Lank gelede het iemand my van sy intense, amper fisiese worsteling met God vertel. Hy was koster en een aand nadat hy al die ligte afgeskakel en ‘n laaste keer gekyk het of al die vensters toe was, het iets met hom reg voor die kansel gebeur. Vir hom was dit soos Jakob wat by die Jabok met God geworstel het. Dit was lank en uitputtend en hy moes eers ‘n ruk lank voor die kansel lê om tot verhaal te kom. Hierdie onmiddellike ervaring van God het sy lewe verander en dit het tot ‘n verdiepte geloofslewe gelei waarby die geloofsgemeenskap op verskillende maniere gebaat het.

Hoe moet ‘n mens dié verhaal beoordeel? Uiteraard met groot respek, maar daar is tog geen bewys dat dit gebeur het nie. Nog minder dat dit juis God was wat met hom geworstel het nie. Dit kon ‘n ligte floute of selfs ‘n beroerte gewees het. Omdat die mens elke oomblik van die lewe alles rondom hom interpreteer en sin daaraan probeer gee, het die betrokke persoon Jakob se worsteling gebruik om sy ervaring betekenisvol te verwoord (Stoker 2004:83-95).

Is so ‘n ervaring redelik?

Kan ‘n ervaring soos dié van die koster ooit as ‘n redelike begronding vir die geloof of godsdiens dien? Tog eintlik nie want daar bestaan geen redelike bewyse nie. William Alston (1921-2009) het egter anders oor sulke ervaringe gedink. Hy was ‘n Amerikaanse filosoof wat saam met mense soos Alvin Plantinga, Nicholas Woltersdorff en Robert Adams die tydskrif Faith and Philosophy opgerig en die vereniging, Society of Christian Philosophers, gestig het en wat ook aan ‘n soort gereformeerde epistemologie meegewerk het. Hy het in die episkopaalse tradisie gestaan en het veel van direkte waarneminge gemaak. Hy het dit filosofies deurdink en gesê dat die religieuse ervaring met ‘n intense bewuswees van God te make het; ‘n intense bewuswees van God se nabyheid wat deur ‘n direkte ervaring met God veroorsaak is.

Alston het self so ‘n ervaring gehad (Alston 1994:19-30). Hy het sy weg na die geloof en kerk teruggevind nie deur filosofiese nadenke nie, maar deur ‘n ervaring. Of soos hy dit sê: ‘ … mine was an experiental way into faith’. Uit sy beskrywing blyk dat sy geloofservaring nie net uit ‘n plotselinge ervaring bestaan het nie, maar ook uit die ervaring van ‘n geleidelike groei in die geloof en die kennis van die Skrif asook die teologiese tradisie waarin hy gestaan het. In hierdie en ander ervaringe van mense probeer Alston dan iets objektief soek om die geloof rasioneel te verwoord.

Volgens hom kan die direkte waarneming van God redelik en betroubaar aanvaar word want daar is tog ‘n objektiewe moment in so ‘n ervaring. Soos uit die voorbeeld hierbo het die persoon voor die kansel iets wat hy ‘God’ genoem het, ervaar en dit het sigbare of objektiewe gevolge gehad want dit het sy lewe verander. Dié ervaring het die basis van die persoon se geloof en Christelike lewe geword. Anders gestel: in die onmiddellike ervaring van God besef die gelowige dat alles nie menslike verbeelding is nie, maar iets konkreet wat met hom gebeur het.

Alston praat van ‘n ‘akkumulatiewe argument’ en bedoel daarmee dat die direkte ervaring van God as ‘t ware een deel van iemand se hele geloofsbestaan uitmaak en dat dit saam met ander geloofservaringe deel vorm van ‘n groot rasionele argument ten gunste van ‘n ‘redelike geloof’. Met ander woorde, die onmiddellike ervaring van God sowel as die blywende, lewenslange ervaring van God deur die lees van die Bybel, die saamglo met andere, die belewenisse binne die geloofsgemeenskap deel vorm van die geloof se redelike begronding.

Kan ons ons sintuie vertrou?

Dit is nogal ‘n belangrike vraag. Enige waarneming is tog oop vir kritiek en kan ook weerlê word. Alston antwoord hierop deur daarop te wys dat religieuse waarneming nie veel van ons gewone sintuiglike waarneming verskil nie.

Alston probeer as ‘t ware om sintuiglike waarneming van ‘n soort kru positiwisme te stroop waarvolgens alle waarneming eers betroubaar bewys moet kan word voordat dit as waar aanvaar kan word. Hy leun veral op ‘n filosoof uit die agtiende eeu, Thomas Reid (1710-1796), wat vertel het hoe waarneming tot die menslike natuur behoort en dat dit onbewustelik geskied. As iemand dus in die daaglikse lewe op sy rede en geheue en sintuie vertrou, wonder hy nie eers vooraf of hy dit kan vertrou nie en of die betroubaarheid van wat ek sien, eers empiries bewys moet word nie. Op daardie oomblik dat die mens iets sien, glo hy dit want sy sintuie sal hom nie bedrieg nie.

As ons daarom ‘n rooi robot sien, vra ons nie op daardie oomblik of ons sintuie ons bedrieg nie, maar aanvaar onmiddellik wat ons sien en slaan remme aan. Ons aanvaar as vanselfsprekend die betroubaarheid van ons sintuie, geheue, rede, ensovoorts want dit is deel van ons menslike natuur. As iemand Reid dan vra waarom hy sy sintuie moet glo en as betroubaar aanvaar, antwoord hy dat dit deel van sy en ons menslike natuur is: ‘Het is dus redelijk waarnemingen voor betrouwbaar te houden ook al hebben we er geen bewijzen voor’ (Stoker 2004:68). Dus, die direkte waarneming of ervaring van God is redelik geloofwaardig totdat die teendeel bewys word.

Dit is objektief

Die onmiddellike ervaring van God is nie leeg nie, maar het ‘n objektiewe of ‘n feitelike moment wat as grondslag vir iemand se geloof kan dien. In die voorbeeld hierbo, sê die persoon dat iets werklik met hom gebeur het en dat dit die fondament van sy geloof gevorm het en hom aangevuur het om sy geloof prakties binne die geloofsgemeenskap uit te leef (Stoker 2004:70).

Hierdie geloofservaring het eintlik twee elemente: iets wat onmiddellik aan die bewussyn gegee word en iets wat nie deur begrippe of woorde vasgevat kan word nie. Anders gesê: die ervaring kan nie verwoord word nie en daarom is dit objektief. En al kan die betroubaarheid van die ervaring nie bewys word nie, neem dit nog nie weg nie dat iemand iets van iemand anders (lees: God) ervaar het en dat dit opsigself al die objektiewe basis van iemand se geloof kan wees: ‘… de ervaring van de waarneming zelf functioneert als een grond alleen door het feit dat in die ervaring het object zichzelf zo bij het subject aandient’ (Stoker 2004:70).

Samevatting

In hierdie kort reeks neem ons Wessel Stoker (2004), ‘n Nederlandse godsdiensfilosoof, se belangrike werk, Is geloven redelijk, as vertrekpunt. Tot dusver het ons geleer dat geloof in die publieke ruimte redelik of rasioneel verwoord moet kan word. So ‘n redelike verantwoording is nie vreemd aan die Christelik geloof nie. Dit was van die begin af daar en daarsonder sou die geloof dalk nie oorleef het nie.

Hoe dit egter rasioneel verduidelik moet word, is nie so maklik nie. Volgens Stoker moet ons vertrekpunt die ervaring, die geloofservaring wees. Paul Tillich het toe die ervaring breed geïnterpreteer en alle menslike ervaring as religieus beskou. Selfs ‘n ongelowige ervaar op ‘n gegewe oomblik (sêmaar in die natuur) iets wat groter as hy is en volgens Tillich was dit ‘n egte religieuse ervaring. Alston het weer op die direkte geloofservaring of waarneming gefokus en dit as basis vir ‘n redelike gesprek oor die geloof beskou.

Volgende keer begin ons met Stoker se eie siening wat hy ‘een hermeneuties-fenomenologische geloofsverantwoording met als inzet de ervaring van de gelovige’ noem (Stoker 2004:99). En daarna volg die belangrike vraag: Help dit ons om Israel se geloof beter te verstaan?

Bronnelys

· Alston, W P 2005. Beyond “Justification”: Dimensions Of Epistemic Evaluation. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 2000. Illocutionary Acts and Sentence Meaning. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 1996. A Realist Conception of Truth. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 1996. Epistemic Justification: Essays in the Theory of Knowledge. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 1993. The Reliability of Sense Perception. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 1991. Perceiving God: The Epistemology of Religious Experience. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

· Alston, W P 1989. Divine Nature and Human Language: Essays in Philosophical Theology. Ithaca, NY: Cornell University Press.

· Alston, W P 1964. Philosophy of Language. Englewood Cliffs, Prentice Hall.

· Alston, W P 1994. A philosopher’s way back to faith, in Morris,T V (ed), God and the philosophers: The reconciliation of faith and reason. Oxford: Oxford University Press, 19-30.

· Stoker, W 2004. Is geloven redelijk? Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.

Share this / Deel hierdie: