Tema: Dit is Jahwe wat die rots in ‘n fontein verander

Teks: Psalm 114:8

 

1.         Eksegetiese riglyne

Gattungsgeschichtlich kan Psalm 114 as ‘n himne beskou word. Volgens Gunkel (1926:493-494) lyk dit egter asof die digter hom nie streng aan die normale vorm van die himne gehou het nie, aangesien hierdie psalm geen inleiding bevat waarin daar ‘n oproep tot lof is nie.

Die psalmteks kan in vier strofes verdeel word, naamlik 1-2; 3-4; 5-6; 7-8 (Zenger 2005:1172). Vers 1 is parallel opgebou: “Israel uit Egipte” // “huis van Jakob uit ‘n volk met ‘n vreemde taal”. Hieruit sien ons dat “Israel’ en “huis van Jakob” dieselfde betekenis het, en dat laasgenoemde frase eintlik ‘n poëtiese manier is om na “Israel” te verwys (Van der Ploeg 1974:270). Sintakties bestaan daar ‘n onlosmaaklike band tussen vers 1 en vers 2: vers 1 is ‘n bysin, terwyl die hoofsin eers in vers 2 voorkom. Verder kan opgemerk word dat die verskillende name vir die volk in hierdie twee verse chiasties gerangskik is: Israel/huis van Jakob // Juda/Israel).

Vers 3 verskil van die vorige verse deurdat ons hier ‘n nuwe subjek het, naamlik die see (Prinsloo 2000:236). Daar bestaan ‘n noue verbintenis tussen die verse 3-4 – hulle vorm dus strofe II. Beide verse het betrekking op die reaksie van die natuur op die Heilsgeschichte, dit wil sê op die direkte ingrype van Jahwe ter wille van sy volk (vv 1-2). In die twee helfte van vers 3 word die Jordaan gepersonifieer – dit verwys hier waarskynlik na die intog in die beloofde land (Josua 3-4). In vers 4 tref ons ‘n parallelisme aan, asook personifikasie in beide helftes van die versreël. Die berge en die heuwels huppel. Volgens Van der Ploeg (1974:271) dui hierdie vers daarop dat selfs die natuur in beweging kom wanneer God handel. Dit blyk dus dat die natuurelemente in rep en roer is en anstig die vreesaanjaende koms en ingrype van Jahwe afwag. Die grootste natuurlike struikelblokke wat tydens die eksodus en die intog deur die Israeliete teëgekom is, gee pad voor die optrede van Jahwe. Die see slaan op vlug, die Jordaanrivier begin selfs stroom-op vloei. Die berge en heuwels, simbole van stabiliteit en onbeweeglikheid, begin bokspring.

Beide verse 5-6 verskil van die voorafgaande, in die sin dat hulle met ‘n dramatiese retoriese vraag begin. Hierdie word hulle aanmekaar gebind en vorm sodoende ook ‘n strofe (III). Die ooreenkomste tussen hierdie twee verse, en die voorafgaande twee (vv. 3-4), is opvallend wat inhoud betref. Tog is daar ‘n verskil. Deur middel van hierdie retoriese vrae word uitdrukking gegee aan die ontsteltenis van die natuurelement, asook onderstreep hulle hulpeloosheid teenoor Jahwe (Allen 1983:105). Die funksie van die retoriese vraag is om die kontras tussen Jahwe en die natuurmagte te beklemtoon. Jahwe word geteken as die Almagtige – op hierdie gedagte word dan ook doelbewus in die volgende twee verse (7-8) ingegaan – terwyl die natuurmagte as hulpeloos voorgestel word.

Die twee vershelftes van vers 7 bevat ook ‘n parallelle konstruksie (soos dit die geval is in die hele psalmteks): “voor die Here // voor die God van Jakob”. So ook tref ons in vers 8 ‘n parallelle konstruksie aan: “Hy wat die rots in ‘n waterpoel verander het // die harde klip in ‘n fontein”. Hier in vers 8 is daar ‘n verwysing na die omswerwinge in die woestyn – spesifiek na die geleentheid waar Moses op bevel van die Here water uit die rots laat kom het (vgl Eksodus 17:1-7; Num 20:1-13; Deut 8:15). Dit dui waarskynlik ook op die feit dat Jahwe die woestyn in ‘n paradys sal omskep tydens die tweede Eksodus van Israel uit die Babiloniese ballingskap (vgl Jes 43:20; 48:21; 49:10) (Zenger 2005:1172). Hierdie vers beklemtoon Jahwe se almag soos dit in sy liefdevolle houding teenoor Israel na vore kom.

 

2.         Homiletiese wenke

Psalm 114 is ‘n gedig wat die Heilsgeschichte van Israel met artistieke vaardighede beskryf (Zenger 2005:1172). Die digter fokus op sleutel-elemente van hierdie geskiedenis. Die digter gee dus teologiese betekenis aan die heilsgeskiedenis in ‘n hoogs gekonsentreerde vorm. Hierdie psalmteks kan tereg as ‘n poëtiese herinterpretasie en aktualisering van die heilsgeskiedenis beskryf word.

In die eerste strofe (vv 1-2) word die uittog as die beginpunt van die heilsgeskiedenis aangedui. Dit is daardie gebeurtenis wat (teologies gesien) Israel God se volk laat word het, of anders gestel: daardie gebeure moet as die beginpunt van die Jahwe-godsdiens beskou word (Albertz 1992:76vv). Om die beklemtoning van Jahwe se liefdesdade aan Israel verder te versterk, word Israel en Egipte in hierdie verse in teenstellende terme beskryf. Israel is die volk waaroor Jahwe regeer, terwyl Egipte ‘n volk is met ‘n vreemde taal.

In die tweede strofe (vv 3-4) word beide die uittog en intog gebeure dramaties voorgestel as die reaksie van die gepersonifieerde natuurelemente teenoor die heilsgeskiedenis. Beide die natuur en die geskiedenis getuig dus van die grootheid van Jahwe, wie se almag beklemtoon word wanneer dit met die hulpeloosheid van die natuurelemente gekontrasteer word (Prinsloo 2000:243).

Die derde strofe (vv 5-6) is nou aan die voorafgaande verbind. Dit word egter deur die retoriese vraag ingelei; waarop ‘n antwoord uiteraard nie nodig is om te gee nie. Dit blyk duidelik uit die teks self. Die reaksie van die natuur is ‘n logiese gevolg van die ingrype van Jahwe in die geskiedenis. Die retoriese vraag beklemtoon Jahwe se almag teenoor die ondergeskiktheid van die natuur.

Die ontknoping vind in die vierde strofe (vv 7-8) plaas. Die klem word hier volledig geplaas op die handelinge van Jahwe. Dit is Jahwe wat die onmoontlike kan doen deur ‘n ondringbare rots in ‘n fontein te verander. Hierin verkry die psalm sy hoogtepunt en ontknoping.

Deur die geskiedenis op hierdie manier te interpreteer, fokus die gedig hoofsaaklik op een gedagte, naamlik dat God in volle beheer van die geskiedenis is, en dat Hy dit wat vir die mens onmoontlik lyk, kan vermag. Op grond hiervan kan Psalm 114 as ‘n oorredende teks bestempel word. Dit kon in tye van swaarkry funksioneer, in tye waarin die geloof van die volk op ‘n laagtepunt was, en veral om hulle te bemoedig en te vertroos.

 

3.         Bibliografie

Albertz, R 1992. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit. Teil I: Von den Anfängen bis zum Ende der Königszeit. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht (Grundrisse zum Alten Testament: Ergänzungsreihe Band 8/1).

Allen, L C 1983. Psalms 101-150. Dallas, Texas: Word Books (WBC 21).

Gunkel, H 1926. Die Psalmen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Prinsloo W S 2000. Die lof van my God solank ek lewe. Irene: Medpharm Publikasies.

Van der Ploeg, J P M 1974. Psalmen. Deel II. Roermond: J.J. Romen & Zonen-Uitgevers (BOT).

Zenger, E 32005. Die Psalmen, in E Zenger (Hg.), Stuttgarter Altes Testament. Einheitsübersetzung mit Kommentar und Lexikon, 1036-1218. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.

Share this / Deel hierdie: