Inleiding
Die mens is besig om Planeet Aarde te vernietig. As ons nie drasties ons leefstyl verander nie, gaan dit nie veel langer moontlik wees om die hierdie aarde van ons te bewoon en te bewerk nie. Ons hoor van ‘n kwynende osoonlaag en sonstrale wat al feller brand; ons hoor van plant- en dierspesies wat op die rand staan om uit te sterf; ons hoor dat plante en diere vinniger en groter groei, vanweë onnatuurlike chemikalië; ons hoor dat ook ons hierdie stowwe inneem, en dat dit skadelik vir ons liggame is. Die woorde waarmee hierdie ontstellende situasie beskryf word, is ‘ekologiese krisis’.

Die term
Ernst Haeckel (1834-1919), ‘n Duitse bioloog het die term ‘ekologie’ vir die eerste keer geskep. Hy het dit aan die Griekse woord ‘oikos’ ontleen – wat letterlik ‘huis’ beteken. Sy idee was om die basis vir ‘n nuwe soort wetenskap te lê. Hy het Darwin se teorie van natuurlike seleksie as vertrekpunt gebruik, maar het daarop uitgebrei om organismes in verhouding met ‘n lewende – en nie-lewende omgewing te bestudeer. Anders gestel, hy wou vasstel hoe organismes funksioneer in hul metaforiese ‘huis’. Maar Haeckel wou meer doen as om bloot data te versamel en te ontleed; hy het gehoop om iets agter te kom van die wette en die ontwikkeling van die natuur. Daar is iets soos ‘n ‘kosmiese waarheid’ het hy geredeneer, en as die mens dit verstaan, sal hy ook in staat wees om in harmonie daarmee saam te leef.

Die vak
Ekologie in sy oorspronklike betekenis, is ‘n subdissipline van biologie. Dit gaan om die studie van organismes in verhouding tot hul lewende – en nie lewende omgewing. Die wetenskaplike hipotese van ekologie handhaaf dat elke ding in die natuurlike wêreld met elke ander ding skakel. Mens, plant en dier kan nie in isolasie verstaan word nie, dit is ook nodig om hul interaksie met mekaar en met hul omgewing te ondersoek – met ander woorde, organisme-in-verhouding.
 Ekologie as biologies-wetenskaplike vakrigting is ‘n komplekse en hoogs gespesialiseerde akademiese dissipline met uiteenlopende benaderings, byvoorbeeld marine-ekologie, arktiese ekologie, fisiologiese ekologie, gedragsekologie, landskap-ekologie, ensovoorts. ‘n Ekologiese ondersoek in sy biologiese sin sal nie probeer om klimaatsverandering as sodanig te verstaan nie, maar wil kyk wat is die impak van klimaatsverandering op ‘n bepaalde spesie – plant, dier, insek – in ‘n bepaalde woud. ‘n Ekoloog wil dus nie ‘n kenner wees op die verlies aan biodiversiteit in sy geheel nie, maar wil kyk wat in die omgewing bedreig ‘n bepaalde spesie. Geen oordeel word uitgespreek of dit wenslik is of nie, of reg of verkeerd is nie.

Moraliteit?
Binne die Christelike godsdiens word die term ‘ekologie’ ook gebruik, maar in ‘n ander sin. Hier gaan dit nie om ‘n wetenskaplike studie nie, maar om wyer en algemene uitsprake te maak oor die mens en sy verhouding tot sy omgewing. Godsdiens, religie staan nie los van ‘n konteks nie, en die natuurlike omgewing vorm ‘n baie belangrike deel van daardie konteks. Menslike lewe en die natuurlike wêreld staan in verhouding tot mekaar en is interafhanklik van mekaar.
   Hierdie uitgangspunt stem ooreen met die wetenskaplike hipotese van ekologie, maar het ‘n algemene strekking. Byvoorbeeld, die ekologiese krisis wat die mens tans in die gesig staar, sluit onder andere in, klimaatsverandering, spesies wat uitsterf, lug- en waterbesoedeling, vernietiging van die natuur, en die rede wat hiervoor aangegee word, is die versteurde verhouding tussen die mens en sy omgewing. Ekologie as natuurwetenskap wil spesifieke sisteme so goed moontlik ondersoek en ontleed, nie morele uitsprake maak of die verloop hiervan wenslik is of nie.
  Twee sake kom dus nou aan die orde: universele, etiese uitsprake oor hoe mense teenoor hul omgewing behoort te lewe, en die verstaan van ‘n bepaalde sisteem – hoe goed inmekaar steek. Hierdie twee benaderings sluit mekaar nie noodwendig uit nie, wetenskaplikes is ook dikwels betrokke by godsdienstige natuurbewarings-groepe en waardeer dit dat hul bevindinge ook morele implikasies het.
   Daar is egter een belangrike verskil: ekologie as wetenskap is ‘n gespesialiseerde gebied van wetenskaplike kennis. Dit is eksklusief en nie vir ieder en elk bedoel nie. Ekologie as morele argument oor die interafhanklikheid tussen mens en omgewing en is  iets wat almal raak – dus inklusief. Laasgenoemde loop egter die gevaar van oorvereenvoudiging. ‘n Religieuse interpretasie van ekologie sal byvoorbeeld die ‘holisme van onderlinge verbindinge’ beklemtoon en opper dat ekosisteme ‘n harmoniese geheel vorm waar elke ding sy ‘natuurlike’ of regte plek het. Daarteenoor bewys ekologiese wetenskap dat die Aarde deur oop en ontwikkelende sisteme gekenmerk word. Die wisselwerking tussen hierdie sisteme is ingewikkeld en is ‘n voortdurende proses van kompetisie, stryd en samewerking. Dat die stryd verloor word, is onvermydelik. Sisteme verdwyn en ander kom in hul plek. Dit is dus ‘n skerp kritiek op ‘n religieuse interpretasie wat aanneem dat ekologiese sisteme staties is, en dat daar ‘n ware of absolute ekwilibrium is waartoe die natuur kan terugkeer. Volgens die wetenskap is ekosisteme altyd besig om te verander as gevolg van die voordurende veranderinge in die energiebronne en materie deur eeue en eeue heen.

Die ongerepte natuur
Natuurwetenskaplike en morele uitsprake oor ekologiese kwessies baseer hul argumente op die aarde se ekosisteem: die natuur. Op die oog af lyk dit voor-die-hand-liggend: die natuur in sy ongerepte toestand staan teenoor die mens en sy kultuur en tegnologie. Maar dit is nie heeltemal so eenvoudig nie.
Die mens word dikwels daarvan beskuldig dat hy met sy tegnologie sy omgewing verander, selfs verwoes. Die mens is egter nie die enigste spesie wat dit doen nie. Otters grawe damme en breek die ‘natuurlike’ vloei van riviere; bye dra stuifmeel en verander die verspreiding en voorkoms van plante; alge verander die chemiese samestelling van waterbronne – ensovoorts. Soms word die mens teenoor die dier gestel as ‘n ‘denkende, redelike’ spesie teenoor een wat op instink reageer. Natuurwetenskaplike navorsing het egter bewys dat die mens net soos alle spesies ontwikkel het deur ‘n voortgaande siklus van sisteme wat ontwikkel, muteer en aanpas. En mense reageer net soos diere impulsief, instinktief – en nie altyd redelik en oordeelkundig nie!
 Die hele konsep van ‘natuur’ en ‘natuurlik’ is iets wat die mens uitgedink het. Met ander woorde, natuur is ‘n produk van die menslike kultuur. Wanneer ons praat oor die natuur en wat as natuurlik beskou kan word, reflekteer ons die uitsprake die waardes en aannames van ons samelewings. Dit sê hoe ons ons kulturele sisteem en ons optrede binne ons omgewing verstaan en regverdig of veroordeel. Dus, ‘n uitdrukking soos ‘die ongerepte natuur’ is emosioneel en ideologies gelaai. Die natuur bestaan vir miljarde eeue lank waarin spesies ontwikkel en uitsterf. Natuur is iets waaraan die mens maar vir die afgelope paar honderd jaar betekenis probeer gee het.

Ekologie en religie
Alhoewel die term ekologie deur verskillende groepe mense verskillend verstaan word, is die gemeenskaplike punt van kommer dat die omgewing waarvan alle lewe afhanklik is, drasties agteruitgaan. Moet godsdiens – die Christelike godsdiens by name – hiermee gemoeid wees?

Daar is drie uitgangspunte:
 Die Bybel help ons
Diegene wat hierdie argument gebruik, reken dat die Bybel deur God geïnspireer is en genoegsame waarheid en wysheid bevat om alles, selfs oor hedendaagse kwessies riglyne te gee. Genesis 2:15 is ‘n gewilde teks om aan te haal: ‘Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.’ Hieruit word afgelei dat die Here God die mens in verhouding met sy omgewing geplaas het, en hom die opdrag gegee het om dit ook te bewaar. Dis ‘n opdrag wat vir Christene vandag ook geld en wat hulle binne die huidige ekologiese krisis ernstig behoort op te neem. Die probleem met hierdie soort eksegese is dat konteks van die Genesis-verhaal nie in ag neem nie. Teenoor die ander Ou Nabye Oosterse mites waar mense geskape word om as slawe vir die gode te werk, vertel Genesis 2 ‘n ander verhaal. Die Here God werk sodat die mens ‘n aangename woonplek het waarin hy lekker kan leef. Verder is dit ‘n bekende feit dat die Ou Nabye Ooste – Israel inkluis – nie veel van die natuur gedink het nie: kultuur moes natuur ten alle koste oorwin!

   Geloof moet by die wetenskap leer
Volgens hierdie argument kan die Bybel nie as vertrekpunt dien nie, nogtans beteken dit nie dat Christene die probleem nie ernstig hoef op te neem nie. Inteendeel. Die huidige ekologiese krisis is ‘n historiese mislukking: oor eeue heen het die Christelike tradisie misluk om erns te maak met die ingewikkelde onderlinge verhoudinge tussen mens en natuur. Daarom moet die Christendom herbedink word en gebruik maak van kennis wat die natuurwetenskappe bied. Christene moet realisties wees: die mens is besig om die aarde te verwoes, en hierdie ontstellende feit noop reaksie. ‘n Pleidooi word gerig vir ‘n ‘ekologiese reformasie’ – nie Bybels gefundeer nie, maar omdat die Christendom ‘n lewende, ontwikkelende en aanpasbare tradisie is, en daarom ook die huidige uitdagings ernstig moet opneem en daarby aansluit.
‘n ‘Ekologiese reformasie’ is dus ‘n poging om die geldigheid van die Christelike tradisie te beklemtoon, maar om ook ruimte te laat vir betekenisvolle aanpassings in die lig van ekologiese insigte vanuit die natuurwetenskappe. Die Christendom is ‘n kragtige  tradisie, maar moet ontwikkel en aanpas om relevant te bly.

 ‘n Donkergroen religie
‘n Donkergroen religie gaan steek kers op by tradisies wat die natuur self as heilig beskou. Die aarde, alle lewende sisteme en alle onderlinge verhoudinge daarbinne is heilig. Hierdie benadering het inderdaad sy wortels in animisme en natuur-religieë, maar wil natuur-spiritualiteit met insigte van moderne wetenskaplike ekologie kombineer. ‘n Nuwe spiritualiteit vir ‘n nuwe werklikheid word bepleit. Dit moet om meer gaan as bloot nóg ‘n etiese verantwoordelikheid. Byvoorbeeld, die Christendom sal baie doen om ‘n ‘groen bewussyn’ te ontwikkel, maar op die lysie van etiese verantwoordelikhede, sal dit nie noodwendig prioriteit geniet nie. Daarom is ‘n natuur-gebaseerde religieuse perspektief nodig.

Slot
Die ‘groen gedagte’ is dus ‘n taamlik komplekse saak. Ekologie het ‘n suiwer natuurwetenskaplike kant, en ‘n meer filosofies-religieuse kant. Verder is dit ook nie duidelik presies wát onder die begrip ‘die ongerepte natuur’ verstaan word nie. Die argument dat die mensdom iets moet doen om die ekologiese krisis die hoof te bied, word vanuit verskillende, selfs uiteenlopende standpunte aangevoer. Een is nie noodwendig beter as die ander nie, elkeen het sy eie verdienstelikheid.
   Nogtans is dit van groot waarde om kennis te neem van die al die verskillende reaksies op ekologie, die natuurlike wêreld en die agteruitgang van die omgewing, want dit help ons om onnself binne hierdie debat te plaas.

[Hierdie artikel is ‘n samevatting uit Bauman, WA, Bohannon II, RR & O’Brien, KJ 2010. Ecology. What is it, who gets to decide and why does it matter. Paginae 49-63 in Bauman, Bohannon II & O’Brien (reds), Grounding Religion. A Field Guide to the Study of Religion and Ecology.]

Share this / Deel hierdie: