Emiritus prof Erich Zenger, bekende Ou-Testamentikus van Münster (Duitsland), is op 1 Maart 2009 in Hamburg vereer met die Buber-Rosenzweig medalje. Dit het plaasgevind tydens die openingseremonie van die “Nasionale Week van Broederskap” wat sedert 1952 gesamentlik deur Jode en Christene in Duitsland georganiseer word. Onder die eregaste was onder andere Kardinaal Karl Lehmann, die president van die Duits-Joodse Raad Charlotte Knobloch, asook Bondspresident Horst Köhler. Prof Zenger is die tweede lid van die Katolieke Fakulteit van Münster aan wie hierdie medalje oorhandig is; prof Johann Baptist Metz het dit voorheen ook reeds ontvang.

Kardinaal Karl Lehmann, biskop van Mainz, het die laudatio tydens hierdie feestelike geleentheid gelewer. Prof Erich Zenger se loopbaan het in 1972 in Eichstätt begin en vanaf 1973 het hy die leerstoel vir Ou-Testamentiese Eksegese en Godsdienswetenskap (Zeit- und Religionsgeschichte des Alten Testaments) in Münster beklee. Dit is egter nie die enigste rede waarom die Buber-Rosenzweig medalje aan hom oorhandig is nie. Dit was eerder die rol wat hy in Duitsland vervul het ten opsigte van die uitbou van joods-christelike verhoudinge en spesifiek sy bydrae tot die joods-christelike dialoog.

 

Erich Zenger is by uitstek ‘n Ou-Testamentikus wat na die Tweede Vatikaanse Konsilie sy vak binne die Duitssprekende taalgebied beïnvloed en bevorder het. Met meer as vyf-en-twintig boeke kan hy ‘n ryk oes aan publikasies wys. Hy het ook meer as honderd-en-vyftig artikels gepubliseer. Waar hy aan die begin van sy akademiese loopbaan op die ontstaan en die teologie van die Pentateug gefokus het, het sy fokus in die laaste twintig jaar veral na die Psalm- en Psalternavorsing verskuif. In die “Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament” (waarvan hy ook die algemene redakteur is) het daar reeds, tesame met prof Frank-Lothar Hossfeld, twee volumes, te wete Psalms 51-100 en Psalms 101-150, verskyn. Daar word nog twee volumes beplan: Psalms 1-50, asook ‘n volume oor die teologie van die Psalms. Verder kan ook na die “Einleitung in das Alte Testament” verwys word waarvan hy die redakteur is en waarvan die sewende herverwerkte uitgawe reeds verlede jaar verskyn het. Die sesde uitgawe is onder andere in Portugees, Italiaans, Koreaans, Russies en Spaans vertaal. In sy ryk akadamiese loopbaan het hy oor die volgende boeke gepubliseer: Genesis, Eksodus, Levitikus, Job, Rut, Jesaja, Hosea en Judit.

 

Hy veg ook voortdurend vir ‘n nuwe verstaan van die Ou Testament. In sy strydgeskrif “Das Erste Testament: die jüdische Bibel und die Christen” (Die eerste Testament: die Joodse Bybel en die Christen) pleit hy vir ‘n herbesinning van christene se houding ten opsigte van hulle “eerste Testament”, wat hy as grondleggende en onafhanklike deel van die christelike Bybel verdedig. In die kerk word die Ou Testament dikwels geïgnoreer, slegs selektief gelees of dikwels as ondergeskik ten opsigte van die Nuwe Testament hanteer. Hy veg verbete vir die erkenning van die “eersgeboortereg” van die Ou Testament, wat hy liewers met die term “Eerste Testament” wil aandui ten einde konkrete gestalte aan hierdie eersgeboortereg te gee.

 

Dit bring ons dan ook by die hoofrede waarom Erich Zenger die Buber-Rosenzweig medalje ontvang het, naamlik die groot rol wat hy in die christelik-joodse dialoog gespeel het. Dit begin met sy voortdurende stryd teen enige vorm van onderwaardering van die Eerste Testament (maw Marcionismes), asook tipies anti-joodse klischees, en dan veral ook teen enige vorm van anti-semitisme. Hy beklemtoon voortdurend die feit dat die Christendom nie sonder die Judaïsme, asook hulle heilige geskrifte (die Hebreeuse Bybel), kan bestaan nie.

 

Die eiewaarde van die Eerste Testament vir die christelike geloof, asook vir die christelike lering, moet voortdurend beklemtoon word [vgl ook my artikel oor die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament]. In die voorwoord van sy boek “Die Eerste Testament” maak hy die volgende duidelik: “Na Auschwitz en in die lig van die Tweede Vatikaanse Konsilie word ‘n nuwe lig gewerp op die verhouding van die Kerk tot Israel. Dit word hoog tyd dat die Eerste Testament as die outentieke boek van die Jode en as onlosmaaklike deel van die christelike Bybel sy eerstegeboortereg moet terugkry”. Hy verwys daarom ook graag na die woorde van Pous Johannes Paulus II wat in 1986 tydens ‘n ontmoeting met die Joodse gemeenskap van Rome gesê het: “Die Joodse godsdiens is nie vir ons maar net iets ‘uiterliks’ nie, maar behoort tot die diepste innerlike kern van ons geloof. Met geen ander geloof het ons so ‘n sterk band soos met julle nie. Julle is ons broers, en eintlik sou mens moet sê, ons oudste broers” (Das Erste Testament, p. 11). Prof Erich Zenger sien dit dus as sy taak om die nou band wat daar tussen die Judaïsme en die Christendom bestaan, te beklemtoon, asook die feit dat God nog nooit die verbond wat Hy met die Jode gesluit het, opgehef het nie.

 

Erich Zenger se intellektuele erfenis behoort nie nie net tot die Duitssprekende lande beperk te wees nie, maar ook in Suid-Afrika is dit nodig dat teoloë en kerke moet kennis neem van sy denke rondom joods-christelike verhoudinge, asook die teologiese implikasies wat dit het vir ons verstaan van die christelike Bybel. Die besef dat God nog nooit die verbond met die Jode opgesê het nie, is ook nog nie voldoende in ons Suid-Afrikaanse teologiese en kerklike diskoerse verdiskonteer nie.

 

Wat betref sy groot bydrae tot die Psalm- en Psalternavorsing, wil ek graag die volgende opmerkings maak. In die jongste navorsing is daar al hoe meer klem gelê op die feit dat die Psalmboek (of Psalter) ‘n samehangende literêre geheel is. Daar is voldoende getuienis dat die Psalter die produk van redaksionele aktiwiteite is wat uitgeloop het op die doelbewuste rangskikking van die 150 Psalmtekste. Hierdie rangskikking verleen aan die Psalter as geheel ‘n funksie en boodskap wat groter is as die somtotaal van sy onderdele, naamlik die individuele psalmtekste. Dit blyk duidelik dat die psalms nie maar net willekeurig of toevallig langs mekaar geplaas is nie, maar dat die Psalter in sy huidige vorm die resultaat is van ‘n doelbewuste ordening en rangskikking. Die Psalter, so word duidelik, moet as boek – as samehangende geheel – gelees word.

 

Hossfeld & Zenger toon duidelik aan dat die kanoniese Psalter ‘n teks(te) is wat oor honderde jare gegroei het. Hierdie stelling geld vir die individuele psalmtekste, vir groter versamelings van psalmtekste, asook vir die Psalter soos dit vandag daar uitsien. Hierdie standpunt het hulle reeds in ‘n groot hoeveelheid kleinere publikasies uitgewerk en aangetoon. Dit word egter ook duidelik in die kommentaar-reeks wat by Herder in Freiburg, Duitsland verskyn het. Band II (Pss 51-100) het ook reeds in Engelse vertaling in die Hermeneia-reeks verskyn. In hierdie kommentaar-bande word aangetoon dat elke individuele Psalm oor eeue heen as ‘n teks ontstaan het en ook as sodanig geinterpreteer behoort te word. Dit beteken egter nie dat die Psalter net ‘n vormlose of onsistematiese argief van individuele Psalmtekste is nie. Die Psalmboek is dus nie maar net die resultaat van toevalligheid nie, maar weerspieël doelbewuste redaksionele en komposisionele werk van die verskillende skrywers, redaktore en samestellers.

 

Dit is dus noodsaaklik om die Psalms, soos ook alle ander boeke van die Eerste Testament, te sien en te lees as tekste wat ‘n lang ontstaansproses ondergaan het. Hierdie tekste moet dus, soos ander tekste uit die Eerste Testament, ook redaksie-histories ondersoek word. Hossfeld & Zenger fokus dan veral op die groeiproses van hierdie individuele tekste, en hulle meen dat die redaksionele bewerking gelei is deur ‘n oorkoepelende plan en idee. In hulle navorsing probeer hulle dan juis ook bepaal deur watter gedagtes en motiveringe die skrywers, redaktore en versamelaars hulle laat lei het. Met ander woorde in watter mate die Psalms, of ten minste gedeeltes daarvan, wat voorhande was, deur die redaktore en versamelaars verwerk en verander is met die oog op hulle spesifieke posisie binne ‘n groter versamelbundel van tekste. Hulle probeer dan telkens om hierdie proses waarlangs die redaksie sou plaasgevind, literatuur-histories en teologies te rekonstrueer.

 

Ek sal my graag hier wil beperk tot een voorbeeld wat op makro-vlak van die Psalter aangetoon kan word. Na analogie van die Tora van Moses se vyfdeling word die Psalter ook in 5 dele (boeke) ingedeel: Pss 3-41; 42-72; 73-89; 90-106; 107-145. Pss 1-2 is die inleiding en Pss 146-150 die slot. Geskiedsteologies reflekteer Pss 2-71 die monargale tydperk onder Dawid, Ps 72 Salomo en in Ps 89 stort die monargie in duie. Ps 90 (Moses) dui op ‘n terugkeer na die tyd in die woestyn, waartydens Jahwe die koning was (Pss 93-100 Jahwe Koning Pss). Pss 113-118 (Egiptiese Hallel) dui op die Babiloniese Ballingskap, na aanleiding van die tyd in Egipte. Pss 120-134 (pelgrimsliedere) vertel van Israel wat uit die ballingskap oppad is na Sion, die tuiste van Jahwe. Die Tora-psalm 1 dui die program van die Psalter aan: nadenke van die Tora, wat sal uitmond in lof aan Jahwe (Pss 146-150).

 

Hossfeld & Zenger werk al reeds vir meer as 20 jaar aan hierdie spesifieke program om die Psalter – in die woorde van Luther »die kleine Biblia« – te verstaan. Deur middel van hulle program het die verstaan van die ontstaan, die groei en uiteindelike samevoeging van die Psalter geweldig gegroei. Dit sal teoloë (van verskillende dissiplines), predikante, en gewone lidmate in Suid-Afrika dus baat om van hierdie nuwe rigtinggewende navorsing op die terrein van die Psalms kennis te neem. Vir die volgende dekades (dalk eeu) sal enigeen wat oor die Psalms wil praat, skryf of preek daarby baat indien hulle hierdie insigte in hulle werk verdiskonteer.

 

Bronnelys

Hossfeld, F.-L. & Zenger, E. 1992. »Selig, wer auf die Armen achtet« (Ps 41,2). Beobachtungen zur Gottesvolk-Theologie des ersten Davidpsalters. Jahrbuch für biblische Theologie 7. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 21-50.

———- 1993a. Die Psalmen I: Psalm 1-50. Würzburg: Echter Verlag.

———- 1993b. “Wer darf hinaufziehn zum Berg JHWHs?”: Zur Redaktions-geschichte und Theologie der Psalmengruppe 15-24. In: G. Braulik et al. (Hrsg.). 1993. Biblische Theologie und gesellschaftlicher Wandel. FS. N. Lohfink. Freiburg i.B.: Herder, 166-82.

———- 1994. »Von seinem Thronsitz schaut er nieder auf alle Bewohner der Erde« (Ps 33,14). Redaktionsgeschichte und Kompositionskritik der Psalmengruppe 25-34. In: I. Kottsieper et al. (Hrsg.). 1994. »Wer ist wie du, Herr, unter den Göttern?« – Studien zur Theologie und Religionsgeschichte Israels. FS. O. Kaiser. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 375-88.

———- 1996. Neue und alte Wege der Psalmenexegese. Antworten auf die Fragen von M. Millard und R. Rendtorff. Biblical Interpretation, 4, 332-43.

———- 51998. Das Erste Testament. Die jüdische Bibel und die Christen. Düsseldorf: Patmos.

———- 2000. Psalmen 51-100. Freiburg i.B.: Herder. (Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament).

———- 2002. Die Psalmen II. Psalm 51-100. Würzburg: Echter Verlag.

———- 2005. Psalms 2: A Commentary on Psalms 51-100. Minneapolis, MN: Fortress Press. (Hermeneia).

———- 2008. Die Psalmen III: 101-150. Freiburg: Herder.

Share this / Deel hierdie: