1. Die Ou Kerk

Dit is ‘n oorweldigende ervaring om gekonfronteer te word met die Ethiopies Ortodokse Kerk … ‘n Kerk waarvan ons (ten minste ons hier in die suide van Afrika) te min weet!

Stel jou voor: op die stadium dat die Romeinse Ryk van Konstantyn sukkelend begin het om “christelik” te word, toe ons noord-Europese en Afrika-voorouers nog in die bosse op mekaar jag gemaak en nog niks van Christus gehoor het nie, kom die magtige koning Ezana van Axum tot bekering en word die Ethiopiese Ortodokse Kerk formeel gekonstitueer met die aanstelling van Biskop Frumentius! Dit was in die jaar 341.

En vandag, terwyl die nasate van ons voorouers in Europa in ‘n al groter stroom wegbeweeg van die kerk wat die grondslag gevorm het vir die Westerse beskawing, en terwyl die kerk aldaar in talle opsigte onder groot druk verkeer, in hierdie dag bestaan daardie Kerk in Ethiopië nie alleen nog ononderbroke voort nie, maar is sy bestaan diep in die harte en mentaliteit van die mense geanker. Dit is baie duidelik dat die deursnee Ethiopiër, ten minste in die noorde van die land, hom- of haarself nie ‘n bestaan sonder die Kerk kan indink nie.

Om met so ‘n voor-moderne situasie gekonfronteer te word, is nogal iets. Die tradisie is tasbaar, maar nog minder onontkombaar is die fisiese teenwoordigheid van hierdie Kerk. In die museums kan ‘n mens die munte van daardie selfde koning Ezana sien – die eerste ter wêreld met die kruismotief op. Die christelike kruis sien jy ook in die koninklike graftombes van daardie era. Ge’ez, die ou taal wat vandag nog net in die kerk voortleef, is een van die heel eerste tale waarin die Bybel vertaal is. Honderde jare oue geïllustreerde handskrifte van die Bybel en ander godsdienstige boeke kan in elke kerk besigtig word… en dit word gelees!

Die mees ongelooflike ervaring is egter om by Lalibela, die 11de eeuse sentrum van die Ryk, die ontsagwekkende kerke te besigtig wat as geheel uit klip gekap is. Eers is ‘n grag (of sloot) in die oppervlakte van die rotskoppie uitgekap – 10 tot 20 meter diep. En as die rotsblok daar staan, is hy stelselmatig van bo na onder afgewerk tot die buitekant van ‘n kerkgebou, in kruis- of basilika-vorm, kompleet met suile, simbole en (blinde) vensters en deure. Dan het die bouers by die deure begin inkap, en van onder tot bo die binnekant van die kerk uitgehol, volgens ‘n plan: die naaf, die suile, die vertrekke met binnemure, die kruise en ander afwerkings aan die plafonne en teen die mure. Vensters is deurgekap. Die deure, vensters, en ander eienskappe van die verskillende kerke het alles simboliese betekenis. En daarna het die skilderye gekom… soms sommer op die klip geverf, maar meestal op katoendoeke. Hierdie kultuurskatte het alles verkondigingswaarde, want dit beeld op kenmerkende Ethiopiese wyse Bybeltonele uit, maar ook apokriewe verhale. Die engele is belangrik, en ook die talle heiliges uit die tradisie. Natuurlik het Maria ‘n ereplek, maar ook die kruistonele, die verheerliking en die Drieëenheid.

Sommige van die kerkgeboue is met tonnels en gange met mekaar verbind om komplekse te vorm. In gate en grotte rondom sommige bly daar nog asketiese monnikke; in een so ‘n grot is selfs die gemummifiseerde oorblyfsels van sulke hermiete. Maar die kerkgeboue is nie maar net monumente nie, hulle word daagliks gebruik, en elke gebou het sy priester(s) wat op diens is, en wat die heilige voorwerpe en boeke vertoon. Elke kerkgebou – ook dié uit latere tye – het ‘n allerheiligste wat alleen toeganklik vir die priesters is, en waarin ‘n afbeelding van die ark van die verbond gehou word.

Dit is duidelik dat ‘n groot deel van die energie en rykdom van die koninkryk in hierdie kerkbouprojekte gestort is. Dit moes derduisende werksdae, en baie vernuf, geverg het om hierdie (soms genoem die agste wonder van die antieke wêreld) tot stand te bring. Volgens oorlewering is dit alles binne die regeringstyd van koning Lalibela () gedoen. Dit lyk nie moontlik nie, maar, so is die antwoord, bedags het die mense gewerk, maar wanneer dit donker word, het die engele oorgeneem! Elke kerkgebou is aan ‘n heilige gewy. Die interessante verhaal word vertel dat die beskermengel Georgis glo vir koning Lalibela gekonfronteer het met die feit dat hyself, wat so ‘n besondere plek in die kerklewe inneem, nog nie ‘n kerk aan hom gewy gekry het nie. Baie verleë het die koning belowe dat hy die mooiste aan hom sou wy… en inderdaad is die mees besondere, en bes behoue klipgekapte kerk – die St Georgis – aan hom gewy.

Vir meer as ‘n anderhalf millennium was Ethiopië (vroeër Abessinië genoem) ‘n corpus Christianum… kerk en staat was nie te onderskei nie. Dikwels was die koning ‘n priester, en die priester ‘n koning. Om Ethiopiër te wees, was om Ortodoks te wees. Eersa met die val van die keiserryk in 1973, toe Haile Selassi onttroon is, het hierdie periode formeel geëindig. Maar – soos reeds gesê – dit het min verskil gemaak aan die mense. Dit is vandag nog in ‘n groot mate so: die mense leef sigbaar saam met die kerk, die priesters word hoog vereer, en die kerklike feesdae is dié groot openbare feeste. By navraag word ontken dat die modernisme en sekularisme – en ‘n kommunistiese bewind van amper 20 jaar – nog veel hieraan verander het.

Te goed om waar te wees?

In volgende aflewerings skryf ek ietsie oor:

2        Die Joodse konneksie,

3        Hoe dan van Islam? en

4        Vandag? Sending?

Share this / Deel hierdie: