Weet jy waar die daeraad vandaan kom? (Job 38:12).

In dieselfde lied aan Aton, die songod, het Ak-he-naton ook na sonsondergang verwys. Met elke sonsondergang het Aton in die weste verdwyn en sy wegwees was ondraaglik.

‘n Soort doodsdonker het dan oor Egipte toegesak. Mense het lyf aan lyf in groot kamers geslaap en hulle geld krampagtig onder hulle koppe vasgeklem. In die donkerste uur van die nag het diewe nogtans ongemerk gesteel en onskuldiges vermoor.

Elke klein tekentjie van die nuwe dag is met blydskap begroet. Met elke spikkeltjie lig wat die kamer binnedring het, het mense hulle arms na Aton opgehef. Aton was hulle god wat weer gekom het en wat weer ‘n nuwe dag gegee het en wat weer die wye wêreld met sy warm strale sou omvou het.

Al was Aton hoe gewild, kon hy niks vir sy mense gedoen het nie. Siekes het hy nooit genees nie en die hulpeloses nooit gehelp nie. Uiteindelik het Aton teleurgestel en het saam met Ak-he-naton van die toneel verdwyn.

In Job word ook wonderlike dinge oor sonsopkoms gesê. Vroeg het God al begin om ‘die donkerte na sy gebied toe terug(ge)vat’ (Job 38:20) en die daeraad te gaan haal (Job 38:12). En as die son se eerste wankelende strale oor die vormlose aardmassa geval het, het berge, landerye, huise, mense weer uit die donkerte ‘verskyn’ en die lewe kon weer nuut begin het. Met elke daeraad het ‘n nuwe skepping plaasgevind en ‘n nuwe wonder aangebreek. En dít het in Job ‘n besondere rol vervul.

Job se lyding het hom van God vervreem. God was ongenaakbaar en het ‘oor die wanhoop van die onskuldiges’ gelag (Job 9:23). God het so min vir mense omgegee dat Hy hulle sommer goedsmoeds vernietig het (Job 9:22).

In God se beroemde gesprek met Job (in 38:1-42:6) het Hy hom met moeilike vrae oor die natuur gepeper. Job het sleg gevaar, maar God wou hom eintlik net getroos het. Soos wat God die natuurwêreld in sy hand gehou en gekoester het, so kon Job ook gesê het: ‘My tye is in u hand’ (Ps 31:15). Elke sonsopkoms moes vir Job ‘n ‘persoonlike’ teken van God se trou en liefdevolle sorg gewees het. ‘n Teken van God se nabyheid te midde van sy lyding. Dié troos het Aton se aanbidders nooit ervaar nie.

Here, laat elke nuwe dag vir ons ‘n teken van U liefde en deernis wees. En laat elke nuwe dagbreek ons opnuut bemoedig.