as sodanig te kwalifiseer. Verder is daar inderdaad ‘n plekkie aan die Eufraat wat ‘Pitru’ genoem is, en dit lyk asof Bileam moontlik daar sou kon bly.

In die Bileam-storie maak die Afrikaanse vertaling egter nie sin nie. Die koning van Moab is iewers in Palestina en die Eufraat is min of meer 1,500 kilometers ver. ‘n Rit soontoe sal ‘n hele paar weke, selfs maande lank duur. Die koning is baie baie bang en die dreigende Israelitiese gevaar is imminent: hy het Bileam se dienste hier en nou nodig, nie oor ‘n paar maande nie. Volgens die verhaal het die gesante Bileam ten minste drie keer besoek, en elke heen-en-terug-rit sou die proses net nog langer uitrek.       

Verder is dit ook nie heeltemal duidelik wat Bileam se beroep was nie. Daar kan afgelei word dat hy oor sekere magiese of mantiese vermoëns beskik het, en dat hy mense kon seën of vloek. Vers 7 sê verder dat die leiers van Moab en Midian na hom toe is met die ‘waarsêrsloon in hul hande’, en dit versterk die vermoede dat Bileam iemand was wat gekwalifiseer was om in die toekoms te sien, deur te seën en te vloek die toekoms kon beïnvloed, dat hy sy dienste beskikbaar gestel het en die nodige betaling daarvoor aanvaar het.

Die laaste raaisel in die verhaal in Numeri 22, is die afwisseling van die Godsname wat gebruik word. As die besoekers by Bileam opdaag, sê hy dat hulle moet oorbly om te hoor van die Here – JHWH – vir hom wat Bileam is, sê. In die nag verskyn God – Elohim – egter aan hom en sê dat hy ‘n fout sal maak om Israel te vervloek. Die volgende oggend vertel hy die besoekers dat die Here – JHWH – nie wil hê dat hy Balak se opdrag uitvoer nie.

Opgrawings by Tel Deir ‘Alla

Volgens Barre (1997:257-259) kan argeologiese opgrawings by Tell Deir ‘Alla in Oos-Jordaanvallei in 1967 lig op hierdie obskure Bileam en sy raaiselagtige herkoms bied. Die terrein was klaarblyklik ‘n kultiese sentrum vanwaar spesialis divineerders (diviners) hul orakels gelewer het. Op een van die mure is ‘n inskripsie gevind wat lui: ‘Bileam, seun van Beor, ‘n siener van die gode.’ Die inskripsie is in ‘n Wes-Semitiese taal – moontlik Aramees – en ‘peteorah’ wat as ‘n pleknaam geïnterpreteer is, is ‘n term in Aramees wat betrekking het op ‘n divineerder of iemand wat drome interpreteer – ‘siener van die gode’. Verder is hierdie terrein min of meer 1,61 kilometers noord van die wadi Jabbok wat een van die grense van die Ammonitiese grondgebied gevorm het. ‘Die rivier in die land van sy mense (ammo)’ kan ook verstaan word as ‘die rivier in die land van Ammon.

Die buite-bybelse Bileam as ‘siener van die gode’ verduidelik moontlik ook die afwisseling in die Godsname – JHWH en Elohim – in die bybelse Bileam-verhaal. In die Deir ‘Alla inskripsie word verskeie gode genoem: El, die Sjaddai gode, die songodin Sjemesj, en die ster-tweeling Sjagar en Asjtar. Moontlik het die Bybelse verteller by die tradisie aangesluit dat die buite-bybelse Bileam sy nagtelike visioene van die gode ontvang het. ‘Elohim’ in Hebreeus kan twee betekenisse hê. Eerstens is dit is eenvoudig ‘n meervoudsvorm van die woord el: el = god; elohim = gode. Die boodskap wat die bybelse Bileam in die nag van Elohim ontvang en die boodskap wat hy die volgende oggend van JHWH verkondig, is ‘n boodskap van die Een en dieselfde God van Israel.

Só maak die storie meer sin. Bileam was nie ‘n duisend kilometers plus ver weg van Balak nie, hy was net oorkant die rivier en kon binne ‘n paar uur vir konsultasie bereik word. Die argeologiese Bileam is natuurlik nie die Bileam van die Hebreeuse Bybel nie; argelogiese getuienis dui slegs daarop dat daar ‘n Buite-bybelse Bileam-tradisie bestaan het wat die Bybelse narratief beïnvloed het, en die scenario voorstel wat die eerste lesers van die storie moontlik in gedagte sou kon hê.

Divinasie

Vroeër het ek die term ‘divineerder’ gebruik. Die woordeboek vertaal ‘diviner’ as ‘n voorspeller, ‘n waarsêer, selfs towenaar, en laat nie heeltemal reg geskied aan wat bedoel word nie. Divinasie en divineerder het alles met ‘n soeke na die wil van God of gode te make. In ‘n vorige teo-artikel het ek iets meer hieroor geskryf (gaan kyk http://teo.co.za/die-sterre-voorspel-god-en-die-gode-gerda-de-villiers/). Basies kom dit hierop neer. In die ou Nabye Ooste was die divineerders spesialiste in die wil van die gode. Hulle het ‘n lang en intensiewe opleiding ondergaan wat die basiese vaardighede van lees en skryf behels het, en daarna kon hulle in verskeie rigtings spesialiseer: regstekste, himnologie, argivering, boekhou, maar ook divinasie (De Jong 2007:316). Met ander woorde, divinasie was amper iets soos ‘n nagraadse tersiêre kwalifikasie waar die divineerder homself daarop toegespits het om die wil van die gode te ken, en selfs te manipuleer indien moontlik. Dit lyk asof Bileam in hierdie kategorie geval het: hy het ‘n professionele beroep gevolg waarvoor hy lank en hard geleer het.  

Daar was verskillende maniere waarop ‘n divineerder insae in die bonatuurlike hemelse wêreld kon kry. Hy kon sekere dinge doen om ‘n boodskap van die gode te ontlok. Die rituele slagting van ‘n bok of ‘n skaap was besonder gewild, en dan is die voortekens van die gode in verskillende organe gelees. Die lewer was besonder gewild. Behalwe dat die lewer as ‘n mikro-kosmos gesien is, het die mens van die ou Nabye Ooste ook geglo dat die lewer die sentrum van emosie was. Intellek, denke was in die hart, maar emosie was in die lewer. Dit wat die gode gedryf het, was in die lewer, en daar kon die werklik wil van die opperwesens gepeil word (Naydler 2009:153-155). Droomprofete, soos miskien Bileam, het bepaalde rituele uitgevoer voordat hulle gaan slaap het sodat die gode hul wil in ‘n droom vir hom bekend gemaak het.

Minder ingrypend was die spontane voortekens van die gode wat in natuurverskynsels gesien kon word. Divineerders was altyd op die uitkyk vir alles wat ‘onnatuurlik’ voorgekom het, soos sons- of maansverduisterings, verskietende sterre of die verskyning van ongewone sterre – wat ons vandag komete noem. Die ritseling van die blare in die wind, die manier waarop voëls saam vloeg – orals het die gode boodskappe gegee, en die spesialis-divineerder kon dit raaksien, interpreteer, en oordra vir wie dit ookal belangrik was.

In Israel is divinasie streng deur die Wet verbied (kyk bv Num23:23; Lev 19:26). Die Here het sy Wil deur sy profete bekend gemaak, maar dan het Hy die inisiatief geneem. Meer as een profeet het dan ook protes aangeteken as die Here hom roep om sy boodskap te verkondig (kyk bv Jes 6:5; Jer 1:6). Die Here soek die profeet op, nie andersom nie. Israel het alle vorms van divinasie verwerp waar handelinge uitgevoer is om boodskappe van God te ontlok. Daar is wel gevalle waar Hy nie onwillig was om sy wil deur ‘n teken bekend te maak nie, soos byvoorbeeld ‘n individu soos Gideon, of die lot wat deur die Urim en Tummim gewerp is. Hierdie antwoorde was egter ‘n eenvoudige direkte ‘ja’ of ‘nee’; ‘nie hy nie maar hy’. Dit was nie lang of uitgebreide boodskappe wat in die teken verborge was en deur ‘n geleerde divineerder geïnterpreteer moes word nie.

Die God van Israel was nie ‘n onderwerp wat bestudeer kon word nie.

Weer Bileam en sy donkie – die rolle word omgekeer

Terloops, in die Hebreeuse Bybel is die donkie vroulik; die interpretasie van die 1983 van die donkie as ‘hom’ is foutief.

Ons tel die storie op waar die afgevaardigdes van Moab en Midian Bileam alreeds twee maal besoek het. Hulle het hom met allerlei geskenke oorlaai en versoek dat hy Israel vervloek. Elke keer ontvang hy ‘n nagtelike visioen van God – Elohim – en stuur hy hulle na koning Balak toe terug met JHWH – die Here – se antwoord: Israel kan nie vervloek word nie. Tydens die laaste besoek gee God sy toestemming dat Bileam saam met die gesante kan terugkeer, maar net sê wat Hy vir hom sê.

Om die een of ander onverklaarbare rede, word dieselfde God woedend wanneer Bileam wel sy donkie opsaal en die pad vat. Terwyl Bileam nog so lekker op sy donkie ry, kom staan ‘n Engel van die Here voor hom in sy pad as teenstander – ‘satan’ sê die Hebreeuse Bybel. Niemand sien hierdie hemelse boodskapper raak nie, behalwe Bileam se donkie, en sy draai uit die pad uit. Hieroor slaan Bileam die dier, en dwing haar terug op die pad. Weereens blokeer die Engel van die Here die pad, en hierdie keer stuur die donkie op ‘n wingerd af, maar ongelukkig druk sy Bileam se voet teen ‘n muur vas. Bileam is glad nie beïndruk nie, en hy slaan die dier weer om haar terug op die pad te dwing. Maar hierdie keer kom staan die Engel van die Here in ‘n smal nou plekkie in die pad waar dit vir die donkie onmoontlik is om links of regs uit te draai, en al wat sy kan doen, is om onder haar baas te gaan lê. Oënskynlik is hy verblind van woede en hy slaan haar so hard dat dit lyk asof hy haar wil doodmaak.

En dan maak die Here die donkie se mond oop en sy begin praat.

Die rolle word omgekeer

In hierdie klein, bisar anekdote vind daar ‘n ironiese, komieklike omkeer van rolle tussen Bileam en sy donkie plaas.  In die eerste plek, donkies in die antieke wêreld, net soos vandag, was berug daarvoor dat hulle baie steeks en baie dom is (Way 2009:48). Maar hierdie dom dier ontvang ‘n goddelike visioen, sonder dat dit vir die Here nodig is om eers haar oë te open. Balak, die een wat veronderstel om insig die wêreld van die gode te hê, is volkome blind vir die teenwoordigheid van die hemelse boodskapper reg voor sy oë. Ten spyte van sy professionele vaardighede as siener, sien hy niks van die spirituele wêreld waarop hy bedag behoort te wees nie (Ashley 1993:457). Die donkie word die siener, die deskundige siener is blind.  

Wanneer Bileam die donkie die derde keer slaan, open die Here haar mond en sy begin praat. Vreemd genoeg is Bileam hoegaamd nie verras dat die donkie praat nie. Behoort hy, as opgeleide divineerder nie juis op die uitkyk te wees vir onnatuurlike verskynsels nie? En wat kan meer onnatuurlik wees as ‘n dom dier wat praat! Weereens faal hy nog ‘n toets. Wanneer die donkie praat, lig sy hom ook nie in oor die rede vir haar vreemde gedrag nie. Inteendeel, sy vra hom ‘n paar retoriese vrae – ‘n diskoerstegniek wat gewoonlik met ‘n mate van intelligensie geassosieer word. Sy vra hom waarom hy haar drie maal geslaan het, en of sy so ‘n loesing na baie jare van getroue diens verdien. Waarop Bileam ‘nee’ antwoord.

Dan maak die Here Bileam se oë oop en hy sien die Engel van die Here in die pad met ‘n ontblote swaard in sy hand. Die hemelse boodskapper vra hom dieselfde vraag as sy donkie: waarom het hy die arme dier geslaan? Sy het gesien op watter gevaarlike pad hy hom begewe, sy het uitgedraai, sy het gekeer dat die Engel van die Here vir Bileam doodmaak. Bileam wou sy donkie doodmaak; die Engel van die Here was van plan om die donkie se lewe te spaar en eerder vir Bileam dood te maak.

Die hoofstuk eindig waar Bileam sy fout insien, en die res van die verhaal ontvou met ‘n reeks uitsprake van hom waarin hy Israel ryklik seën en sy weë van Balak skei.

Slot

Bileam word dus as onbevoeg, selfs as dom voorgestel. Die bekende siener wie se dienste wêreldwyd gesog word, is blind; sy dom donkie daarenteen het volledige insae in die verborge goddelike wêreld. Deur middel van ‘n komiese narratief, dryf die skrywer van die Hebreeuse Bybel die spot met die divinasie-praktyke van die ou Nabye Ooste. JHWH, die God van Israel laat Hom nie deur menslike strewe ken nie. Hy is bo begrip, bo verstand.

Bibliografie

Ashley, TR 1993. The Book of Numbers. Grand Rapids: Wm B Eerdmans Publishing Co.  

Barré, ML 1997. ‘The Portrait of Balaam in Numbers 22-24.’ Interpretation 51 (3): 254-266.

Naydler, J 2009. The Future of the Ancient World. Essays on the History of Consciousness. Rochester: Inner Traditions.

Way, KC 2009. ‘Animals in the Prophetic World: Literary Reflections on Numbers 22 and 1 Kings 13.’ Journal for the Study of the Old Testament 34 (1): 47-62.

Share this / Deel hierdie: