Jesus se worsteling in Getsemane bly ’n roerende verhaal. En die rede daarvoor lê in die geweldige menslikheid daarvan. Elkeen kan dit verstaan en elkeen kan die intense emosies as ‘t ware saam met Jesus beleef. Lukas se verhaal (22:39-46) is ’n bietjie anders. Jesus was op pad Olyfberg toe en sy dissipels het Hom gevolg. In die tuin het Hy eenkant toe gestap en gebid. Dit was so intens dat ’n engel Hom bygestaan en sy sweet soos bloeddruppels op die grond geval het. Doodsangs het Hom gepak en Hy ‘het nog ernstiger gebid’.

Markus (die oudste evangelie) en Matteus vertel die verhaal ’n bietjie anders. Niks van die ‘engel’ of die ‘bloeddruppels’ word gesê nie, maar hulle verwys ook na sy angs. Volgens Markus (14:32-42) was Hy ‘ontsteld en beangs’ en het Hy gesê, ‘Ek voel doodsbenoud’. Matteus het hierby aangesluit en gesê Hy was ‘bedroef en beangs’.

Matteus sê oënskynlik dieselfde, maar hy voeg woorde by wat sy vertelling (26:36-46) soveel aangrypender maak. So sê Jesus volgens Markus vir Petrus, Jakobus en Johannes: ‘Bly hier en waak’, terwyl Matteus iets byvoeg: ‘Bly hier en waak saam met My’. Jesus was bang en het na die ander uitgereik. In sy intense angs was Hy alleen en eensaam en het dalk na ’n stukkie medelye van die ander gesmag, maar tevergeefs. Sy lydingsweg was ’n alleenpad en Hy sou later selfs van godverlate voel.

Al drie evangelies vermeld dat Jesus gebid het. Die woordjie ‘bid’ kom in elkeen ’n paar keer voor, maar weereens is daar so iets aangrypend in Matteus se vertelling. Markus vertel dat Jesus ‘op die grond gaan kniel en gebid’ het, maar Matteus het iets bygevoeg: Hy het gekniel en ‘met die gesig teen grond’ gebid. Met dié woorde het Matteus sy angs, sy wanhoop en sy intense worsteling duideliker probeer skets.

In Jesus se geweldige gebedstryd het daar egter iets met Hom gebeur. Klaarblyklik tussen die tweede en derde gebedsworsteling, volgens Matteus. Jesus het ontdek dat die beker nie by Hom verby sou gaan nie; dat Hy die lydende kneg van Jesaja 53 was; dat Hy in die plek van die lammetjies sou moes inskuif om God se toorn vir ander te dra.

En dan gebeur iets groots. Jesus vlug nie dieper die tuin in nie, maar loop sy vyand, sy dood tegemoet. In sy worsteling met die Vader het Hy krag ontvang om op te staan en sy kruis te dra. In sy gebedstryd het Hy kalmte gekry om sy lydingspad alleen te loop. En daarom kon hy aan sy disipels sê: Staan op, kom ons loop (Matt 26:46).

Dié verhaal laat ’n mens dink aan wat van Dietrich Bonhoeffer gesê is. Aan die begin van April 1945 het Hitler besluit dat dié jong teoloog moes sterf. Hy was teen die Nazibewind gekant en het met versetsbewegings gesimpatiseer. Uiteindelik is hy gevang, in die tronk gestop en op 9 April gehang. Sy lyk is verbrand, sy persoonlike besittings gekonfiskeer en hy het amper uit die geheue verdwyn. 

As ‘n mens egter oor Bonhoeffer nadink, tref sy laaste dae jou. Veral die ontsaglike magteloosheid dat hy niks aan sy omstandighede kon doen nie. In April 1943 is hy gearresteer en twee jaar lank het hy gebid dat die tronkdeure moes oopgaan, maar dit het nie. Elke dag het hy gehoop, maar die tronk se deure het dig gebly. 

En toe kom Paasfees van 1945 en Bonhoeffer sterf. Dit is asof onsself die magteloosheid kan aanvoel. Dit was skaars ‘n paar weke voor die oorlog se einde, maar niemand kon sy vinnige verhoor en sterwe keer nie. Alles was so onafwendbaar.

Jare later het die kampdokter egter iets aangrypend van Bonhoeffer se laaste oomblikke vertel. Hy het deur ‘n halfoop deur gesien hoe Bonhoeffer gekniel en gebid het. Die opregtheid, die innigheid en die oorgawe waarmee gebid is, sou die dokter altyd onthou. Ook die oomblikke toe Bonhoeffer op die galg se trappies gaan staan en gebid het.

Dit was pase, Bonhoeffer was bang, hy het gebid en toe het hy die dood tegemoetgeloop. Dié gebeure kry ‘n groter betekenis as ‘n mens dit in die lig van Jesus se eie worsteling in Getsemane verstaan. Dit was ook Paasfees, Jesus het ook geweet sy einde kom en ook Hy was bang. En tog het sy gebedservaring Hom die moed gegee om sy kruis op te neem en te sterf. ’

Geseënde Paasfees toegewens.