Ervaring tel

In die Christelike geloof vorm ervaring die grondslag: ‘Geloof dat niet gevoed wordt door ervaringen sterft af’ (Stoker 2004:101). Ervaringe wat ook deur ‘n geloofsgemeenskap (die kerk) deur middel van ‘n liturgie, preke, liedere en gebede gevoed word. Die vraag is egter hoe ons redelik oor dié geloof en dié geloofservaring kan praat. So kan praat dat dit intellektuele respek by ander kan afdwing.

Om bloot te sê God bestaan nie omdat ons Hom nie kan sien of hoor of ruik nie, is dalk nie so ‘n goeie strategie nie. Ons sintuie kan ons bedrieg en dan hoor of sien ons nie wat ons dink ons sien of hoor nie. Ons moet daarom ‘n ander pad loop en eerder rasioneel probeer verstaan hoe ander self hulle geloofservaringe beskryf (vgl Descartes 1967:21-77, oor hoe ons sintuie ons kan bedrieg).

Israel kan as ‘n voorbeeld van mense dien wat rasioneel oor hulle ervaringe met God in hulle geskiedenis gedink en geskryf het. Voordat ons egter verder gaan, eers iets oor die woordjie ‘verstaan’.

‘Verklaar’ en ‘verstaan’

In die negentiende eeu is kwaai met die natuurwetenskappe gestoei. Merkwaardige ontdekkings en vordering is gemaak en die geesteswetenskappe (ook die teologie) moes hard vir sy plekkie in die son baklei. Die natuurwetenskappe se streng toepassing van ‘n metode en die strewe na presiesheid het die geesteswetenskappe konstant onder groot druk geplaas.

‘n Filosoof, Wilhelm Dilthey (1833-1911), het toe die belangrike onderskeiding tussen ‘verklaar’ en ‘verstaan’ gemaak. Nadenke oor geloof en geloofservaring pas nie in die fisika of die biologie nie want die natuurwetenskappe verklaar die eksterne of buitewêreld soos húlle dit sien terwyl die geesteswetenskappe die wêreld waarin ons lééf probeer verstaan (De Mul 1993:319-340).

Die natuurwetenskappe wil dus aan die hand van waarneming en ‘n spesifieke metode ons wêreld rasioneel verklaar en kan ons eintlik nie help met die vraag of geloof redelik is of nie. En om ‘n uitdrukking van Dilthey radikaal vir ons doeleindes om te keer: ‘In die natuurwetenskappe word die mens ook ‘n bloedlose wese wat deur lewelose woorde en begrippe verklaar word (vgl Scharff:2013).

Verstaan en rasionaliteit

Ons moet dus ‘n ander weg volg en dit is ‘verstaan’. Geloof kan nie verklaar word nie, maar ons kan rasioneel probeer verstaan hoe mense geloofsbetekenis aan hulle lewens gee. Ons kan geloof nie dissekteer en verklaar nie, maar wel probeer begryp hoe mense oor al eeue geloofsbetekenis aan hulle lewens gegee het. En ons kan dit rasioneel doen .

Wat word met ‘redelik’ of ‘redelikheid’ of ‘rasionaliteit’ bedoel? Soos ons in vorige artikels gesê is, moet rasionaliteit nie net tot die natuurwetenskappe of wiskundige formules beperk word nie, maar moet ook met die gewone alledaagse lewe in verband gebring word. Rasionaliteit het nie net met ekonomiese beplanning te make nie, maar ook met gewone dinge soos godsdiens en lewensbeskouing. Stoker verwys na Wentzel van Huyssteen en sê, ‘Rationaliteit of redelijkheid betreft … onze verantwoordelijkheid om helderheid, begrijpelijkheid en optimaal begrip na te streven als middelen om opgewassen te zijn tegen de wêreld en tegen onzself’ (Stoker 2004:20).

Rasionaliteit en redelikheid veronderstel ‘n bepaalde verantwoordelikheid om na helderheid te streef en ons so goed as moontlik uit te druk sodat andere sal begryp en verstaan wat ons sê en ervaar (Stoker 2004:104). Dit is so belangrik dat ons dit weer wil omskryf: ‘n Rasionele beskrywing van ons religieuse ervaring impliseer dus nie in die eerste plek ‘n empiriese of ‘n natuurwetenskaplike verklaring nie, maar ‘n heldere vertelling of weergawe van wat ons in ons daaglikse lewe ervaar (vgl ‘Geloof kan rasioneel verwoord word’, 04).

 Verstaan en die Ou-Testamentiese Wetenskap

Die voorbeelde wat ons in die volgende artikels gaan gebruik, kom uit die Ou Testament. Ons gaan probeer verstaan hoe Israel rasioneel, duidelik en helder hulle ervaringe met Jahwe vertel het. Anders gestel: hoe Israel self Jahwe se handelinge met hulle verwoord het. En om dit te kan doen, sal ons ryklik uit die insigte van die Ou-Testamentiese Wetenskap put.

Israel het sy eie weergawe van sy geloofservaringe gehad en ons kan iets daarvan verstaan indien ons by sy geskiedsbeskouing begin. Ons kan dit met behulp van die begrippe ‘feite’ en ‘teologie’ verduidelik.Feite is nie onbelangrik nie, dit is net nie alles nie. Die vasstel van historisiteit, datums en ander feitelikhede was nie Israel se hooftaak nie en dit moet ook nie ons s’n wees nie. Ons taak moet eerder wees om te verstaan hoe Israel self sin en betekenis aan hulle geskiedenis gegee het .

Ons kan dit aan die hand van twee konsentriese sirkels verduidelik. Die buitenste verteenwoordig alle moontlike historiese inligting in verband met datums, gebeure, ensovoorts wat ons in die hande kan kry. Uiteraard moet ‘n mens die oorspronklike bronne lees en oral inligting inwin, maar as dit gedoen is, moet ons na die binneste sirkel beweeg. Aan die hand van al die inligting probeer ons dan vasstel hoe die betrokke mense self die gebeure ervaar en verstaan het. (Collingwood 1994:213-215; Troeltsch 1913:730, 1922:729-753.

Vir nog ‘n voorbeeld kyk ons na die Pentateug (dit is die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) se ontstaan. Sedert die negentiende eeu is baie daroor besin en volgens een teorie het alles by ‘n geloofsbelydenis begin. En ‘n voorbeeld van so ‘n geloofsbelydenis kry ons nou nog in Deuteronomium 26:5-9: ‘My vader was ‘n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan … Die Egiptenaars het ons sleg behandel … Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor … Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek … Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee (Deut 26:5-9) (Von Rad 1973b:109-153).

       Drie groot historiese gebeurtenisse word in dié belydenis vermeld: die aartsvaders, die uittog en die intog. In dié drie gebeurtenisse het Israel God se grootsheid en liefde beleef. Ons kan selfs sê dat Israel ‘n historiese geloof gehad het. In die groot dade van God in die geskiedenis het Hy gewys dat Hy vir Israel gekies en hulle met erbarming omvou het. Hulle geloof was op hierdie groot dade in hulle geskiedenis gebou en in die herinnering aan dié geskiedenis het, is geloof gevoed en het hulle nuwe krag vir elke dag gekry (Otto 1995: 163-191).

Dus: dit gaan helaas nie om feite, die buitenste sirkel nie, maar om die binneste, om die manier waarop Israel self betekenis aan God se geskiedenis met hulle gegee het; om die wyse waarop Israel self teologies oor God nagedink en dit verwoord het. En ons taak is om hierdie geloofsinterpretasies van Israel te verstaan en te verwoord (Von Rad 1957:111-120). Dít vra die wetenskap en redelikheid (sien hierbo) van ons.

Hieronder probeer ons die hoop van ballinge op ‘n nuwe toekoms verstaan deur middel van tekste uit Eksodus en Deuteronomium.

 ’n Teologie word vernietig

Sedert 627 v.C. het die Babiloniërs die destydse wêreld begin oorheers. Hulle het die Assiriërs verwoes en die Egiptenaars uit die pad geloop. Niemand kon hulle meer keer nie en Babilonië het die magtigste heersers geword. Nebukadnesar het die leër op die een oorwinningstog na die ander gelei. Hy was gewild en het langer as veertig jaar regeer en Babilonië tot groot hoogtes gevoer.Teen die somer van 586 v.C. was dit Jerusalem se beurt.

Ons weet nie wat gebeur het nie, maar ons kan ons net indink. Vroegoggend was daar dalk ’n skermutseling by die poorte of êrens langs die noordelike muur. Op ’n gegewe oomblik was die oormag net te oorweldigend en het die Babiloniërs die stad binnegestorm. Vroue het gegil, kinders het huilend rondgehardloop, gewondes het gekreun en dooies het oral rondgelê. Soldate het verwoed geveg en bevele rondgeskreeu. Harde staalgeluide van swaard teen swaard was oorverdowerend. Vanweë die brande het ’n digte rookwolk oor die stad gehang. Onbeskryflik bitter.

Aan die slot van die boek 2 Konings is daar ’n oënskynlik onbelangrike opmerking. Daar word gesê dat Nebukadnesar vir Nebusaradan ’n ruk na die aanvanklike verwoesting na Jerusalem teruggestuur het. Hy moes die verwoestingswerk gaan voortsit het en doen toe die volgende: ‘Hy het die huis van die Here (en) die paleis … afgebrand … die muur om Jerusalem afgebreek’ (2 Kon. 25:910). Drie dinge is dus vernietig: die tempel, die paleis en die stad. Dit was juis hierdie drie dinge wat Israel laat meen het dat die stad se einde nooit sou aanbreek nie. Tempel, paleis en stad was die uiterlike tekens van ’n teologie wat nou totaal vernietig is. Dalk was dit die seerste. Dalk was dit die grootste rede vir hulle wanhoop en angs. Dalk was die omkeer van ’n gevestigde denke die allerslegste wat kon gebeur het. Toe die uiterlike tekens van hulle teologie vernietig is, was dit die laaste strooi. Ontnugtering, twyfel, sinloosheid het hulle oorweldig.

Dit was die begin van lang nag wat vanaf 586 tot 538 geduur het en die ballinge het voortdurend gewonder of daar ooit ‘n toekoms na die ballingskap kon wees. En toe herinterpreteer hulle hulle eie verlede.

 Hoop uit die verlede

Toe die Babiloniese magte uiteindelik uit Jerusalem vertrek het, het hulle ’n groot klomp mense in ballingskap weggeneem. Veral die room van Juda se politieke, religieuse en intellektuele leiers. In Babilonië is al die Judeërs volgens families of beroepe in verskillende kolonies geplaas. Dit was egter ‘n ellendige tyd. Hulle sou Jerusalem nooit weer sien nie (Otto 1999: 693-696; 2000:14-35).

Intussen, om elke dag in ballingskap te kon oorleef, het Israel begin om sy eie geskiedenis so te herinterpreteer dat dit moed en hoop kon gee. Hulle het dit op ‘n baie vernuftige wyse gedoen. Vanuit hulle ballingskapsituasie het die vroeë geskiedenis (die tyd van die aartsvaders, die uittog, ens.) opnuut betekenis gekry; het hulle dit so intens herleef dat hulle hulself daarin kon raaksien; het al hulle gisters skielik groot sin gemaak; het die ballinge hulle hoop met behulp van die verlede verwoord; het die geskiedenis lig op vandag se probleme gewerp (Otto 2004:14-35).

 Een so ‘n probleem was die vraag of daar ‘n toekoms vir die ballinge was. Sou daar ooit ‘n einde aan die ballingskap kom en sou daar ‘n nuwe lewe op hulle wag? Baie het dalk hieraan getwyfel want hulle sonde en oortredinge was te groot. Baie skerpsinnig het ‘n bepaalde groep die vroeë gebeure by Sinai vir hulle ballingskapstyd geïnterpreteer. Hiervolgens het Israel ‘n paar maande na die uittog uit Egipte by Sinai aangekom (Eks 19:1) waar God hulle die tien gebooie gegee het (Eks 20:1-17). Die belangrikste was die eerste gebod om geen ander gode te aanbid nie (Eks 20:3) en alles was as ‘t ware hiervan afhankik (Otto 2007)

  ‘n Paar maande nadat dit gegee is, is dit toe ook oortree. Moses was weg, die volk het begin twyfel en Aäron het ‘n goue kalf gebou. Nadat dit klaar was, het die volk na die beeld gewys en gesê: ‘Hier is jou God wat jou Egipte bevry het, Israel!’ (Eks 32:4). Moses was woedend en God gekrenk, maar sy erbarming het oorwin en Hy het Israel nie prysgegee nie (Eks 32:33-34)

Eeue later het dié gebeure vir mense in ballingskap skielik baie belangrik geword. Hulle het dié geskiedenis in hulle eie konteks herbeleef, dit geherinterpreteer en toe gebruik om almal te bemoedig. Spore daarvan sien ons nou nog in Deuteronomium 5, 9 en 10. Veral die volgorde en inhoud van dié hoofstukke is interessant: eers is die tien gebooie gegee (Dt 5:6-22), dan volg die verhaal van die goue kalf (Dt 9:7:-29) en ten slotte het God weer die gebooie neergeskryf (Dt 10:1-5). In die volgorde van dié gebeure het die ballinge aan die vroeë Sinaigebeure teruggedink en alles hulle eie gemaak (Otto 2007).

In die ballingskap het daardie ou geskiedenis as ‘t ware vir hulle deursigtig geword, het hulle hulself in die Aärongroep herken, het hulle hulle eie oortredinge raakgesien, het hulle besef hulle het ook ander gode in plaas van die één God van Israel gedien. Soos in die Eksodusverhaal het God Israel nie gelos nie en vanaf Deuteronomium 10 het Hy weer die gebooie vir Moses gegee. Kortom: deur middel van hierdie herinterpretasie van ‘n ou verhaal het die ballinge besef daar is wel ‘n nuwe lewe na die ballingskap. God se erbarming en vergifnis was so groot dat hulle in die geloof al anderkant die ballingskap kon kyk (Otto 2004:43-35).

 Verstaan vra harde werk

Dit is darem net te maklik om die Ou Testament as fabels, Abraham as ‘n mitologiese figuur, Israel as ‘n groep wat eintlik nooit bestaan het nie, ensovoorts af te maak. ‘n Intellektueel-integere wyse is eerder is om te verstaan hoe mense hulle geloof in Jahwe verwoord het en om dit rasioneel (in die sin van helderheid en duidelikheid) en met behulp van die Ou-Testamentiese Wetenskap te doen.

Volgende keer wys ons op die gebruik van die Abrahamfiguur in Genesis 15 en 17 om mense in die tyd na die ballinskap te help om hulle identiteit te verstaan. Daarna keer ons ten slotte weer tot die boek van Stoker terug.

 Bronnelys

  • De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • De Mul, J 1993. De tragedie van de eindigheid. Diltheys hermeneutiek van het leven. Kampen: Kok Agora.
  • Descartes, R 1950. Vertoog over de methode. Amsterdam: Wereldbibliotheek.
  • Descartes, R 1967. Bepeinsinge, in Kriel, D M 1967. René Descartes se bepeinsinge oor die eerstefilosofie. Pretoria: Academica.
  • Otto, Eckart 1995. ‘Kritik der Pentateuchkomposition’, ThR 60 (1995), 163–191.
  • Otto, Eckart 1999. Deuteronomium, RGG II/4, Tübingen 1999, 693–696.
  • Otto, Eckart 2000. Das Deuteronomium im Pentateuch und Hexateuch. Studien zur Literaturgeschichte von Pentateuch und Hexateuch im Lichte des Deuteronomiumrahmens (FAT, 30), Tübingen 2000, 43–83.
  • Otto, Eckart 2004. ‘The Pentateuch in Synchronical and Diachronical Perspectives: Protorabbinic Scribal Erudition Mediating between Deuteronomy and the Priestly Code’, in: E. Otto/R. Achenbach (hrsg.), Das Deuteronomium zwischen Pentateuch und Deuteronomistischem Geschichtswerk, Göttingen.
  • Otto, Eckart 2007. Das Gesetz des Mose, Darmstadt 2007, 140.
  • Scharff, R 2013. Becoming a philosopher: What Heidegger learned from Dilthey, British Journal for the History of Philosophy, 21:1, 1919–25.
  • Stoker, W 2004. Is geloven redelijk? Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
  • Troeltsch, E 1913. Historiography, in: Hastings J (ed), Religion and ethics, 716-723. Edinburgh: T&T Clark.
  • Troeltsch, E 1922. Ueber historisch und dogmatisch Methode in der Theologie. Gesammelte Schriften
  • Von Rad, G 1957. Theologie des Alten Testament, Vol 1. München: Chr Kaiser Verlag.
  • Von Rad, G 1973b. Deuteronomium-Studien, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 109-153. München: Chr Kaiser Verlag.

 

Share this / Deel hierdie: