1. Inleiding

Jesus se sogenaamde hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 is beslis een van die mees geliefde en gelese hoofstukke in die Bybel. Daar word van die piëtis Jakob Spener gesê dat hy die aand voor sy dood die hoofstuk drie keer laat voorlees het.

 

Dit is egter ook ’n hoofstuk in die Bybel wat deur al die jare tot kontroversie by hoorders gelei het, juis vanweë die spesifieke inhoud van Jesus se gebed in die gedeelte. Oral waar die Christelike geloof nog sy merk gelaat het in die wêreldgeskiedenis, was daar verdeeldheid van een of ander aard. Van die bloedigste oorloë is op godsdienstige gronde geveg. Daarom sal ’n gebed om eenheid onder gelowiges onmiddellik lei tot vrae oor hoe hierdie eenheid moet lyk en op wie se voorwaardes dit moet geskied.

 

2. Onsigbaar?

In ons eie land het ons ’n baie tragiese pad rondom kerkeenheid geloop. Elkeen van die kerklike groeperings wat na Afrika gekom het om sendingwerk te doen, het ’n bepaalde spoor agtergelaat. Kulturele verskille het uiteindelik hulle pad tot binne-in kerklike strukture gevind.

 

Maar, soos Russel Botman (1997:134) tereg beklemtoon, is dit vir die wêreld buite die kerk ’n geval van “sien is glo”. Die wêreld kan net glo wat hulle by die kerk sien. Daarom kan die kerk nie dink om weg te kom met die verskoning van die sogenaamde “onsigbare kerkeenheid” nie. Daarvoor is Jesus se gebed in Johannes 17 net té duidelik dat die kerk één sal wees sodat die wêreld kan sien (vers 24), glo (vers 21), weet (vers 23). Hulle kan net sien as die kerk sigbaar een is.

 

3. Selfondersoek

Wanneer ons sover kom om hand in eie boesem te steek en selfondersoek te doen ten opsigte van ons eie verdeeldheid, sal ons dit op verskillende vlakke moet doen. Dit gaan oor gesindhede binne ons eie gemeente en miskien wyk. Is daar mense wat ek nie kan verdra nie en daarom dien ek nie op die kerkraad nie, of gee ek nie dankoffer nie of neem ek nie aan die nagmaal deel nie? Daar is selfs mense wat heel vroom meen dat hulle liewer nie aan die nagmaal deelneem nie, omdat hulle een of ander vete met ’n broer of suster het. Intussen doen hulle ook niks om die saak op te klaar nie. Die nagmaal moet ons juis sover bring om eenheid tussen medegelowiges te bewerk. Coenie Burger (1982:126) skryf treffend hieroor: Ons glo egter dat daar ’n sinvoller alternatief is: dat ons ons skuld voor die Here aanvaar, ons onvermoë en radeloosheid bely en die Nagmaal gebruik as ’n gebed om die eenheid van die kerk.

 

Die gevegte wat dikwels tussen predikante woed, doen onberekenbare skade aan die liggaam van die Here. In sy boek oor die redes waarom mense kies om God buite die kerk te soek, voer Annes Nel (2003:66-67) aan dat dit een van die belangrikste oorsake is vir mense se onvergenoegdheid met die kerk. As predikante mekaar nie kan vind nie, watter kans het die res van ons? voel mense.

 

Daarom moet die eenheid al wyer kring. In ons land is daar soveel voorbeelde van kerklike verdeeldheid dat ons ons koppe in skaamte moet laat hang, sommige langs kleurgrense, ander op taalgronde of om politieke redes, baie sommer net op grond van persoonlike smaak. Die sagter (en uiteindelik onsigbare) gemeentegrense in die N G Kerk het boonop dit vir my moontlik gemaak om my gemeente te kies soos wat dit my smaak pas, en in die proses word gemeentes en predikante dikwels teen mekaar afgespeel. Hierdie teksgedeelte mag nie maar net wollerig in die lug bly hang nie. Botman (1997:135) stel dit sterk: … dat die teks konkreet vir hierdie aarde en hierdie land van ons bedoel is.

 

4. Dienskneggestalte

Die feit dat Jesus se gebed ’n afronding of klimaks is van sy afskeidsgesprekke in Johannes 13–16 moedig ons aan om ook daar te gaan soek na riglyne vir die kerk. Hierdie gebed om eenheid gaan nie net oor strukture nie (al gaan dit ook daaroor). Dit roep ons ook op tot die dienskneggestalte wat in die voetwassing van Johannes 13:1-17 beskryf word. So moet die kerk van die Here Jesus ook vandag nog diensbaar wees onder mekaar en in die wêreld. Jan van der Watt (1992:84) vat dit so saam: Dieselfde opofferende diens moet die dissipels se optrede karakteriseer.

 

Dit word ook gerig deur die nuwe gebod van liefde waarvan Joh 13:34-35 praat. Die onderlinge liefde is die kenteken waarmee die kerk in die wêreld uitgeken sal word (15:9-17). Ook die gerigtheid op die Vaderhuis waar die Vader vir ons plek gereed maak, moet die kerk se wese rig (14:1-14). Daarvoor het Jesus die inwoning van die Heilige Gees belowe (14:15-31) en is die Gees oor sy kerk uitgestort (16:5-15).

 

5. Soos Jesus en die Vader

Ook die lyn van eenheid begin alreeds in 15:1-17. Die beeld van die wingerdstok met die lote wat in die stok bly, roep die kerk op om in Christus gewortel te bly en op so ’n manier ook aan mekaar verbind te bly. Die eenheid waartoe die gelowiges opgeroep word, het ’n soos by, soos die Vader en die Seun. Is dit nie ongelooflik nie? Ons word as ’t ware ingetrek in die misterie van die Drie-eenheid. Dit is effektief nie moontlik om onderling een te wees as ons nie aan Christus en die Vader deel het nie. Ons kan dus samekomste reël tot ons blou word en gesamentlik Nagmaal hou en gemeenskapsprojekte loods. Al hierdie goed is belangrik en vergestalt uiteindelik ’n groeiende eenheid, maar die basis lê in ons as gelowiges individueel en ons as gelowige gemeenskap se eenwording en deel word van die Goddelike eenheid. Dáár vind ons mekaar eers, saam in Christus.

 

Hierdie eenheid in God vind sy natuurlike uitloop in die liefde van God. Daarom is die liefde dan ook die merkteken waaraan hulle wat ín God is, sigbaar en uitkenbaar in die wêreld is. Die gemeente se eenheid en uitdrukking van liefde is uiteindelik ’n misterie van goddelike liefde, ’n liefde ten spyte van verskille, ’n liefde wat oor alle ander grense spoel, ’n liefde ten spyte van wat jy dalk op ’n punt aan my gedoen het of ek aan jou.

 

6. Is eenheid moontlik?

Gewoon menslik geoordeel is so ’n eenheid en liefde in die kerk natuurlik onmoontlik. Ek kan nie vergeet wat jy aan my gedoen het nie. Ek sukkel om vrede te maak met wat jou mense aan my mense gedoen het.

 

Vir die gemeenskap aan wie hierdie evangelie gerig is en in wie se kring hierdie gebed aanvanklik gebid is, was dit ook nie makliker nie. Die Johannese gemeenskap was werklik ’n krisisgemeenskap (vgl Du Rand 1987:105) wat konflik aan alle fronte ervaar het. Daarom dat Jesus ook weet dat nie hulle nie, en ook nie die kerk deur die eeue tot by ons, self en uit eie krag en op grond van eie besluite mekaar sou kon vind nie. Ons kan net by mekaar uitkom as ons in Christus bly en in die misterie van die Goddelike Drie-eenheid ingeweef word. Dan kan ek my hand uitsteek na my broer en suster, want dan word dit ’n broer en suster ín Christus en ín God.

 

Daarom dat Jesus ook in sy afskeidsgesprekke herhaaldelik belowe dat die Heilige Gees kom, dat Hy hulle sal herinner aan alles, hulle sal troos en hulle in staat sal stel om uitvoering te gee aan God se wil vir hulle.

 

Wat staan ons as kerk van die 21e eeu uiteindelik te doen? Coenie Burger (1982:124) beklemtoon dat daar in Johannes 17 nie ’n gebod tot eenheid in die kerk is nie, maar ’n gebed. Die beste wat ons kan doen is om ons Here hierdie gebed na te bid. Maar dit is ook ’n gebed van verwagting, een wat tot aksie dwing. Dit is soos Berkouwer sê ’n gebed waar die bidders van hulle knieë af opstaan en venster toe stap om te kyk wat God gaan doen.

 

Bibliografie

Botman, H R 1997. Eenheid en geloofwaardigheid: Johannes 17:21, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig III/5: Riglyne vir prediking oor die eenheid van die kerk, 129-135. Kaapstad: Lux Verbi.

Burger, C W 1982. Johannes 17:20-23, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig I/4: Riglyne vir nagmaalsprediking, 119-126. Kaapstad: NGKU.

Du Rand, J A 1987. Johannes 17: Jesus se gebed om eenheid te midde van krisis en konflik, in Breytenbach, J C (red.), Eenheid en konflik: Eerste beslissinge in die geskiedenis van die Christendom, 105-133. Pretoria: NGKB.

Nel, A F 2003. Op soek na God … buite die kerk? Wen weer ontnugterde gelowiges se vertroue. Wellington: Lux Verbi.BM.

Van der Watt, J G 1992. “Julle moet mekaar liefhê”: Etiek in die Johannesevangelie, in Breytenbach, J C & Lategan, B C (reds.), Geloof en opdrag: Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament. Scriptura S9a, 74-96.

Ds Lambert Jacobs is ‘n navorsingsgenoot van die Dept Ou en Nuwe Testament, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.

Share this / Deel hierdie: