Geagte prof Dreyer, broeders en susters, baie dankie vir die voorreg om by ‘n uitgelese geleentheid soos hierdie iets te probeer sê oor die tema: missionale gemeentes. Ek wil dan ook sommer met die deur in huis val en begin by die  begrip self.

Omdat die regte verstaan van die begrip missionaal  so belangrik is, moet u my toelaat om vooraf enkele inleidende opmerkings te maak oor hoekom juis hierdie begrip gebruik word.

Soos die meeste van u waarskynlik bewus is het die Kommissie van die AKV in opdrag van die laaste Algemene Kerkvergadering ‘n komitee aangewys met die opdrag: die ontwikkeling van missionêre gemeentes.

Hierdie komitee het verskeie kere gedurende 2008 vergader om te besin oor hoe hierdie opdrag die beste uitgevoer sou kon word.

Die komitee het uiteindelik besluit dat hierdie opdrag die beste uitgevoer sal kan word indien daar ‘n omvattende strategie daargestel word en ook as gepoog word om sover moontlik die Kerk as geheel betrokke te kry. Die strategie moet egter nie verstaan word in die sin van ‘n voorskrif vir lidmate en gemeentes nie. Die strategie fokus eerder op die uitnodiging aan lidmate en gemeentes, waarvan daar al heelwat is, wat daartoe geroep word om georganiseerd onder leiding van entoesiastiese kundiges aan die uitvoering van die Algemene Kerkvergadering se opdrag deel te neem.

Die basis van hierdie strategie was om van meet af die fokus van die opdrag te verskuif van die ontwikkeling van missionêre gemeentes na die ontwikkeling van missionale gemeentes. Dit is ook so aan die Kommissie van die AKV gekommunikeer. Hierdie fokusverskuiwing is baie belangrik. Met hierdie verskuiwing  wil die komitee die noodsaaklikheid van ‘n hartsverandering ten opsigte van die apostolaat in die NHKA beklemtoon. Om verskeie redes heg sommige lidmate in die NHKA ‘n negatiewe konnotasie aan begrip missionêr. Negatief gesien, is hierdie negatiwiteit miskien toe te skryf aan ‘n oorblyfsel van Hervormers se onaangename ervaring van die sending- en politieke geskiedenis in Suid-Afrika. Minder negatief gesien, is dit miskien eerder so dat ons in die NHKA gewoond geraak het dat sending nie in die eerste plek deur die lidmaat self beoefen word nie, maar deur ‘n rings- of sinodale raad namens die individuele lidmaat. Dit wil dus voorkom asof die begrip “missionêr” iets kommunikeer van “wat ons bereid is om daar ver te doen met wat ons oor het“. Dit was daarom nodig dat daar van meet af ‘n onderskeid in begrippe gemaak sou word. Net soos daar in die dialektiese teologie ‘n onderskeid tussen die terme eksistensieel en eksistensiaal getref word, kan daar ook tussen die begrippe missionêr en missionaal ‘n onderskeid getref word. “Eksistensiaal” en “missionaal” beklemtoon ‘n eie beslissing wat mense self in hulle hart maak. “Eksistensieel” en “missionêr” het betrekking op ‘n aksie sonder dat die dader noodwendig sy of haar hart belê het in die saak wat deur die aksie geraak word. Met die term missionaal hoop die komitee dus om die boodskap te kommunikeer van ‘n hartsverandering wat getuig van “hoe ons ‘n verskil maak met wat ons is waar ons is.” Die komitee is oortuig dat eers wanneer die eie hart met oortuiging deur die Gees en die Woord geraak is, kan die evangelie uitkring vanaf die Gees-gevulde, begenadigde gelowige na die wye wêreld. Die implikasie hiervan is dat missionale werk dus voortaan nie net bloot die werk van ‘n komitee (of die Raad vir Apostolaat, of die Raad vir Ekumene of AIM) is nie, maar van die lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Daaroor sê ek later meer.

Die Komitee vir die vorming van Missionale Gemeentes het verder ook versoek dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering per formele besluit as die beskermheer van die missionale strategie van die NHKA sal funksioneer, in die besonder die voorsitter en die administrateur. Beide is op die  komitee gekoöpteer en het aktief aan die komitee se beplanning en werksaamhede deelgeneem. Die implikasie van so ‘n formele besluit is ook baie belangrik aangesien dit die duidelike boodskap kommunikeer dat hierdie missionale strategie nie bloot die inisiatief van enkele lidmate in ‘n sinodale komitee is nie, maar dat dit vanuit die hart en sentrum van die NHKA self kom.

Die komitee was uit die aard van die saak van meet af bewus van hoe moeilik die uitvoering van die opdrag is om missionale gemeentes te vestig. Daarom het die komitee ‘n omvattende strategie daargestel wat onder meer die volgende insluit.

Gereelde terugvoering aan die tersaaklike rade en instansies, inisiëring en koördinering van gesprekke op verskillende vlakke en tussen die verskillende rolspelers (so is die dosente, die bestuur van die predikantevergadering, ander komitees en rolspelers reeds betrek), gereelde skakeling met die opsig liggame, die reël van werkswinkels en opleidingsgeleenthede, die vestiging van kommunikasie in en aan die kerk by alle vergaderings en tussen alle rolspelers, die toerusting van lidmate, die hele kwessie van kurrikulering, praktykvorming, opleiding, verdere opleiding, die daarstelling van fasiliteerders vanuit eie geledere en so meer.

Nou is dit natuurlik ook so dat die komitee hierdie opdrag teen ‘n bepaalde agtergrond ontvang het wat op sy beurt weer ‘n bepaalde dringendheid verleen aan die uitvoering van die opdrag wat die Kerk ons gegee het. Afgesien daarvan dat dit hier gaan oor ‘n wesenskenmerk van die Kerk dwing die agteruitgang van die Kerk in Weste ons ook om baie ernstig oor Kerkwees te besin. In ‘n resente publikasie uit die Lutherse wêreld verwoord Graig van Gelder iets wat algemeen voorkom in die Westerse kerkwêreld. Hy skryf ten opsigte van die Lutherse Kerke in die VSA: “It is no longer possible for congregations in the United States to conduct business as usual. As a result, many historical denominations are now in serious decline” (2007:1).

Wim Dreyer se navorsing in ons eie Kerk bevestig dit. Wim sê, talle nasionale kerke, volkskerke of staatskerke regoor die wêreld is besig om vinnig lidmate te verloor. In meeste lande bestaan die tradisionele “hoofstroom” kerke nog net as klein minderheidsgroepe. In SA (en spesifiek die NHKA) is dieselfde tendens waarneembaar. Benewens die lidmate wat die Kerk verlaat (hetsy deur emigrasie, deur na ander kerke oor te gaan, of gewoon buitekerklik word), is die demografiese profiel van die Kerk ook uiters negatief, met talle gemeentes wat rapporteer dat die gemiddelde ouderdom van lidmate 50 jaar en ouer is. Wim voorsien dat hierdie tendense, asook die tekort aan predikante binne die afsienbare tyd, (indien die tendens voortgaan soos tans, binne die volgende 25 jaar) ‘n inploffing van lidmaatgetalle gaan veroorsaak wat baie tragiese gevolge vir die Kerk, soos dit tans funksioneer, op alle vlakke inhou

Dit bring ons by ‘n  baie belangrike vraag: wat kan verwag word in so ‘n situasie waar die NHKA toenemend beduidend kleiner word? Wim sê op grond van sy navorsing en ek haal aan: “waarskynlik kan die volgende verwag word: Die era ( en die ideaal) van ‘n gemeente met sy eie volversorgde predikant op elke dorp en in elke woongebied met ander woorde, die klassieke volkskerk model, is iets van die verlede. Die tradisionele herder/kudde gemeente gaan al meer onder druk kom. Daarmee saam sal die tipiese Reformatoriese identiteit en bedieningstrukture bepaalde veranderings ondergaan.

 

(i)                 Gemeentes sal waar nodig saamsmelt en makrogemeentes vorm (sentralisasie) met die gepaardgaande tot niet gaan van omringende gemeentes;

(ii)               of mikrogemeentes (desentralisasie), met die gepaardgaande proliferasie van groepe.

 

Maar dan wys hy daarop dat indien hierdie laaste scenario realiseer dit uiteraard baie groot uitdagings aan die kerk stel in terme van opleiding van lidmate asook ‘n radikale hervorming in kerkbegrip en kerkpraktyk.

 

Indien beide strategieë gevolg word (sentralisasie en desentralisasie) het dit die volgende implikasies:

(i)                 Gemeentes sal waar nodig saamsmelt.

(ii)               Op die platteland kan gemeentes van verskillende kerke saamsmelt en bediening deel.

(iii)              Teologiese opleiding, barmhartigheidswerk en ander dienste sal linterkerklik plaasvind.

(iv)             Op die makrovlak is die samesmelting van kerke ‘n moontlikheid.

(v)              Omgekeerd, indien die strategie van desentralisasie gevolg word, kan klein gemeentes (huisgemeentes soos waarvan ons lees in Rom 16:5 en Filemon 2 onder leiding van ouderlinge en lidmate funksioneer.

(vi)             As bogenoemde realiseer het dit die implikasie dat die “professionele” predikant obsoleet word. Beskikbare predikante sal dus  waarskynlik baie aandag moet gee aan die opleiding en toerusting van lidmate.

(vii)           Die NHKA sal sy pastorale bedieningsmodel moet hervorm tot ‘n omvattende missionale bedieningsmodel

(viii)          Die tradisionele  teologiese opleiding sal ingrypend moet verander, aangesien predikante van die NHKA tans nie in staat is om in ‘n missionale omgewing te funksioneer nie (ek sal later hieroor meer probeer sê).

 

Hoe ‘n mens ookal na ons posisie en toekoms kyk, een ding is duidelik. Ons bevind ons tans in ‘n ernstige krisis wat van ons niks minder as ‘n kerkhervorming vra nie, verskeie navorsers praat selfs van  ‘n radikale kerkhervorming. Wat dit alles beteken sal vanselfsprekend nie in die bestek van ‘n geleentheid soos hierdie in detail behandel kan word nie. Ek wil egter baie kort vir u lees wat die NHKA se siening van Kerkhervorming in hierdie sin is soos dit staan in die verslag van die Raad vir apostolaat wat voor die laaste AKV gedien het: “Die NHKA as Reformatoriese Kerk, moet homself voortdurend na die eise van die Woord hervorm. Dit impliseer hervorming van die Kerkorde, bediening, gemeentepraktyk, liturgie en so meer. Die Raad vir apostolaat het aandag gegee aan die hervorming van die NHKA tot ‘n Kerk wat sy missionêre roeping uitleef. Die NHKA is oor die algemeen baie na binne gerig. Predikante, kerkrade en gemeentelede spandeer baie min tyd aan evangelisasie en sending. Kerkhervorming beteken in kort, dat gemeentes ‘n missionêre lewenstyl moet ontwikkel. Erediens, pastoraat, diakonaat en apostolaat moet in elke gemeente interafhanklik funksioneer, gefokus daarop om nie net bestaande lidmate te bedien nie maar ook buite- en randkerklikes.”

Die meeste navorsers sien die krisis waarin die Kerk haarself bevind as, onder andere, ‘n leierskapskrisis. Ons bevind ons in ‘n posisie waar ons, en verskoon die Engels, adaptive challenges in die gesig staar wat ‘n bepaalde wyse van leierskap verg om ons deur die kompleksiteite van die 21ste eeu te lei. Leierskap in hierdie sin moet verstaan word as leierskap op alle vlakke in die Kerk. Sinodaal, ringsgewys, en op gemeentelike vlak.

Nelus Niemand skryf in Nuwe drome vir nuwe werklikhede (2007:52): “Dit help ‘n mens as jy iets van die verskil tussen tegniese verandering en aanpasbare verandering (adaptive change) verstaan. Kortliks kom dit daarop neer dat tegniese verandering die proses van geleidelike innovasie is – die verbetering word stuk vir stuk aangebring om iets fyner in te stel en al beter te laat werk. Dit beteken dat die oplossing van probleme wat ondervind word, steeds binne die vermoë van die instelling is, al verg dit ‘n besondere groot inset. Die oplossing is ook belangrik sodat die instelling kan aangaan met die daaglikse instandhouding van die instelling self.

Aanpasbare verandering aan die ander kant verg skeppende innovasie. Dit is diep verandering wat niks onaangeraak laat nie. Dit gaan uit van die oortuiging dat die oplossing buite die bestaande vermoë is omdat die instelling verandering of die dood in die gesig staar. Die oplossing is dus krities vir die toekoms en bevraagteken die instelling se vermoë om hoegenaamd die saak te kan oplos. Uiteindelik is aanpasbare verandering om beheer prys te gee.” Nelus sluit by Michael Schrage aan wat praat van hiper-innovasie – aanpassing en vernuwing by nuwe uitdagings wat hipervinnig plaasvind en organisasies ‘n strategiese voordeel gee.

Nelus meen dat missionêre kerke die moedige innoveerders is wat ‘n nuwe era inlui deur aanpasbare veranderings aan te bring en nie bloot te volstaan met tegniese veranderings nie. Die ontluikende kerke sê hy, het die eerste tree gegee, maar daar is ook ander gemeentes (selfs lede van hoofstroomkerke) wat aan die begin staan van ‘n wesentlike verandering in hulle manier van kerkwees. Hulle is besig met ‘n kultuurverandering! Hulle het ‘n aptyt vir eksperimenteer juis omdat hulle besef hulle beskik nie oor al die vermoëns om die uitdaging die hoof te bied nie. Die geheim is hulle waagmoed.

Die vraag is natuurlik nou wat bedoel word met kultuurverandering. Die begrip kultuurverandering in hierdie sin verwys na wat Robinson (2003:12) noem “the  thick network of symbols, language, and behaviours that characterise and define human community”.

Kultuur in hierdie sin het betrekking op die onderliggende aannames en oortuigings wat lede van ‘n organisasie deel en wat gewoonlik onbewustelik werk. Hierdie onuitgesproke aannames word aangeleer, dikwels oor lang periodes en kom uit ondervindinge van ‘n spesifieke groep wat hulle uiteindelike bestemming moes verken en wat baie uitdagings die hoof moes  bied.

Voordat hierdie onderliggende aannames van ‘n kerk/gemeente nie verstaan, ontwikkel, en waar nodig stelselmatig verander word nie, sal blote restrukturering of  programmatiese verandering min of meer so effektief wees as om die stoele op ‘n sinkende Titanic se dek te herrangskik.

Navorsers is dit eens. Programmatiese verandering in gemeentes wat vandag sinvol en effektief wil bestaan is nie meer voldoende nie. Restrukturering is selfs  nie meer voldoende nie. Wat vereis word  is niks minder nie, as: ‘n Totale, radikale kerkhervorming.

Dat die NHKA dit besef. Met ander woorde dat daar ‘n ingrypende hervorming van die tot nou toe bestaande kultuur, moet plaasvind sien ons onder andere uit die verslag van die Raad vir apostolaat wat voor die laaste AKV gedien het. Die komitee vir die vorming van missionale gemeentes sien en hanteer daardie verslag as die Kerk se amptelike apostolaatsbeleid. Die volgende belangrike kopskuiwe as ek dit so mag noem,  kom uit hierdie verslag na vore.

Die eerste belangrike skuif in die Kerk se denke is dat apostolaat voortaan holisties en geïntegreerd gedoen moet word. Dit beteken dat, en ek haal uit die verslag aan (2007:63-65): “… die beleid van skeiding tussen evangelisasie en sending (om ‘n voorbeeld te noem) nie meer van pas is nie. Die feit dat die Kerk vir baie jare die interafhanklikheid van verskillende bedienings misgekyk het en alles in selfstandige entiteite en kompartemente opgebreek het (ook aan die hand van die jaarverslae), het die voortgang van die apostolaat belemmer.

Elke gemeente, en die Kerk as geheel, behoort ‘n holistiese, geïntegreerde en omvattende benadering en beleid tot die apostolaat te handhaaf. Die eredienste van gemeentes, die diakonaat, pastoraat en gemeente-ontwikkeling het alles te doen met die apostolaat en omgekeerd.

Dit is veral belangrik dat die kerklike diakonaat en apostolaat geïntegreerd funksioneer. Die apostolaat van die kerk kan ook in terme van dienshandelinge omskryf word. As alle mense, die armes en die rykes, die siekes en die gesondes, die teiken van die sending-ywer van die kerk is, behoort die apostolaat ‘n diensfokus te kry.

Deur hierdie diens word die Kerk God se dienskneg in die wêreld. Die eerste Konteks vir 2009 se voorblad en voorblad-artikel en agterblad kommunikeer hierdie visie van die Kerk baie treffend en sterk. Dit herinner aan die opdrag om te leef op so ‘n wyse dat die mense (die wêreld) ons dade sal sien en ons hemelse Vader verheerlik (Matt 5:16).

Nog ‘n betekenisvolle skuif in die kerk se denke soos verwoord in die verslag, is die insig dat gemeentes gestuur is. Dink ‘n oomblik aan die implikasie hiervan. Dis ‘n geweldige kopskuif. Gestuurde gemeentes! Nie enkelinge of net sekere groeperinge in die gemeente nie. Die verslag lui: “Die Kerk het die opdrag ontvang om die blye boodskap in die wêreld te gaan verkondig, sodat mense deur die werking van die Heilige Gees tot bekering kan kom. Apostolaat is dus die verantwoordelikheid van die Kerk. Binne die Reformatoriese tradisie verstaan ons dat die Kerk in die eerste plek die plaaslike gemeente is, waar die lidmate rondom die Woord en die sakramente vergader om die verlossing van Christus te vier. Dit is ook deur die plaaslike gemeente dat lidmate diensbaar word en in die wêreld getuig van die verlossing in Christus. Verder word bekeerlinge en gelowiges in gemeentes opgeneem.”

Dit is dus duidelik dat die apostolaat sy vertrekpunt het in ‘n gemeente se gehoorsame luister na Christus se groot opdrag. Hoewel die primêre fokus van die apostolaat nie die uitbreiding van die Kerk is nie, dit gaan nie in die eerste plek ter wille van die oorlewing van die Kerk nie, dit gaan oor die uitbreiding van God se koninkryk, dit gaan daaroor dat die Kerk sy roeping nakom om die evangelie te verkondig op só ‘n wyse dat dit mense van die 21ste eeu aangryp en tot geloof in Jesus Christus bring, maar dit is tog onteenseglik al oor en oor bewys dat die apostolaat waar gemeentes daarmee erns maak, ook lei tot die groei en vooruitgang van die plaaslike gemeente.

As gevolg van ‘n bepaalde beleid, was 90% van die NHKA se apostolaat in die verlede gesentreer rondom sinodale- en ringsaksies. Dit het meegebring, soos ek reeds genoem het, dat gemeentes min aandag aan die apostolaat gegee het, en sodoende in baie gevalle gestagneer het en selfs begin verval het. Die tyd het aangebreek, dat die fokus van die NHKA se apostolaat verskuif van sinodale- na gemeentevlak. Gemeentes moet aangemoedig word om in vennootskap met ander apostolêr besig te wees.

Die Kerk se huidige beleid is dus duidelik: die ontwikkeling van missionale gemeentes, en hoor mooi,  vorm die basis van die NHKA se apostolaatsbeleid. Hierdie benadering open op sy beurt weer ander opwindende moontlikhede soos die vorming van vennootskappe van gestuurde gemeentes wat mekaar kan ondersteun en uit die aard van die saak bymekaar kan leer. Dit is belangrik om te onthou: buitekerklikes en ongelowiges vind hulle pad moeilik terug na die Kerk en na God. Die pad word soveel moeiliker wanneer gemeentes nie goed funksioneer nie. Gesonde gemeentes, waar mense met entoesiasme die Here dien, is ‘n basiese voorwaarde vir effektiewe apostolaat.

Die apostolaatsverslag sien die pad na gesonde effektiewe gemeentes in hierdie sin ondubbelsinnig: as Kerkhervorming. Dit impliseer ‘n nuwe verstaan van die wese en roeping van die Kerk in die tyd waarin ons ons tans bevind. Die resultaat van hierdie nuwe verstaan moet uitmond in kerkhervorming: Soos dat die Kerk se denke, se kop se praktyk sal skuif: (ongelukkig ontbreek die tyd om oor elke skuif uit te brei)

  • Van selfgesentreerdheid na Godgerigtheid
  • Van oorlewingsingesteldheid na ‘n missionale leefwyse
  • Van ‘n gemeentesentriese – na ‘n koninkryksgerigtheid
  • Van burgerlike godsdiens na deurleefde Christenskap
  • Van liniêre denke tot sistemiese denke
  • Van ‘n vergadering – en organisasiekultuur na ‘n bedieningskultuur.
  • Van programme en aksies na verhoudinge
  • Van lidmate wat verbruikers is na lidmate wat medewerkers word (algemene priesterskap van die gelowiges)
  • Van bydraers na ontvangers wat gee
  • Van uitgawe begrotings na bedieningsbegrotings

 

Die uitgesproke oortuiging van die Raad vir apostolaat is dat die apostolaat net sinvol kan wees, wanneer gemeentes ‘n gesonde en doelgerigte bedieningspraktyk ontwikkel en in staat sal wees om hulle gestuurdheid (wat uit die aard van die saak altyd konteks-gebonde behoort te wees) uit te leef, op so ‘n  wyse dat groei op verskillende vlakke in die gemeente sal plaasvind.

Die Kerk het by die laaste AKV as deel van hierdie apostolaatsbeleid, dan ook aanvaar dat gemeentes toegelaat moet word om op eie inisiatief, met eie verantwoordelikheid en aan die hand van die roeping wat hulle ontvang het gehoorsaam te wees aan die apostolaatsopdrag binne hulle bepaalde konteks.

Die apostolaatsbeleid stel dat dit selfs wenslik is dat eiesoortige gemeentes en geloofsgemeenskappe, met ‘n eiesoortige bediening, gevestig word om post-kerklikes en ander bekeerlinge te akkommodeer wat nie gemaklik voel binne die tradisionele bedieningstrukture van die NHKA  nie. Tot sover die verslag waarin die Kerk se apostolaatsbeleid verwoord word.

Een van die groot probleme wat die Kerk egter al vir te veel jare lam lê, is dat die gedefinieerde subjek en die empiriese subjek te ver uitmekaar lê.  Ons het die mooiste teologie en teorie en beleid, noem dit wat u wil, maar die gemeentelike praktyk bly te dikwels nog uitsluitlik na binne-gerig, lamgelê deur ‘n intense fokus op die oorlewing van die eie gemeente. Om een voorbeeld te noem. Waarskynlik is baie min lidmate, dalk self ook predikante en kerkrade en hele gemeentes salig onbewus van die reuse kopskuiwe wat die Kerk se apostolaatsbeleid adem en word gemeentes steeds lamgelê omdat hulle nie weet wat is die Kerk se visie en wat mag en wat mag nie. Ek glo dat ‘n baie intensiewe kommunikasieproses van die Kerk se amptelike apostolaatsbeleid in die kerk in die nodige kopskuiwe sal uitmond wat hopelik die ontwikkeling van missionale gemeentes sal vergemaklik.

In hierdie hele proses is die rol van leierskap ongelooflik belangrik. Ek kan hier slegs terloops meld dat die komitee ook baie tyd en energie bestee aan die opleiding van predikante met die oog op die daarstelling van fasiliterende leiers vir die Kerk. Hiermee probeer ons ook kapasiteit bou vir die  kantoor van dr Wim Dreyer wat in hierdie hele proses ‘n al hoe belangriker rol sal speel. Maar dit net so terloops. Robinson (2003:19) gaan uit van die veronderstelling dat hierdie tyd met al sy uitdagings juis ‘n uitstekende  tyd is om leiding te gee oor hoe om die aanpasbare uitdagings waarmee die kerk gekonfronteer staan, die hoof te bied. Aanpasbare uitdagings vra in wese ‘n diep geestelike benadering. Dit vra: bereidheid om te leer, egtheid, diepte, neem van risiko’s en verandering. Dit vra dus van ons niks anders, en niks meer as daardie soort werk waarvoor die Woord en die Gees van God ons wil gebruik nie.

Die voorwaarde is net dat ons sal besef dat leierskap ten midde van aanpassings en uitdagings ‘n ander soort leierskap is as wat  meer stabiele tye en instellings vereis. Iemand soos Heifetz onderskei vyf kenmerkende rolle en funksies van leiers. Rigting gee, beskerming, oriëntasie, hantering van konflik en die vasstelling van norme. Robinson toon egter aan, dat terwyl hierdie rolle en  funksies dieselfde bly of ‘n mens nou met aanpasbare uitdagings te doen kry of nie, sal die wyse waarop leiers hulle rol en funksie uitleef in tye soos ons s’n radikaal verander.

In meer stabiele tye of wanneer ‘n leier roetine of tegniese probleme moet hanteer, sal ‘n leier tipies rigting gee deur antwoorde te gee en oplossings te verskaf. Maar tans, te midde van die aanpasbare uitdagings wat ons in die gesig staar, verg leierskap ‘n totaal andersoortige en moeiliker vaardigheid. Die vra van vrae. Soos byvoorbeeld: wat probeer julle as gemeente vermag? Dit is ‘n belangrike vraag wanneer gemeentes aanpasbare uitdagings in die gesig staar. Hoekom is ons as gemeente hier? Wat probeer ons doen? Dit blyk moeilike vrae te wees vir ‘n gemeente met ‘n lang en trotse geskiedenis. Dit gebeur baie maklik  dat ‘n kerk of gemeente met ‘n lang en trotse geskiedenis se Godgegewe missie en doel verlore raak in of verstrengel raak met die instandhouding van die gemeente as organisasie asof dit hulle bestaansdoel is. Instandhouding en oorlewing – en om die bestaande lidmate gelukkig en tevrede te hou – neig om dan om die gemeente se bestaansdoel te word. Enige ander of duidelike begrip van gestuurdheid word sodoende verduister. Dit maak die vra van vrae soveel noodsaakliker om rigting te gee aan die ontwikkeling van ‘n missionale gemeente.

Beskerming – is nog ‘n karakteristieke funksie van ‘n leier. Die rol van ‘n leier is dikwels om ‘n liggaam of ‘n groep teen eksterne bedreiging te beskerm. Leiers te midde van aanpasbare uitdagings sal egter iets anders doen. Hulle sal hulle gemeentes toelaat om wat Heifetz noem, die knyp van die werklikheid te voel. In missionale gemeentes behoort dit tog die lidmate self te wees wat iets aan ‘n bepaalde uitdaging behoort te doen. Sonder ‘n mate van druk, ‘n mate van die knyp van die werklikheid, sal aanpasbare werk nie maklik geskied nie. Waar mense te gemaklik is, en waar alles vir hulle gedoen word word verandering moeilik aanvaar.

‘n Derde funksie van leiers wat meer van ‘n tegniese of roetine aard is, is om mense te oriënteer ten opsigte van hulle rolle en ten opsigte van die verwagtings van die groep en die groep se kultuur. Oriëntasie gaan oor vrae soos: wat  word van ‘n lid van hierdie kerk of hierdie gemeente verwag? In die meeste gevalle word daar slegs van hulle verwag om die erediens by te woon. Nog ‘n vraag is byvoorbeeld, hoe word ‘n mens ‘n lidmaat van die gemeente? Is die proses maklik of baie moeilik? Wat behoort ek te weet van hierdie groep Christene en hoe hulle dinge doen?

Maar, soms veral in tye van aanpasbare verandering, is die rol van ‘n leier juis nie om mense te oriënteer nie, maar te disoriënteer! Dit is om gebruiklike rolle en maniere gewoontes ens te bevraagteken. Dit is om mense te dislodge van hulle gebruiklike en goedbekende rolle (sien Robinson:21).

‘n Vierde rol van leiers is die hantering van konflik binne ‘n groep of ‘n liggaam. Baie leiers in die hoofstroom kerke mag meen dat konflik die slegste ding is wat in ‘n gemeente of kerk kan gebeur. Vir hulle is ‘n goeie gemeente/kerk een waar almal met mekaar oor die weg kom, waar alles seepglad verloop, en waar niemand ooit ontsteld raak nie. Te midde  van aanpasbare verandering sal leiers nie bloot konflik hanteer of probeer blus nie – hulle sal konflik selfs uitlok. Hulle sal dit egter met wysheid doen, terwyl hulle onderskei watter konflik wesenlik en watter beuselagtig is. Die punt is, midde in aanpasbare verandering kan konflik juis die manier wees om belangrike dinge te leer en om te verander. Om ‘n sekere konflik op die tafel te kry, kan mense help om bepaalde kwessies lug te gee en te hanteer, eerder as wat dit  smeul en die gemeente en kerk oor die lang duur lamlê.

Eerder as om paniekerig te raak by die eerste tekens van ‘n konflik, sal ‘n effektiewe leier mense help om die konflik oop te maak, daarna te kyk, en om vas te stel of dit werklik die moeite werd is. Wanneer dinge te stil raak, sal goeie leiers bietjie “stir”, om sodoende bietjie energie los te maak.

Leiers verskaf nie slegs rigting, beskerming, oriëntasie en hanteer konflik nie. Hulle vertolk en stel ook die groepsnorme vas. Groepsnorme gaan oor die bepaalde styl en geskiedenis wat vir ‘n bepaalde groep werk, met ander woorde dit is wanneer gesê word: dis hoe ons dinge hier doen, en nog altyd gedoen het Dis die tipe ding wat leiers sê wanneer hulle die norme van ‘n spesifieke groep of gemeente versterk. In tye van aanpasbare verandering egter sal  leiers ook iets anders doen. Hulle sal ten minste per geleentheid, ‘n bepaalde groep of gemeente se norme  bevraagteken. Hoekom doen ons iets so, of so? Die vra van vrae is nie maklik nie en dit word selde goed beleef.

Op baie maniere is dit wat tot nou toe oor leierskap in tye van aanpasbare verandering gesê is – soos om vrae te vra, om mense die knyp van die werklikheid self te laat voel, om mense te dis-oriënteer en om konflik uit te lok – die werk van ‘n profeet. En ons weet almal wat met profete gebeur! Die soort leiers wat in meer stabiele tye nodig is – kan dalk die beste beskryf word as meer priesterlik van aard. Gemeentes het natuurlik albei nodig. Tog blyk dit dat ons tyd ‘n groter behoefte het aan pastors/ leiers wat ‘n profetiese rol speel – veral aangesien natuurlike kragte in ‘n kerk en ‘n bepaalde kultuur pastors altyd probeer terugdruk na die meer gelykmatige rolle van vredemaker, versoener, ensomeer om die lewe so bietjie makliker te maak.

Die feit dat kurrikulering of dan her-kurrikulering vir die komitee so belangrik is, spruit voort uit die vraag, of ons nie dalk in ‘n posisie gekom het dat ons predikante oplei vir ‘n kerk wat nie meer bestaan nie? Die tyd waarin ons leef is ‘n tyd waarin die Kerk missionale leierskap nodig het, terwyl die meeste van ons opleidingsinstellings tans nog gerat is om ‘n meer instandhoudings-tipe-leier op te lei. Al meer navorsers meen ‘n groot oorsaak vir die problematiek waarmee kerk-leierskap in ons dag te doen het spruit uit die manier en die konteks waarin ons kerk-leierskap probeer vorm. Vir die grootste gedeelte word die leier-in-wording uit die konteks van die gewone lewe en bediening onttrek om in ‘n soort klooster-omgewing te studeer vir ‘n lang tydperk. Gedurende hierdie tydperk word hulle onderwerp aan ‘n geweldige hoeveelheid komplekse informasie wat verband hou met die Bybelse dissiplines, teologie, etiek, kerkgeskiedenis, pastorale teologie ensovoort. Terwyl hierdie kennis noodsaaklik en goed is, is dit ook gevaarlik vir dissipelskap in die volgende sin: in effek word die student uit die “gewone” lewe gesosialiseer en ontwikkel hy/sy ‘n soort taal en denke wat selde indien ooit verstaan of gepraat word buite die fakulteit. Allermins in die omgewing waar die Kerk missionaal besig behoort te wees. Dit is asof om oor die bediening en die teologie te leer, ons ons woonplekke verlaat en ‘n vlug onderneem na die wonderlike abstrakte wêreld van abstraksie, en so vlieg ons daar rond vir ‘n lang tyd en dan wonder ons hoekom ons probleme het om in die praktyk van die gewone lewe te land.

Moontlik kan die denke van die Jood wat ‘n Christen geword het, Alan Hirsch ons help om anders te dink. Hy sê, ons in die Westerse Christendom is waarskynlik baie sterk beïnvloed en dalk in die proses ook in ‘n mate lam gelê deur die Griekse of Hellenistiese begrip van kennis. Hy vra byvoorbeeld, waarom het ons in die Kerk sover weg beweeg van die  etos van dissipelmaking wat Jesus as voorbeeld gestel het? En ook, hoe gaan ons dit weer herstel?

Sy verstaan van die probleem waarmee ons te kampe het is dan kortliks so: Hy sê, teen die vierde eeu was die Platoniese wêreldbeeld sterker ontwikkel as die Hebraïstiese wêreldbeeld in die kerk. Later het Aristoteles se invloed as die prominente filosoof sterk in die kerk neerslag gevind. Hy het egter ook vanuit die Hellenistiese raamwerk gewerk. In essensie is die Hellenistiese opvatting van kennis begaan oor konsepte, idees, die aard van wees, tipes, vorme ensovoort.

Die Hebraïstiese beskouing aan die ander kant, is primêr begaan oor kwessies van konkrete bestaan, gehoorsaamheid, lewens-georiënteerde wysheid, en die interafhanklikheid van alle dinge onder die heerskappy van God. Dit is duidelik dat Jesus en die vroeë kerk vanuit die Hebraïstiese verstaan gewerk het, eerder as vanuit die Hellenistiese.

Hirsch beweer dan die volgende: Indien ons vertrekpunt die ou wyse van dink en ou gedrag in die kerk bly, sal die Hellenistiese benadering noodwendig beteken dat ons inligting verskaf deur boeke en die klaskamer, om sodoende te probeer om ‘n persoon of ‘n gemeente te kry om op ‘n nuwe manier te dink en om hulle hopelik sover te kry om nuut op te tree.

Die probleem is egter dat deur bloot die intellektuele aspekte van ‘n persoon aan te spreek, ons baie min daarin slaag om gedrag te verander. Die aanname in Hellenistiese denke is dat indien mense die regte inligting kry, dit noodwendig hulle gedrag sal verander. Die Hellenistiese benadering kan dus beskryf word as ‘n poging “to think your way into a new way of acting”. Beide ondervinding én geskiedenis toon dat hierdie manier van dink nie baie effektief is vir die vorming van missionale gemeentes nie. En, sê Hirsch, dit slaag vir seker nie in die maak van dissipels nie. Al wat dit wel reg kry is om die manier waarop ‘n mens dink te verander. Die probleem is dat sy/haar gedrag hoofsaaklik onveranderd bly. Dit kan tot geweldige frustrasie lei, aangesien die persoon wat hom/haarself in ‘n nuwe denkparadigma bevind, dit moeilik vind om die situasie waaruit hy/sy kom te hanteer. Baie kerk-leiers (dominees) beleef dit op gereelde basis: dit begin waar hulle ‘n probleem raaksien gevolg deur die begeerte het om die probleem dan nou aan te spreek. Maar dan werk hulle vanuit ‘n sisteem wat deur die Hellenistiese beskouing van kennis beïnvloed is: hulle gaan na ‘n konferensie of gaan woon ‘n kursus by om nuwe idees te kry rakende gemeente-bou, leierskap en missie (mission) ensomeer.  Die probleem is egter – al wat hulle kry is: ‘n nuwe manier van dink. Hulle moet steeds die onveranderde gemeente hanteer. En wanneer hulle dieper kyk besef hulle dikwels ook hulle eie gedrag het in baie gevalle ook onveranderd gebly.

Dit is werklik baie moeilik om ‘n mens se gedrag te verander deur bloot nuwe idees te kry, aangesien gedrag baie diep in ons in verskans is via ons ingewortelde gewoontes, opvoeding, kulturele norme, foutiewe  denke ensovoort. Selfs al is die verkryging van kennis essensieel vir transformasie, sal ons gou agterkom dat dit meer gaan vra as bloot nuwe denke om ons te transformeer. Enigiemand wat al met een of ander vorm van afhanklikheid gesukkel het sal dit baie goed verstaan.

Volgens Hisrch is die beter manier te vinde in die antieke kuns van dissipelmaking. Maar dan – die maak van dissipels werk die beste binne die Hebraïstiese verstaan van kennis. Met ander woorde, ons moet die hele mens in ag neem wanneer ons daardie mens wil verander. Ons moet ook verstaan  dat ons hierdie hele mens (whole people) moet opvoed (educate) in die konteks van lewe en vir lewe. En die manier waarop ons dit moet doen is die manier waarop Jesus dit gedoen het, to act your way into a new way of thinking. Dit is hoe Jesus dissipels gemaak het. Hulle het nie alleen saam met Hom geleef en Hom dopgehou in elke denkbare situasie nie, hulle het ook saam hom gedien (bedien – ministered) en hulle het foute gemaak en is deur Hom gekorrigeer – maar dit alles binne die konteks van die lewe van elke dag. Hierdie praktyk vind ons by alle bewegings waar die Christendom vandag fenomenaal groei.

Om ons dade/aksies in die prentjie te bring, is – as ‘n mens daaroor nadink – glad nie so vreemd nie. Menslike wesens is waarnemende, denkende wesens met ‘n diep begeerte om ons lewe en ons wêreld te verstaan. Ons is geneig om dinge te prosesseer soos wat ons aangaan. Idees en inligting is belangrik. Maar hulle is normaalweg nodig om die dade te rig en hulle word op hulle beste verstaan en geassimileer in die konteks van toepassing in die werklik lewe.  Die aanname is dat ons al hierdie dinamiese denkprosesse saam met ons bring in ons aksies in. Dit gaan dus ook oor konteks nie bloot inhoud nie. Ons laat nie, soos veronderstel deur die Hellenistiese model, ons denke agter wanneer ons ons dade doen nie. Ons dink terwyl ons optree en ons tree op terwyl ons dink. Dit is hoe ons in die eerste plek geleer het om te loop, praat, sosialiseer en te rasionaliseer. Hoekom aanvaar ons dat hierdie manier van leer verander wanneer dit by kerkwees kom? Ek glo dit is die moeite werd om van hierdie perspektief wat Hirsch open kennis te neem in ons verdere nadenke oor die vorming van missionale gemeentes. Maar dit daar gelaat.

Dit alles wat ek probeer aansny het, so lyk dit vir my, Voorsitter, is so min of meer die uitdaging waarvoor die Kerk te staan gekom het as ons missionale gemeentes wil vorm. Dat dit nie maklik is of gaan wees nie, daarvan is ons maar te bewus. Ons besef ook maar te goed daar lê nog ‘n lang pad voor. Ek meen egter dat ons as Kerk ons voete, as ek die beeld mag gebruik, onherroepelik op hierdie pad gesit het met die aanvaarding van die laaste apostolaatsverslag as die amptelike apostolaatsbeleid van die Kerk en dan natuurlik met die daarstelling van ‘n Komitee wat die amptelike opdrag het: die vorming van missionale gemeentes.  En, so sê hulle, ‘n reis van ‘n duisend myl begin met die eerste tree. Bid asseblief saam met ons dat God self ons reis sal seën – want ten diepste gaan dit tog maar net oor ons skamele besig wees en betrokkenheid by die Missio Dei – God se besig wees met sy wêreld. Ek dank u.

Share this / Deel hierdie: