Boekbekendstelling op 25 Oktober, 2014 by Protea Boekehuis

Dit was ‘n persoonlike geleentheid. Almal wat daar was, het ‘n pad met Cas Vos geloop. Ou bekendes, minder bekendes, onbekendes: Homeros het gesterf, maar ook nie. Cas Vos het hierdie digter laat herleef die oggend van 25 Oktober 2014 by Protea Boekhuis, Minnistraat 8 in Pretoria.

Die redakteur, Martjie Bosman, het ons verwelkom en oor haar rol in die proses gepraat. In haar lewe het Martjie vele boeke onder oë gehad, maar Cas Vos se ‘Ilias’, het sy gesê, was haar eerste kennismaking met die werklike woorde van Homeros, en dit was ‘n ontdekking. Die boek is netjies uitgegee, en die illustrasies is mooi, maar of dit regtig ‘mooi’ is, moet die leser maar self besluit. Want in die boek word die gruwels van oorlog wreed en sonder skroom belig, en dit is nie ‘n ‘mooi’ wêreld nie. ‘n Vertaler is egter iemand wat hierdie wêreld ken en dit kan weergee, en wat daarin slaag om om dit baie naby aan die leser te bring. Protea Boekehuis wil juis deur sulke vertalings ‘n venster vir lesers oopmaak, om ander wêrelde te sien en te beleef.

Die akteur, Paul Luckoff, het ‘n paar van Cas Vos se ‘fragmente’ voorgedra, en hy het dit besonder dramaties en met oorgawe gedoen. ‘n Mens moes eintlik nie die teks voor jou gehad het nie. Jy moes jou oë toemaak en luister, met oorgawe luister en jouself in die vertelling inleef. Die hedendaagse leser vergeet soms dat die mens van die antieke tye primêr ‘n hoorder was; dat woorde, klank, rym en ritme ‘n wêreld moes voorstel wat ons vandag in rolprente met allerlei tegnologiese effekte kan skep. Maar soms moet die oog terugtree, sodat die oor weer in ere herstel kan word.

Gerhard Swart, dosent in Grieks by die Universiteit van Pretoria, het iets oor die vertaling gesê. In die ‘Ilias’ hoor hy ‘n getuigskrif van Cas Vos, die wetenskaplike en die kunstenaar. Die wetenskaplike navorser kom in die eerste gedeelte aan die woord, waarin hy ingelig en onderhoudend oor Homeros en die invloed van sy werke skryf. Cas Vos skryf egter nie net bloot oor Homeros en sy werke nie, maar met hulle en deur hulle oor Homeros, tot vandag. Maar wanneer die seegodin aan die woord kom, tree Cas Vos op die agtergrond, en begin Homeros te praat. En hy praat Afrikaans. Cas Vos se ‘Fragmente uit die Ilias’ is nie ‘n vertaling nie, dis ‘n omdigting. Hy ken die Griekse wêreld en die Griekse taal; terselfdertyd is hy hartstogtelik lief vir sy eie taal.

Nadat Paul Luckoff weer ‘n paar gedigte voorgedra het, is dit Cas Vos se beurt. Eers voer hy ons na Olimpus toe mee. Hy stel ons aan die gode voor, die agterbakse Zeus, Hephaistos die kreupel aambagsman, en Afrodite van die liefde. Hy bring ons na die aarde toe, en laat ons kennis maak met Agamemnon, die karakter van wie hy die minste hou, en natuurlik, die beeldskone Helena. Listige magsdronk manne en listige lieflike vroue – dit is die oorsaak van oorlog. Oorlog bly wreed, dit was wreed tóé, en dit is vandag ook wreed. Ons kan maar dink aan die Oekraïne, aan Sirië, aan Kanada. Ons wonderlike kultuur is ook maar eintlik oor die muur.

Die ‘Ilias’ is vir Cas Vos ‘n werklike wêreld. Hy kyk nie daarna deur ‘n venster nie. Die gebeure het hy nie gesien nie, hy het dit beleef. Die mense het ‘n lewe van hul eie gekry. Cas Vos het hulle gesien, hy het hulle ontmoet, en hy het selfs met hulle gepraat. Die ‘Ilias’ het in Suid Afrika van die een en twintigste eeu aangekom. In Afrikaans.

Share this / Deel hierdie: