Afrikaners verstaan nie wat die Reformasie / Calvinisme ons kan bied nie


‘n Koffietjie met Calvyn?
Sou ek koffie met Calvyn in La Pat, die studentekafee wou drink? Nee. Geensins nie! Ek hou nie van hom nie want hy is stug, bot en onbeweeglik. Hy is altyd reg en gee nie maklik toe nie. Tydens sy eerste Geneefse periode het sy streng voorskrifte en harde tugmaatreëls soveel verset en opstand ontlok dat hy in 1538 vinnig Straatsburg toe moes vlug. Daar sou hy drie jaar bly, trou en ‘n kind verwek wat net twee weke geleef het. Calvyn se sterk persoonikheid en sy ek-is-altyd-reg-houding maak van hom geen goeie koffiegenoot in La Pat nie.

En tog het die Reformasie, Luther en Calvyn ons wêreld radikaal verander. Ons kan nie genoeg daarmee besig wees nie want wanneer ons die Reformasie bestudeer, is ons ook met onsself besig.

 

Die groot misverstaan:
Afrikaners bly die Reformasie/ Calvyn misverstaan; hulle verstaan nie die nuwe individualiteit en vryheid wat met die Reformasie gekom het nie. So byvoorbeeld sê Elizabeth Eybers: ‘My nooddrif self verwerp die wete/ van die wat die geheim van God/ met tong en tand verbrysel tot/ ‘n braaksel stellings en dekrete’. Vir ons het Calvinisme iets geword wat jou binnekant doodmaak terwyl dit ons juis kan help om vry te word en nuut oor onsself te dink. Ons het toegelaat dat andere vir ons dié term interpreteer en toe het ons slagoffers van hulle skewe interpretasies van die Calvinisme geword. In die proses het ons nog nooit die enorme krag van die Reformasie ontdek nie; ‘n krag wat ons toelaat om onsself nuut te ontdek en te ‘herskryf’ nie.

       Ter illustrasie wys ons op die nuwe individualiteit wat met die Reformasie ontstaan het.

 

Doel van hierdie artikel:
(i) Om die waarde van die individu te beklemtoon; of soos Emerson dit aan die einde van sy lewe geformuleer het: ‘I have taught one doctrine, namely, the infinitude of the private man’.
(ii) Te verduidelik waarom die klem op die individu die vrug van die Reformasie (Luther en Calvyn) se invloed is.
(iii) Te illustreer hoe hierdie individu die wêreld verander het.
(iv) Te beklemtoon dat ons (die Suid-Afrikaner of Afrikaner of NG Kerk-lidmaat) nog nie die oneindige moontlikhede en krag van die individu ontgin het nie; dat die individu nie deel van ons politieke retoriek is nie; dat ons ook nie ‘n gemeenskap het wat doelbewus die individu koester nie.

Wat met ‘individu’ bedoel word, word aan die hand van twee politici geïllustreer.

 

Twee voorbeelde:
Jan Peter Balkenende, die Nederlandse premier, sluit by Abraham Kuyper aan wat sê die krag van die Calvinisme lê in die nuwe wat dit altyd tot stand gebring het. In die geval van Nederland was dit onder andere ‘n oop en vrye gemeenskap. Daarmee saam ‘n soort individu met ‘n eie verantwoordelikheid; ‘n mens wat sy/haar eie lewe deur keuses en optrede geskep het en wat alleen aan God verantwoording verskuldig was. Hierdie nadruk op die eie verantwoordelikheid veronderstel ook kritiese nadenke: ‘Die nadruk op de eigen verantwoordelijkheid heeft door de eeuwen heen ook het onderzoekende en kritische karakter van het calvinisme bepaald. Verantwoordelijkheid vereist immers dat mensen zelf kritisch nadenken’ (-my kursivering). Die opkoms van die indivudu, eie verantwoordelikheid en kritiese denke hoort saam en is die produk van die Calvinisme.
Guy Verhofstadt, ‘n vorige premier van België het in 2007 na aanleiding van Moslimfundamentalisme en die ideologie van Al-Kaida oor die belang van die individu geskryf. Hy het hom veral teen die gedagte van ‘n geslote gemeenskap waar die wet van Allah heers en die gemeenskap alles is, verset. Hiervolgens kan die individu nie op sy/haar eie bestaan nie en moet daarom deel van die groep wees; so ‘n individu moet in die groep opgaan; deel van die groep se ideale word en die groep se retoriek gebruik om sin aan sy/haar eie lewe te gee. Binne hierdie konteks moet die rol van die individu ook ingekort word; hy/sy moet ondergeskik aan die groep gemaak word.

Volgens Verhofstadt is hierdie denke ‘n gevaar vir die individu, ‘n gevaar vir die oop samelewing. Mense word gereduseer tot ‘n enkelvoudige identiteit; tot ‘n eendimensionele mens wiese identiteit in terme van die groep gedefinieer word. Staats- en gemeenskapsprojekte moet daarom nooit ten koste van die individu of die individuele keuse bedryf word nie. Natuurlik kan jy in groepsprojekte saamwerk, maar daar moet telkens ‘n grens wees anders word die oop gemeenskap opnuut ‘n geslote gemeenskap. Ten slotte sê hy: ‘We moeten de mens als een vrij en verantwoordelijk wezen beschouwen. We moeten de vrije keuze vrijwaren, het individu boven de groep stellen. We moeten daartoe niet wachten op de staat, maar uitsluitend onszelf engageren’ (-my kursivering).

 

Die Afrikaner as ‘n kollektief (Ideëeltipe):
Niemand kan volledig oor ‘n sosiale verskynsel soos die Afrikaner praat nie en daarom werk ons met ‘n ideëeltipe (in die Weberiaanse sin) van dié groep. Hiervolgens kan ons sê die Afrikanerdom van die laat-twintigste en die begin van die een-en-twintigste eeue is nog ver van die individu-denke (soos hierbo) want hy/sy definieer hom-/haarself in terme van ‘n nog groter kollektief (die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap). Hierdie tipe denke word soos volg gekenmerk: oorlewing is net in hierdie groter groep moontlik; buite die groter kollektief (of die breë gemeenskap) is daar nie ‘n lewe nie; dié gedagtes word deur ‘n slegte gewete verskerp: hy/sy het dit toegelaat om ewiglik die smet van al gister se probleme op te tel en op sy/haar skouers te dra; om te oorleef, het hy/sy deel van Suid-Afrika se nuwe jargon geword: met woorde soos ‘n ‘nuwe Suid-Afrika’, ‘nuwe demokrasie’, ‘nuwe nasie’, ‘nie-rassigheid’, ‘transformasie’ en ‘saamstaan’, is ‘n ‘nuwe’, ‘virtuele’, ‘tot-nog-toe-onverskene’ wêreld probeer beskryf; ‘n wêreld wat dalk nooit ons woning sal word nie; van omdraai is daar geen sprake nie want die nuwe is moreel of goddelik of Bybels begrond: alles berus op ‘n groter, hoër, beter orde wat verset eintlik uitsluit; Afrikaners het deel van ‘n eindelose magspel geword waarin die groter kollektief (of samelewing) hom/haar as ‘t ware ingesluk het, en arrogant die enkeling se plek en taak binne die geheel bepaal het; hy/sy is makgemaak en het nuttig vir die groter kollektief geword; hulle is gereduseer tot die groter groep (die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap) se ideale en verwagtinge; deel van die makmaakproses is die retoriek van die intieme: almal is saam, almal is almal se pêl, almal is een en almal is Afrikane.

 

Hoekom het ons só geword?
Dit lê in ons geskiedenis. In Mei 1968 het die westerse wêreld amper tot ‘n stilstand gekom. Veral Franse studente was daelank met die polisie slaags en het Parys amper op die randjie van die afgrond gebring.

Ek het dit alles as ‘n jong student beleef. Van rewolusie was daar hier in Suid-Afrika eintlik geen sprake nie. Alles was so ongelooflik rustig. Die Rivonia-belhamels was agter tralies en alhoewel die sestigers dinge soms deurmekaargekrap het, was alles hier kalm en rustig. Niemand het ook eintlik oor die Europese rewolusie gepraat nie want dit was ver, baie ver van ons af. Dit was ‘n tydperk van ‘oorvloedige sin’. Alles het netjies inmekaar gepas. Alles was helder en die Afrikaner se lewensdoel is duidelik verwoord. Ons het ons in ‘n wonderlike koekon toegespin en van die wêreld afgeskei. Wat in Europa gebeur het, het ons nie eintlik geraak nie.

          Twintig jaar later het daar (weer) iets wat soos ‘n rewolusie lyk, hier aangekom. Afrikaanse musiek was een van die destydse merkers. Die Voëlvrybeweging asook die songs van Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel het die sosio-politieke bestel help kantel. Teen 1986 se koers kon niemand meer die skrif teen die muur ontken nie. Dit was verby. Die destydse regering sou dit ook nie meer kon keer nie. Hierdie musiek het die politiek van die dag se waarhede weggekalwe, politieke uitsprake belaglik gemaak, apartheid se groot waarhede ondermyn.

 

Niks het eintlik verander nie:
By al die enorme respek vir die destydse intellektueles asook musici, hulle lirieke en musiek, het hulle nie ver genoeg gegaan nie. Dit was basies ‘n aanval op die politiek van die dag asook die regerende party, maar dit was nie ‘n denkverandering nie; nie ‘n radikale verandering van ons denke oor die werklikheid nie; nie ‘n ander manier van dink oor God, wêreld en mens nie. Ek illustreer dit met twee voorbeelde. As gevolg van die Franse Rewolusie het die westerse mens vir die eerste keer (in die jare tussen 1789 en 1815) ‘n breuk met die geskiedenis gevoel; vir die heel eerste keer het hulle gevoel dat die verlede ontoeganklik is, nie gevat kan word nie, ‘n ander land is waarby jy dalk nooit kan uitkom nie (en Schoeman was nie eerste wat dit gesê het nie). Nog ‘n voorbeeld. In 1979 skryf Jean Francois Lyotard na al die studente-rewolusies dat daar geen meesternarratief meer is nie. Daar is nie meer ‘n narratief  wat almal bymekaarhou, waarin almal deel, wat almal se dade rig nie. Al wat oorgebly het, is die kleinverhaal van die kleinmens.

So ‘n breuk in denke het ons nog nooit beleef nie. Alles is nog maar dieselfde. Die ou koppe dink maar nog dieselfde. Ons Aufklärung het toe nie aangebreek nie. En dit is sleg want Afrikaners het meelopers geword en van verset was daar nog nooit sprake nie.

 

Keer terug na die Reformasie:
In die Reformasie en die teologie van Luther en Calvyn lê die impulse wat ons nuut oor onsself en ons plek in die wêreld kan laat dink. Omdat ons egter nie die sosiale en veral die intellektuele kragte wat die Reformasie gevorm het, verstaan nie, kan ons dit nie ‘gebruik’ nie; kan ons nie die nuwe individualiteit wat by die Reformasie ontstaan het, toe-eien nie. Om dit versaan let ons op drie dinge. Primo, die Middeleeuse teologie en die Reformatoriese verset. Volgens Middeleeuse oortuiging was geloof, goeie werke, verlossing, heil, ewige lewe aan die kerk as instituut gekoppel; die kerk het die gelowige afhanklik van hom gemaak; die gelowige het ook vir sy/haar geestelike welsyn van kerk afhanklik geraak; die kerk wou ‘n greep op die gelowige se binneste kry; verbondenheid aan die kerk, die uiterlike instelling was beslissend (daarbuite geen saligheid nie); die pappa was die kerk se hoof en jy moes na hom luister (hy was immers Christus se verteenwoordiger op aarde); die ampte (biskoppe, kardinale) sou jou met Skrifuitleg help want hulle het presies geweet hoe en het die tradisie (die interpretasie-geskiedenis) getrou gevolg; die nagmaal kon jou ook help want die tekens het Christus se bloed en liggaam geword; dan was daar ook ‘n horde vroomheidsoefeninge (vas, gebed, selfkastyding) en as jy sou faal, was  onse moeder (die ‘mater misericordiae’) darem daar. Kortom: geloof in die laat-Middeleeue was ‘n kollektiewe ding, iets wat die kerk beheer het en wat kritiekloos aanvaar is.

Hierteen sou die Reformasie hom verset. Dit was nie maklik nie en het baie moed gekos, maar hierdie verset het ‘n nuwe wêreld oopgemaak. En in dié proses is ‘n nuwe siening van individualiteit gebore.

Luther se verset hierteen begin op 2 Julie 1505 toe hy vir ‘n donderslag geskrik en toe gesê het: ‘Heilige Anna, ek sal ‘n monnik word’; teen 17 Julie sluit hy by die Augustynse klooser in Erfurt aan; hoekom wou hy monnik word?; dit het met die destydse teologie te make: God was kwaai en die klooster was jou enigste hoop op saligheid.

Luther was ‘n goeie monnik: hy het die toilette skoongemaak, met skottelgoed gehelp en nog ander nederige take vervul. Iets het egter elke dag aan hom gevreet: As God dan kwaai is, hoe kon hy dan God se guns wen? Wat moes hy maak om hemel toe te gaan?

Natuurlik het die kerk antwoorde gehad (vgl hierbo) en sy biegvader Johann Von Staupitz het hom geestelik begelei. Hy het hom vertel van God se genade, Christus se soendood, maar iets het kortgekom: hy wat Luther was, moes ook iets doen en dan sou God hom halfpad tegemoetkom (vgl Pelagius en Robert Holcot); God sou sy genade gee aan diegene wat ook hulle eie kragte sal gebruik; uit louter genade sou Hy sy volle genade aan diegene skenk wat hulle natuurlike vermoëns sal gebruik (om halfpad te stap). Vir Luther het dít hoegenaamd nie gewerk nie.

Dit het nie vir hom gewerk nie want hy het alles gedoen wat die kerk hom voorgeskryf het, maar tevergeefs. Hy word egter professor in Wittenberg en gee lesings oor die Psalms. Twee dinge help hom: Augustinus se plsamkommentaar (vgl Ps 22) en die Middeleeuse tropologiese eksegese of viervoudige uitleg (letterlike, allegoriese, morele en anagogiese verstaan van ‘n  teks); die ontdekking van God se vrye genade verander alles; Luther se soeke het ‘n enorme individuele, persoonlike kleur (vgl sy kommentaar op die boetepsalms); genade maak die mens vry (vgl ‘De Libertate Christiana’). Hierdie ontdekking van God se genade het tot ‘n uiteindelike breuk met die kerk en die magspersone binne die kerk gelei; dit het ook tot ‘n individualisering van die geloof gelei; die individu se verbondenheid aan God (en nie die kerk nie) was nou deurslaggewend.

By Calvyn val die klem nog sterker op die enkeling, die individu. Alles word geïndividualiseer. Deur die Gees word ‘n mens deel van God en die werk van Christus. Die ding wat die Gees in jou werk, is geloof. Daardeur verstaan ‘n mens iets van God se werk in Christus. Dit is nie die aanvaarding of erkenning van die kerk se waarhede nie, maar die ervaring dat God se genade en die vrede wat dit meebring. Geloof is iets wat in die diepte van jou hart gebeur; geloof is ‘n kennis van God se wil vir jou; dit is ‘n duidelike en sekere wete (‘cognitio’) van God se liefde vir jou; dit is wat die Heilige Gees binne-in jou waarmaak; dit is ‘n toe-eiening van Christus en sy werk; dit verseker ‘n mens van sondevergifnis; dit wek in jou ‘n nuwe lewe. Belangrik is dat jy van hierdie genade bewus is deur middel van ‘n diepe oortuiging, ‘n rustigheid en ‘n gevoel van geborgenheid.

By die Reformasie het daar ‘n nuwe taal ontstaan om die werk van God in die individu te beklemtoon. Woorde soos toe-eien, subjektief, verinnerliking het uitdrukking hieraan gegee.

 

‘n Nuwe soort mens het tot stand gekom:
‘n nuwe individualiteit het ontstaan; iemand wat verantwoordelikheid vir sy/haar eie lewe geneem het;  hom/haar teen die kerk van die tyd verset, en sy/haar rug op die pous en die ander ampte gedraai het. Hy/sy het die tradisie eenkant toe gestoot, en self vir sy/haar eie lees van die Skrif verantwoordelikheid geneem het.

 

Wat het hierdie enkeling geword?:
Hy/sy het die wêreld verander! Die Calvinistiese leefstyl van harde werk, van ‘n ywer om alle take tot die hoogste eer van God (‘ad majoram gloriam Dei’) te verrig en van ‘n spaarsin (‘n ‘innerweltliche askese’) het die kapitalisme laat groei en die sosiale wêreld omgekeer (Weber). Hierdie nuwe mens het verskillende fases in die geskiedenis deurloop en vandag word hy/sy selfs deur sommige as ‘n soort aristokraat beskryf wat nog in God glo maar nie eintlik meer die kerk nodig het nie (Troeltsch).

 

Slot:
Die NG Kerk moet hierdie individualiteit, vryheid ontgin en bemiddel. Vir vandag se mens kan die kerk dalk leer om sy/haar eie individulaiteit nuut te ontdek en om sin daaraan te gee.

Share this / Deel hierdie: