Tema: Die Here gaan iets nuuts doen

Teks: Jesaja 43:19

 

1. Eksegetiese riglyne

Hierdie teksgedeelte kom voor in die tweede boek van Jesaja (Deutero-Jesaja), naamlik in hoofstukke 40-55. Sedert Bernhard Duhm aan die einde van die 19e eeu aangedui het dat hierdie hoofstukke betreffende aspekte soos taal, styl, boodskap en historiese konteks nie meer aan die agste eeuse profeet gekoppel kan word nie, word dit as ‘n algemene feit in die Jesaja-navorsing aanvaar dat hierdie hoofstukke ‘n ander konteks reflekteer. In die jongste Jesaja-navorsing word ‘n komposisionele ontwikkeling van ca. 100 jaar vir hierdie 16 hoofstukke voorgestel, naamlik 550-450 (Berges 1998:549).

In die algemeen kan gesê word dat Jesaja 1-39 (Proto- of Eerste Jesaja) hoofsaaklik die omstandighede in die 8ste-7e eeu in die Ou Nabye Ooste weerspieël. Die Assiriërs was in hierdie tyd die wêreldmag. Vanaf 750 begin die opbou van die Assiriese ryk. In 722/1 neem hulle Samaria in en voer die inwoners van die Noordryk in ballingskap. Alhoewel Juda nie sy onafhanklikheid verloor het nie, was die Suidryk tog vanaf 733-622 ‘n vasaalstaat van Assirië.

Selfs net met ‘n vlugtige lees van hoofstukke 40-55 word dit vir die leser duidelik dat hierdie hoofstukke hoofsaaklik betrekking het op die tydperk van die Babiloniese ballingskap, asook die tyd van die Persiese heerskappy (6e-5e eeu). In 609 het die Babiloniërs die Assiriërs vanaf die wêreldtroon onttroon (Woordwyser 2006). In 587/6 het Nebukadnesar Jerusalem ingeneem en die tempel in puin agtergelaat. Die huis van Dawid was ook nie meer op die troon nie. Groot dele van die elite van die bevolking is weggevoer in ballingskap. Diegene wat agtergebly het, was elke dag gekonfronteer met die puin, ruïnes en wanhoop van die daaglikse bestaan.

Babilonië het egter nie lank die politieke toneel oorheers nie. Vanaf 550 het die mag van die Perse dag vir dag toegeneem. Teen 539 het hulle finaal die mag van Babilonië gebreek. In 539 word Babel ook deur Kores, die Persiese heerser, se leërmagte ingegeneem. Die skrywer van Deuterojesaja was deeglik bewus van hierdie gebeure. Kores speel dus ‘n belangrike rol in die boodskap van hierdie boek. Die lyding van die Judese bevolking was ‘n belangrike tema vir die skrywer van hierdie boek. Heelwat mense het in wanhoop verval. Daarom bring die skrywer van hierdie boek vir hulle ‘n troosboodskap. Daarom verkondig hy dat die uitkoms hier is (40:1). ‘n Goeie tyding moet vir Jerusalem gebring word dat die tyd van swaarkry verby is. Daar word aangekondig dat die Here nou iets nuuts gaan doen (43:19).

Ons vind die kulminasie punt van die groter literêre eenheid (42:14-43:21), wat handel oor die volk se tog deur die woestyn oppad terug na die land Juda, in hierdie betrokke teksgedeelte (43:14-21). Dit kan in twee onderafdelings verdeel word; elkeen word ingelei deur die boodskapperformule “so sê die Here” (vv 14; 16). Verse 18-19a vorm die kern van hierdie teks: daar word duidelik vir Juda gesê hulle moenie net aan die vroeëre dinge dink nie, want die Here sal iets nuuts doen. Na die formele aankondiging dat God by magte is om Israel se bevryding tot stand te bring (vv 8-13), volg die formele aankondiging van die uittog (43:14-21). Die pad wat deur die woestyn voorberei gaan word, mag dalk ooreenkomste toon met die pad wat die Here eens deur die see drooggelê het (Eks 14-15), maar tog is dit so nuut dat dit eintlik geen sin het om terug te dink aan die ou uittog nie. Daaruit gaan nou iets heeltemal nuuts ontspring. Daarom sal Israel met lofsange tot God daarop moet reageer.

Daar word dus teologies nuut oor hierdie gebeure nagedink. Op sodanige wyse kry die uittog uit die land van onderdrukking (Babilonië) ‘n totaal nuwe interpretasie. Alhoewel die profeet dit wel met die eerste uittog vergelyk, stel hy dit eintlik in die plek daarvan. So word die uittog uit Babel eintlik ‘n nuwe basis vir die verhouding wat tussen Jahwe en Juda bestaan. Die verhouding wat dus reeds tussen hulle bestaan het, word hiermee opnuut bevestig.

 

2. Homiletiese wenke

In ‘n preek oor hierdie gedeelte is dit uiteraard baie belangrik om iets van die historiese agtergrond vir die gemeente te skets. Dit sal die noodsaak aan, en die impak van die troosboodskap duideliker maak. Verse 14-15 word ingelei deur die boodskapperformule (“so sê die Here)”; daarna word dit in himniese (lof) styl verder uitgebrei. Belangrik is die beklemtoning van die feit dat die gebeure wat besig is om plaas te vind, tot voordeel van Israel sal wees. Hierdie gedeelte word afgesluit deur die verwysing na Jahwe as skepper en koning van Israel. Dit is teologies ‘n baie belangrike uitspraak: dit kombineer die konsep van Jahwe as redder /verlosser (v 14) en as die Skepper (v 15) – beide is teologiese konsepte wat gekoppel kan word aan Jahwe as Koning.

Verse 16-21 word weereens ingelei deur die boodskapperformule, wat gevolg word deur verwysings, in himniese styl, na die Eksodus (vv 16-17). Israel word dan die opdrag gegee om nie meer voortdurend te fokus op die vroeëre dade van God nie: hulle moet eerder fokus op die “hier en nou” – op dit wat God nou nuut gaan doen (vv 18-19). Die Eksodus-motief word wel hier gebruik om na die wonderdade van God te verwys, en dit in herinnering te roep.. Die fokus is egter op gebeure en handelinge wat in die “hier en nou” aan’t gebeur is.

Die liturg behoort die feit te beklemtoon dat God hier iets nuuts gaan doen met ‘n nuwe doel. Hy/sy sou dus die gemeente se aandag daarop kon vestig dat ons ook in ons konkrete konteks, die “hier en nou”, bewus kan word van God se handelinge in ons lewe.

 

3. Bibliografie

Berges, U 1998. Das Buch Jesaja. Komposition und Endgestalt. Freiburg: Herder (HBS 16).

Beuken, W A M 1979. Jesaja deel IIA. Nijkerk: Callenbach (POT).

Watts, J D W 1987. Isaiah 34-66. Waco, Texas: Word Books (WBC 25).

Share this / Deel hierdie: