Die Derde Lewe van Colet

 

Ek het drie keer in my lewe tot bekering gekom. Hierdie drie bekerings is die coolste goed wat ooit met my gebeur het. Dis vandag die eerste keer dat ek in die openbaar daaroor praat. 

 

My eerste bekering was die lekkerste. Maar dit het ongelukkig ook die kortste geduur. Dit was alles oor in omtrent tien minute, en die goeie gevolge daarvan het nie eens ‘n jaar gehou nie.

 

Dit het gebeur op die ouderdom van sestien. Ek was ’n opstandige en woedende tienderjarige. Ek het my ouers gehaat, ek het die wêreld gehaat, en my grootste ideaal was om Mosambiek toe te vlug en ‘n omroeper by LM Radio te word en vir die res van my lewe op goue strande rond te lê en meisies op te tel.

 

Toe, eendag, ontmoet ek ‘n groepie jongmense wat pas hul harte vir Jesus gegee het. Hulle het vir my ‘n baie eenvoudige evangelie verkondig. Hulle het gesê dat Jesus my liefhet en dat, as ek my sonde bely, Hy my sal vergewe.

 

Ek het ‘n week lank daaroor nagedink. Eindelik ten laaste, het ek die uitnodiging aanvaar. Alleen in my slaapkamer op ‘n Saterdagoggend, het ek op my knieë gegaan en my hart oopgemaak.

 

Wat net daarna gebeur het, was loshande die mees verstommende ding wat nog ooit met my gebeur het in my hele lewe. Die gevoel wat ek gekry het, was onbeskryflik. Daar was ‘n ligtheid in my, ‘n vreugde, gevolg deur ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

 

Toe ek my oë oopmaak, was dit asof daar ‘n lang tyd verby gegaan het, maar dit was net ‘n minuut of twee.

 

Toe het ek ingespring en my hele kamer skoongemaak, uitgevee, my bed opgemaak, my skoolboeke reggepak. Toe het ek uitgegaan en op my fiets geklim en die dorp platgery en vir vriende gaan kuier. Ek het feitlik niks gesê wat pas met my gebeur het nie. Dit was privaat.

 

Die dae en weke wat daarop gevolg het, was die wonderlikste van my lewe. Baie min het verander, maar daar was ‘n nuwe inhoud en betekenis aan alles. Ek het nog steeds na rockmusiek geluister, maar ek het begin onderskei tussen liedjies met goeie lirieke en liedjies van verbyvlietende aard. Ek het nog steeds na partytjies gegaan en gedans en met meisies gevry, soos altyd. Maar dit was asof ek ook begin bewus word het van die menslikheid van hierdie ervarings. Stadig het my gedagtes begin draai in die rigting van verhoudings eerder as fisiese plesier. Maar daar was geen haas nie. My hart was vol van die sekerheid dat ek stadig maar seker, en heeltemal vrywillig al nader begin beweeg in die rigting wat die tipe lewe wat God verkies het vir my.

 

Toe, eendag, begin ‘n reeks gebeure wat al my nuutgevonde vrede sou vernietig en eindelik aftakel tot die grond; ‘n proses van ontnugtering wat sou lees soos ‘n Griekse tragedie. Binne skaars tien jaar vanaf my eerste, wonderlike bekering, sou ek verval in dwelmmiddels, sielkundige waandelusies, chaos en sosiale vervreemding.

 

Dit het begin toe ek vir die eerste keer na ‘n lang afwesigheid, weer eredienste begin bywoon het in die NG Kerk. Ek moes gaan omdat ek daardie jaar aangeneem wou word as lidmaat.

 

Niks kon my voorberei op die skok wat gevolg het nie. Waar kerkdienste nog altyd vir my redelik vervelig was, was dit nou tien keer erger. Niemand het die vreugde uitgestraal wat ek in my hart gevoel het nie. Die dominee’s was krities en negatief. Hulle het met aangeplakte stemme en gebare gepraat, asof hulle self nie glo wat hulle sê nie. Dit was soos swak teater. Ek het besluit dat ek beter af sou wees sonder die Kerk en sy leë vertoon.

 

Bowendien het hulle nie hul godsdiens gebaseer op Jesus nie, maar iemand met die naam Calvyn. Volgens Calvyn het God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit wie eendag gered sou word. Mens noem dit uitverkiesing. As mens eers uitverkies is, staan dit soos ‘n paal bo water dat jy eendag tot bekering sou kom. Niks wat jy besluit, kan enigiets daaraan verander nie.

 

Die idee het my eindeloos depressed gemaak. Dit het die varsheid van die ervaring laat vervaag tot iets onoorspronklik en boring. Ek het gevoel asof ek in ‘n “arranged marriage” ingedwing is. Niks wat die kerk my vertel het, het vir my eg geklink nie. Die katkisasieboek was ‘n nagmerrie van reëls en resepte vir kamma-kamma saligheid.

 

Die dag toe ek in my laaste aannemingsklas moes opstaan en trou sweer aan die Kerk, kon ek dit nie doen nie. Ek het voor die hele gemeente geweier. Toe die dominee my vorentoe roep en my vra wat my rede is, het ek gesê: “Ek het onlangs ‘n ware ervaring met Jesus Christus gehad, en sedert dit gebeur het, maak die kerk vir my hoegenaamd geen sin nie.”

 

Dit was die begin van my soektog na ‘n alternatiewe denominasie.

 

In die volgende paar jaar het ek eredienste bygewoon van elke moontlike kleur en geur.

 

By die Apostolies het ek een goeie ervaring gehad, en dit was die spreek in tale. Ek is bly dat hulle my in hierdie byna mistieke ondervinding ingelei het, maar na ‘n ruk het hulle my bang begin maak. Hulle het gewroeg en gespoeg en neergedonder in die paadjies van die kerk. Dit was selfs swakker teater as die NG Kerk. Alles was melodramaties. Die spreek in tale is uitgestal asof dit openbare besit was, en het op die ou end ontaard in ‘n onuitstaanbare geraas. Ek het die gevoel gekry hulle benader godsdiens soos pornografie; altyd op soek na ‘n cheap thrill!

 

By die spiritualiste het ek een of twee positiewe ervarings gehad, maar ek is op die ou end daar weg omdat ek moeg geraak het van die misterieuse geprewel in donker kamertjies met kerse. Dit was ‘n vreugdelose, vervelige, strakke en doodse godsdiens.

 

Verreweg die beste ervaring in ‘n sogenaamde vreemde geloof het ek gekry toe ek begin belangstel in Judaïsme en boeke daaroor begin lees het. Terwyl ek vir die eerste keer die wonderwêreld van die Ou Testament ontdek het – boeke soos Spreuke, Psalms en Prediker – het ek ook vir die eerste keer in jare weer iets ervaar wat byna was soos die vrede van daardie eerste dag, in die geselsskap van Jesus. Hierdie ontdekking was byna soos ‘n tweede bekering, en dit het my vir ‘n lang ruk baie gemoedsrus gegee.

 

Ek het aansoek gedoen vir aanneming by die Joodse geloof en selfs een diens in ‘n sinagoge bygewoon, maar teruggediens uit vrees vir die besnydenis.

 

In die loop van die neëntigerjare het ek geleidelik verder weg begin dryf van al hierdie godsienstge spekulasies, en ‘n humanistiese lewensbeskouing aangekweek. Teen die einde van die neëntigerjare het ek dit selfs, min of meer op eie stoom, begin regkry om dwelmmiddels finaal te los. Ek het verlief geraak, getrou, en ‘n gesin begin.

 

Die lewe as kreatiewe humanis was tot ‘n groot mate bevredigend. Daar was egter ook ‘n toenemende gevoel van onvergenoegdheid, van “unifinished business”. Ek het bly nadink oor daardie ding wat met my gebeur het op die ouderdom van sestien. Wat het presies daardie dag met my gebeur? Waarom kon ek dit nie vergeet nie?

 

Teruggaan kerk toe was egter buite die kwessie. In hierdie opsig het ek en my vrou dieselfde gevoel.

 

In die jare tussen 2006 en 2008 is ek toenemend gepla deur depressie en ‘n gevoel van voorstedelike verval. Toe Kannetjie my in 2007 aanraai om van my woede ontslae te raak in ‘n harde rock-album – my eerste sedert Niemandsland, agtien jaar tevore, het ek dit aangegryp, en die album “Bloedrivier” is gebore.

 

Een van die liedjies was ‘n Engelse gospel song wat ek neergepen het een aand na ‘n halwe bottel KWV-brandewyn:

 

“Is there a message on that tree?

Is there mercy there for me?

Please help me to confess my sins

I’ve got a burden and it’s hurting me…

Have mercy, mercy, mercy, mercy,

Mercy, mercy me!  

I’ve got nothing left to say

And I’ve lost my fucking way…

Have mercy, mercy, mercy, mercy,

Mercy, mercy me.”

 

Die skryf van hierdie liedjie, met sy pynlike erkentenis van hulpeloosheid en smagting na genade, sou eindelik die katalisator wees tot wat ek vandag noem my derde bekering. Anders as die blitzkrieg van my eerste bekering, en anders as die intellektuele en kulturele bevrediging van my tweede bekering, was my derde bekering ‘n stadige dog fundamenteel ingrypende proses wat nou al ‘n jaar of langer duur en wat nog nie voltooi is nie.

 

En anders as my eerste twee bekerings, is hierdie bekering ‘n suiwer sekulêre bekering. Ek is jammer om dit te sê, maar ek glo nie dit sal my ooit terug-lei na die Kerk nie. Hoewel hierdie bekering geïnspireer is deur presies dieselfde simbole van my eerste bekering – die kruis, die sterfte van Christus en sy opstanding – sien ek hierdie simbole vandag in meer kosmiese terme. Dit beteken nie dat my verhouding met God nie letterlik is nie. Dit beteken, aan die ander kant, ook nie dat hierdie bekering bloot die omblaai van ‘n nuwe blaadjie of ‘n reeks Nuwejaarsvoornemens is nie. Ek kan nie eens beweer dat hierdie bekering van my ‘n beter mens gemaak het nie. Wel, nog nie sover nie. Ek het die ander dag my hond geskop. Ek bitch nog soms onnodig op Anton Goosen en die Campbells. Ek steel nog ou tannies se parkeerplekke by die Kwikspar. Ek vloek nog soos ‘n matroos.

 

En tog het ek full circle gekom. Op die ouderdom van vyftig-plus  omhels ek weer die ervaring van my eerste liefde op die ouderdom van sestien jaar, daardie onvergeetlike eerste treetjie in die rigting van geestelike groei. Ek ervaar die heelal nie meer as ‘n koue, donker plek nie, maar as ‘n plek vol van God se genade. Alles bestaan slegs omdat God se genade dit toelaat; selfs die Bose.

 

Ja, al die ervarings wat ek gehad het sedert daardie tyd, het my geslyp tot iemand wat kennis van beide goed en kwaad het. Ek het streetwise geword. Ek het in my omswerwinge meer as een keer die Duiwel se hand geskud. Ek moes, want ek was op sy territory, en as ek nie “polite” met hom was nie, sou hy my siel permanent verwoes het. Maar ek weet ook Wie my telkens uit daardie situasies kom red het, soos ‘n verlore skaap wat in die nag gevind is deur die goeie Herder.

 

Ek voel asof ek ‘n vriendskap met God het; nie ‘n tjommie-tjommie-vriendskap nie, nie eers ‘n direkte lyn soos wat Angus Buchan beweer hy het nie, maar ‘n rustige gemeenskap, die soort leef-in-die-oomblik-vrede wat beskryf word in die boeke van Eckhart Tolle.

 

Ek is nie ‘n Christen nie. Ek sal myself nooit ‘n Christen kan noem nie. Die woord “Christen” is te eng om die volle omvang van my reis na individuasie te omskryf. Vir my is bekering – want al drie hierdie bekerings was eintlik maar stasies op ‘n reis na een definisie van bekering – iets tegelyk eenvoudig en on-omskryfbaar.

 

Hoe weet mens as jy bekeer is?

 

Wel, jy WEET dit. Soos jy weet as jy ‘n heupvervanging gehad het. Dis iets wat jy het of jy het dit nie. Dis die resultaat van keuses en opsies wat jy in jou lewe uitgeoefen het.

 

As jy eers eenmaal die deur van jou hart oopgemaak het en maaltyd gehou het met die onsigbare Gas uit die buitenste ruimte, is dit nie iets wat jy ooit, ooit, ooit sal vergeet nie.

 

So ‘n ervaring is meer werd as al die godsdienste en formuliere en brandglasvensters en wierook en kerse en houtpanele en blomme-rangskikkings en vroom preekstoel-kleedjies in die hele wêreld.   

 

Ek weet nie wat om my geloof te noem nie. Maar ek kan my eenvoudig nie die lewe voorstel sonder hierdie geloof nie. Ek vermoed dit is die wil en begeerte van God om elke mens op aarde so te lei soos Hy my gelei het, vanaf kindsbeen, deur die naïewe geloof in sprokies en gelykenisse en fabels, deur al die versoekings en seerkry en teleurstelling van die gebroke werklikheid tot by ‘n volwasse, vrywillige, intelligente verhouding met Hom – of Haar.

Share this / Deel hierdie: