My ervaring van die Calvinisme 

 

Ek het nie ver van hier af nie in die Moot in (dink ek) ‘n eg Calvinistiese omgewing grootgeword. Ek dink so, maar ek is nie heeltemal seker nie. Ons het onsself nooit regtig Calviniste genoem nie, altans nie sover ek kan onthou nie. Ek en my maats, wat veral op hoërskool taamlik by die kerk betrokke was, het onsself nie eens regtig vreeslik as gereformeerdes of as NG’s gesien nie. Ons het bloot maar aan onsself gedink as Christene.

Later, veral toe ek as kerksake-verslaggewer van Beeld met ‘n baie wyer spektrum van die Christendom te doen gekry het, het ek besef dat die kerklike toneel soos ‘n groot lappieskombers is, met verskillende kleure lappies in die vorm van verskillende denominasies, verskillende tradisies en verskillende spiritualiteite binne die Christendom. Een van daardie lappies, of liewer, een groep lappies, verteenwoordig die Calvinisme, die gereformeerde tradisie waarin ek grootgeword het.

Van Calvyn self het ek nooit baie geleer nie. Met Luther het ek baie meer te doen gekry. Ons het in st.7 in geskiedenis van Luther geleer, maar nie van Calvyn nie. Ek het al ‘n populêre biografie gelees en ‘n fliek gesien oor Luther se lewe, maar nie oor Calvyn nie. Ek het al ‘n gedig oor Luther geskryf, ek was in Wittenberg en in die Lutherhuis waar hy sy tafelgesprekke gehou het. Ek het  by die plek gestaan war hy sy 95 stellinge teen die deur van daardie indrukwekkende kerk vasgespyker het, Maar ek was nog nooit naby Geneve nie.

Ek het wel ‘n Afrikaanse vertaling van Calvyn se Institusie op my boekrak, maar ek het so moeilik gelees daaraan dat ek vroeg al moed opgegee het daarmee. Verder het ek maar deur die loop van jare ‘n klompie goed oor Calvyn opgetel soos ander mense terloops oor hom gepraat of geskryf het.

Daarom kan ek nie eintlik regtig saampraat as dit by Calvyn kom nie. Wat ek wel wil doen, is om iets te sê oor die Calvinisme waarin ek grootgeword het. Dit het ek leer ken soos ‘n vis die water ken waarin hy swem. Jy ken dit van binne af, en dit maak dit moeilik om ‘n objektiewe prentjie daarvan te vorm. Maar jy het ‘n goeie idee hoe die strome vloei.

Waar ek wel oor Calvyn self iets sê, doen ek dit amper soos die ouens wat die historiese Jesus probeer peil. Al wat jy tot jou beskikking het, is die latere neerslag van ‘n lewe. Daaruit probeer jy maar afleidings maak en daarvandaan projekteer jy jou insigte terug op die lewe waaroor jy iets wil sê.

As ek nou terugdink oor die Calvinistiese omgewing waarin ek grootgeword het, is die eerste indruk een van ‘n baie wettiese godsdiens. Daar was reëls vir alles en ‘n goeie teoloog was een wat die reëls uit die Bybel kon aflees.

Waar ons grootgeword het in die SKJA, was dit ook die manier waarop ons die Bybel gehanteer het. As ons ‘n byeenkoms gehad het, was dit dikwels in die vorm van ‘n debat oor ‘n vraag wat begin met “Mag ek …?” of “Moet ‘n Christen . . .?”

Ons het heftig gedebatteer oor vrae soos of ‘n Christen op ‘n Sondag mag krieket speel of nie, of ‘n Christen met ‘n denim aan mag kerk toe gaan of nie, of jy mag dans of nie, of jy na popmusiek mag luister of nie, moet wit en swart Christene saam of apart kerk toe gaan, mag jy seks hê voor die huwelik of nie.

Die antwoorde waarop ons uitgekom het, was nie altyd ‘n eng nee nie, maar nietemin was dit die styl waarin ons godsdienstige denke geslyp is. Mag jy en moet jy? Reg of verkeerd.

Later het ek afstand gedoen van die soort dink. Die insig het gekom nadat ek as verslaggewer blootstelling gekry het aan ‘n klomp verskillende kerke en vele verskillende kleure van die lappieskombers van naby leer ken het. Ek was verstom oor die klomp verskillende gedagteprentjies van Jesus wat ek teëgekom het. Wie is die regte Jesus, het ek by myself gewonder. Nog voor Johan Cilliers sy boek met die titel geskryf het, het ek by myself gevra: Sal die regte Jesus asseblief opstaan?

Hoe hanteer ‘n mens so ‘n vraag? Vanuit my Calvinistiese agtergrond het ek antwoorde in die Bybel gaan soek. Ek het die evangelies gaan lees en ek is getref deur die botsings tussen Jesus en die godsdienstige leiers van sy dag. Dikwels het dit gegaan oor die Sabbat. Die fariseërs het gestaan op die letter van die wet: “Jy mag geen werk doen nie.” Maar Jesus volg ‘n ander benadering. Hy sê die mens is nie vir die sabbat gemaak nie, maar die sabbat vir die mens. Hy is besorg oor die welsyn van mense. Hy som die wet op in terme van die liefde.

Vir my het dit duidelik geword dat daar twee maniere is om godsdienstig te wees. Die een se sleutel tot die godsdiens is absolute gehoorsaamheid. Dit mond uit in ‘n koue, harde wettiese godsdiens. Dis die fariseërs se manier.

Die ander sleutel tot die godsdiens lê in liefdevolle verhoudinge. Dis Jesus se manier.

Nou: die soort Calvinisme waarin ek grootgeword het, het baie van die wettiese benadering ingehad. Was dit Calvyn se skuld? Ek weet te min van Calvyn om sy benadering te beoordeel. Wat wel vir my duidelik is, is dat die twee soorte godsdiens ‘n baie groter verskynsel is as die Calvinisme.

‘n Mens het dit immers al in Bybelse tye gehad. Ek sien spore daarvan in baie ander strome van die Christelike godsdiens. Ek sien dit ook in ander godsdienste. Waar wil jy vandag ‘n meer wettiese soort godsdiens kry as in die ekstreme vorme van die Islam, en dit terwyl daar ook Moslems is met ‘n baie sagter, baie liefdevoller benadering tot hul godsdiens.

Vir my is dit duidelik dat die oorsprong van wettiese godsdiens beslis nie by Calvyn gelê het nie. Dit lê waarskynlik iewers diep in die menslike natuur wat maak dat dit enige plek en oral tot uiting kan kom. Ek het nie genoeg getuienis om Calvyn skuldig te bevind nie.

Daar is ‘n tweede groot indruk oor die Calvinistiese godsdiens waarin ek grootgeword het waaroor ek iets wil sê. Dis die vermoë om te verander en te vernuwe.

Ek was waarskynlik vroeg in die laerskool toe die groot debat oor die hoed die NG Kerk getref het. Moet ‘n vrou haar hoof bedek as sy ‘n erediens wil bywoon? Al was ek nog jonk, onthou ek dat dit ‘n heftige debat was. Jy kon in die koerant lees hoe die mense mekaar daaroor aanvat, onder meer een van ons ouderlinge en een van ons dominees wat mekaar in die briewe-kolom van die Sondagkoerant gepak het. Ek het gelees hoe party dominees vroue uitgejaag het omdat hul hoofde nie bedek was nie. Ook het ek agtergekom dat daar ‘n subdebat was oor wat ‘n hoofbedekking dan nou presies sou wees. Moet dit ‘n hoed wees? Is ‘n stola of dergelike doek oor die kop genoeg? Kan ‘n vrou wegkom met ‘n paar mooi goedjies in haar hare? Dit was ‘n debat wat gevoer is in die wettiese idioom van die dag.

Maar dit was ‘n debat wat uitgeloop het op verandering in die kerk. 1 Korintiërs 11 is uitgelê teen die agtergrond van die kulturele omstandighede van destyds en die kerkhoed-bedryf het in duie gestort.

Op my het dit ‘n onuitwisbare indruk gemaak. My kerklike tradisie, het ek geleer, is een van nuwe moontlikhede.

Deur die jare het daar baie nuwe ontwikkelinge in die NG Kerk plaasgevind.

–         Vroue het eers diakens en later ook ouderlinge en dominees geword.

–         Ons het heeltemal anders oor sake soos volk en ras en apartheid begin dink.

–         Ons het kinders toegelaat om die nagmaal te gebruik.

–         Ons het heeltemal nuwe vorme van musiek in die kerk begin gebruik, nie altyd goeie musiek nie, maar wel nuwe musiek.

–         Ons het nuut oor kerkgeboue begin dink, met talle kansels wat plek gemaak het vir doelmatige verhoë.

–         Baie gemeentes dink totaal anders oor kerkrade as vroeër.

–         Daar word nuut gedink en geëksperimenteer met liturgië.

–         Daar is ‘n nuwe openheid vir die insigte van ander tradisies, soos ‘n meditatiewe benadering tot die godsdiens.

–         Daar word opnuut, en deur ‘n deel van die kerk anders gedink oor homoseksualiteit as vroeër.

Die lys is amper eindeloos.

Die vernuwinge het natuurlik nie sonder slag of stoot gekom nie. Oor baie goed is daar woes gestry, mense het kwaad geword vir mekaar en party het geloop na ander kerke toe.

Vir my lyk dit of daar in die menslike natuur verskillende neigings is. Party mense is van nature vernuwers. Ander skop instinktief teen enige verandering. Onvermydelik loop dit uit op botsings.

Maar diep in ons tradisie is die moontlikheid van vernuwing vasgelê. Soms word dit makliker omgesit in praktyk as ander kere, maar dis daar.

Is dit Calvyn se skuld? Moet hy die krediet kry vir die ingeboude moontlikheid tot verandering?

Weer eens: ek weet te min van Calvyn om ‘n direkte oordeel te vorm. Wat ek wel weet is dat daar ‘n slagspreuk uit die reformasie kom wat sê dat ‘n gereformeerde kerk altyd reformeer. Natuurlik is die veronderstelling dat dit reformasie ooreenkomstig die Bybel moet wees. Indien die verandering nie met die Bybel klop nie, so sê party Doppers graag, is dit nie reformasie nie, maar deformasie. Dit is ook so dat party mense moeiliker as ander oortuig word dat verandering in die lig van die Bybel geregverdig kan word, maar dis nie die punt nie.

Die punt waarby ek wil uitkom is dat die slagspreuk dat gereformeerde kerke altyd moet reformeer, uit die reformasie self kom. As ek dit nie tot Calvyn self kan terugvoer nie, lyk dit my ek kan dit ten minste terugvoer na sy era, na die dampkring waarin hy beweeg het en waarin hy ‘n leidende rol gespeel het.

Daarom lyk dit vir my dat ons vir Calvyn waarskynlik ook krediet sou kon gee vir die moontlikheid van verandering wat diep in ons tradisie ingebou is.

Kom ek sê iets oor ‘n derde groot indruk wat ek het van die Calvinsime. Dit is een van versplintering. Met die uitsondering van die charismatiese stroom is daar geen ander christelike tradisie waarvan ek weet waar daar so ‘n versplintering van kerke plaasvind soos in die gereformeerde tradisie nie.

Om terug te keer na die beeld van die lappieskombers: dis asof gereformeerdes vir mekaar sê, as die patroontjie op jou lappie in die kleinste jota of tittel afwyk van die patroontjie op my lappie, dan kan ons nie meer een lappie wees nie. Dan vat ons ‘n skêr en ons sny dit in twee.

Ek gesels nou die dag by die GKSA se algemene sinode met ‘n verteenwoordiger van een van die Nederlandse kerke wat daar teenwoordig is en ek sê vir hom ek wens ek kon die kerklike posisie in Nederland verstaan. Ek wens ek het geweet watter kerk het uit watter ander kerk ontstaan en wat die redes was dat dit afgeskei het.

Hy het net sy kop laat sak en gesê: “Dis baie ingewikkeld.”

In Suid-Afrika lyk dit nie veel beter nie. Behalwe vir die drie susterskerke is daar ‘n duisternis ander gereformeerde kerke. Party is Christelik gereformeerd en ander evangelies gereformeerd. Daar is die Calvyn-Protestantse kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Vrygemaakte Gereformeerde Kerke, en die Verenigende Gereformeerde Kerk, die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa, die Maranatha Reformed Church of Christ wat uit die Hervormde Kerk se sendingwerk ontstaan het en die Gereformeerde sinode Soutpansberg wat nog nie deel is van die GKSA nie.

Party van hulle het om politieke redes as afsonderlike kerke ontstaan en ander weens teologiese twiste – en die een rede is so skandelik soos die ander.

Is dit Calvyn se skuld? As ek die geskiedenis reg verstaan, het ons van Calvyn ‘n klem op die korrekte leer geërf, ‘n klem op die waarheid as jy wil. Maar as ek die geskiedenis reg lees, het die gereformeerdes wat ná Calvyn gekom het, ‘n oordrewe en eensydige klem hierop gelê. Dis ‘n klem wat dit maklik gemaak het om jou met groot selfregverdiging af te skei van enigeen wat van jou verskil.

Al weet ek van Calvyn self nie verskriklik baie nie, weet ek dat hy gesê het dat hy oor die sewe seë sou vaar ter wille van die eenheid van die kerk. Dit lyk vir my daardie insig het in die tradisie grootliks verlore geraak.

Calvyn het, anders as die Calviniste na hom, ‘n balans nagestreef tussen waarheid en eenheid. Hy wou aan beide vashou. Sy volgelinge het dikwels die eenheid laat los ter wille van hul vermeende of versinde waarhede.

Dit lyk my dus of ‘n mens Calvyn onskuldig moet bevind aan die versplintering wat so ‘n skandelike kenmerk van die Calvinisme geword het.

Ter afsluiting. Hier staan ek nou, ‘n Calvinis teen wil en dank. Soos die vis wat nie anders kan as om in die dam te swem waarin hy hom bevind nie, kan ek nie anders as om my geloof uit te leef in die Calvinisme waarin ek grootgeword het nie.

Maar my blootstelling as kerksake-verslaggewer het my ‘n waardevolle les geleer. Van elke denominasie, elke tradisie, elke Christelike stroom waarmee ek al te doen gekry het, kan ek omtrent sê: Daar is iets by hulle waarvan ek hou, wat ek van hulle kan leer, maar daar is ook goed waarvan ek nie hou nie, wat ek bly is, is nie deel van my tradisie nie.

Elke lappie van die groot Christelike kombers wat om die aarde gevou is, het sy sterkpunte en sy swakpunte.

Die kuns, lyk my, is om jou eie sterk- en swakpunte te ken. Daar is binne die Calvinisme genoeg sterkpunte waarop ‘n mens met vertroue kan voortbou, maar daar is ook slaggate waarvoor ons as Calviniste in die 21ste eeu ons oë moet oophou.

Share this / Deel hierdie: