Eenheid was nog nooit die protestantisme se sterkpunt nie. Van die begin af was daar spanning, tweespalt, verdeeldheid. Luther en Melanchton se Wittenbergse Reformasie was anders as Calvyn se hervorming in Geneve. Ulrich Zwingli se beweging in Zurich, Thomas Münster se eindtydverwagting, doopsgesindes soos Balthasar Hubmaier en nog vele ander reformatoriese groepe het die Reformasie mettertyd in ’n veelvoud van protestantismes laat ontaard. Strydpunte soos die avondmaal, ‘beelde’ in die kerk en kerklike tug het gelowiges uitmekaargedryf en het mettertyd tot eie kerklike strukture, praktyke, konfessies en ’n protestantse pluralisme gelei.

Te midde van die verskeidenheid is daar tog ’n grondidee wat die veelvoud ’n bietjie nader kan bring en dit is die vryheid van die individu, van die individuele gelowige.

 

Die kerk het alles beheer

Tydens die Middeleeue was dít onmoontlik. Die magtige kerk het as ‘t ware die heil bepaal. Alles het om die kerk as instituut en die verbondenheid daaraan gedraai. Geloof, goeie werke, verlossing, heil, verdoemenis en ewige lewe is aan die institusionele kerk verbind. Gewone gelowiges se heil, geestelike groei en ‘sielelewe’ is deur die kerk beheer. Mense se geestelike lewe is deur die kerk gevorm, genormeer en voortdurend gekontroleer.

So byvoorbeeld is die Middeleeuse mense se lewe deur ’n angs vir God versuur en die kerk het dit net verder aangeblaas. Mense was bang vir Hom omdat Hy die kwaai God was. In die destydse skilderkuns is Hy ook op ‘n skrikwekkende manier uitgebeeld. Hy het op die wolke gesit en fyn gekyk wie gestraf en wie beloon moes word. Uit God se regteroor het ‘n lelie gegroei en daaronder het die verlostes gewandel. Uit sy linkeroor weer het ‘n swaard gegroei en die mense aan sy linkerkant sou baie ly.

Hierdie angs het die kerk goed verstaan en fyn beheer. Vir mense soos Luther was daar ’n gesofistikeerde stel vroomheidsoefeninge wat sy spanning kon verlig: eenvoudige take soos om die toilette skoon te maak, gereelde bieg (waarmee hy sy goeie biegvader, Von Staupitz, mal gemaak het), vaste gebedsure, voortdurende meditasie, daaglikse nagmaalviering, liggaamlike lyding soos flagellasie (waarmee die sondige drifte stilgemaak kon word) is voorgeskryf.

         En dan het die kerk ook gesê hoe die Skrif verstaan moes word. Die kerk het die allesomvattende betekenishorison van die Skrif bepaal. Dit het die norm vir alle Skrifuitleg vasgestel, dit het die hermeneutiese konteks van die Skrif geword. Kortom: die kerk het ‘die groot eksegeet’ geword. Dit was natuurlik nie altyd sleg nie. Daar was ook iets gerusstellend: aan die boesem van die ‘mater ecclesia’ is die gelowige getroos en daar is hy geleer om die Skrif te verstaan; in die kerk se midde is die betekenis van die Skrif ontsluit en verstaan (Bakhuizen van den Brink 1966:29; De Knijff 1980:28).

 

Uiteindelik het die individu toe uitgebreek

Luther en die reformatoriese verset het tot die individu se herontdekking gelei. Dít was nogal ’n heel rewolusionêre gedagte want in die plek van die ‘kollektief’ (die kerk as instituut) het die enkeling, die individu kom staan. Elkeen het sy/haar eie lot bepaal. Geen heil was meer van die kerk afhanklik nie, maar die enkeling se verhouding met God het alles bepaal 

Geloof was dus nie meer iets kollektief nie, maar die aller-individueelste ervaring van die enkeling. Alles het van die individu self afgehang. In 1520 het Luther ’n boek (‘De libertate christiana’) oor die vryheid van die Christen geskryf en gesê dat die gelowige ’n vrye mens is, die heer van sy eie lewe is en niemand se onderdaan nie. En dié klem op die individu het groot invloed uitgeoefen.

In die plek van die kerk (waarbuite geen heil was nie) of kerklike ampte (wat die heil bemiddel het) het individuele verantwoordelikheid, vertoue van die enkeling, innerlike sekerheid, subjektiewe ervaring, vertroue op die Gees en omgang met God deur die Bybel gekom.

’n Nuwe taal het ontstaan om hierdie allerindividueelste geloofservaringe te verwoord. Woorde soos verinnerliking, subjektivering en vergeesteliking het uitdrukking aan die individu se ervaring gegee. In die reformatoriese tradisie is geloof dus nie iets wat die kerk leer of sê nie, maar het dit met die individu se diepste ervaringe te make; met die manier waarop die individuele gelowige sy of haar lewe nuwe inhoud en betekenis gee. Vanaf 1517 het die geloof as ‘t ware ’n ander plek gekry en is dit in die indiwiduele subjek gelokaliseer. Nog ’n keer anders gestel: geloof is mý geloof, mý ervaring met God, mý lewe wat ek op ’n bepaalde manier inrig, mý keuse om sus of so te leef; die Reformasie en die ver-individualisering van die heil het die wêreld verander.

 


Hierdie individu het die wêreld verander.

’n Mens kon dit eintlik verwag het. Klem op die enkeling het tot ongekende kreatiwiteit en verandering gelei; vanaf die laat-Middeleeue het ’n nuwe, anderse soort individu (wat deur die Reformasie geslyp is) ontstaan wat die westerse wêreld radikaal sou omkeer.

Daar is al baie oor die sosiale impak van die Reformasie op die weste nagedink en een manier om dit te verstaan, is om by ’n warm dag in 1505 te begin. Luther was oppad en ’n geweldige donderslag het hom laat skrik. In sy angs het hy heilige Anna, die beskermdame van sy pa se myn, aangeroep en beloof om ‘n priester te word. In die sestiende eeu het dit ‘n afgesonderde lewe in ’n klooster beteken. Luther moes hom radikaal van die wêreld afkeer en sy geloof in die eensaamheid van sy kloostersel uitleef. Sy daaglikse arbeid moes binne die afgeslote ruimte van die klooster beoefen word.

Die gevolg van Luther en die sestiende eeuse teologie was ’n totaal ander denke oor die mens en arbeid. Beroepsarbeid het nou ‘n roeping van God geword en moes binne-in hierdie lewe, hierdie wêreld beoefen word. Nooit weer moes dit in asketiese afsondering opgaan nie, maar moes nimmereindigend in die alledaagse lewe beoefen word (Weber 1920a163).

En veral by die Puriteine kan ’n mens hierdie nuwe beroepsetiek aan die werk sien (Weber 1920a:163). Hulle het roepingsbewustheid, harde werk, getrouheid, spaarsin, ‘n afkeer van wêreldse genietinge asook strenge Sabbatsheiliging deur die individu beklemtoon. En hoe harder, kreatiewer elkeen gewerk en meer en meer geld gemaak het, was dit ‘n teken van God se goeie guns. Dít het weer tot nog harder arbeid en groter geloofsekerheid gelei. Vir mistieke onttrekking was daar geen plek nie en al wat van die Middeleeuse askese oorgebly het, was ‘innerweltliche Askese’ wat deur elkeen binne-in die wêreld beoefen moes word (Weber 1920a:118-119). Dít was ‘n asketiese leefstyl (soberheid, harde werk, spaarsin) wat deur harde werk en allerlei vernuftige maniere binne-in die wêreld gestalte moes gekry het. Kortom: die Calvinis en Puritein kon sy ‘certitudo salutis’ vanuit sy ekonomiese aktiwiteite ‘aflees’ en gemoedsrus in kapitaalvermeerdering gevind het. (Weber 1920a:104,108,130). 

 

Sonder individue en geld vaar ons nie goed nie

  • ·     Afrikaners ken nie die sestiende eeuse Reformasie en die sosiaal-poltieke-ekonomiese krag wat daarin opgesluit lê nie. Meestal word dit as ‘Calvinisme’ of ‘gerefomeerd’ of wat ook al afgemaak en bespotlik voorgestel. Dít is ’n dom siening  want dit toon ’n enorme onkunde ten opsigte van die primêre bronne, sosiale kragte en maatskaplike gevolge van daardie beweging wat sedert die laat-Middeleeue ons wêreld tot en met verander het.
  • ·     In die lig van die sestiende eeu se totale anderheid moet die totale andersheid van die individu beklemtoon word. Meer klem moet op die individuele, kreatiewe en vernuftige verandering, omverwerping én herskepping van die samelewing val, en minder op sáámdink, sáámdoen, sáámwerk.
  • ·     Die reformatoriese beroepsetiek is ’n ideaal wat elke mens se lewe kan verryk. Vir Afrika kan dit veel beteken. Anders gestel: die verantwoordelikheid neem vir die eie lewe, die kreatiewe deelname aan die ekonomiese domein asook ‘innerweltliche Askese’ is belangrike kragte wat nou nog die samelewing kan omkeer.

 

Bakhuizen van den Brink, J N 1966. Ecclesia, II, ‘S-Gravenhage: Martinus Nijhoff, 1966, 29.

De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
Graf, F W 2006. Der Protestantismus. Munchen: CH Beck.

Kehrer, G 1997. Max Weber (1864-1920), in Michaels, A (red), Klassiker der Religionswissenschaft, 121-132. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Le Roux, J H 1971. ‘n Godsdienssosiologiese ontleding van Max Weber se stelling dat Protestantisme verantwoordelik is vir Kapitalisme. Pretoria: Universiteit van Pretoria, Ongepubliseerde MA (Sosiologie)-verhandeling.

Parsons, T 1966. Introduction, in Weber, M, Sociology of religion, xix-lxvii. London: Methuen & Co Ltd.

Shils, E A 1949. Foreword, in Weber, M, The methodology of the social sciences iii-x. New York: The Free Press.

Weber, M 1904. Die ‘Objektivität’ sozialwissenschaftlicher und sozialpolitischer Erkenntnis, in Schriften zur Wissenschaftslehre, 146-214. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1913. Ueber einige Kategorien der verstehenden Soziologie, in Gesammelte Aufsätze zur Wissenschaftslehre, 427-474. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1916a. Die Wirtschaftsethik der Weltreligionen: Einleitung, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 237-252. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1916b. Die Wirtschaftsethik der Weltreligionen: Zwischenbetrachtung: Theorie der Stufen und Richtungen religiöser Weltablehnung, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 536-573. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1920a. Die protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 17-206. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1920b. Die protestantischen Sekten und der Geist des Kapitalismus, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 207-236. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1920c. Religionssoziologie: Typen religiöser Vergemeinschaftung, in Wirtschaft und Gesellschaft, in Wirtschaft und Gesellschaft, 245-381. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1920d. Vorbemerkung, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 1-17. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1921. Das Antike Judentum, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie III, 1-400. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1922a. Rechtssoziologie, in Wirtschaft und Gesellschaft, 387-513. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1922b. Religionssoziologie: Typen religiöser Vergemeinschaftung, in Wirtschaft und Gesellschaft, 245-381. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1922c. Soziologische Kategorienlehre, in Wirtschaft und Gesellschaft, 73-630. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber, S. 1401. Berlin: Direct Publishing)

Weber, M 1949. The methodology of the social sciences. New York: The Free Press.

Weber, Marianne 1986. Max Weber. Ein Lebensbild. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck) (derde druk). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing).

Wellhausen, J 1905. Prolegomena zur Geschichte Israels. Berlin: Georg Reimer.

Zevit, Z 2001. The religions of ancient Israel. New York: Continuum.

 

Share this / Deel hierdie: