Die sondeval

Ons ken die storie van die sondeval maar alte goed. Die Here God het die wêreld geskape en Adam en Eva in die paradys laat woon waar alles mooi en goed was. Hier kon hulle vir ewig lewe, solank hulle net nie van die boom in die middel van die tuin eet nie. Daar was immers meer as genoeg vrugte aan die ander bome ook! Maar toe kom die ou duiwel in die vorm van ‘n slang en verlei vir Eva om juis te doen wat die Here God hulle verbied het – om die verbode vrug te eet. En Eva op haar beurt verlei vir Adam want sy wou nie alleen in die moeilikheid kom nie. Omdat hulle liewers na die duiwel as na die Here God geluister het, het Hy hulle uit die paradys uit weggejaag. En die straf op hul sonde is die dood. As gevolg van Adam en Eva se sonde, is alle mense sondig en moet alle mense sterf.   

  Adam, Eva, die appel-vrug en die duiwel-slang word van kindsbeen by ons ingeprent.

  Maar is dit werklik waaroor die storie gaan?

 

Die duiwel

Die Hebreeuse Bybel ken nie ‘n duiwel nie. Satan is wel daar, maar hy speel slegs op drie plekke ‘n rol. In Job (1:6 ev & 2:1 ev) is hy een van die ‘seuns van God’, en meer geïnteresseerd in die uitkoms van die weddenskap tussen hom en God as enigiets anders. In Sagaria (3:1-2) is Satan bloot die een wat regstaan om die hoëpriester Josua aan te kla; na twee verse verdwyn hy onmiddellik van die toneel. Satan se rol in Kronieke (1 Kron 21:1) is nog meer onduidelik: hy hits Dawid aan om die Israeliete te tel – terwyl dit volgens 2 Samuel (24:1) – wat dieselfde verhaal vertel – die Here self is.

  Van Satan in die Hebreeuse Bybel kan dus hoogstens gesê word dat hy ‘n soort ‘duiwelsadvokaat’ is, maar glad nie ‘n verpersoonliking van die ‘bose’ as God se vyand nie.   

 

Die slang

Maar wat dan nou van die slang in Genesis 3? Hy moet tog iets wees wat sleg of selfs boos is! Kyk in watter ellende het hy die mens gedompel!

  Miskien moet ons onsself eers probeer afvra wat sou ons antieke gehoor oor slange gedink het. Ja, natuurlik was hulle bang vir slange, want giftige slange het hulle gepik en dan het hulle gesterf. Maar hulle het slange ook bewonder. Hoe kon iets sonder pote so vinnig oor die weg kom? Dit kan net ‘n bonatuurlike wese wees. Gevolglik, in die Ou Nabye Ooste was daar sekere kultusse wat slange vereer en hulle selfs as gode aanbid het. Iets hiervan lees ons ook raak in die Hebreeuse Bybel. Numeri 21:6-11 vertel van die immerklaende Israeliete in die woestyn wat altyd met alles ontevrede is. Toe stuur die Here giftige slange om hulle te pik. Maar soos altyd kry hulle berou en die goeie Moses bid vir hulle. Daarop gee die Here opdrag dat hy ook ‘n slang maak en op ‘n paal sit, sodat elkeen wat gepik is daarna kan kyk, maar nie sterf nie. Moses se koperslang is ‘n welbekende storie. Die boek 2 Konings 18:4 trek ook ‘n direkte verband tussen Moses se koperslang en die kultus van Nehustan. Maar hierdie keer is dit negatief: Hiskia, koning van Juda verwoes hierdie kultus met wortel en tak en probeer so die godsdiens suiwer van afgodery.
Die belangrikste eienskap van slange is egter dat hulle vervel. Die mense van die Ou Nabye Ooste het dit nie as ‘n biologiese proses verklaar nie – as hulle sien hoedat ‘n slang sy ou vel afgooi en jonk en nuut wegseil, was dit vir hulle ‘n teken dat hy nooit ouer word nie. En as iets of iemand nie ouer word nie, beteken dit ook dat hy nie sal doodgaan nie. In die Ou Nabye Ooste was slange ‘n kragtige simbool van die ewige lewe. En saam met ‘n baie lang lewe, kom wysheid. Geen wonder dus dat slange ook met wysheid geassosieer is nie. Selfs in die Nuwe Testament (Mt 10:16) maan Jesus sy dissipels om so ‘wys soos slange en opreg soos duiwe’ te wees. [Die Afrikaanse Bybelvertalings interpreteer die vers as ‘wees versigtig soos slange’. Hier sien ons die negatiewe Christelike slangbeeld – die Griekse phronimos dra primêr ‘n betekeniswaarde van vroom, of wys!]

  Maar eers terug na die slang as simbool van die ewige lewe.

  Orals in die Ou Nabye Ooste was daar mites in omloop wat vertel het dat die mens eens op ‘n tyd die vermoë gehad het om vir ewig te lewe. Hierdie voorreg wou die gode egter vir hulself hou, want mense mag nooit soos gode word nie. Daarom het hulle al die mens se pogings om die ewige lewe te bekom, gefnuik. Omdat slange as bonatuurlike, selfs goddelike wesens gereken is, het hulle dikwels die rol van ‘verkuller’ gespeel. In die Gilgamesj-epos word tersyde na hierdie idee verwys: die held gaan op soek na die ewige lewe, maar hy misluk in sy pogings. Nietemin word hy huis toe gestuur met ‘n troosprysie – ‘n wonderplant wat as ‘n soort verjongings-kuur werk. Dit waarborg nie die ewige lewe nie, maar as hy daarvan eet, sal hy nooit ouer word nie. Dit stel die ouderdom en die dood ‘n bietjie uit. Hy span uit vir die aand, en gaan af na ‘n poel om te baai. Sy kosbare plant los hy onnadenkend op die rand van die poel. En toe hy weer sien, het ‘n slang die plant gegryp – en Gilgamesj aanskou hoe die wese sy ou vel afgooi en jonk en nuut wegseil.

 

Die boom van kennis

Die Joodse monoteïsme wil die slang van sy bonatuurlike kwaliteite ontneem. Hy is ‘n ‘dier van die veld’ wat die Here God gemaak het (Gen 3:1). Maar hy is anders as ander diere – hy is ‘listiger’. Weereens is ons Afrikaanse vertaling hier misleidend: dieselfde Hebreeuse woord ārûm word elders in die Wysheidsliteratuur gebruik (bv Spreuke 12:16, 23: 13:16: 14:8, 15) en hier word dit vertaal met ‘skrander’ (Ou Vertaling) of ‘verstandig’ (1983-Vertaling)! Hoe ook al, die slang in Genesis 3, al is hy net ‘n ‘dier van die veld’, behou sy bonatuurlike kwaliteite. Hy kan praat, maar wat veral verbasend is, is dat hy volledig insig in God se plan het.

  En wat doen die slang? Hy prikkel die vrou se intellek met suggestiewe vrae wat God se woorde in twyfel trek (Gen 3:1). Hy suggereer aan haar dat die Here God se verbod onredelik is, en selfs dat Hy vir die mens gelieg het. Hy spoor haar aan om vir haarself te dink, en nie blindelings te gehoorsaam nie. Hy belowe haar selfs ‘n teken – as sy van die vrug eet, sal sy nie sterf nie, inteendeel, sy sal kennis bekom (verse 4 & 5).

  En dit is presies wat gebeur. Toe Eva die verbode vrug proe, lê die soet smaak van wete op haar tong. Die mens raak bewus van sy andersheid – hy is anders as die dier, en met die kennis wat hy bekom het, is hy nou ‘n trappie nader aan God, nader aan die ewige lewe. En dit mag nie (Gen 3:22)! Die Boom van die Lewe moet vir ewig buite die mens se bereik bly, en daarom jaag die Here God hulle uit die tuin uit weg. En waar die slang eers slimmer as ander diere was, verkry hy nou die laagste status moontlik – om op sy maag te seil en stof te vreet!                      

  Vir die mens is die lewe daarbuite hard. Lyding, harde werk, kommer en pyn is nie soseer ‘n straf op ‘sonde’ nie – dit is deel van die mens se bewussyn van die lewe. Wat hom anders maak as die dier. En tog, ten spyte van al die geswoeg en gesweet, oorleef die mens. Wat help hom? Hoe kry hy dit reg?

  Die mens se kennis!

 

Slot

Deur die slim slenter van die slang het die mens die ewige lewe verloor. Maar hy het iets gewen – wysheid en kennis wat hom in staat stel om in moeilike omstandighede te oorleef. Om die paradys wat hy verloor het, te herontwerp en sin te gee aan ‘n lewe waarin alles maar al te dikwels tevergeefs blyk, en ‘n gejaag na wind …  

 

Bronnelys:  

 

  • Ansell, NJ 2001. The Call of Wisdom/The Voice of the Serpent. A Canonical approach to the Tree of Knowledge in Christian Scholar’s Review, 31 – 57.
  • Blenkinsopp, J 2004. Treasures Old and New. Essays in the Theology of the Pentateuch. Cambridge: Wm. B Eerdmans Publishing Co.
  • Carmichael, CM 1992. The Paradise Myth: Interpreting without Jewish and Christian Spectacles in Morris P & Sawyer D (eds), A Walk in the Garden. Biblical, Iconographical and Literary Images of Eden, 47-63. 
  • De Villers, G 2009. Sin, Suffering, Sagacity: Genesis 2-3 in Becking, B & Human, D (eds), Exile and Suffering. Leiden: Brill, 3-17.
  • Donaldson, ME 1997. Bordercrossing: Fall and Fantasy in Blade Runner and Thelma and Louise in Aichele G & Pippen T (eds), The Monstrous and the Unspeakable. The Bible as Fantastic Literature. Sheffield: Sheffield Academic Press Ltd, 19-42.
  • Emmrich, M 2001. The Temptation Narrative of Gn 3:1-6. A Prelude to the Pentateuch and the History of Israel in Evangelical Quarterly, 3-20.
  • Hanson, RS 1972. The Serpent was Wiser. A New Look at Genesis 1-11. Minneaolis: Augsburg Publishing House.
  • Kapelrud, AS 1993. You Shall Surely Not Die in Lemaire, A & Otzen, B (eds), Histories and Traditions in Early Israel. Leiden: EJ Brill, 50-61.
  • Magonet, J 1992. The Themes of Genesis 2-3 in Morris P & Sawyer D (eds), A Walk in the Garden. Biblical, Iconographical and Literary Images of Eden, Sheffield: JSOT Press, 39-46.
  • Penchansky, D 1997. God the Monster: Fantasy in the Garden of Eden in Aichele G & Pippen T (eds), The Monstrous and the Unspeakable. The Bible as Fantastic Literature. England: Sheffield Academic Press Ltd, 43-60.
  • Pilch, JJ 2001. A Window into the Biblical World: Snakes in the Hebrew Bible. The Bible Toda 39, 239-243.
  • Sawer, JFA 1992. The Image of God, the Wisdom of Serpents and the Knowledge of good and Evil in Morris P & Sawyer D (eds), A Walk in the Garden. Biblical Iconographical and Literary Images of Eden. Sheffield: JSOT Press.
  • Townsend, PW 1998. Eve’s Answer to the Serpent. An alternative Paradigm for Sin and Some Implications in Theology in Calvin Theological Journal 33, 399-420.
  • Veenker, RA 2003. That Fabulous Talking Snake in Glen G et al (eds), The Challenge of Bible Translation. Communicating God’s Word to the World. Michigan: Zondervan, 265-272.
Share this / Deel hierdie: