Ongeveer 800 vC vertel ‘n Griekse digter, Homeros ‘n lang verhaal van vervloë tye. Dit is die verhaal van die bloedige oorlog tussen die Grieke en die Trojane, en die omswerwinge van ‘n held wat tien jaar later na sy huis toe terugkeer. Volgens oorlewering was Homeros blind en ongeletterd, nòg hy, nòg sy gehoor kon lees of skryf. Die blinde man se woorde moes ‘n wêreld oopbreek, ‘n wêreld wat nòg hy, nòg sy gehoor kon sien, maar dit het nie saak gemaak nie. Want Homeros se woorde het ‘n venster oopgemaak na Zeus, Apollo en Aphrodite daarbo in die hemel; in sy woorde het die beeldskone Helena, Menelaos van Sparta, Paris van Troje en die magtige Agamemnon van Mukene hier onder op die aarde mense van vlees en bloed geword.

Mag, hebsug, jaloesie en ‘n beeldskone vrou is die vonk wat ‘n bloedige oorlog laat ontketen. Na verlies van baie lewens, keer een van die helde, Odusseus terug huis toe waar sy vrou al die jare getrou op hom bly wag. Homeros se ‘Ilias en die Odusseia’ is byna iets soos ‘n merisme – die twee word as’t ware in een asem genoem. Die Odusseia vertel van Odusseus se omswerwinge vanaf Troje terug na Ithaka; die Ilias vertel van oorlog. Tog vertel elk op sy eie ‘n epiese verhaal, en in sy boek fokus Cas Vos op die Ilias. Ilios is ‘n ander naam vir Troje, en dit is insiggewend dat die titel van hierdie epos nie dié van die oorwinnaars is nie, maar dat ‘Ilias’ na die verloorders verwys.

Cas Vos beskryf die Ilias as ‘n ‘treurspel van gekrenkte trots, haat en wrok, wraak en vergelding, twis en versoening, vriendskap en liefde, en van alle menslike emosies’ (p 47). ‘n Soort treurspel, sê hy, wat netsowel in ons tyd en lewens sou kon afspeel, en dis nie toevallig nie dat hy ook na die Eerste Wêreldoorlog verwys, ‘n verskriklike treurspel, skaars ‘n honderd jaar gelede. Onwillekeurig het ek aan John McCrae se roerende gedig uit hierdie tyd gedink: ‘In Flanders fields the poppies blow . . .’ Oorlog is altyd verskriklik, of dit nou ‘n paar duisend jaar gelede, ‘n honderd jaar gelede, of vandag woed.

Maar meer oor die boek self. Die meeste ouer lesers het op skool reeds met Homeros en sy werke kennis gemaak, en ofskoon baie detail vervaag het, is baie van die name en gebeure nie onbekend nie. Baie van die jonger geslag het egter nog nooit hiervan gehoor nie. Daarom is Cas Vos se inleidende hoofstuk van sy Ilias vir almal van onskatbare waarde, vir dié wat niks weet nie, maar ook vir dié wat al ‘n bietjie vergeet het. In hierdie hoofstuk wat hy ‘Homeros se afdrukke’ noem, stel hy die hedendaagse leser aan Homeros se wêreld bekend. Hy toon aan watter ongelooflike impak hierdie ‘blinde ongeletterde’ digter se werke gehad het, nie net op sy eie tyd nie, maar eeue en eeue later – en nie net op die Griekse wêreld nie, maar wêreldwyd. Homeros het ook nie slegs literêre werke inspireer nie, die skilderkuns, beeldhou, musiek en film het van sy idees gebruik gemaak. Behalwe dat hierdie oorsig interessant en onderhoudend aangebied word, getuig dit daarvan dat Cas Vos indringende navorsing gedoen het, wat hy só verinnerlik het dat hy die leser boei en nie bloot ‘n klomp informasie en feite opstapel nie. Homeros en sy werke leef voort.

Dieselfde geld vir die volgende afdeling wat Cas Vos ‘Konteks’ noem. Ook hierdie hoofstuk is noodsaaklik. Aangesien Vos nie die hele Ilias vertaal nie, maar net ‘Fragmente’, is dit nodig om die hedendaagse leser in die konteks van die groter verhaal in te bring. ‘n Sinopsis van elk van die vier en twintig boeke word verskaf soos wat die verhaal chronologies ontvou. Die leser kry ‘n goeie indruk van wie is wie en wie hoort waar – want daar is baie karakters en baie gode, en ‘n mens kan maklik deurmekaar raak. Gelukkig is daar aan die einde van die boek ‘n ‘Verklaring van name’ (pp 152-159) waar ‘n mens jou vinger kan hou en naslaan indien nodig. Maar ook hier vertel Cas Vos nie net die storie nie. Hy lig die vertelling toe met digterlike grepe om reeds vooraf die karakters deur hul denke, hul woorde en hul dade te laat leef. En wanneer hulle uiteindelik in ‘Fragmente’ begin optree, is hulle geen vreemdelinge meer nie.

‘Fragmente.’ Die hoogtepunt. Soos Gerhard Swart tydens die boekbekendstelling gesê het: hier bly Cas Vos stil, en Homeros kom aan die woord. En hy praat Afrikaans. Hy voer jou mee na die drifte en drange van mense en gode – want die Ilias is ‘n kosmiese oorlog. Dis nie net ‘n stryd tussen die Achajers en die Trojane nie, ook die gode is verdeeld, hulle konkel teen mekaar en veg saam in die stryd. Die lot van gode en mense is onlosmaakliklik by mekaar verstrengel, god en mens ervaar emosies van woede, wraak, hartstog, verdriet. Die enigste verskil is dat die gode nie sterf nie: die mense wel.

Cas Vos se ‘Fragmente’ moet jy nie lees nie, jy moet hom toe-oog luister. A-la Homeros skilder sy woorde ‘n onsigbare wêreld wat jy net voor jou geestesoog kan belewe. Elke fragment, elke sinsnede, elke strofe moet as’t ware hardop gelees word, en dan moet jy as leser jou oë toemaak en die woorde oor en oor op jou tong laat rol, dan proe, en insluk. Want eers dan begin jy ‘sien’. En nee, jy sien nie ‘n mooi wêreld nie. Reeds in die proloog voorspel Thetis, die seegodin dat elke dag ‘n ‘treurende wond’ sal wees, waar mense en gode hulle met haat en afguns sal verlustig (p 81). Stryd, bloed en trane is aan die orde van die dag. ‘Die aarde sug van al die purper bloed’, want ‘oorlog ken geen rus nie’ (p 122).

Besonder hartseer is van die laaste tonele waar twee vroue se verdriet oor die dood van die Trojaanse held, Hektor uitgebeeld word: sy moeder en sy vrou. ‘Hektor se moeder gooi haar glansende sluier weg. Sy trek haar hare uit. Toe sy na haar lewelose seun kyk, kerm en ween sy. Sy vader en die mense van die stad hoor die kermgeluide en rou saam – wenend en treurend. “Kon hy maar in my arms gesterf het! Dan kon ek en sy moeder hom in sy doodsangs bekla en versorg het. Met trane kon ons die bloed van sy lyf afgewas het. Maar die dood en die noodlot het hom ingehaal”’ (p 133).

Op bladsy 134 leef Hektor se vrou stil en onwetend voort. Sy is besig om in haar binnekamer van haar hoë huis ‘n doek te weef, ‘n purpergeklede doek. Sy het sierlike veelkleurige blomme daarom geborduur. Sy roep die meisies in om ‘n groot drievoet op die vuur te sit. As Hektor van die bloedstryd af terugkom, wag ‘n warm bad op hom. Arme vrou. As sy maar geweet het! Sy hoor hoe die stad se weeklaag teen die stadsmure eggo. Iets is iewers fout. En dis ‘n groot fout. ‘n Vrou wat wag op die tuiskoms van ‘n man. Hoopvol. En dan die wrede ontnugtering. Ook hierdie scenario het my aan Rigters 5:28-30 laat dink: ‘n moeder wat by die venster uitkyk vir haar seun om van die oorlog af terug te kom, hoopvol, onwetend dat hy gesneuwel het.

Cas Vos se boek eindig nie soos die Ilias in smart en verdriet nie. Sy laaste woorde is aan ‘n vrou, die beeldskone Helena, en ‘n persoonlike ode wat hy aan haar opdra. Dit is sy wat mans verlei, dit is oor haar wat mans baklei. ‘Maar wie kan hulle, wie kan my, kwalik neem? Vir só ‘n vrou, onsigbaar, onaantasbare skoonheid – listige lieflike skoonheid’ (p 148).

Om ‘n wêreld met woorde te skep, dit is wat Cas Vos en Homeros in gemeen het. En dit is waarom Cas Vos Homeros in Afrikaans kan laat leef. Vertalings van klassieke werke is volop, ongelukkig is letterlike vertalings meestal gedronge en kunsmatig, en gewoonlik net so ontoeganklik en onverstaanbaar soos die oorspronklike taal en oorspronklike werk self. Cas Vos het die Ilias nie vertaal nie; hy het Homeros gehoor, en hy vertel in Afrikaans wat hy deur die blinde oë gesien het.

Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis. ‘Fragmente uit die Ilias’ deur Cas Vos – of is dit Homeros? – is ‘n ervaring wat niemand sal koud laat nie.

Share this / Deel hierdie: