Inleiding

 

Vroeg in 2006 het Alphonso Groenewald ‘n artikel op teo.co.za geplaas waarin hy die algemene kenmerke van fundamentalisme bespreek het en ook op die gevare gewys wat dit vir die Kerk inhou. In die lig van die beroering wat Angus Buchan tans landwyd in Christelike kringe van alle Christelike denominasies veroorsaak, fokus hierdie artikel spesifiek op fundamentalisme soos wat dit vanuit Amerika oorgespoel het. Alhoewel fundamentalisme ‘n wêreldwye verskynsel is en inderdaad in alle godsdienste aangetref word, het dit ontstaan binne die Christelike Protestantse denominasies in die VSA van die twintigste eeu.

 

Fundamentalisme

 

Amerika, vroeg in die twintigste eeu, was aan die voorpunt van ‘n moderne, sekulêre wêreld. Konserwatiewe Protestantse kringe het hierin ‘n bedreiging vir die tradisionele en morele Christelike waardes gesien. In die ‘Princeton Theological Seminary’ onder konserwatiewe Presbiteriaanse akademici het ‘n Fundamentalistiese beweging wortel geskiet wat later, tydens die 1910 Algemene Vergadering van die Presbiteriaanse Kerk, die vyf fundamentele beginsels van geloof uitgespel het: inspirasie van die Bybel deur die Heilige Gees as onfeilbare Skrif; die maagdelike geboorte; Christus se dood as versoening vir sondes; sy liggaamlike opstanding; die historiese werklikheid van sy wonderwerke. Die doel van die beweging was om ortodokse Protestantse Christendom te bevestig en te verdedig teen die aanslag van die liberale teologie, historiese kritiek van Duitsland, Darwinisme en ander soortgelyke denke. Die sogenaamde ‘Monkey trial’ in 1925, ‘n saak wat teen die onderwyser John T. Scopes gemaak is omdat hy Darwin se evolusieleer in ‘n hoërskool in Tennessee aan leerlinge bekend gestel het, is ‘n bewys van hoe ernstig en invloedryk hierdie beweging gesien is. Na die Eerste Wêreldoorlog het Fundamentalisme ook versprei na konserwatiewe kringe van die Baptiste en ander Christelike denominasies. Kenmerkend was ‘n nostalgiese hunkering terug na die simboliese waardes en ‘rotsvaste sekerhede’ van die verlede.

 

Die Fundamentaliste het sterk separatistiese neigings getoon. Hul sterk godsdienstige en morele beginsels moes ook sosiaal sigbaar wees. Hulle het byvoorbeeld nie gerook of alkohol gebruik nie; hulle het nie gaan fliek nie; vroue het nie langbroek gedra of hul hare kort gesny nie; mans daarenteen het nie hul hare laat groei nie; vroue het nie oordadige juwele of grimering gedra nie; seksuele gemeenskap was bedoel vir die monogame heteroseksuele huwelik en slegs binne so ‘n huwelik; egskeiding was sonde; en ander soortgelyke opvattings. Hierdie amper a-sosiale houding het daartoe aanleiding gegee dat Fundamentalisme op ‘n negatiewe, pejoratiewe wyse aan ‘verkramp’ gelyk gestel is.

 

Evangelisme

 

In 1947 identifiseer Harold Ockenga ‘n beweging binne Fundamentalisme wat dieselfde beginsels ondersteun, maar wat tog daarvan afgeskei het en hy noem dit ‘neo-evangelism’. ‘Evangelism’ kritiseer enersyds Fundamentalisme dat dit afsydig en onbetrokke teenoor die wêreld staan, en andersyds die liberale teologie dat dit die waardes en norme van die samelewing ondersteun en daardeur die beginsels van die geloof verloën. ‘Evangelism’ propageer ‘n middeweg: hulle omhels die hedendaagse sekulêre wêreld en kultuur, maar op ‘n positiewe wyse. Tegnologie, die media, ensovoorts word aangewend om die Boodskap te versprei. Musiek is byderwets, maar verkondig die ou-ou boodskap van die Evangelie. Hul kleredrag weerspieël die neiging van die tyd, maar is nie seksueel uitlokkend nie. In die wêreld, nie van die wêreld nie, is die slagspreuk.  

 

Groot herlewingsbewegings is tipies van ‘Evangelism’. Gelowiges word aangespoor om meer aktief en toegewyd te wees in hul spirituele verantwoordelikhede teenoor God en medemens. Hulle moet terugkeer na die basiese Christelike tradisies en morele beginsels en nuwe waarde daaraan heg. Hulle moet altyd onthou dat God die Een is wat herlewing inisieer. Hy is die Een wat mense uit hul geestelike dood na nuwe lewe roep. Gelowiges moet hulself egter hiervoor oopstel, anders sal God hulle nie help nie. Godsdienstige herlewingsbewegings maak gewoonlik ‘n sterk appél op die emosies van gelowiges. Sulke byeenkomste word gekenmerk deur samesang, handeklap, emosionele lag en huil, en persoonlike openbare getuienisse. Die uitkoms is ‘n nuwe of hernieude persoonlike toewyding. Godsdienstige formalisme word heeltemal oorboord gegooi en lekepredikers beklee dikwels ‘n prominente rol. Die outoriteit van die Skrif staan altyd sentraal wanneer aanspraak gemaak word op berou, bekering en wedergeboorte en geloof in Jesus Christus. 

 

Deur aan te sluit by die tydsgees glo die ‘evangelicals’ dat hulle daartoe bydra om Protestantisme as’t ware te laat herleef binne ‘n sekulêre samelewing. Die Evangeliese erfenis moet binne die onderskeie Christelike kerke opnuut toegeëien word, maar binne ‘n pakket wat vir die moderne mens ontvanklik en begryplik is. Teen die einde van die twintigste eeu staan hierdie beweging bekend as Evangelism, en is die mees invloedryke beweging in Amerikaans Protestantse kringe.

 

Opvattings

 

Alhoewel daar beslis nuanses en verskille onder die opvattings van die Fundamentaliste en die Evangelicals is, kan daar wel ‘n paar breë beginsels identifiseer word.

 

Daar is ‘n onwrikbare vertroue in die Bybel as onfeilbare Woord van God. Die enigste ware geloof is geloof wat gebaseer is op ‘n letterlike interpretasie van die Bybel. Dit is die enigste manier waarop die goddelike waarheid geopenbaar word. Hierdie goddelike openbaring word nie deur menslike interpretasie gefilter nie, maar word duidelik en sonder twyfel deur ‘n transendente mag gekommunikeer. Al wat ‘n mens dus nodig het, is die essensiële, stabiele en ewige waarheid van die heilige teks. Sommige strominge maak erns met die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste om die letterlike Skrif beter te begryp. Nogtans word die insigte van historiese kritiek verwerp, en word ‘n letterlike interpretasie voorgestaan. Groot waarde word aan die historiese betroubaarheid van die Skrif geheg. Daar is egter ander kringe wat ontken dat tradisionele tersiêre opleiding nodig is om die teks van die Bybel te verstaan: dit is immers so dat die Bybelse waarheid vir almal toeganklik is, en dat almal, selfs die kleinste kind dit kan verstaan.

 

Gevolgtrekking

 

Alles is nie net sleg nie. Herlewingsbewegings het in die verlede goeie gevolge opgelewer. In die laat agtiende en vroeg negentiende eeu het Engelse Evangelistiese bewegings sosiale kwessies aangespreek en in die laat negentiende eeu het die Heilsleër tot stand gekom om armes en uitgeworpenes te ondersteun. Ook vandag doen Evangelistiese groepe baie welsynswerk, ook in Suid Afrika onder armes en behoeftiges.

 

Maar waar flikker die gevaarligte? 

 

Op Bybelse gronde word byvoorbeeld aborsie, homoseksualiteit en natuurlik feminisme veroordeel. Aborsie is moord; homoseksualiteit is sonde; die man is die hoof van die huis en sy vrou moet aan hom onderdanig wees. Feministiese kritiek is in hierdie verband korrek: die gebruik van die Bybel op hierdie manier roep net weer ‘n patriargale bedeling in die lewe wat vroue- en kinderregte ondermyn. Om vir ‘n vrou wat ‘n aborsie laat doen prontuit te vertel sy pleeg moord, is om haar psigologies te vermoor. Om homoseksualiteit as sonde uit te lig, is blind vir ander werklike seksuele sondes, selfs binne ‘n heteroseksuele huwelik, soos dié van vernedering, manipulasie, afpersing…      

 

‘n Verdere probleem is wanneer die moeilikste vrae van die lewe met maklike oplossings uit die Bybel beantwoord word. Dit geld veral die teodisee-vraag – soos wanneer die ontydige dood van ‘n jong kind verklaar word dat Jesus hom kom haal het om in sy huis te kom speel, of dat Hy haar as die mooiste blommetjie vir sy tuin gepluk het. ‘n Bedroefde en stukkende ouer kan so ‘n Jesus nouliks liefhê. Sulke antwoorde maak dikwels seer in plaas van om te troos, dit vernietig in plaas daarvan om op te bou. Hierdie antwoorde is nie noodwendig altyd reg en/of toepaslik nie.     

 

Uiteindelik, en terug na die begin: die grootste probleem by die Fundamentalistiese en Evangeliese bewegings kom by hul Skrifhantering. Ten alle koste moet teen menslike interpretasie van die Bybel gewaak word, is hul betoog. Maar in 1910, toe die basiese en fundamentele geloofsbeginsels soos gebaseer op die Skrif vasgelê is, het menslike interpretasie dan geen rol gespeel nie? Is dit nie dalk juis hierdie menslike interpretasie wat verantwoordelik is vir die sekerheid waarmee klinkklare antwoorde op die mees komplekse vrae van die samelewing voor ‘n gehoor van derduisende uitbasuin word nie?   

 

Aanvullende bronne:

Armstrong, K 2001. The Battle for God. A History of Fundamentalism. New York: Ballantine Books.
Brasher, BE 2001. The Encyclopaedia of Fundamentalism. New York: Routledge.

Lawrence, B 1989. Defenders of God: The Fundamentalist Revolt against the Modern Age. San Francisco: Harper.

Share this / Deel hierdie: