3. Etiopië en die Islam

Ek het reeds vertel dat die magtige Axumitiese ryk in die jaar 341 formeel christelik geword het toe die eerste biskop – Frumentius – as Aba Salam ingeseën is. Hieragter lê ‘n mooi verhaal. Frumentius, wat as skipbreukeling-slaaf in die paleis gekom het, het deur sy christelike getuienis uiteindelik koning Ezana beinvloed om ‘n christen te word. Hy is na Athanasius die Patriarg van Alexandrië gestuur met die versoek om ‘n biskop vir die kerk van Axum te stuur. Athanasius het die boodskapper deurgekyk en gesê: ek kan aan niemand meer geskik as jy dink nie. Hy is georden en teruggestuur.

 

Maar ons weet dat skaars 3 eeue later Athanasius se kerk in Alexandrië – en prakties die hele kerk in Noord-Afrika – deur die Moslem opmars uitgewis is. Baie min het van die vooraanstaande ou Romeinse kerk in daardie geweste oorgebly. Maar die Etiopiese kerk het onaangeraak voortbestaan. Hoe so?

 

In die eerste plek was daar – soos ek reeds gemeld het – ou bande van bloed en handel tussen Axum en die Arabiese skiereiland. Toe Mohammed dus in Medina in die moeilikheid geraak het oor sy godsdienstige hervormings het hy ‘n hele groep van sy volgelinge, en onder andere sy suster, vir asiel na Axum gestuur. Daar is hulle vriendelik ontvang en gehuisves vir ‘n hele aantal jare, totdat die situasie in Arabië verander het. Hierdie vriendskap is nie vergeet nie. Toe die jihad, die godsdienstige verowering, oor Noord-Afrika gespoel het, is die Etiopies Ortodokse kerk vervolging gespaar. Wat wel gebeur het, is dat die Etiopiese christendom in ‘n groot mate geïsoleer is van die res van die christenwêreld. Daar was ‘n formele dun draadjie wat hulle aan die (oorblyfsel van) die Koptiese kerk in Egipte gebind het, want steeds sou die hoof van die kerk vandaar sy legitimiteit ontvang, maar eintlik het die Etiopies Ortodokse Kerk met sy lewe aangegaan sonder die invloed en interaksie met die buitewêreld. Dit verklaar natuurlik die unieke gebruike en gelowe van hierdie Kerk.

 

Hierdie vreedsame naasbestaan met Islam sou vir honderde jare voortduur. Politieke en veral handelskompetisie sou egter vanaf die dertiende eeu sorg vir groeiende spanning in die streek. Teen 1490 het ‘n Moslem leier Mahfuz vanuit die omgewing van die huidige Somalië oorlog verklaar teen christelike Ethiopië. Hy en sy magte het groot skade aangerig, maar die ergste sou nog kom. Ná hom het Ahmed Ibn Ibrahim al Ghazi (bekend as Ahmed Gragn die Linkshandige) met groter geweld voortgegaan, die christelike Keiser in 1529 verslaan, en gedreig om die hele christelike ryk te vernietig. In 1535 het die desperate Keiser Lebna Dengel die hulp van die Portugese ingeroep, wat intussen aan die oostekant van Afrika bedrywig geraak het. Dit sou egter nog sowat 20 jaar duur voordat die Islamitiese aanslae – met behulp van die Portugese – afgeweer kon word.

 

Hierdie oorloë het groot verwoesting agtergelaat. Byna is die ou christelike beskawing uitgewis. Talle antieke kerkgeboue, met hulle skatte aan ou boeke en relieke, is vernietig, maar nooit weer sou die Islam ‘n groot bedreiging inhou nie. Inteendeel, die tradisionele ontspanne verhoudinge van vreedsame naasbestaan is voortgesit. Vandag is ongeveer 30% van die bevolking, veral in die laaglande aangrensend aan Eritrea en Somalië, Moslems.

 

‘n Ander baie interessante en onbeplande gevolg van bogenoemde Moslem-Christen oorloë was die binnekoms van die katolieke Portugese. Teen die middel van die 16de eeu was die koninkryk baie verswak. Dit het skaars die reserwes gehad om die verhoogde druk van die kant van die inkomende Oromos uit die suide die hoof te bied. Ook ten opsigte van hierdie nuwe bedreiging is gretig van die Portugese hulp gebruik gemaak. Hierop het gevolg dat Jesuïete sendelinge vroeg in die 17de eeu in die land begin werk het. Konings Za-Dengel en ná hom Susenyos het selfs die Katolieke geloof aangeneem. Die volk het egter nie hiermee genoë geneem nie, veral toe Susenyos met geweld die mense wou dwing om die nuwe (katolieke) weg te aanvaar. Hulle het in opstand gekom. Die nuwe koning Fasiladas kon nie anders nie as om terug te keer na die ou weë nie. Hy het alle Portugese en Jesuïete uit die land gejaag, en die Ortodokse geloof weer gevestig.

 

Vir honderde jare was dit die gebruik dat die konings gedurig hulle hoofsentra verskuif het. In 1636 het koning Fasiladas egter ‘n nuwe fase ingelei deur sy hoofstad na Gonder te verskuif, maar ‘n permanensie daaraan te gee deur ‘n indrukwekkende en soliede paleis daar te bou. Hierdie koninklike kompleks in Gonder is nou nog te besigtig. Binne ‘n massiewe ringmuur het nie alleen Fasiladas nie, maar ook sy vyf opvolgers hulle paleise gebou… indrukwekkende geboue. Die interessante is egter – in lyn met ons tema van vandag – dat hierdie geboue ‘n duidelik Portugese invloed vertoon. Etiopië is uniek in Afrika in die sin dat dit nooit ‘n westerse kolonie geword het nie. Maar tog is daar op hierdie plek ‘n versameling westers gestempelde paleise, ‘n kompleks kastele wat soms romanties die Camelot van Afrika genoem word (met verwysing na die kasteel van die legendariese koning Arthur van Engeland). En hierdie dramatiese plek was die indirekte gevolg van die Islamitiese aanslag op christelike Etiopië…

 

Volgende keer: ‘n paar tentatiewe missiologiese opmerkings.

Share this / Deel hierdie: