2. Die Joodse Konneksie

Noord-Etiopië se mense lyk anders. Hulle is tipies bruin na ligbruin, het donker gladderige hare, en gelaatstrekke wat amper Semities wil lyk… tipies driehoekige gesigte wat meer herinner aan ons eie San. Dit is dan ook nie vreemd gesien die bewerings dat die oorspronklike inwoners rondom Axum, die ou hoofsentrum, oor ‘n lang tyd saamgesmelt het met die Sabeërs en ander groepe in die suide van Arabië (die huidige Yemen). Dit is ook heeltemal verstaanbaar, want hierdie groepe is maar net geskei deur die Rooi See, wat hier ook maar redelik smal is. Die Axumitiese koninkryk het via die Rooi See met die buitewêreld handel gedryf, en het dan ook sy invloedsfeer na Arabië uitgebrei.

Iets soos ‘n Joodse konneksie lyk dus moontlik, maar dit gaan heelwat verder. Volgens die Etiopiese weergawe was die legendariese Bybelse koningin van Skeba juis uit hierdie Abyssinies-Arabiese geweste afkomstig, en was sy die heerser in Axum. 1 Konings 10 vertel van die besoek van hierdie magtige vrou aan die wyse koning Salomo. Sy het hom oorlaai met ‘n rykdom van geskenke… “meer as wat ooit die land ingekom het” (vers 10). Sy was in die oortreffende trap beïndruk met sy wysheid en die guns van die Here. Op sy beurt het Salomo haar ook “alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het” (vers 13). Een van die dinge wat hy haar gegee het – so is die vaste geloof in Etiopië – is ‘n seun met die naam Menelik wat later in Axum gebore is. Hierdie seun – ‘n halwe Judeër – sou die eerste van ‘n lang ry Salomitiese konings in Etiopië wees. Trouens, die in 1974 afgesette keiser Haile Selassi was beskou as die laaste van 252 konings in dié dinastie wat min of meer onafgebroke oor hierdie land regeer het!

Het u al gewonder wat van die Ark van die Verbond geword het wat Salomo met groot piëteit in die allerheiligste van sy tempel laat plaas het? Dit was mos die eintlike rede vir die bou van die tempel! Een of ander tyd ná Salomo het hierdie Ark vanaf die radarskerm verdwyn. Daar is baie teorieë hieroor, en daar is selfs ‘n fliek daaroor gemaak (“Raiders of the Lost Ark”). Maar die Ethiopiërs het daar geen twyfel oor nie. Hulle wéét: die Ark word in Axum in ‘n toegewyde kerkgebou bewaak deur ‘n afgesonderde priester. Ek het dit gesien. Nie die Ark nie, nee, niemand het dit al gesien nie, maar die kerk en die priester!

Nou hoe het dit gebeur dat hierdie allerheiligste voorwerp van die Joodse godsdiens in Ethiopië beland het? Afgesien daarvan dat daar baie sinisme is oor hierdie aanspraak, is daar ook heelwat weergawes van die verhaal. Ek gee maar een daarvan weer.

Toe Menelik sowat 20 jaar oud was, wou hy ten alle koste sy vader in Jerusalem gaan besoek. Hy is toe ook weg, vergesel deur al die adellike jongmanne, afgesien van die gebruiklike presente en fanfare. Salomo het onmiddellik van hierdie jongman – sy oudste seun – gehou. Die liefde en ontsag was wedersyds. Op Salomo se aandrang dat Menelik moes bly om hom as koning op te volg, het hy vriendelik daarvoor bedank omdat hy reeds aan sy moeder die belofte gemaak het om die Axum troon oor te neem. Na ongeveer ‘n jaar het hy huis toe vertrek, maar nou sou Salomo op sy beurt weer uit al 12 die stamme van die vooraanstaande jongmense saamstuur. Dit was reeds ver op die terugreis dat Menelik se metgeselle die nuus teenoor hom breek: hulle het die Ark uit die tempel verwyder, en dit is saam met hulle op reis. Te midde van die ontsteltenis oor dié breuk van sekuriteit het ‘n hele debat gevolg. Moes die Ark nie liewer teruggeneem word nie? Uiteindelik is besluit om voort te gaan: daar is geen manier dat die Ark uit die allerheiligste verwyder sou kon word as dit nie die wil van God was nie!

Waar die Ark oor die volgende eeue (millennia) gehou is voordat hy ongeveer ‘n eeu gelede sy huidige rusplek bereik het, is onbekend. Axum was nie altyd veilig nie. Die koningshuis het ook gereeld verskuif. Daar is wel sprake dat ‘n klooster op ‘n eiland in die Tanameer vir ‘n tyd lank die rusplek was. In Gonder is daar ook sprake dat die bekende Drie-eenheidskerk vir daardie doel opgerig is. Maar ons laat dit daar. Vir die lede van die Etiopies Ortodokse Kerk is dit absoluut ondenkbaar dat die Ark nie in Axum is nie. In elke kerkgebou van dié Kerk is daar (in die allerheiligste) ‘n afbeelding (replika) van die Ark, genoem die tabot. Dit is hierdie voorwerp wat in elke kerkgebou daarvan ‘n heilige gebou maak.

Maar daar is nóg ‘n Joodse konneksie. Die Falasha, oftewel die Swart Jode, woon al vir honderde jare (millennia?) in die noorde van Etiopië. In die vierde eeu, toe die Ryk christelik geword het, sou hulle die druk weerstaan om die nuwe godsdiens aan te neem, en het na die omgewing van Gonder gevlug. Mettertyd het die druk op hulle afgeneem, en is hulle toegelaat om hulle unieke kultuur en godsdiens te handhaaf. As gevolg van vermenging is daar geen ooglopende onderskeid tussen hule en die omliggende mense nie. Maar hulle het ‘n definitief Ou-Testamentiese geloof. Die nuwe staat Israel het hulle ook aanvaar as Jode, en het hulle ook op groot skaal gerepatrieer na Israel. Baie min van hulle is nog in Etiopië oor. Maar hulle klein nedersettings noord van Gonder is nog baie sigbaar… veral weens die klei voorwerpe wat hulle hoofsaaklik vir die toeriste maak. Baie prominent is die Dawidster simbool wat orals vertoon word.

Trouens, het u al die Etiopiese vlag gesien? (Hy het dikwels gewapper op die Olimpiese Spele.) Dit is groen, geel en rooi van bo na onder. En wat is in die middel? ‘n Blou ster wat op die eerste kyk lyk na die Dawidster met die byvoeging van sulke strale tussen die punte van die ster! Eintlik is dit ‘n vyfpuntige ster, maar dit kon netsowel die eintlike een wees.

Volgende keer: iets oor die merkwaardige interaksie met Islam in hierdie Noord-Afrika staat.

Share this / Deel hierdie: