In hierdie tweede artikel skryf ons vandag verder oor die Nederlandse godsdiensfilosoof Wessel Stoker (vgl 2004) se uitdaging om ons geloof in die openbare ruimte rasioneel te verwoord. Soos gesê, wil ons in die volgende uitgawes sy argument nader bekyk, bespreek en die waarde daarvan vir die Bybelwetenkappe en die daaglikse lewe probeer bepaal.

Vandag fokus ons kortliks op Stoker se siening van Paul Tillich omdat Tillich die geloof rasioneel verwoord deur dit iets van ons menswees te maak. Kortom: ons het iets wat ons ontvanklik maak vir God of die Onvoorwaardelike of iets wat groter is as onsself.

Die rede pas by die geloof

Soos in die vorige artikel gesê (vgl http://teo.co.za/artikel/articles/544/1/Geloof-kan-rasioneel-verwoord-word/Bladsy1.html), pas geloof en rasionele verduideliking bymekaar. Van die kerk se vroegste begin af is gesê dat die geloof ook rasioneel verduidelik moet kan word.

‘n Bekende, maar mooi voorbeeld kry ons jare later in die Middeleeue toe Anselmus van Kantelberg nie net wou glo en aanvaar nie, maar alles rasioneel wou begrond. Met behulp van die ratio of die rede wou hy bewys dat God bestaan soos wat hulle dit geglo het. Vir Anselmus is die ratio nie iets afsonderlik wat teenoor die geloof staan nie, maar vorm die Christelike geloof die grondslag van alles. Trouens, die geloof self strewe na verstaan (‘fides quaerens intellectum’); wat geglo word, moet ook verstaan word; wat verstaan word, is as ‘t ware die konsekwensie van die geloof (‘credo ut intelligam’). Vir Anselmus gaan dit dus hoegenaamd nie om ‘n koue rasionele verstaan van God of die geloof nie, maar om ‘n verstaan wat deur die geloof aangevuur word: ‘the “quaerere intellectum” is really immanent in “fides”’ (Barth 1962:16).

Dit is nie dieselfde as Descartes wat met die rede alleen die bestaan van God wou bewys nie want vir Anselmus is dit die geloof wat na die rede smag; na die rede wat sy intense geloofservaringe kon verwoord (vgl http://teo.co.za/artikel/articles/544/1/Geloof-kan-rasioneel-verwoord-word/Bladsy1.html).

Tillich het dit weer anders gedoen want vir hom was religie (of dan geloof) iets wat deel van menswees was.

Ter inleiding

Paul Tillich is in 1887 in Duitsland gebore en sterf in 1965 in Amerika waar hy sedert 1933 gewoon het. Sy pa was ‘n Lutherse predikant en die jong Tillich het self ook teologie en filosofie gaan studeer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was hy kapelaan in die Duitse leër en sy oorlogservaringe het sy denke beslissend gevorm. Behalwe die Bybel het hy ook Marx en Nietzsche gelees en het besef dat die kerk die gewone mense nie meer aanspreek nie. Mettertyd was hy professor aan verskillende Duitse universiteite, maar in 1933 skryf hy ‘n kritiese werk teen die opkomende Nazi’s, word as professor afgesit en verhuis na Amerika waar hy in die somer van 1965 sterf (Weiland 1966:53-54).

Vir Tillich het die taal van die tradisie en die kerk nie meer ‘gewerk’ nie. Hy het die geloof nie opsygestoot nie, maar wou anders daaroor praat. Hy wou nie groot en ewige waarhede formuleer nie, maar volledig deel van die twintigste eeuse kultuur wees en anders oor God en geloof skryf. En daarom sou filosowe en sosioloë en ander vakrigtings sy teologie slyp; sou die kuns en die letterkunde hom help om die moderne mens, die mens wat nie meer kon glo of die kerklike tradisie kon aanvaar nie, te verstaan. Die filosofie sou hom help om die mens en sy lewensvrae asook sy soeke na sin te begryp en te verwoord en eers daarna sou teologie en Bybel volg (Weiland 1966:59).

Begin by die mens en die wêreld

In sy rasionele geloofsverantwoording begin Tillich by die mens, of liewer die wêreld, God se wêreld. Sedert die Aufklärung, so meen Tillich, het daar ‘n breuk tussen God en wêreld, selfs tussen geloof en rede, gekom. Daar was ‘n duidelike onderskeid tussen God se wêreld en die menswêreld. Tillich wou hierdie kloof oorbrug en die manier waarop hy dit gedoen het, was om ervaring te beklemtoon. Dit is baie belangrik en daarom sê ons weer: Tillich wou die kloof tussen geloof en rede, die gelowige en die wêreld deur middel van ervaring, geloofservaring vul (Stoker 2004:34).

Volgens hom was God in die wêreld immanent teenwoordig en ons gewone mense kry deel aan God deur net te leef en op verskillende maniere in en met die wêreld om te gaan; om in en met die wêreld of werklikheid besig te wees, laat ons deel aan God en sy wêreld kry. Anders gestel: in die alledaagse lewe wat ons voluit leef, ervaar ons God. Dus: in alle menslike ervaring proe ‘n mens iets van God en daarom is alle menslike ervaring religieus; bring alle menslike ervaring ‘een besef van God of het Onvoorwaardelike’ (Stoker 2004:35).

Kortom: godsdiens behoort tot menswees; dit ‘setel’ in ‘n  ervaring van die ‘ultieme’ of die absolute; hierdie ervaring word nie net in die binnekamer of die openbare godsdiens beleef nie, maar ook in wereldse dinge, in die uiteenlopendste ervaringe van die daaglikse lewe; ja, selfs in nie-godsdienstige ervaringe.

Religie is dus sekulêr

Religieuse ervaring het dus met die lewe, met die alledaagse lewe van elke dag te make. Die blote feit dat ons moed vir die lewe het, het met die ervaring van God in die alledaagse (en selfs nie-religieuse) lewe te make. Elke dag word ons lewe deur vernietigende magte soos wanhoop, eensaamheid, siekte en die naderende dood bedreig, maar ons oorwin vanweë die ervaring van God in die alledaagse. Almal, ongeag gelowige of ongelowige, word elke dag deel van die alledaagse se lewensleur en wanhoop, maar elkeen kry lewensmoed omdat hy/sy in hierdie wêreld leef waarin God teenwoordig is; omdat elkeen deur ‘n verskeidenheid van handelinge in die wêreld leef en werk, kry elkeen deel aan God se wêreld.

‘n Mens kan dit ook met die uitdrukking ‘gelowige realisme’ omskryf. Dit beskryf die verhouding tussen die werklikheid van God en die werklikheid van die wêreld; dit trag om God en wêreld nouer te betrek; of liewer op mekaar te betrek. Die woordjie ‘realisme’ beklemtoon dat geloof of religie nie iets apart en boweaards is nie, maar dat dit gaan om die een werklikheid hier en nou wat ons omvou en waarin ons lewe. En ‘gelowig’ omskryf die verhouding tot hierdie werklikheid en ons strewe om die diepte van die werklikheid te peil. ‘Gelowige realisme’ laat blyk hoe die goddelike in die eindige werklikheid gestalte kry; hoe gelowige en ongelowige deel aan God in hierdie werklikheid kry.

Almal ervaar dit

Selfs die skeptikus, die nihilis en godloënaar staan nie buite God nie. Stoker vertel mooi hoe Tillich Luther se teologie van die regverdigmaking op sy eie manier geïnterpreteer het: nie slegs hy wat sondig word geregverdig nie, maar ook hy wat twyfel. Twyfel, ook die twyfel aan God skei ons nog nie van God nie. Groot twyfel verraai selfs ook ‘n stukkie geloof; ‘n geloof aan dit wat waar, sinvol en opreg is, al lyk dit of die waarheid ons altyd ontglip. En omdat God in hierdie wêreld teenwoordig is, ervaar gelowige asook ongelowige Hom op verskillende maniere.

Die mistikus byvoorbeeld se intense omgang met God kan hom sprakeloos maak; die ervaring met God is net te groot sodat dit nie in woorde vertel kan word nie. Die ongelowige ervaar egter ook iets. Deur sy deelname aan die alledaagse lewe in hierdie wêreld ervaar hy iets groter as hy; iets wat hom omvou en gelukkig maak (Stoker 2004:37).

Dít kan gebeur omdat daar volgens Tillich ‘n ‘basisopenbaring’ deurbreek; ‘n gevoel of ‘n ooruiging dat iemand in die gewone profane lewe deur gewone gebeure aangegryp word sodat lewensin of lewensmoed ervaar kan word.

Dit is in ons

Hierdie ervaring van die Syn of God is nie iets toevalligs nie, maar dit is deel van menswees; daar is iets in menswees wat ons iets van hierdie Syn laat ervaar. daar is iets apriories, iets binne-in ons wat ons as ‘t ware gevoelig vir die ervaring van God, kuns, waarheid, liefde, ensovoorts maak; daar is iets in die mens wat ons in sinloosheid en die alledaagse sleurgang lewensvreugde laat ervaar (Stoker 2004:38).

Om inhoud aan hierdie ervaring te gee, gebruik Tillich die woord ‘mistiek’. Mistiek verwoord die teenwoordigheid van die goddelike in die ervaring uitstekend; dit verwoord die voelbare teenwoordigheid van God in die gewone profane lewe; dit het met die onmiddellik Godsbesef waarin die oneindige en eindige verenig is, te make; dit beklemtoon die strukturele of ontologiese band tussen God en mens.

Ons kan dit aan die hand van Schleiermacher verduidelik. Hy wou oor die geloof skryf, maar hoe sou hy dit doen? Met die rede? Of ons sintuie? Schleiermacher het toe vir die gevoel gekies. Hy het hierdie gevoel omskryf as ‘n gevoel van afhanklikheid. Vroomheid of geloof is nie kennis of dade nie, maar ‘n gevoel of die onmiddellike bewussyn van God; ‘n gevoel van absolute afhanklikheid aan God; ‘n bewuste ervaring van ‘n verhouding met God.

Religie is dus in ‘n mens se gevoel veranker en dit vorm deel van ‘n mens se wese.  Soos Stoker sê: ‘Het zit al ingebakken in de structuur van het menszijn dat mensen een religieus geloof hebben’ (Stoker 2004:43). ‘n Besef van God en ons afhanklikheid aan Hom is dus deel van van ons menswees; dit is eie aan elke mens; dit is ‘n ‘gawe’ of ‘n ‘ontvanklikheid’ vir die godsdiens of die geloof wat deel van menswees uitmaak; en dit moet net deur middel van godsdienste soos die Islam of die Joodse geloof of dié van die Christendom inhoud en gestalte kry (Stoker 2004:44).

Is dit genoeg?

Deur middel van sy woorde en werke het Tillich godsdiens of geloof rasioneel verklaar. Dit lê eintlik in ons en in God se wêreld kan ons Hom aanvoel; kan ons Hom in donker dae, maar ook in gelukkige tye ervaar. En almal kan Hom ervaar. Gelowiges en ongelowiges.

Maar is so rasionele verantwoording voldoende? Sal mense wat niks met God of geloof of die kerk te doen wil hê nie met Tillich se verduideliking tevrede wees? Dalk nie, maar in die loop van die volgende artikels word die probleem verder bekyk.

Bronnelys

Barth, K 1957. Die Protestantische Theologie im 19. Jahrhundert, vol 2. Hamburg: Siebenstern Taschenbuch Verlag.

Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. Cleveland/ New York: The World Publishing Company.

Barth, K 1964. Die Kircliche Dogmatik, I/1. Zürich: EVZ-Verlag.

Busch, E 1976. Karl Barth. London: SCM, Press.

Heidegger, M 1998. Zijn en Tijd. Nijmegen: SUN.

Safranski, R 2000. Heidegger en zijn tijd. Olympus.

Tarnas, R 1991. The passion of the western mind. London: Pimlico.

Ten Kate, L 1999. Marges van die teologie. Fragmente 4/1999, 113-130.

Vedder, B 2006. Hoe is godsdienst te begrijpen. Diesrede 2006. Nijmegen: Thieme MediaCenter.

Weiland, S 1967. Oriëntatie. Baarn: Het Wereldvenster.

Zahrnt, H 1967. Wachtend op God. Utrecht: Uitgeverij Ambo NV.

Share this / Deel hierdie: