Digkuns is ‘n persoonlike, intieme kunsvorm, en hoe vou die lig in, is dan ook geen uitsondering nie. Hierdie digbundel bestaan uit sewe afdelings wat meestal ingelei word deur ‘n aanhaling van ‘n ander skrywer of digter, of uit die Bybel.
See-scenes domineer die openingsverse waarin die skryfster ‘n intense bewussyn van haar omgewing laat blyk asook die effek wat dit op haar gemoedstemming het. Sy dink diep na oor die ouderdom en besef die eindigheid van bestaan, van momente wat vir ewig verby is. Mense en verhoudings is belangrik – die derde afdeling van die bundel word aan spesifieke persone opgedra wat sy of goed geken het, of op die een of ander manier ‘n invloed op haar lewe uitgeoefen het. Sy voer deurlopend dialoog óf met ander mense in haar lewe, óf met ander kunstenaars. En terwyl geel of wit tradisioneel kleure is wat met lig geassosieer word, is dit opvallend hoe baie ‘blou’ die skryfster in haar beelde gebruik. Die ‘lig’ van die titel is dan ook nie vanuit die staanspoor daar nie, veel eerder getuig die meeste verse van ‘n intense verlange na heelheid, na genesing van ‘n soort pyn. Om deur hierdie digbundel te lees, is om as’t ware saam met die skryfster op jou eie lewensreis te gaan, op soek na sin, op soek na lig. Dit is asof die boekie al donkerder word, deur die Kruisgebeure heen na die skryfster se roerende uitbeelding van haar bejaarde ouers se naderende einde en dood. En dan, heel aan die einde met ‘n verrassende akkoord vou die lig in vanuit ‘n vierkantige deur.

   Hoe vou die lig in deur Everline van Dyk is ‘n deurleefde bundel, waarvan die sirkels van lig treffend begin ontvou nadat ‘n mens dit deurgelees het. En dan maak die titel volledig sin.

Share this / Deel hierdie: