Opgedra aan Erich Zenger)

 

Posisie in Kanon

In ons Afrikaanse Bybel kom die boek Rut taamlik vroeg aan die beurt: net na Rigters, en net voor 1 Samuel. In terme van die chronologiese vloei van die verhale in die Ou Testament maak dit heeltemal sin: Rut 1:1 begin met die woorde ‘In die dae toe die rigters regeer het …’ en eindig met die geslagsregister van koning Dawid (Rut 4:18-22). Die boek Rut vorm dus ‘n logiese brug tussen die verhale van die rigters vóór die koningstyd tot by die tyd wanneer die monargie aanbreek.

   Maar die Hebreeuse Bybel volg ‘n ander logika. Die boek Rut word geplaas nader aan die einde, in die derde gedeelte van die kanon, daardie gedeelte wat as die megillot – of Feesrolle – bestempel word. Daar is altesaam vyf rolle wat telkens tydens een van die groot Joodse feeste gelees word:

Hooglied // Pasga;

Prediker // Loofhuttefees;

Klaagliedere // tish’a be’av – op die 9e van maand Av, ter herdenking van die vernietiging van die eerste en die tweede tempel;

Ester // Purim;

Rut // Pinkster.

   Hoekom sou Rut dan nou juis tydens Pinkster gelees word?

   Rut en Naomi het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes (Rut 1:22c), die oes wat tradisioneel geassosieer word met die oes wat in Levitikus 23:15-22 en Numeri 28:26-31 beskryf word.

 

‘n Verhaal van gee, van liefde, van brood

Gee’, ‘liefde’ en ‘brood’ is drie kragtige sleutelwoorde wat help om die boek Rut te ontsluit. Maar alles begin op ‘n donker noot. Daar is geen brood nie, net hongersnood. Vir Naomi word niks gegee nie, alles word weggevat – sy verloor haar man en haar seuns. Van die Here ervaar sy geen liefde nie, om die waarheid te sê, Hy het haar lewe bitter net gemaak. Naomi se hele bestaan word deur alle kante deur die dood bedreig.

   Maar dan kom ‘n onverwagte gee: Naomi verneem dat Jahwe sy volk weer besoek het deur vir hulle brood te gee en slegs op hoorsê besluit sy om terug te keer na Betlehem [letterlik ‘huis van brood’]. Sy koester egter geen hoop om ‘n nuwe bestaan daar te voer nie, sy is nie meer jonk nie en sy sien nie regtig ‘n toekoms nie. Eintlik wil sy maar teruggaan om in haar geboorteland te gaan sterf. 

   En dan, in Naomi se donker lewe wat in die teken van die dood staan, kom Rut. Rut, die Moabitiese. Teen haar gesonde verstand neem sy ‘n onlogiese, selfs onverantwoordelike besluit: om saam met haar skoonmoeder na ‘n land te gaan waar sy nie slegs as vreemdeling nie, maar selfs as vyand bejeën sal word. Die rede vir hierdie dwase optrede lê in ‘n allesoorheersende en onbaatsugtige liefde vir haar skoonmoeder. Maar juis in ‘n spontane handeling wat logies gesproke geen sin maak nie, word die eerste saad van hoop geplant. Wanneer Rut haarself gee, gebeur liefde, en liefde wek hoop. Aan die einde van hoofstuk 1 kan Naomi dit nog nie sien nie, maar hierdie tema word al hoe sterker in die volgende hoofstukke uitgewerk.     

   Vervolgens ontmoet ons Boas. Die scenario in die tweede hoofstuk vertel ‘n storie oor wat in Levitikus 23:22 geskryf staan: die Here het aan sy volk opdrag gegee om are wat van die lande afgeoes word, vir die armes en vreemdelinge te los. Maar vreemdelinge het heelwaarskynlik betrekking gehad op vreemdelinge vanuit die Judese geledere. Boas radikaliseer as’t ware hierdie opdrag met ‘n verdere gee: vir Rut, wat eintlik as vyand kwalifiseer, moet sy werkers doelbewus are laat val sodat sy meer as genoeg kan optel. Boas is ‘n toonbeeld van welwillende liefde. Gee word brood: Rut eet gebraaide koring saam met Boas en die werkers (2:14), en daarna gaan sy huis toe en deel met Naomi waarvan sy ook geniet het (2:18).

    ‘n Groot waagstuk volg. Rut moet haarself weer gee, maar hierdie keer vir Boas. Hierdie ‘gee’ is anders as die ‘gee’ vir Naomi in hoofstuk 1. Toe het sy geen verwagtinge gekoester nie, nou is die ‘gee’ allesbepalend vir die toekoms van die twee weduwees. Liefde het in hierdie hoofstuk onmiskenbare erotiese ondertone: eers moet Rut haarself amper soos ‘n bruid voorberei (3:3) en dan doelbewus die man verlei (3:4). Dis dan ook presies wat die nag op die dorsvloer gebeur (3:8-13)! Tot almal se verligting werk die plan: Boas is bereid om as go’el – losser – op te tree. Die nadere losser kan miskien nog ‘n stok in die wiel steek, maar die vlam tussen Boas en Rut brand sterk genoeg om Boas ten minste te wil laat baklei!

  Alles loop goed af. Boas koop die grond van Naomi en neem ook Rut as vrou. Die finale gee kom weereens van die Here: hierdie keer nie brood nie, maar swangerskap vir Rut (4:13). Brood neem nou dimensies aan van versorging in terme van ‘n losser en ‘n nageslag. Die feit dat hierdie nageslag groot koning Dawid insluit, beklink die seën van die Here op ‘n familie wat op die rand van uitsterwing gestaan het. Die Here se gee van brood word uiteindelik voltrek deur mense wat liefde en brood vir mekaar gee.           

 

Slot – ‘n boek van hoop       

Die boek Rut is ‘n klein boekie van besondere welwillendheid en medemenslikheid. In Naomi se donker poel van hopeloosheid, gooi Rut die eerste klein klippie van hoop, en dit kring uit met sirkels van hoop wat die stoutste verwagtinge van die twee weduwees oortref.

   Alhoewel die verhaal in ‘n vroeë tyd van Ou-Israel se geskiedenis afspeel, word die finale gestalte van die boek betreklik laat gedateer. Na die ballingskap was gemengde huwelike – veral met vreemde vroue – ‘n belangrike kwessie, en moontlik wil die boek Rut in gesprek tree met die eksklusiewe beleid van skrywers soos Esra en Nehemia.

   Daar is egter geleerdes – soos Zenger – wat hierdie boek so laat soos die Hellenistiese tyd dateer. Dit was ‘n baie spanningsvolle tyd in die geskiedenis en die Judese gemeenskap het gedreig om uitmekaar te skeur. Die eenvoudige verhaal van Rut wil solidariteit binne ‘n verbrokkelende samelewing aanmoedig. Daarom vertel dit ‘n verhaal wat met wanhopige omstandighede begin. Dit vertel van onlogiese lojaliteit en ondersteuning. Dit vertel van selflose liefde wat oor grense heen strek. En deur hierdie soort onvoorwaardelike ondersteuning en samewerking, word ‘n verhaal van wanhoop omskep in ‘n verhaal van hoop.

   Dit is die kragtige boodskap van die klein boekie Rut – nie net vir die oorspronklike lesers nie, maar ook vir ons vandag.        

 

Kommentaar:

Zenger, Erich 1986. Das Buch Ruth. Zürich: Theologischer Verlag.

 

Lees ook:

Fischer, Irmtraud 2001. Rut. Freiburg: Herder.  

Frevel, Christian 1992. Das Buch Rut. Stuttgart: Verlag Katholosches Bibelwerk GmbH.

Share this / Deel hierdie: