Inleiding
In die vorige teo-uitgawe het ek die teoretiese aspekte van ekologie kortliks uiteen gesit. Ek het daarop gewys dat ekologie ‘n komplekse begrip is wat natuurwetenskaplik of filosofies-religieus bestudeer kan word. Eersgenoemde vra slegs hoe organismes binne ‘n bepaalde omgewing funksioneer sonder om moreel-etiese uitsprake te maak. Laasgenoemde is egter besorg oor die mens en sy verhouding tot sy omgewing – meer spesifiek, die mens en wat hy besig is om aan Planeet Aarde te doen. Die gevolgtrekking is dat die mens met sy tegnolgie besig is om die aarde te verwoes. Ekologiese bewegings – godsdienstig geïnspireer of nie – stem saam: hierdie proses van selfvernietiging moet gestuit word, voordat dit te laat is. In hierdie teo-bydrae wil ek nadink of die ‘groen gedagte’ enigsins haalbaar is.

Peter Giesen in onderhoud met Peter Sloterdijk
Peter Sloterdijk is ‘n Duitse filosoof en hy het pas ‘n boek uitgegee met die titel: Je moet je leven veranderen. In hierdie boek praat hy van ‘n ‘crisisgodin’ wat aan die mensdom ‘n ekologies-kosmopolitiese gebod gee: jy moet jou lewe verander. Om Planeet Aarde te red, moet jy jou ‘ekologiese voetafdruk’ so klein as moontlik maak. En hoe doen jy dit?
Elke moment, sê Sloterdijk, moet jy ‘n prognose moet maak oor die gevolge van jou dade op die ekologie van die wêreldsamelewing. Elke dag moet jy ‘n beslissing neem wat jouself en die wêreld ‘n bietjie vooruithelp. Byvoorbeeld, om minder energie te verbruik; om minder vleis te eet; om inheemse in plaas van eksotiese uitheemse produkte te koop – ensovoorts. Die mensdom het te gewoond geraak aan ‘n luukse lewe en onnodige weeldeartikels. Sloterdijk bepleit ‘n eenvoudiger leefstyl en – na aanleiding van die middeleeuse monnike se ‘imitatio Christi’ – hoop hy dat ‘n nuwe generasie groen monnike sal opstaan om die samelewing die weg te wys.
Is hierdie groen ideaal enigsins haalbaar?
Giesen beskryf Sloterdijk se voorkoms. Hy lyk nie juis na ‘n askeet wat karig eet en verwoed oefen nie. Om die waarheid te sê, hy is oorgewig. Sy gesig spreek boekdele van misnoë op die voorstel dat hulle ‘n eenvoudige middagete in ‘n tipiese Hollandse ‘eetkelder’ nuttig: ‘uitsmijter’ en karringmelk op die spyskaart vandag. Hy ontdooi egter merkbaar by die tweede restaurant met ‘n uitstekende spyskaart voor hom en ‘n goeie glas wit wyn in die hand. Sloterdijk is ‘n toonbeeld van hoe moeilik dit is om groen te dink én groen te doen!
Ja, daar is inderdaad groot spanning tussen groen dink en groen doen, erken Sloterdijk tydens die gesprek. Byvoorbeeld, moet ek die iPad koop omdat hy mooi is en omdat ek hom goed vir my werk kan gebruik, terwyl ek weet dat Apple sy Sjinese werknemers sleg behandel? As my baas my werk kritiseer, ontstel dit my veel meer as die wete dat die huidige klimaatsverandering ‘n kataklismiese oorstroming vir Bangladesh inhou. En die gebeure in Sirië is niks in vergelyking met my kind se swak wiskundepunte nie!
Die spanning lê tussen ‘n ‘ek’ en ‘n ‘beter ek’: tussen ‘ek’ wat myself met my eie belange besig hou, en die ‘beter ek’ wat as wêreldburger begaan is oor grootse wêreldbelange.
Die hedendaagse samelewing dring aan op eerlikheid en geloofwaardigheid. Die huidige ‘groen’ beweging word van skynheiligheid beskuldig, en kry daarom die wind van voor. Verhewe gedagtes soos my ‘beter ek’ se betrokkenheid by die grotere buitewêreld word tereg gewantrou, want ‘ek’ tree maar altyd in eie belang op.
Die vraag is dus, hoe ontkom ek hierdie beskuldiging dat ek teenstrydige boodskappe uitstuur? Die antwoord is miskien maar om afstand te doen van idealisme, om te erken dat dit bykans onmoontlik is om ‘groen te doen’. Maar dan, volgens Sloterdijk, verval ‘n mens in algehele sinisme, en is daar geen vooruitgang nie. Laat ‘ek’ dan maar aanhou voortploeter, erken dat my optrede inkonsekwent is, en dat die wêreldburger in my ver tekortskiet.
Juis daarom, sê Giesen, is Sloterdijk se boodskap geloofwaardig. Hy is in alle opsigte ‘n toonbeeld van iemand wat nie regkry wat hy self verkondig nie.
Die motto van die boek is in Duits: ‘üben, üben, üben’ – oefen in drievoud. Volgens Sloterdijk is die mens ‘n oefendier. Hy sluit aan by Socrates se siening dat die mens potensieel superieur aan homself is, asook by Nietzche se gedagte dat jy slegs vooruit kan kom deur die onmoontlike na te streef.
Dus, as ek erken dat die groen ideaal nie volkome bereikbaar is nie, mag nie ophou oefen en oefen en nogmaals oefen om ‘n ‘beter ek’ te word nie. Laat ek bly strewe na bo, na ‘n beter toekoms vir myself en die wêreld.

[Hierdie artikel is ‘n samevatting van ‘Je moet je leven veranderen’ deur Peter Giesen, paginae 53-57 in Filosofie Magazine, no 6, augustus 2011 / jaargang 20.]

Share this / Deel hierdie: